Leon Lemmer: Wannie Carstens se Storie van Afrikaans

Deel 1 van Die storie van Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 639p, R450) deur WAM Carstens en EH Raidt is op 14 November gepubliseer. Dit word aangebied as ‘n biografie van ‘n taal. Deel 1 se newetitel is: Uit Europa en van Afrika. Die tweede boekdeel, wat na verwagting volgende jaar gepubliseer sal word, handel oor Afrikaans in (Suid-)Afrika. Deel 1 beslaan 11 hoofstukke terwyl die tweede deel, wat blykbaar reeds in groot mate in manuskrip bestaan, 13 hoofstukke bevat. Die gepubliseerde bronnelys (p 525-606) sal dan met ‘n verdere een aangevul word (523).

Aan die einde van deel 1 is daar ‘n register of indeks (611-639), wat ek as onbevredigend ervaar het. Dit is hoogs onvolledig. Byvoorbeeld, waarom is daar vir Coornhert verwysings na p 282 en 290, maar nie na p 283 en 285 nie? Dit het min sin om in die indeks ellelange lyste van bladsynommers te verskaf oor breë onderwerpe soos Afrikaans, boeke, Engels, Kaap, Lae Lande, Nederlands, ontwikkeling, taal, tale en woordeskat. Hou in gedagte dat my kommentaar op ‘n enkele deurlees van die boek gebaseer is. Ek het geen omvattende poging aangewend om gebreke op te spoor nie.

Carstens het vir Raidt by hierdie projek betrek omdat sy reeds navorsing oor hierdie onderwerp gepubliseer het. Dit is nie sinvol geag om sodanige werk te herhaal nie. Die outeurs se benadering word as “sosiohistories” beskryf (17). In die gesamentlike voorwoord staan: Afrikaans het “‘n storie om te vertel, ‘n storie oor waar dit vandaan kom, oor wat verkeerd geloop het tydens hierdie lang reis [“Long walk to freedom“?*], hoe probeer word om reg te maak en ook drome oor waarheen dit op pad is” (17). In sy voorwoord verwys Carstens na “die politiek van en oor Afrikaans” en “die politiek oor die taal” (19). Oor wat danig verkeerd geloop het en reggemaak moet word, sal ons seker in veral die tweede boekdeel ingelig word.

[* Nelson Mandela het valslik beweer dat hy nooit ‘n kommunis was nie. Maar selfs die titel van sy outobiografie kan aan die kommunis, Antonio Gramsci (1891-1937), ontleen wees. Gramsci wou die kultuur van samelewings ondergrawe (kulturele marxisme genoem) soos wat die ANC die blanke en spesifiek die Afrikaner se kultuur met bv politieke korrektheid ondergrawe. “This gradual process would first open the doorway to socialism, and as dependence on the state increased, to Communism, while simultaneously closing the door on self-governance and representive democracy. Gramsci called this process ‘the long march'” (Alasdair Elder, The red Trojan horse: A concise analysis of cultural Marxism, 2017, 148p; Amazon Kindle $3.41, 1032).]

Volgens die uitgewery se webwerf handel die boek onder meer oor “Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede.” Dít terwyl ek toe baie gelukkiger oor Afrikaans was as tans. ‘n Fundamentele probleem blyk uit die volgende. B Neethling skryf: “The term ‘Bantu’ as in ‘Bantu speaking’ or ‘Bantu language’ is a universally accepted term with no negative connotations to it” (493). In hierdie boek word die term “Afrikatale” egter gebruik (109), omdat die woord “Bantoe” glo ‘n “kwade reuk” het (491). “Die meer korrekte taalkundige term Bantoetale word nie hier gebruik nie ter wille van historiese sensitiwiteit vir die politieke konteks in die land” (491). Die outeur(s) erken dus openlik dat voorkeur aan politieke korrektheid bo akademies-wetenskaplike korrektheid gegee word. Carstens lei hierdie projek en moet die hoofverantwoordelikheid aanvaar.

‘n Mens sou van so ‘n omvattende werk redelikerwys verwag dat die outeurs eerder trots sou wees op wat met Afrikaans in Afrika bereik is. My moedertaal is vir my, soos vir Petrus Leupenius (1607-1670), “die wy alle eerbiedigheid schuldig syn” (310). “In hierdie boek word probeer om in soverre moontlik wel die veelkantige storie van Afrikaans te vertel” (167). In hoeverre hierin geslaag word, sal eers na die verskyning van die tweede boekdeel vasgestel kan word. Maar ek is nie optimisties nie.

Oor die kulturele boikot van Suid-Afrika tydens die blanke politieke bewind word beweer: “Dit spruit voort uit die Nederlanders se sterk sin vir politieke en kulturele geregtigheid” (403). Beteken dit dat blanke Suid-Afrikaners deesdae geregtigheid ervaar en dat Nederland en die meeste Nederlanders reg het deur geen beswaar te opper nie? Hierdie kulturele boikot het meegebring dat Nederlandse boeke nie ingevoer kon word nie. In skole en aan universiteite kon Nederlandse boeke gevolglik nie meer voorgeskryf word nie. Nederlands het toe plaaslik in groot mate uit veral skoolonderrigprogramme verdwyn (405). Die stand van Nederlands in Suid-Afrika is sedert ons “bevryding” in 1994 (nog) glad nie herstel nie.

Carstens het as teks- of taalredakteur van Adam Small se huldigingsbundel, Ons kom van vêr (Tygervallei: Naledi, 2016), opgetree. In my bespreking van die boek (Praag 25 Maart) het ek verwys na “die ongeërgde gebruik van bronverwysings en bibliografiese besonderhede.” Ek het die bundel as “algehele bibliografiese chaos” beskryf. Carstens en Raidt se boek vaar nie veel beter nie. Die omvang van die bronnelys toon ‘n gebrek aan bibliografiese en praktiese sin. Slegs die bronne waarna in die teks verwys word, asook ‘n keur van die belangrikste ander bronne, hoef gelys te word. Daar word bronne in die teks genoem wat nie in die bronnelys is nie, bv Brandenburg (47) en Sayce 1880 (2015) (129) – meer voorbeelde volg hier onder. In die bronnelys is die alfabetisering gebrekkig, bv Pericliev word na Pheiffer gelys (571). Van die jaartalkronologie word afgewyk, bv by Algeo en Allen (525).

Let op na hierdie twee bronverwysings in die teks: “Rankin 2003. The Comparative Method, bl 183-210. Weiss 2015. The comparative method, bl 127-145.” (141). Waarom het die een boektitel hoofletters en die ander een kleinletters? Hierdie onkonsekwentheid kom dwarsdeur die boek by sowel bronverwysings as in die bronnelys voor. Die outeurs hou verder glad nie konsekwent by hulle eie voorskrif vir bronverwysings nie, naamlik dat slegs die van van die outeur verstrek word (31). Byvoorbeeld, net een Van der Merwe kom in die bronnelys voor, maar sy vier voorletters word telkens in bronverwysings verstrek (bv 27, 30, 81). Bronverwysings in die teks moet akkuraat, so kernagtig moontlik (om die leesproses so min moontlik te onderbreek) en, wat styl betref, konsekwent wees en die leser in staat stel om die bron ondubbelsinnig in die bronnelys/bibliografie te identifiseer. Bibliografies faal hierdie boek in groot mate.

Daar is druk- en ander foute: “Jacob Grimm (1785-1663)” (28); “Janson (2003: 1-10, 2011)” (36); “1786” (60, 168) word “1768” (121); “2.2.4” (61) moet 2.4.4 wees; “1765” (65) word “1785” (122); “Pott (1802-1887)” se boek “(1785-1863)” (67); “Schleicher (1821-1868)” se boek “(1661/1662)” (69) maar in die bronnelys “1874, 1877” (578) en op die afbeelding “1866” (69); “Sechaye” maar “Sechehaye” op die afbeelding (76); “om om” (83); “Encyclop[a]edia Britannica” (87, 488, 524); “Brasil[i]ë” (93); Bengaals is een van die agt tale met die meeste sprekers (100, 102), nie Frans nie (101, 102); die Europese Unie gebruik 23 tale, maar net 22 word gelys (105); Spaans het die tweede meeste sprekers (102), nie Hindi nie (110, 113); “eue”/eye (140); “The method[s] of IR are” (141); “Bloomfield (1976)” (141, 148) is nie in die bronnelys nie; “Austin 2008” (151, 527) word “Austin 2009” (154, 156, 158); “afdeling 2.2” (204) moet 2.3.1 wees; “Istaevones” (215) en “Istveone” (215) moet “Istvaeone” (191, 226) wees; “Ingevaeone” (192) en “Ingaevones” (215) moet “Ingvaeone” (215, 226, 230, 231, 232, 240) wees – daar is ook “Ingeweoons” (497); “(ii) en (iii)” (216) moet 2 en 3 (215) wees; “2.2.3” (221) moet 2.3.3 wees; “eks[p]losiewe” (223); “Mij”/mij (224); “ovorgeleverd” (233); “Van Oostrom (2004)” (236) is nie in die bronnelys nie – seker eerder “Van Oostrom 1993” (238); “monoftonge”/monotonge (239); “16de-eeuse Hollandse dialek” (272) moet 17de-eeuse wees (295, 347, 449); “afdeling 6″(274) moet afdeling 4 wees; “Maarten Luther (1783-1546)” (275); “Die Renaissance (ongeveer 13de-17de eeu)” (277) moet eerder 15de tot 17de eeu wees – “± 1500 ev” (121); “In 1550, ‘n paar jaar ná Gymnick” (281) verwys na ‘n boek wat Gymnick (1502-1568) in 1541 gepubliseer het (279); “Lommen 2012” (283) is nie in die bronnelys nie; “Jan Utenhove (1616-1566)” (284); “vande” (285, 286) maar “van de” (581); “Bredero (1585-1618)” (298) maar “Bredero (1581-1647)” (300); “1711” maar op die afbeelding “1703” (333); “Neder-duitsche” (339, 340) maar “Nederduitsche” (57, 583); “De Groot (1538-1645)” (343) maar “(1583-1645)” (314); “Inleydinge tot de Hollandse Regts-Geleertheyt” (314) word “Inleiding tot de Hollandsche rechts-geleerdheid” (343), “eiendom” (314) word “eigendom” (343), “huweliksvoorwaardes” (314) word “huwelijksvoorwaarden” (343) [afgesien van die onnodige herhaling is die deurmekaarklits van Afrikaans en Nederlands op p 314 en 343 slordig en heeltemal onaanvaarbaar]; “hoofstuk 7” (365) moet hoofstuk 6 wees; “middeleeue” (383) moet met ‘n hoofletter begin; “Grebe 2012” (425, 431) is nie in die bronnelys nie; “Odendaal 2012, 2013, 2014b” (445) is nie in die bronnelys nie; “FF Kotzé 2010, 2013, 2014b” (445) moet EF wees en is nie in die bronnelys nie; “Noord-Amerika” (445) moet Sentraal-Amerika wees; “Vlei” (451) moet met ‘n kleinletter begin; Stavorinus se opmerking (472) – waar is dit?; “die koms van die Engelse ná 1806” (473) moet in 1806 wees; “Carstens 1997” (489) is nie in die bronnelys nie; “Slippers 2013” (524) is nie in die bronnelys nie; “bronne” (166, 182, 191, 260, 328, 441) moet bron wees.

Die teksformulering laat soms veel te wense oor: “op ‘n bepaalde gegewe oomblik in die tydsverloop” (29); “Die klem val ook op belangrike verteenwoordigers wat in die tydsverloop ‘n rol gespeel het” (33); “verder voortgesit” (47); “die klem nog steeds voortdurend geval het op” (54); “dien steeds vandag” (61, 66); “Van die ander bekende Neo-Grammatici was onder andere” (74); “Hy het eintlik eers bekendheid ná sy dood verwerf toe sy boek … gepubliseer is. Hierdie boek … is nie deur hom self gepubliseer nie” (76); “lang en uitgerekte proses” (82); “die mens via taal en met behulp van taal kommunikeer” (83); “As mense kommunikeer (= kontak maak)” (83) – eerder “inligting oordra”; “Ons gebruik taal om in die wêreld (dit is ‘n konteks van geografiese en sosiale plasing) waarbinne ons geplaas is, te kommunikeer en te funksioneer, met ander woorde take te verrig of aan ander oor te dra” (83-84); “Tale kom en gaan dus duidelik” (94); “‘n taal is wel ‘meer as’ ‘n dialek. Die verskil is slegs geleidelik” (96); “is dit duidelik dat daar duidelike ooreenkomste … is” (148); “het die verskille … mettertyd al hoe groter geword sodat daar later” (176); “ook as gevolg van … ook as gevolg van … in stand te hou en vol te hou” (185); “brei dit stelselmatig uit oor ‘n groter gebied totdat dit later in ‘n groter gebied” (223); “wil ons tog weet wat dit presies moontlik gemaak het” (228); “moes noodsaaklik saamgaan” (312) – eerder noodwendig; “Hesseling het die teorie in 1897 al weerlê” (426); “nie sigbaar merkbaar is nie” (494).

Daar is aanvegbare stellings. “Die wêreld om en in ons bestaan in en deur taal” (38). Myns insiens speel taal ‘n rol in ons wêreldbeskouing maar die fisiese wêreld kan sonder ons en ons tale bestaan. “Die Suid-Afrikaanse Afrikatale was in die verlede beperk tot afgebakende gebiede, in politieke terme tot tuislande” (108). Ek sou eerder aanvoer dat die sprekers van Afrikatale sowel binne as buite die tuislande was.

Teenstrydige stellings word gemaak. “Alle kinders kan hulle moedertaal met dieselfde gemak aanleer. Daar is nie maklike en moeilike moedertale nie” (104). Kort hierna word egter gesê: “Wees besorg oor diegene wat moeite het om hulle (of ‘n) moedertaal te verwerf (aanleer) én te beheer (gebruik)” (114).

“Meertaligheid word beskou as die waarskynlikste manier om die kwyn van tale teen te werk” (105). “As Iers naas Engels bedryf word, het dié taal wel ‘n kans” (106). Teenstrydig hiermee word Engels hierna as een van die “moordenaarstale” beskryf (106). “Die kans is goed dat Iers as gevolg hiervan binne vyftig jaar heeltemal kan verdwyn” (107). “Engels het ‘n negatiewe uitwerking op meertaligheid. Die sprekers van Engels is oorwegend eentaalsprekers, mense wat min waardering het vir die aanleer van ander tale” (112).

Engels is myns insiens vinnig besig om Afrikaans te verswelg, des te meer omdat Afrikaanssprekendes glad te geredelik in Engels met Engelssprekendes kommunikeer. Dit is gewoon dwaas dat Afrikaansinstansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) meertaligheid (wat Afrikaans kan uitsluit) bepleit pleks van te konsentreer op die bevordering van Afrikaans. Vroeër vanjaar het Rufus Gouws, die hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afrikaansdepartement gesê daar moet vir meertaligheid gestry word; nie vir Afrikaans nie. Dalk sal daar meer stryders vir Afrikaans na vore tree as hulle nie taalstryders of -bulle nie maar eerder “taalyweraars” (301) genoem word. “Languages die when their speakers give up” (107). Die US-studente moet deesdae glo wêreldburgers wees. Ek wonder of Wim de Villiers en sy meelopers besef dat “omgeveer 75% van die wêreldbevolking nie ‘n woord Engels kan praat of verstaan nie” (111).

“Aanvanklik is die term indisch-europäisch of indo-europäisch gebruik om aan te dui wat vandag met Indo-Germaans bedoel word” (488). Daarna word die teenoorgestelde gesê: “Vandag word oorwegend voorkeur gegee aan Indo-Europees” (494) en “In die vakliteratuur word deurgaans voorkeur gegee aan [die term] Indo-Europees” (166). Dit kan wees dat die outeurs aanvanklik voorkeur aan die term Indo-Germaans gegee het (bv dit aanvanklik só tydens hulle studie leer ken het) (64, 68, 122, 142, 145, 149, 152, 195) maar later op die term Indo-Europees besluit het.

Nederlands en Afrikaans “het mekaar in wese min hierna [1652] beïnvloed” (346). Onmiddellik daarna word ‘n streep deur hierdie verregaande stelling getrek. “Die kontak met die Europese Nederlands is nooit heeltemal verbreek nie. Uit verskeie bronne blyk dat die Kaapse taal met Europese Nederlands nie net in voeling gebly het nie, maar dat dit ondanks ‘n selfstandige ontwikkeling gedurig nuwe woorde en selfs uitspraakvorme uit Europese Nederlands oorgeneem het” (347) en “die standaardisering van Afrikaans ook sterk gesteun het op die voorbeeld van Nederlands” (403). “Vir die Afrikaanse woordeskat word teruggegaan op die Nederlandse woordeskat en daar word selfs gereken dat tot 85% [selfs 90%+ (450)] van die Afrikaanse woordeskat gewoon Nederlandse woorde is. Ook die grammatikale struktuur (sintaksis en morfologie) en klankstruktuur van Afrikaans is grootliks gebaseer op die Nederlandse model” (403; ook 449). “Die kernwoordeskat, woordvorming, woordafleiding en sinsbou [van Afrikaans] het … Germaans (Nederlands) gebly” (436). Dit volg dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is, al het hy buite Europa ontwikkel. Ook: Al het Afrikaans in Afrika ontwikkel, is sy wesenlike aard nie dié van ‘n Afrikataal nie. Afrikaans was, is en bly ‘n Indo-Europese taal wat grootliks uit Hollands en daarna uit Nederlands ontwikkel het.

Die outeurs kom “tot die gevolgtrekking dat die vroeë Nederlands aan die Kaap ‘n geleidelike wysiging op elke gebied van die taalstruktuur ondergaan het” (485). Onmiddellik na hierdie verregaande stelling word die teenoorgestelde standpunt ingeneem. “Die byna ongewysigde sintaksis, die klankvorm van die woorde en die woordeskat dui op ‘n ononderbroke kontinuïteit van Nederlands wat geleidelik as gevolg van taalversteuring ‘n sterk vereenvoudiging, maar geen herstrukturering nie, ondergaan het” (485).

Die ontwikkeling van Afrikaans word in hierdie boek beskryf as “die produk van (i) normale taalverandering [bv vanweë die ander omgewing waarin Hollands aan die Kaap gepraat is en die sprekers se geografiese isolasie van Europa], (ii) beïnvloeding as gevolg van taalkontak en (iii) taalversteuring” (485). Kort ná 1652 aan die Kaap het “die gebrekkige Nederlands van Europese immigrante, van Khoi-Khoin en slawe sy invloed laat geld en die gesproke Nederlands … beïnvloed. Aanvanklik was die foute en afwykings onpatroonmatig, maar reeds kort ná 1700 word duidelike vereenvoudigingstendense sigbaar” (447). Die skrywers noem dat “die Nederlanders … dit baie moeilik gevind [het] om die Khoi-taal te leer” (466). Dan word daar met hierdie kompliment gekom: “Die Khoi-Khoin het … ‘n klaarblyklike aanleg vir tale gehad en het Nederlands op hulle manier vinnig aangeleer” (467). Die outeurs sal hopelik in die tweede boekdeel gronde vir hierdie stellings verskaf. ‘n Pro-Khoi-Khoin-ingesteldheid blyk uit die volgende: “Direkte Khoi-invloed kan in die Afrikaanse woordeskat gesien word, hoewel dit beperkter is as wat ‘n mens sou verwag” (467).

Oor taalkontak en -versteuring word verder gesê: “In die 18de eeu het tweetaligheid by [Kaapse] vreemdelinge voorgekom, byvoorbeeld by Franse en Duitsers, by Khoi-sprekers en Oosterse slawe. Dit was veral laasgenoemde se tweetaligheid en die daaruit resulterende taalversteuring wat direkte spore in wordende Afrikaans gelaat het” (474). Oor taalverandering, bv -versteuring, soos defleksie, word gesê: “Die verskynsel kom by alle vreemdelinge in min of meer dieselfde tyd voor sodat geen enkele groep [Franse, Duitsers, Khoi-Khoin, slawe] as die toonaangewende faktor uitgesonder kan word nie” (477).

Ook in ander opsigte het die slawe heel moontlik geen deurslaggewende invloed op Afrikaans uitgeoefen nie. In die boek word twee verskynsels uitgelig as taalversteurings wat deur die slawe se Maleis en Kreools-Portugees veroorsaak is (481): Eerstens reduplikasie, bv nou-nou, stuk-stuk, maar daar word erken dat “daar ook sekere aanknopingspunte [hiervoor] in Nederlands bestaan” (482) en tweedens “objekskonstruksie met vir” (482), maar geen voorbeeld hiervan word verskaf nie.

“Alle sprekers aan die Kaap het in die interne ontwikkeling van Afrikaans ‘n indirekte rol gespeel … ‘n Direkte invloed van bepaalde bevolkings- en taalgroepe kan net by hoë uitsondering met sekerheid uitgewys en bewys word” (485). Hier word seker en dan tereg na die relatief klein invloed op Afrikaans van die Franse, Duitsers, Khoi-Khoin en slawe verwys. Die blanke Hollandssprekendes, daarenteen, het sekerlik ‘n deurslaggewende direkte invloed op Afrikaans uitgeoefen.

Tereg word geskryf van “die Europa-penwortel” (166), “die hoofwortel van Afrikaans – sy Europese verlede” (167). In die boek word Afrikaans se storie 4 000 jaar vC begin by die Proto-Indo-Europese gemeenskap in die steppegebied in die omstreke van die Swart en die Kaspiese See (173). Die “bloedlyn” van Afrikaans het daar begin (179). Hierdie mense het oor eeue uit die steppe/grasvlakte van Asië weswaarts tot in Europa verskuif. Denemarke en Schleswig-Holstein in Duitsland word as die wieg van die Germaanse tale beskou (182). Uit Oergermaans het Noord-, Oos- en Wes-Germaans ontwikkel (204). Wes-Germaans word in Noordsee- (Engels, Fries) en Kontinentale of Binne-Germaans verdeel (216). Binne-Germaans word in Neder-Germaans, Middel-Germaans (bv Middelduits) en Opper-Germaans (bv Opperduits) verdeel. Middel- en Opperduits vorm saam Hoogduits (die Middel- en Suid-Duitse dialekte), waaruit Duits ontwikkel het. Uit Neder-Germaans het Nederduits (die kus- en suidelike dialekte) ontwikkel, waaruit Nedersaksies (bv Platduits) en Nederfrankies gespruit het. Nederfrankies word in Oos- en Wes-Nederfrankies verdeel. Uit laasgenoemde het Nederlands en daarna Afrikaans ontwikkel (222). Oud-, Middel- en Nieu-Nederlands word onderskei (229, 273). Opper/Hoog en Neder is geografiese verwysings na onderskeidelik hoërliggende of bergagtige en laer liggende Europese gebiede (224).

Die genealogie of biografie van Afrikaans word in die boek in die vorm van ‘n lang storie aangebied. Dit is seker waarom die outeurs skryf dat hulle “die skip na Afrika” haal (227) en nie ‘n vliegtuig nie. Teen 1775 kon Kaaps-Hollands tereg Afrikaans genoem word (440, 448). Dit hinder my dat in die vroeë Kaapse geskiedenis na Nederland, Nederlands en Kaaps-Nederlands (448) verwys word terwyl Holland (letterlik houtland – 503) eers in 1814 Nederland geword het en daar in 1652 “nog nie ‘n algemeen gebruikte standaardtaal” (449), te wete Nederlands, bestaan het nie. “Standaardnederlands [het] in die loop van die 17de en 18de eeu sy beslag gekry” (338). “Algemeen beskaafde Nederlands [is] op die grondslag van die beskaafde Amsterdamse uitspraak en taalgebruik” gebaseer (286). Dwarsoor die wêreld is dit die taalgebruik van die elite wat die standaardtaal deurslaggewend bepaal en nie die massa of gepeupel nie. Die besware dat Standaardafrikaans die resultaat van rassediskriminasie (bv ‘n apartheidsproduk) is, is dus misplaas.

Volgens P Baldi gee ‘n taal uitdrukking aan ‘n bepaalde kultuur en beskawing (172). Die kreolisering van ‘n taal sal dus, volgens R Romberg, aanleiding tot die skepping van ‘n nuwe kultuur gee (434). ‘n Mens kan dus redeneer dat die omskepping van Hollands in Kaaps-Hollands en daarna in Afrikaans (mettertyd Standaardafrikaans) uitdrukking aan die Europees gefundeerde kultuur en beskawing van blankes gee. Daarteenoor gee die neiging tot die kreolisering van Afrikaans met nie-Europese, Oosterse elemente en die latere oordadige vermenging van Afrikaans en Engels in Kaaps uitdrukking aan ‘n ander kultuur, te wete dié van bruin mense. Dit verduidelik dan nie net kultuurverskille tussen blankes en bruines nie, maar ook hulle verskil in benadering tot Afrikaans; dat Afrikaans deel van die kulturele kern van Afrikaners is terwyl bruines se verbintenis tot Afrikaans veel losser en selfs opsioneel is.

In hierdie verband skryf die outeurs: “Aangesien die evolusie van die taal met die wording van ‘n veelrassige bevolking in die destydse Nederlandse kolonie aan die suidpunt van Afrika vervleg is, en meer nog omdat die taal ná 1875 toenemend deur wit Afrikaners as hulle besit opgeëis is, het die taal en sy ontstaansgeskiedenis ‘n emosioneel omstrede twisappel van polemieke in akademiese kringe, spraakgemeenskappe en politieke groepe geword en gebly” (166). Dit lyk asof die outeurs in die tweede boekdeel met ‘n ander vertolking gaan kom as dié in die vorige paragraaf.

Die outeurs onderskei tussen pidgin en kreool. Pidgin is “‘n gemeenskaplike kommunikasiemiddel in ‘n meertalige gemeenskap,” bv Fanagalô, wat geen moedertaalsprekers het nie. Pidgin het ‘n vereenvoudigde grammatikale struktuur en ‘n beperkte woordeskat. ‘n Kreoolse taal, daarenteen, het wel moedertaalsprekers en kan ‘n voormalige pidgin wees (433). In die HAT word ‘n kreoolse taal beskryf as ‘n mengeltaal wat ontstaan het “tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel”, asook “enige taal wat die vermenging van meer as een taal is.” Die kern van kreolisering is dus vermenging, verbastering of hibriditeit en Kaaps en Kaapssprekers is sprekende voorbeelde hiervan.

Hugo Schuchardt (1842-1927) het aangevoer dat kreoolse tale “in geen opsig minderwaardig” is nie (75). Volgens DC Hesseling ontbreek “die tipiese kenmerke van kreolisering in Afrikaans” (426). Carstens en Raidt stem blykbaar hiermee saam: “Uit die literatuur oor die onderwerp kom dit voor asof Afrikaans nie werklik ‘n kreoolse taal is nie” (432). Dit volg dat die mengeltaal Kaaps (wesenlik) nie Afrikaans is nie. ‘n Mens vra jou ook af: Waarom word Afrikaans dan in minstens een van die ATM se pamflette as ‘n kreoolse taal beskryf? Carstens en Raidt krabbel dan terug met hierdie kwalifisering: “dat Afrikaans wel aan [sommige van] die eienskappe van kreoolse tale voldoen” (432). MF Valkhoff stem hiermee saam (435). FA Ponelis noem dat die kreoolse kenmerke van Afrikaans “van ‘n beperkte aard is” (434). TL Markey het elf kenmerke onderskei. Volgens Ponelis voldoen Afrikaans ten volle aan net twee en gedeeltelik aan ‘n verdere twee van hierdie kenmerke (434).

Carstens en Raidt kon “geen bewyse vir ‘n Kreools-Portugese substraat vind nie … Afrikaans het dus nóg uit ‘n pidgin nóg uit ‘n vorm van Kreools-Portugees ontwikkel … die kernwoordeskat, woordvorming, woordafleiding en sinsbou [van Afrikaans] het in hierdie proses Germaans (Nederlands) gebly” (436). “Let daarop dat nie alle Maleise en Kreools-Portugese woorde via die slawe in Afrikaans gekom het nie. Aangesien baie van dié woorde reeds voor 1650 deel van die Nederlandse seemanstaal was, het sommige van hulle as deel van die oorgeërfde Nederlandse woordeskat aan die Kaap ingeburger geraak” (468). Die veelgeroemde invloed van die slawe op Afrikaans word dus hiermee afgeskaal. Desnieteenstaande gaan die ATM op 5 Desember nogeens ‘n openbare lesing oor die slawe se rol in Afrikaans aanbied (LitNet 20 November).

As deel van taalsuiwering is daar destyds ‘n stryd teen basterwoorde gevoer; eintlik leenwoorde wat nie as eg Nederlands beskou is nie (281, 282). Maar daar is ook teen taaloorwoekering gewaarsku (283). Hendrik Spieghel (1549-1612) “wys daarop hoe Nederlands ontsier word deur die menigte Franse basterwoorde en dat dié ingewortelde misbruik die ondergang van die Nederlandse taal sal veroorsaak as daar nie ingrypende veranderings in die taalgebruik kom nie” (287, ook 289). Weens verengelsing kan dieselfde lot Afrikaans tref. Wat ek egte basterwoorde sou noem, word eufemisties deelwoorde genoem, soos “gesettled, gehandicapt … teamwerk … voetbalmatch” (396). Kaaps munt uit in sulke Afrikaans+Engelse basterwoorde. Weens die euwel van politieke korrektheid word Kaaps en sy sprekers nie net kritiekloos aanvaar nie, maar deur Afrikaansinstansies en bv -dosente geloof omdat hulle glo Afrikaans praat; selfs dat die toekoms van Afrikaans van hulle afhang.

M van Oostendorp vra tereg: “Bij hoeveel procent buitenlandse woorden kan je de Nederlandse taal niet meer een zelfstandige taal noemen?” (398). My indruk is dat dit vir polities korrektes min skeel as al die kernwoorde in ‘n Kaapse sin, of selfs die meerderheid Kaapse woorde, Engels is. Hulle sal steeds net lof daarvoor hê. As daar algemeen en sonder omhaal van woorde van vulgêre Latyn gepraat kan word (231), waarom nie ook van Kaaps as vulgêre Afrikaans nie?– as voortgegaan word om Kaaps as ‘n Afrikaansvariëteit pleks van as ‘n mengeltaal te beskou. Of waarom word Kaaps nie ‘n straattaal genoem soos ‘n soortgelyke mengeltaal (Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo/Surinaams) in Nederland nie? (377).

Ek vind dit interessant dat “een mengvorm van Standaardnederlands en lokaal dialect,” “‘n soort tussentaal,” Verkawelingsvlaams genoem word (372). “Die term ‘verkaweling’ is ‘n term vir ‘n stuk grond wat in boupersele verdeel is en bewoon word deur jonger gesinne met kleiner(er) kinders. Hierdie gesinne praat dan ‘n soort tussentaal met mekaar” (512). Toegepas op Suid-Afrika sou ‘n mens voorheen van Lokasie-Afrikaans kon praat, maar in die HAT staan daar:”lokasie”: “(rassisties) Vroeër, algemene benaming vir ‘n woonbuurt vir gekleurdes – tans heeltemal ongebruiklik.”

In die tweede helfte van die vorige eeu het Nederlands al hoe meer verengels. In hierdie eeu het daar ‘n kentering gekom, “‘n terugswaai na groter standvastigheid” (401). In 2015 is ‘n manifes oor die Nederlandse taal gepubliseer. “Hierdie manifes, wat saamgestel is deur ‘n aantal invloedryke persone in die Nederlandse tersiêre sektor, druk die bekommernis uit oor die invloed wat (‘n taal soos) Engels kan hê op die gehalte en volhoubare gebruik van Nederlands in die onderwys en aan universiteite” (399). In hierdie konteks word van taalverloedering, ‘n vorm van nie-normale taalverandering, bv -vereenvoudiging, gepraat (399). Redes daarvoor is gebrekkige skoolopleiding en sprekers wat minder taalbewus is (516). In Nederlands beteken verloedert om agteruit te gaan (400). Taalverloedering het dus die negatiewe betekenis van taalagteruitgang. In Suid-Afrika bestaan daar sedert 1955 ‘n Vryheidsmanifes wat politieke oogmerke het. Al is dit dringend nodig, is ons ligjare weg van ‘n Afrikaansmanifes omdat daar geen erns met taalsuiwerheid en taalgetrouheid gemaak word nie. In die woorde van G van Istendael kan ‘n mens sê dat baie Afrikaanssprekendes, wat Afrikaans betref, “blaakt van intellektuele luiheid” (373). Daar is iets soos taaldissipline (300) maar dit word al hoe moeiliker om tekens daarvan in veral gesproke Afrikaans op te spoor. Wat bitter nodig is, is gesaghebbende normatiewe invloede (445).

“Nederlanders het in die algemeen taaltrots” (379). Dít voed “‘n sterk kultuur van vertaling” (386). Nederlanders verkies om in hulle eie taal te lees. Kan ons met dieselfde oortuiging sê dat Afrikaanssprekendes verkies om eerder Afrikaans as Engels te lees? Is daar ‘n sterk aandrang dat leesstof nie (net) in Engels nie maar in Afrikaans beskikbaar gestel moet word? Dui dit nie onder meer op ‘n gebrek aan taaltrots nie? J du P Scholtz skryf: “Die ingrypendste vreemde invloed op die Afrikaanse woordeskat is ongetwyfeld dié van Engels” (473). Die outeurs verwys na: “Die anglisering en veramerikaansing van die Afrikaanse kultuur ten koste van die historiese Nederlandse [en Afrikaanse] kultuur” (415). “Tweetaligheid en nalatige taalgebruik het honderde anglisismes veroorsaak wat ondanks alle skooldril in die omgangstaal wyd aanvaar en gebruik word” (473). As tweetaligheid onsuiwere Afrikaans bevorder, hoe kry Afrikaansinstansies en -individue dit reg om eerder vir meertaligheid as spesifiek vir Afrikaans te stry?

Op die uitgewery se webwerf word gesê dat die outeurs ‘n inklusiewe benadering voorstaan. Dit kan onder meer ‘n aanslag op Standaardafrikaans insluit. JM van der Horst “stel die vraag of die tyd nie aangebreek het om weg te beweeg van die standaardvariëteit van die taal nie” (513). Daar word selfs na destandaardisering (dus nie herstandaardisering nie) verwys: “Destandaardisering is die proses waarvolgens die aard van die standaardvariëteit van ‘n taal aangepas word om ‘n groter sprekerspoel te verteenwoordig” (516), dus inklusiwiteit. Destandaardisering is ‘n afbreekproses en die teenoorgestelde van standaardisering, wat ‘n opbouproses is. Destandaardisering sál selfdood vir Afrikaans wees. In sy huidige situasie is die eenheid wat net in Standaardafrikaans gevind kan word noodsaaklik vir oorlewing. Desnieteenstaande roem Afrikaansinstansies, soos die ATR, ATKV en ATM, daarop dat hulle eerder Afrikaansvariëteite soos Kaaps, dus Afrikaansverdeeldheid, as Standaardafrikaans en Afrikaanseenheid bevorder.

Weens die sug na politieke korrektheid, bv inklusiwiteit, propageer die genoemde Afrikaansinstansies nooit taalsuiwerheid nie. In hierdie verband veroorloof die outeurs hulle ‘n spottende verwysing na die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA): “Die ‘Genootskappers’ (1875 en later) en ander taalliefhebbers het angsvallig teen nuwe anglisismes gewaak en alles in hulle vermoë gedoen om die ou ingewortelde ‘vreemdelinge’ deur egte Dietse [Nederlandse/Teutoonse/nie-Engelse] woorde te vervang” (396). Die strewe na taalsuiwerheid vind uiting in pogings “om die vreemde woorde deur inheemse terme te vervang” (267). Dit dui op taalwaardering en die daarstel van taaleenheid (281). Spieghel het bv ‘n beroep op professore gedoen “om die volkstaal te suiwer, te verryk en te versier” (289). Doen hedendaagse Afrikaansprofessore dit? Samuel Ampzing (1590-1632) “was ‘n sterk teenstander van die gebruik van vreemde (leen)woorde, soos uit Latyn en Frans, in Nederlands. Die invloed van hierdie tale het hy as ‘verderfelijk’ beskou omdat dit die ‘schone Nederlandse taal vervuilden'” (309). “Die opbou van ‘n algemeen beskaafde Nederlands moes noodsaaklik [noodwendig] saamgaan met die strewe na taalsuiwering … Deur nuwe woordskeppings het hulle op verskillende terreine probeer om die groot hoeveelheid vreemde woorde deur egte Nederlandse woorde te vervang” (312). Dus, taalsuiwering is opbouend en beskawend. Is albei laasgenoemdes nie hoogs nodig in (Suid-)Afrika nie?

Tot sy eer het die Vereenighde Oosindische Compagnie (VOC) “‘n suiwer Nederlandse taalgebruik aan die Kaap sterk aangemoedig” (347, ook 472). “Die taalbeleid van die Kompanjie … was verantwoordelik vir die vinnige verdwyning van die Franse taal aan die Kaap” (470). Die slawe is “op allerlei maniere aangemoedig om Nederlands te leer. Hulle kon byvoorbeeld hul vryheid koop as hulle Nederlands kon praat en in die NG Kerk aangeneem was” (468). Spieghel skryf van “de Enghelse die tóch een schuimtaal hebben” (289). Daarmee word bedoel dat Engels ‘n ontleende taal is (291), dus baie leenwoorde het. Afrikaans is weens verengelsing besig om, soos Kaaps, ‘n skuimtaal te word en Afrikaansinstansies en -dosente verroer (in die openbaar) nie ‘n vinger daaroor nie. Volgens Joost van den Vondel (1587-1679) “het die strewe na taalsuiwerheid reeds rondom 1650 duidelik vrugte getoon: ‘Wat onze spraeck belangt, die is, sedert weinige jaren herwaert, van bastertwoorden en onduitsch allengs geschuimt, en gebouwt'” (314, ook 347).

Voorheen het ek na hierdie werk verwys as die bekendste ongepubliseerde boek in Afrikaans. Jaar na jaar het Carstens beweer dat die boek eersdaags sy verskyning sou maak. Die teks het oor jare tot stand gekom en is in wisselende mate bygewerk. Die boek dra die letsels van sy geskiedenis. “Hierdie deel van die boek is grootliks in die tydperk Maart-Junie 2013 geskryf, maar wel gekontroleer en aangepas in November 2015, asook in Junie 2017” (490). 2015 word die hede genoem (386). Daar word na die 2009-uitgawe van die AWS verwys (108); nie na die 2017-uitgawe nie. Van ‘n 2013-artikel word anglisisties gesê: “publikasie in proses” (557).

My teks is reeds te lank. Ek gaan dus nie in besonderhede die taalfoute in die boek uitwys nie. Dit is egter ‘n riem onder die hart dat na ‘n taal as “hom” verwys word (238), gedagtig aan Carstens se gewoonte om na Afrikaans as “haar” te verwys. In die plek waar ek gewerk het, is van die eerste dinge wat skrywers ingeprent is dat hulle nie woorde soos “weer”, “ook” en “kan” onnodig moet gebruik nie. Daar is waarskynlik geen ander Afrikaanse boek waarin “weer” so dikwels onnodig en in baie gevalle misleidend gebruik word soos in hierdie een nie. Vir my as leser het dit mateloos geïrriteer. “Weer” moet sover moontlik uit die teks geweer word. “Ook” behoort ook afgeskaal te word. Die teks sal wen aan duidelikheid as “soos” in baie gevalle met “namate” vervang word. ‘n Mens kan maar net hoop dat die manuskrip van die tweede boekdeel gesuiwer word van die gebreke wat die eerste deel kenmerk.

Die outeur(s) skryf: “Ons lewe … met die onvolmaaktheid saam” (164). Maar die peil van ‘n manuskrip bepaal in groot mate die gehalte van ‘n publikasie. Ek dink die verskyning van hierdie boek is voorafgegaan deur groot redaksionele smart by die uitgewery. Naspers/Media24 het, soos Demas, die materiële wêreld liefgekry en sy voorliefde vir Afrikaans versaak. Daardie uitgewery sou nie ‘n waarskynlik onlonende projek soos hierdie een aangepak en deurgevoer het nie. Nicol Stassen en Protea Boekhuis verdien ons hoogste dank vir die uitnemende rol wat hulle in die publikasie van Afrikaanse boeke speel. Hulle verdien egter deeglik afgeronde manuskripte; nie soos hierdie een en dié van Ena Jansen se Ons Japie (Praag 4.09.2016) nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.