Leon Lemmer: ‘n Adam Small-huldigingsbundel wat drup van die gif

Adam Small

In verligte geledere word die nuwe Suid-Afrika as voortreflik beskou. Dit bied glo geleenthede wat voorheen nie bestaan het nie. Dit is deesdae bv moontlik om iemand groter as lewensgroot voor te stel; natuurlik mits hy/sy tot die nie-wit deel van die demografiese spektrum behoort. ‘n Deurtrapte geweldenaar kan as ‘n vredesikoon herontplooi word. ‘n Grondverskuiwing in perspektief het veral sedert 1990/94 by sommige mense plaasgevind. Selfs die hedendaagse vaandeldraers van enersyds die oorspronklike inwoners, die Khoi-San, en andersyds die agtergesteldes weens slawerny, baat by hierdie getransformeerde entoesiasme. Hulle maak nie net daarop aanspraak dat die grond waarop hulle voorouers rondgetrek het eintlik aan hulle behoort nie, maar sommer ook die taal, Afrikaans (wat duidelike Europese wortels het), wat plaaslik ontwikkel is. Dit is hierdie drang na verinheemsing wat dit bv meer as moontlik maak, want dit het werklik gebeur, dat een van die hoofroetes in die Kaapse skiereiland na die marxis, Jakes Gerwel, vernoem is. Kom laat ons daaroor sing, sou Adam Small gesê het.

Van almal word verwag om ‘n lofsang aan te hef vir die huldigingsbundel van Adam Small, Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans (Tygervallei: Naledi, 2016, 601p, R250), met WAM Carstens en Michael le Cordeur as redakteurs. Die temas is Adam Small, bruin mense en Afrikaans. Ek het reeds oor sommige aspekte van hierdie bundel geskryf (Praag 25 Maart) en bepaal my in hierdie rubriek dus by die inhoud, die boodskap wat oorgedra word.

Rosalie Small (sover ek weet Adam se tweede vrou, maar dit word nêrens vermeld nie) noem dat Adam se een oupa ‘n Indiër en sy een ouma ‘n Ier was (p 12). Sy ma was ‘n Moslem en sy pa was protestants, maar Adam het ‘n Engelse Rooms-Katolieke skool bygewoon (14). Oor Kaaps skryf Rosalie: “Dit blý vir Adam nie net maar ‘n ‘variant’ van Afrikaans nie, maar Afrikaans sélf in murg en been” (8). As dit só is, het Engels sedert 1795 soos ‘n kanker daardie murg en been van Kaaps binnegedring. Na aanleiding van daardie geradbraakte taal beweer sy: “Afrikaans en die ontwikkeling daarvan, van her af, eintlik ‘bruin’ is” (14). Die waarheid is egter dat hoofsaaklik blankes Afrikaans ontwikkel het.

As ‘n mens rede het om trots op jou groepverwantskap te wees, spesifiseer jy dit graag. Daarom maak ek geen geheim daarvan dat ek blank en ‘n Afrikaner is nie. ‘n Mens het geen beheer oor die ras waaraan jy geneties behoort nie en dit is bitter moeilik om jou etnisiteit, jou basiese kulturele oriëntasie, grondig te verander. ‘n Mens behoort niemand kwalik te neem omdat hy tot ‘n bepaalde ras behoort of uit rasvermenging voortkom nie. Iedere mens moet myns insiens aanvaar wat hy geneties is en van sy eenmalige lewe die beste probeer maak. Om hierdie rede vind ek die volgende stelling van Christo van der Rheede nie net misleidend nie, maar doelbewus vals: “Daar is immers net een ras en dit is die menseras” (20). Hy kan gerus die mens as ‘n spesie beskou wat uit verskillende rasse bestaan. Vanweë kulturele differensiasie is daar naas ras iets soos etnisiteit. Sommige rasse en etnisiteite, bv Afrikaanssprekende blankes, oftewel Afrikaners, het uitsonderlik gepresteer.

Let op hierdie wilde stelling van Van der Rheede: “Geen ontwikkeling is moontlik indien daar nie werk en welvaart is nie” (29). Dus, uit werk en welvaart volg ontwikkeling. Dit kan egter ook andersom wees: uit ontwikkeling volg (meer) werk en (groter) welvaart. “Die uitbou, handhawing en kreatiewe aanwending van Afrikaans is dus van kritieke [bedoelende: deurslaggewende] belang; daarom moet almal wat werk en welvaart in Afrikaans skep, saamstaan vir die behoud van Afrikaans as ‘n onderrigtaal op skool asook naskoolse vlak” (33). Vrome woorde, maar wat het Van der Rheede vir Afrikaans vermag, bv as direksielid van die Afrikaanse Taalraad en as iemand wat die hoof was van wat nou die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans genoem word? Hy het gesorg dat sy kinders Engelse skole bywoon en hy het geen daadwerklike poging aangewend om te verseker dat die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit Stellenbosch Afrikaans as onderrigmedium behou nie. Toe hy die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut was, is eerder van die AHi gepraat; die Afrikaans-aspek is gekamoefleer en nuwe projekte het eentalige Engelse name gekry. Ek vind dit ironies en hoogs onvanpas dat Van der Rheede onlangs op Internasionale Moedertaaldag toegelaat is om oor die belangrikheid van moedertaalonderrig te praat (Afrikaanse Taalraad-webwerf, 22 Februarie, video).

Jacques Walter Beukes skryf: “Die voertaal in die NGSK [Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk] en die NGKA [Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika] was tot en met 1997 Afrikaans” (43). Wat was, is (bv wat die posisie van Afrikaans betref) van mindere belang as wat is. Hierdie kerkgenootskappe het in die nuwe Suid-Afrika, ooreenkomstig die mode, in groot mate teen Afrikaans gedraai. Ek het in hierdie verband reeds geskryf oor wat Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel oor die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in hierdie bundel gepubliseer het (Praag 25 Maart). Beukes verwys na “die evangelie se eis dat daar aan álle mense geregtigheid behoort te geskied” (45). Het die NGSK/VGK en die NGKA al beswaar geopper teen al die ongeregtighede waarmee blankes in die nuwe Suid-Afrika te make het? “Die lede van die NGSK en die NGKA [het] geweier om saam met die [blanke] afgevaardigdes van die NGK en die NHK nagmaal te gebruik” (46). As blankes so iets aan nie-wittes doen, word hulle van liefdeloosheid en selfs rassisme beskuldig. Op grond waarvan sou hierdie nie-wittes se gedrag nie die uitdrukking van ten minste flagrante liefdeloosheid wees nie? Die Belydenis van Belhar spreek hom uit teen “gedwonge [rasse]skeiding” (49). In die nuwe Suid-Afrika is “vryheid” een van die gewildste gonswoorde. Waarom word die ANC-regering se beleid van gedwonge rasse-integrasie nie in dieselfde mate as gedwonge rasseskeiding veroordeel nie?

Met verwysing na Soweto in 1976, beweer Reggie Nel dat Afrikaans “in die kele van swart leerders” afgedwing is (58). Waarom word die opdringing van Engels in bv skole en universiteite deur die ANC-regering nie insgelyks veroordeel nie? Hy skryf van “die gewraakte aankoms van Jan van Riebeeck” (61). Maar Nel sou nie gewees het as blankes nie hierheen gekom het nie. Hoe sou Suid-Afrika daar uitgesien het as die land nie oor eeue heen onder die leiding van blankes ontwikkel is nie? Hy skryf eerder eensydig oor “koloniale uitbuiting” (61), wat glo met roof en geweld gepaard gegaan het (64) en “wit mense [het] onverdiend ryk geword” (69). Daarteenoor stel ek: Nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika (en dalk van die wêreld) het so baie veral swart mense in so ‘n kort tyd onverdiend stinkryk geword as in die nuwe Suid-Afrika nie. Nel assosieer kolonialisme met geweld maar die ANC se gewelddadige geskiedenis bly onvermeld. Soos verwag kan word, is Nel ten gunste van “regstellende geregtigheid” maar blankes word uitdruklik van hierdie barmhartigheid uitgesluit. Dit gaan vir hom net om “inheemse volke” (67).

Raymond John van Diemel het ‘n (ongesonde) belangstelling in die ANC-aktivis Dulcie September. Let op hierdie gewoon oordrewe en valse stelling: “Politieke gesprekke was ‘n integrale deel van elke [!] bruin huisgesin se daaglikse lewe ná Uniewording in 1910” (95) – en seker meer só sedert 1948? Ook: “In die meeste [!] plattelandse dorpe is takke van die konserwatiewe Ossewabrandwag … gestig” (99). En: “swart mense [het] geen [!] regte geniet” nie (101). Afsonderlike woongebiede en geriewe is glo “verafsku. Daar was absoluut geen greintjie redelikheid aan apartheid of die toepassing daarvan nie” (106). Hy skryf van Die Burger se “verwronge mening” (95), “die absurditeit van aparte skole” (96) en “die Kerk se onheilige rol” (98). Rasse-onderskeiding word ‘n euwel genoem (101), maar slegs in die konteks van die blanke bewind, wat beskuldig word “van swak regering en die blatante misbruik van staatsgeld” (98). Die ANC-regering is in erger mate skuldig aan dieselfde vergrype, maar dit bly onvermeld. Van Diemel verwys na “die geldelike houvas van die wit kerk op die NG Sendingkerk” (104). Die dankoffers van blankes het die bestaan van die Sendingkerk moontlik gemaak. Daarvoor moet dankie gesê word pleks van om dit te veroordeel.

Willa Boezak, ‘n Griekwa, noem Simon van der Stel “die platneus bruin goewerneur van die VOC” (116). Ook hy maak hom skuldig aan oordrewe stellings, bv “Ons geskiedenis word met woorde soos volksmoord en kulturele uitwissing beskryf, maar samevattend kan van ‘stelselmatige onteiening’ gepraat word” (120-121). Boezak herhaal Christo van Rensburg se bewering dat Khoi-Afrikaans die eerste Afrikaans was en voeg oordrewe daaraan toe: “Die Khoi-San het geen [!] erkenning gekry as eerste praters daarvan nie” (124).

Samevattend word oor Patrick Mettler se hoofstuk geskryf: “Bruin mense kan met reg beskou word as die stiefkinders op die Suid-Afrikaanse landskap. Hul bydraes tot die land se demokratisering asook die rol wat hulle gespeel het in die vestiging, ontwikkeling en verryking van Afrikaans as taal in al sy variëteite word steeds misken” (130). Bruin mense word voorgestel as onmisbare “handhawers en uitbouers van Afrikaans” (131), terwyl twee van my hoofbesware juis is dat hulle die toekoms van Afrikaans ondergrawe met Engelsbesoedelde Kaaps en dat die bruin elite meesal voorkeur aan Engels gee en nie bereid is om vir Afrikaans in die bres te tree nie. Mettler bevestig eintlik my besware met sy ondersteuning van die huidige onverkwiklike taalsituasie waarin Afrikaans ruimte moes “afstaan sodat die ander Afrikatale ook hul regmatige plek kon inneem … Ons taal [maar nie Engels nie] moes en moet steeds ruimte skep vir ander tale” (141). Geen wonder nie dat hy na Nelson Mandela verwys as “die bekendste en mees gerespekteerde staatsman in die wêreld” (141).

Cornelius Thomas noem die bruin elite die progressiewes (154). Dit is hulle wat by uitstek teen Afrikaans gedraai het. Byvoorbeeld, “sedert die 1970’s het die Kleurlingstudentebeweging hulself selfbewustelik en groeiend in Engels uitgespreek” (159). ‘n Teksvoorbeeld hiervan is in ‘n ander hoofstuk gereproduseer (174-175). Dit is myns insiens ‘n mite dat die soort Afrikaans wat doeltreffend teen Engels weerstand kan bied algemeen in bv die Kaapse metropool by bruines aangetref word. Van Adam Small skryf Thomas bv: “Sy literêre werk staan sonder verskoning teenoor [!] die Afrikaner se Algemeen Beskaafde Afrikaans” (159); dus Kaaps en Standaardafrikaans is teenpole. Engelsbesoedelde Kaaps is myns insiens nie die basis vir of die behoud van Afrikaans nie. Kaaps is veel eerder die ondermyner van Afrikaans.

Danny Titus wys tereg daarop dat taal en identiteit nie van mekaar los te maak is nie (183). Verskillende kulture kan egter dieselfde taal praat (184). Taal kan as ‘n belangrike mobilisasie-instrument ter bevordering van etnisiteit of ander eiebelange gebruik word (184). Maar die stelling, “die Afrikaanse taal is duidelik ‘n kreoolse, gemengde taal” (187), is problematies. Enersyds omdat die kreoolse element (Khoi, San, Maleis, ens) klein is. Andersyds omdat die tipering van Afrikaans as ‘n gemengde taal die deur vir die mengeltaal Kaaps wyd oopmaak. Die stelling, “Afrikaans word lank nie meer as ‘n Europese taal gesien nie” (190), is misleidend. Afrikaans is van huis uit wesenlik Nederlands, wat plaaslik aanpassings ondergaan het; dus ‘n Nederlandse dialek, of alternatiewelik ‘n taal uit eie reg. Dit is politieke byderwetsheid wat as motivering dien om die Europese wortels van Afrikaans te ontken. Dit is in dieselfde liga as blankes wat hulleself as Afrikane of bruines wat hulleself as swart beskryf.

JC Steyn en A Duvenhage skryf tereg: “In die geskiedenis van Afrikaans het taalgetrouheid in die vorm van ‘n taalbewuste etniese nasionalisme ‘n lewensbelangrike rol gespeel om dit ná die Anglo-Boereoorlog te red … Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag” (188). Ten spyte van die betrekking wat Titus as ATKV-kultuurhoof beklee, is daar nie gevaar dat hy, wat Afrikaans betref, van taalgetrouheid beskuldig kan word nie. Al is sy moedertaal Afrikaans en al het hy ses jaar lank in Nederland studeer, het hy sy kind na sy terugkeer na Suid-Afrika in ‘n Engelse skool geplaas. Titus se negatiewe houding teenoor Afrikaans en Afrikaners word myns insiens deurslaggewend deur ANC-politiek bepaal.

Hein Willemse beweer: “Hierdie land se grootste bate is dat hy kultureel divers is” (191). Grondliggend aan hierdie soort stelling is die veronderstelling dat kulture mekaar “verryk.” In werklikheid kan ‘n nasie kwalik uit uiteenlopende kulture ontwikkel; veral nie in Suid-Afrika waar die kulture so grondig verskil nie. ‘n Monokulturele land kan kitsklaar ‘n nasie wees; geen moeisame of vergeefse proses is nodig nie. In my slot keer ek terug na Willemse.

Na aanleiding van Wannie Carstens se alewige oorbeklemtoning van die verskeidenheid Afrikaanssprekendes en veral Afrikaansvariëteite, skryf Titus: “Die huidige prosesse van erkenning van mekaar se identiteite, die bewustelike afwys van die verlede se eensydigheid en die openheid tot ‘n oper, gemakliker kaalvoet-Afrikaans is van die eerste stappe wat reeds gegee is” (194). Ja, die identiteit of kultuur van wittes en bruines verskil. Die eensydighede van die verlede moet egter naas dié van die hede bygehaal word. Dit is te betwyfel of die nuwe Suid-Afrika deur blankes as oper ervaar word. Byvoorbeeld, enige belediging mag blankes toegesnou word (soos Titus as deeltydse menseregtekommissaris weet), terwyl talle doodgewone woorde deur ander rasgroepe gebruik mag word, maar nie deur blankes nie. Kaalvoet-Afrikaans is seker dieselfde as Michael le Cordeur se byderwetse Afrikaans, waarvolgens Afrikaners “hul beheptheid met ‘suiwer’ Afrikaans [moet] laat vaar ten einde nasiebou te bevorder” (xix). Dit kan kaalgat-Afrikaans tot gevolg hê. Sodanige Afrikaans kan ook volg op die metaforiese mode-oproepe dat Afrikaans vriendeliker moet wees (194). Engels is hoogs onvriendelik wat bv spelling en uitspraak betref. Nogtans word daardie onvriendelike Engels al hoe meer gebruik en daar word gepoog om dit korrek te gebruik; nie om daarmee te mors soos Afrikaans blykbaar maar mee gemors mag word nie.

Titus wil die Boer in Jaap Steyn bykom. Steyn se “ons” is glo wit (195). Waarom nie? Telkens word daar deesdae beweer, bv deur Michael le Cordeur, dat Afrikaans nie, soos CJ Langenhoven geskryf het, ‘n witmanstaal is nie. Dan word daardie stelling net so gelaat. Afrikaans is sekerlik óók ‘n witmenstaal en histories veral ‘n witmenstaal omdat dit danksy feitlik uitsluitlik blankes ontwikkel en amptelik erken is. Titus se mening, daarenteen, is soos dié van Hans den Besten: “Was dit nie vir die agentskap van die inheemse Khoekhoen (Khoi-Khoin) en ingevoerde Afrika- en Asiër-slawe-arbeid nie, sou daar geen Afrikaans gewees het nie” (195). Die volgende waarheid wat Jaap Steyn kwytraak, toon hoe dislojaal die bruin elite reeds lank teenoorAfrikaans is: “Bruin opvoedkundiges het in die 1950’s die uitbreiding van moedertaalonderwys van laer- tot hoërskole teengestaan” (196). Suid-Afrika het volgens Titus weens apartheid “briljante mense verloor” (197). Waarom noem Titus nie dat die nuwe Suid-Afrika weens rassediskriminasie steeds (en seker meer as ooit voorheen) briljante mense verloor nie?

Jaap Steyn “verwys na bruin mense wat deur ‘politici’ probeer wysmaak is dat die Afrikaners weer slawerny wil instel as hulle die mag sou kry” (195). Dan volg hierdie uiters giftige opmerking van Titus: “Hulle was volgens my nie ver verkeerd nie” (195). Dieselfde argument is in die jare veertig deur ‘n Sap-kandidaat in ‘n verkiesing op Stellenbosch gebruik. Titus verwys twee keer na bladsy 32 in Steyn se 2014-boek, terwyl die verwysings in werklikheid na bladsy 39 tot 40 is. Dit is moontlik dat Titus, met sy soort ingesteldheid, net daardie gedeeltes gelees het wat volgens opskrifte op bruines betrekking het pleks van die hele boek te lees, soos tradisioneel van ‘n ATKV-kultuurhoof vir wie Afrikaans erns was, verwag kon word. Later kom Titus met die geykte gemeenheid om apartheid met die Herrenvolk en Nazi’s te assosieer (197). Hy haal uit ‘n Adam Small-gedig aan waarvolgens Small “ingebind in Afrikaans, vir altyd,” sou wees (200). Een van die dinge wat Small in sy laaste lewensjaar gedoen het, was egter om hom ondubbelsinnig uit te spreek ten gunste van Wim de Villiers se verengelsing van die Universiteit Stellenbosch.

Michael le Cordeur se suster, Edwinah, was in 1980 ‘n skoonheidskoningin, mej Rapport. Sedertdien het sy Edwena Goff geword en ‘n hoofstuk tot die bundel bygedra. Jakes Gerwel en Franklin Sonn is volgens haar “twee van ons land se kleurvolste akademici” (206). Gerwel word “‘n legende” genoem en Sonn “‘n meester in die kuns van beeldbou” (212) – myns insiens in die eerste plek van homself. Sy noem dat die Departement Afrikaans aan die UWK destyds die grootste in die land (en dus in die wêreld) was (217). Wat sy verswyg om te noem, is die rede waarom dit so gewild was. In die klasse en daar buite het dosente soos Jakes Gerwel en Ikey van der Rheede studente volgestop met linkse ideologie, insluitende kommunisme.

Edwena se droom was om ‘n professor te word (211) maar sy het standerd 9 gedruip (208) asook haar tweede jaar op UWK (212). Sy het toe liewer ‘n “rolmodel” geword (211). Sy erken dat sy ‘n studiebeurs van die “apartheidsregime” ontvang het (209). Dit het destyds vir byna alle UWK-studente gegeld; dus ook vir baie van die outeurs van hierdie bundel. Maar ek wag steeds daarop dat hulle, soos Edwena, hierdie feit ruiterlik erken en dankie vir die geborgde studiegeleentheid sê. Het ouboet Michael dit al gedoen? Ten slotte verwys Edwena na Afrikaans as “die taal waarin ek op UWK studeer het” (216). Dit is nie meer moontlik nie. Ek wag steeds op bruin mense wat genoegsaam taalgetrou is dat hulle daarop aandring dat Afrikaans aan die UWK in ere herstel word.

Michael le Cordeur het ‘n hoofstuk oor die studente-opstande van 1976 tot 1980 met ‘n politieke motief geskryf: “om erkenning te gee aan almal wat help skryf het aan die storie van die nuwe Suid-Afrika” (220). Hy lys die voorname van sy klasmaats in die 1976-matriekklas (222). Soos gebruiklik in bruin geledere het feitlik geeneen ‘n Afrikaanse voornaam nie. Die grootste deel van die skool is deur vier skoliere afgebrand. Le Cordeur keer hierdie sabotasie glad nie af nie; eerder die teenoorgestelde. Hierdie vandale moes myns insiens lewenslank tot hardepad veroordeel gewees het. Pleks daarvan is daar van hulle vereis om van 1976 tot 1994 elke Kersfees by die polisiekantoor aan te meld. Toe demokrasie aanbreek “is hierdie onmenslike praktyk gestop” (224). Dit is vir my duidelik dat Le Cordeur nie net polities onredbaar links is nie, maar dat hy ‘n opvoedkundige is wat blykbaar nie helderheid het oor wat opvoeding behels nie. Ook nie wat ‘n universiteit en die akademie veronderstel is om te wees nie, want hy beskou die studente-opstand in 1980 as “waarskynlik … die belangrikste oomblik in die lewe van UWK, want regerings- en universiteitsgesag is uitgedaag” (228).

Die UWK- en ANC-aktivis, Cecyl Esau, ‘n Robbeneilander van weleer, wat hoofstuk 11 geskryf het, is in Michael le Cordeur se oë ‘n jong held (224). Soos gebruiklik kan Le Cordeur nie sy selfliefde, sy narsisme, agterweë laat nie. In 1976 het “ek my matriek onder uiters moeilike omstandighede voltooi en gelukkig ook goed geslaag” (225). “Deursettingsvermoë en harde werk van my kant af” word in 1979 met die graad BA beloon (227). Hy beweer dat die veiligheidsmagte hom in 1980 na ‘n skermutseling “vir dood” op die UWK-kampus agtergelaat het. “Ek het gehuil, nie van pyn nie, maar van haat … My longe is permanent inwendig beskadig” (229); darem nie uitwendig nie.

Soos die Afrikaanse Taalraad bevorder Le Cordeur eerder meertaligheid as spesifiek Afrikaans. “Dit is onafwendbaar [?] dat ons modern jeug die belangrikheid van meertaligheid moet besef. Suksesvolle interaksie met ander landgenote vereis dat ons soms die gemaksone van Afrikaans moet verlaat en in ander tale kommunikeer. Dit vra vir ‘n nuwe soort opoffering” (233 – op p 234 word hierdie onoorspronklike bewoording klakkeloos herhaal). “En hiervoor is ek bereid om myself en my tyd op te offer” (234). As deel van hierdie opoffering neem Le Cordeur vir lief met die verengelsing van die UWK en US. Afrikaans mag glo nooit weer aan mede-Suid-Afrikaners “opgedwing” word nie: “nie op skool nie en ook nie aan tersiêre instellings nie” (233), maar Engels is klaarblyklik vrygestel van hierdie verbod.

Llewellyn MacMaster is een van die talle oud-UWK-studente en ANC-aktiviste wat ‘n betrekking aan die Universiteit Stellenbosch beklee. Sy voorneme is “om ‘n ewige aktivis te bly” (252). Hy het groot waardering vir Allan Boesak, “die charismatiese studenteleraar, teologiese reus en sosiale aktivis” (246). Die mate waarin die UWK se teologiestudente deur sommige van hulle dosente, myns insiens veral Jaap Durand, opgesweep en geradikaliseer is, blyk uit die feit dat daardie studente “geweier [het] om klasse van wit dosente wat steeds lidmate van die NG Kerk was, by te woon en hulle het geëis dat hierdie dosente hul legitimasie daar opsê” (248). ‘n Uitlating van Dietrich Bonhoeffer, waarmee Durand dweep, is as spoorslag misbruik: “When Christ calls a man, he bids him come and die” (251). MacMaster erken die uiterste mate waarin godsdiens vir politieke doeleindes misbruik is: “Ons eie preke en preektemas het ons verbintenis tot die stryd om bevryding weerspieël” (251).

In 2013 het Michael le Cordeur as mede-outeur ‘n boek oor die Wellingtonse klopse gepubliseer. In hoofstuk 16 herkou hy dieselfde onderwerp. “Die Klopse troepe se name op sigself spreek boekdele” (260), maar vir my om ‘n ander rede as vir hom. Le Cordeur gee graag voor dat hierdie klopse vreeslik Afrikaans is, maar die name van hulle groepe of troepe is almal Engels. Die klopse het glo “‘n ryk en hartseer geskiedenis” (258). Le Cordeur verwys net na die slawe wat “deur die Hollanders met skepe na die Kaap gebring is” (263). Oor die ongeëwenaarde rol wat die Britte dwarsoor die wêreld in die slawehandel gespeel het, swyg hy. Die slawe het na bewering net “een dag in die jaar af gehad: die dag ná Nuwejaar” (264). Dit is hierdie dag wat die klopse jaarliks met optogte herdenk. En die ander dae in die lewe van slawe? “Gegewe die uiterste wreedheid van slawerny – die daaglikse slae met swepe, die marteling en teregstellings, die minagting en verontmensliking was dit te verstane dat hierdie een dag – soos ook die einde van slawerny – met sentimentele uitbundigheid gevier is” (264). Le Cordeur se beskrywing van slawerny klink soos die oordrewe beskrywings van apartheid. Die ooreenkomste tussen slawerny en apartheid is vir hom en sy geesgenote verklaarbaar omdat blankes (Hollanders en Afrikaners) vir albei verantwoordelik gehou word.

Le Cordeur beroep hom op ID du Plessis vir die stelling dat bruines “Afrikaanse en Nederlandse liedere in Kaapstad lewend” gehou het “in ‘n tyd toe talle Afrikaners in Kaapstad verengels het. Tog het hierdie kultuurbydrae weinig erkenning gekry van die Afrikaanse organisasies” (268) – teen hierdie tyd ‘n geykte verwyt van Le Cordeur gerig teen Afrikaners. Wat hy doelbewus verswyg, is dat bruines gouer en in groter mate as die Hollanders/Afrikaners na 1795 verengels het. Een van die gevolge hiervan is dat bruines se “Afrikaans”/Kaaps in groter mate as die moedertaal van Afrikaners met Engelse woorde besoedel is.

Gavin R Davis skryf oor langarmmusiek. Hoewel mense soos Michael le Cordeur die bruin mense graag as stoere ondersteuners van Afrikaans, selfs as die eintlike Afrikaanssprekendes – en sekerlik as die meerderheid – voorstel, is al die orkesname Engels.

Marlene le Roux is die direkteur van KunsteKaap se Kunstesentrum. KunsteKaap word gewoonlik Artscape genoem en besonderhede daaroor verskyn net onder die Engelse naam in die telefoongids. Le Roux word beskryf as ‘n oud-student van Michael le Cordeur (262). Haar siening, wat ook die amptelike siening is, is soos volg verwoord: “Voor Suid-Afrika se oorgang na ‘n inklusiewe demokratiese regering in 1994, was kunsonderrig nie beskikbaar vir die meerderheid leerders in Suid-Afrika nie. Om hierdie opvatting en houding te hervorm en te help met nasiebou, het KunsteKaap (Staatsteater in Kaapstad) verskeie programme ontwikkel en gevestig om sosiale transformasie te fasiliteer en om brûe te bou oor die talle aspekte wat Suid-Afrika verdeel het” (285). Dit gee ‘n aanduiding van hoe Suid-Afrika se geskiedenis “volkome” deur die amptenare van KunsteKaap verstaan word (285). Kuns word dus met politieke motiewe bevorder. Voor 1994 was kunsonderrig egter ook vir die oorgrote meerderheid blanke skoliere nie beskikbaar nie. Die enkele blanke skole wat kuns as vak aangebied het, moes dit sedert 1994 weens finansiële beperkings in feitlik alle gevalle laat vaar. ‘n Mens sou dus dink dat Le Roux ‘n spesiale poging sou aanwend om die huidige benadeeldes, die blankes, tegemoet te kom, maar die teenoorgestelde is eerder waar.

Volgens die Artscape-webwerf gaan dit om transformasie en alle rolspelers word glo betrek. In die praktyk is die rol van die blankes egter hoofsaaklik dié van melkkoeie, bv borge, terwyl die bevoordeeldes oorwegend nie-wit is. Dit word “gelyke geleenthede” (285) en toegang vir “álle Suid-Afrikaners” genoem (288). “‘n Nuwe tendens by die KunsteKaap is om toenemend bewustheid en waardering vir Khoi-San-identiteit en -marginalisering by die jongmense te skep” (292). ‘n Engelse produksie is hierop toegespits en nog ‘n Engelse een vier ons vryheid (295). Die skoolvoorgeskrewe werke wat genoem en aandag aan bestee word, is Fiela se kind, Krismis van Map Jacobs, die Xhosa-werk Amaza en twee van John Kani se Engelse werke (292-293), dus nie ‘n enkele werk wat blank-georiënteerd is nie. ‘n Jazz-fees is aangebied om die Sharpeville-slagting te herdenk (294); nie Marikana nie. Hemelbesem (Simon Witbooi) is die aangewese persoon om in ‘n musiekproduksie die storie te vertel “oor ons gedeelde geskiedenis en hoe taal gebruik kan word om versoening tussen kulture te bewerkstellig” (294). As beloning vir haar eensydige aanslag, die bevoordeling van tans bevoordeeldes, het Le Roux pas ‘n akademies waardelose eredoktorsgraad ontvang.

Oor Michael le Cordeur se hoofstuk oor Wellington se krisantevereniging het ek reeds geskryf (Praag 25 Maart). Maar let op die Engelse naam, wat aanvanklik die Coloured Wellington Horticultural Society (299) of die Wellington Coloured Horticultural Society (300) en later die Wellington Horticultural Society (302) geword het. Ook hier speel politiek ‘n rol, want die naam is in 1994 verander “toe Suid-Afrika ‘n demokrasie geword het” (302). Let op die voorliefde vir die Engelse benaming in die jaarlikse amptelike publikasie (316). Waarom sou ‘n hoë boom soos Le Cordeur van sy kosbare tyd aan blomme bestee? “Dit bou karakter en vir ‘n akademikus soos ek is dit oneindig terapeuties. Dit is hier waar ek ontspan na ‘n lang dag op kantoor of na ‘n vermoeiende sessie voor die klas” (315).

Elias P Nel skryf oor die rieldans, waarvoor ‘n ATKV-geborgde kompetisie jaarliks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aangebied word; glo om nasiebou te bevorder (322), al is die deelnemers eksklusief bruin. Ek het voorheen die volgende vraag gevra maar geen reaksie ontlok nie: Waarom bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument nie jaarliks bv ‘n jukskei- en/of boere-orkeskompetisie, geborg deur die ATKV, aan nie? Al sodanige verrigtinge sal uiteraard in Afrikaans kan geskied.

Charles Peter Beukes onderskei tussen veelvolkige en nie-rassige sport (332). Veelvolkige sport is deur die “apartheidsregime” voorgestaan (dus as deel van ‘n “ongoddelike maatskaplike beleid” – p 345) en nie-rassige (kleurlose of nie-rasdiskriminerende) sport deur die “histories onderdruktes” (342). Sport is tot die uiterste as ‘n middel in die “bevrydingstryd” misbruik. In sy hoedanigheid as ‘n gesaghebbende oor talle onderwerpe word Michael le Cordeur soos volg aangehaal: “sportkwotas … nie beleid (is) nie. Dit was altyd bedoel om slegs ‘n proses te wees totdat die speelveld in Suid-Afrika gelyk sou wees” (347). Die huidige rassediskriminasie teen blankes is seker ook veronderstel om net tydelik, dus ‘n oorgangsmaatreël, te wees. Maar wanneer sal erken word dat die speelveld gelyk is, dat mense na individuele verdienste geëvalueer moet word en nie op grond van groepverwantskap nie? Na bykans twee eeue kerm bruines enersyds steeds oor benadeling weens slawerny, terwyl hulle andersyds verkondig dat hulle Khoi-San-afstammelinge, dus nie-slawe, is. Beukes wil hê dat “sportlegendes” soos Peter (voorheen Pieter) de Villiers en Allister Coetzee vereer moet word (350). Is daardie twee nie dalk om die verkeerde redes legendes, naamlik legendariese droogmakers, nie?

Henry Jeffreys se hoofstuk is in groot mate ‘n herhaling van wat hy elders gepubliseer het. Dit geld ook Conrad Sidego se bydrae. Kyk waaroor roem Jeffreys: “My eie benadering was dat Die Burger onder my leiding nie ‘n instrument vir die taalstryd, wat baie dominant in die Wes-Kaap en veral by die Universiteit van Stellenbosch was, sou wees nie” (355). Hy beweer “dat taalstryde slegs [!] polariseer en dit is teenproduktief” (374). Waarom sê hy nie liewer direk dat hy anti-Afrikaans gesind is nie? Volgens Jeffreys mag Stellenbosch nie ‘n “vesting vir wit Afrikaanses” wees nie. Waarom sê hy nie direk dat hy anti-blank en veral anti-Afrikaner gesind is nie? Sy beleid van flagrante dislojaliteit teenoor Afrikaans is deur sy opvolgers as redakteurs by Die Burger voortgesit, sodat Jeffreys ongetwyfeld daarin geslaag het om weens sy “swart bewussyn” (355) Afrikaans groot skade te berokken.

Hy noem Jonathan Jansen “‘n goeie vriend van my en glo ek, ook van Afrikaans” (361). Hy het voorheen dieselfde blatante leuen oor Russel Botman verkondig. Dit is Jansen wat geskryf het: “Some of the historically white Afrikaans universities have a perfect alibi for not transforming – Afrikaans … Somebody must tell these [Potchefstroom and Stellenbosch] campus leaders that in the wake of our horrific racist past, white-dominated campuses are morally unacceptable” (373). Vanweë sy soort logika bly Jeffreys “baie optimisties oor Afrikaans” (362) en pleit hy vir ‘n “meer dinamiese en inklusiewe Afrikaans” (363), wat sekerlik hoogs hibridies sal wees.

Jeffreys se swart bewussyn verduidelik waarom hy so graag Afrika-hemde dra (358, 359) en hy homself as swart pleks van bruin beskou. Jeffreys het as ‘n Nieman-genoot ‘n jaar lank aan Harvard University studeer. Hy noem die Nieman-studiebeurs “een van die mees gesogte toekennings” (356). Hy versuim egter om te noem dat ‘n enkele sodanige beurs jaarliks aan ‘n Suid-Afrikaner toegeken word wat hom reeds genoegsaam as ‘n linkse joernalis bewys het.

Een van die anti-Afrikaanse opvattings in Michael le Cordeur se arsenaal is dat Afrikaans deur die Nasionale Party-bewind bevoordeel is (364). Die linkse Gerda Odendaal word soos volg aangehaal: “Afrikaans was racially informed and ideologically controlled by the oppressor” (371). Doelbewus leuenagtig voeg Le Cordeur by: :”Die taal [is] ‘gesuiwer’ van Khoi, Maleisiese en slawe-invloede” (371). Gelukkig is daar ‘n skoolhoof soos Wilna van Heerden wat klokhelder die Afrikanerstandpunt stel: “Ons glo op Stellenbosch moes ons die bakermat wees vir kwaliteit akademie en suiwer Afrikaans” (371).

Le Cordeur voer ook ‘n pennestryd teen Afrikaners: “Hul aanvanklike betrokkenheid by die Afrikaanse media het daartoe gelei dat wit Afrikaanssprekendes in die verlede dikwels die media vir hulself toegeëien het” (365). Hy het dit teen Danie Langer, die uitvoerende hoof van die FAK, ‘n instansie wat meer behoudend is as die Afrikaanse Taalraad en die ATKV, wat Le Cordeur “getransformeerde organisasies” noem wat “‘n positiewe bydrae lewer” (375). Hy haal die feministiese Lizette Rabe goedkeurend aan waarvolgens “wit, manlike historici” glo net “beperkte perspektiewe” het (366). Rabe het ook ‘n deurtrapte anti-Afrikanergesindheid: “Die dae van Afrikanerjoernaliste wat hulself gesien het as ‘boerekrygers vegtend met die pen in die hand’ [is] vir ewig verby” (375). Gelukkig kan van Praag steeds gesê word: Voor in die wapad brand ‘n lig.

Adam Small se bekendste drama, Kanna hy kô hystoe, word verhef tot “die beste drama in Afrikaans” (369). In hoe ‘n mate gesonde (selfs bloot redelike) perspektief by Le Cordeur ontbreek, blyk uit die volgende. In September 2013 het Small aangekondig dat hy “gereed is vir versoening … Maar toe ons die volgende dag die koerant oopslaan in die hoop dat die media een van die grootste [!] versoeningsdade nóg in Afrikaans met sy lesers sou deel, het die Afrikaanse media geswyg … hierdie magiese [!] oomblik [was] ‘n ideale geleentheid waar die Afrikaanse media ‘n bydrae tot versoening en nasiebou kon maak. Boonop is ‘n gulde geleentheid verspeel om te wys Afrikaans is nie ‘n witmanstaal nie” (370). Vir die hoeveelste keer: Ek is moeg vir hierdie blatante ontkenning van die waarheid. Afrikaans is óók ‘n witmenstaal. Le Cordeur is behep met Adam Small, maar dit volg nie dat almal, insluitende die “Afrikaanse media,” daardie beheptheid moet deel nie. Hoe kan “‘n bevryde Afrikaans” volgens Le Cordeur, “vlerke” gegee word sodat Afrikaans, myns insiens, in sy swernoot kan vlieg? Die “Afrikaanse media” (en sekerlik alle Afrikaners) sal “hul beheptheid met ‘suiwer’ Afrikaans [moet] laat vaar en die diversiteit van Afrikaans [moet] laat herleef” (376).

‘n Kenmerk van hierdie bundel is dat die blanke politieke bewind heftig gekritiseer word terwyl die ANC-regime skotvry daarvan afkom. ‘n Uitsondering is hoofstuk 26 deur Basil May, wat handel oor die ANC-regering se grondelose onnoselheid toe onderwyskolleges summier afgeskaf is. Danie van Wyk skryf: “Die sluit van die onderwyskolleges deur die ANC-regering in 1996 was een van die grootste tragedies vir onderwys in die land” (437). Die fundamentele vrotheid van die huidige plaaslike skoolonderwysstelsel behoort dus niemand te verbaas nie. Hierdie sluiting is iets wat slegs tydens die bewind van ‘n hoogs onbekwame regering kon gebeur. Die samesmelting van universiteite en technikons is in dieselfde onnoselheidsliga.

Danie van Wyk is een van die min mense in die bruin elite wat beswaar teen Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die Universiteit Stellenbosch geopper het. Van Wyk en drie ander bruin mense het as ‘n nie-inklusiewe afvaardiging die US-bestuur gaan spreek. Van Wyk en een van die ander bruines het mense soos De Villiers en Nico Koopman se valse versekerings oor die mooi toekoms van Afrikaans op Stellenbosch sonder meer geglo, terwyl die oorblywende twee afgevaardiges die gesonde insig gehad het om die US-bestuur nie te glo nie. Op LitNet het Van Wyk by geleentheid selfs ‘n gebod uitgevaardig dat Afrikaans nie deur Afrikaners vir nasionalistiese doeleindes gebruik mag word nie.

Hy kla dat bruines voorheen “tweedeklasburgers … vreemdelinge in ons eie land” was (437). Maar daar is by hom geen teken van simpatie noudat blankes hulle in dieselfde onbenydenswaardige posisie bevind nie. Pleks van hom oor die lot van blankes te verknies, beskou hy bruines “as volle burgers van ‘n bevryde Suid-Afrika” (442). Van Wyk verwys na die feit dat bruines die bevolkingsgroep met die laagste persentasie universiteitstudente is (439). Hy is nie in staat om aan ‘n beter rede hiervoor te dink as apartheid nie (440). Blykbaar reken Van Wyk homself as een van die bruines wat “uitgestyg” het en selfs ‘n rolmodel kan wees (437, 441). Adam Small is volgens hom “een van Afrikaans se grootste digters en dramaturge” (435).

Die opgeleide ANC-terroris, Basil Kivedo, probeer sy bedenklike verlede goedpraat deur alles wat hy verkeerd en misdadig gedoen het oor die boeg van sy “keurige Afrikaans” te gooi (478). Ek het reeds hieroor geskryf (Praag 25 Maart). Allan Boesak word “die Groot Orator, apartheidsaktivis en befaamde teoloog” genoem (483).

In sy tweede bydrae tot die bundel betreur Cornelius Thomas geensins die afskaffing van Afrikaans as onderrigmedium aan die Universiteit van Wes-Kaapland nie. Hy skryf eerder dat die UWK “tot wasdom in Engels gegroei het” (490). Soos tans aan die Universiteit Stellenbosch gebeur, het “die taalaksent [aan die UWK] van Afrikaans na tweetaligheid na Engels verskuif … Die narratief van die 1990’s is dus in die dominante medium van Engels voortgesit” (501). Maar dan lieg Thomas uitermate wanneer hy beweer: “Afrikaans as taal van omgang, onderrig (!) en leer leef tot vandag voort aan UWK” (498). Tydens die studente-opstande in die vorige eeu was die “vryheidsliedere” in Engels (493) en het die studente hulle griewe in Engels verwoord (494). Die groot invloed wat Jaap Durand op hierdie onrus uitgeoefen het, is baie duidelik (496). Daar word na “die flambojante Allan Boesak” verwys (495). Die UWK het “op ‘n formele en gestruktureerde wyse ‘n kader van radikale intellektuele geskool” (501). Die intellektuele kwaliteit is nie so duidelik nie, maar die radikaliteit van baie oud-UWK-studente blyk uit verskeie hoofstukke in hierdie bundel.

Fatima Allie skryf oor die koskultuur van die Kaapse Maleiers. “Afrikaans is eintlik my huistaal, maar ons is na ‘n Engelse skool gestuur en toe word Engels ons eerste taal” (508). Dit is ‘n verskynsel wat glad te dikwels by bruines aangetref word. Jonathan Jansen verkondig ook graag dat Afrikaans sy moedertaal maar Engels sy eerste taal is. Dit behoort sowel Allie as Jansen te diskwalifiseer vir toegang tot die direksie van die Afrikaanse Taalraad. Nogtans is Allie onlangs tot ATR-direksielid verkies. Allie verwys na ‘n Moslem wat in 1780 deur die Nederlandse “indringers”/koloniste uit die Ooste na die Kaap verban is (512).

Willem Fransman beskryf Adam Small as “een van die land se grootste kunstenaars op die woordakker” (523). Dit is Small wat na bewering “Kaaps as ‘n volwaardige taal” gevestig het (523). Opvallend is dat die dramagroepe van bruines Engelse pleks van Afrikaanse name het (534).

Nico Koopman is nie net ‘n voorperd vir transformasie (dus nie-wit bevoordeling en blanke benadeling) aan die Universiteit Stellenbosch nie. Hy is ook ‘n pleitbesorger vir “transformerende” (539), oftewel “hibridiese,” Afrikaans. “Die idee van suiwerheid” voed glo “pretensie en meerderwaardigheid” (547). “Daar moet transformerend en inklusief gedink word oor die sprekers van Afrikaans … Die feit dat mense van verskillende kleure, kulture en sosio-ekonomiese posisies Afrikaans gebruik, bevorder die noodsaaklike ontwikkeling van hibriditeit, van gebasterdheid oor grense heen” (545). Engels is in ‘n soortgelyke posisie. Waarom word daar nie “noodsaaklike” hibriditeit van Engels verwag nie? “Die idee van een Standaardafrikaans … moet verwerp word” (546). Waarom dan nie ook Standaardengels verwerp nie? Dit is voor die hand liggend dat meer as een Standaardafrikaans of -engels die doel met en wese van ‘n standaardtaal sou verydel.

Koopman is bekend daarvoor dat hy Afrikaans tot die uiterste vir politieke doeleindes misbruik, bv vir “bevryding en transformasie” (539). “Afrikaans dien as instrument, voertuig en dienskneg [hoe verskil hierdie drie?] van transformasie” (547). Koopman word reeds jare lank toegelaat om seker van die swakste rubrieke denkbaar in Die Burger te skryf. ‘n Mens soek tevergeefs na oorspronklike en vernuwende denke by hom, of bloot ‘n duidelike tema wat een tam rubriek van sy ander minseggende rubrieke onderskei. Waarin hy uitmunt, is die verskaffing van ritse onverteerde woorde. Hy skryf van om “te vertolk en te interpreteer” (539). Wat is die verskil? Small het glo ‘n Afrikaans ontwikkel wat “hibriditeit en gebasterdheid” beliggaam (540; ook 547). Wat is die verskil?

Gunther Pakendorf noem Koopman se hoofstuk prontuit ‘n “hagiografiese lofsang” (LitNet, Resensies, 23 Maart). Die jongste is dat Koopman en ‘n ander linkse Stellenbosser, Anton van Niekerk, saamgespan het om ‘n kortverhaal van Toon van den Heever as stereotipering van swartes af te kam (LitNet, Menings, 22 Maart). Dít terwyl nie een van die twee ooit beswaar opper teen die byna daaglikse negatiewe stereotipering van blankes, veral Afrikaners, nie.

Vir Koopman is die ou Suid-Afrika net sleg en die nuwe Suid-Afrika net goed. Ek gee ‘n enkele voorbeeld van hoe hy homself graag uitdruk: “Weg van apartheid, ontmensliking, vyandskap, onreg en verdrukking in die rigting van demokrasie, menswaardigheid, helende versoening, geregtigheid en vryheid” (540). Hy is gek oor ‘n driewoordrympie soos “simpatie, empatie en interpatie” (544). Dan verkneukel hy hom daaraan om aan gewone sterflinge die betekenis van laasgenoemde woord te verduidelik: “Interpatie verwys daarna dat mense van verskillende sosiale groeperings die vermoë ontwikkel om hulle in mekaar se leefwêrelde in te dink en in te voel” (551). Hoe kan Afrikaans verbeter? “Nuwe, bevrydende, versoenende en brugbouende woordeskatte … moet in die Afrikaanse taal ontwikkel word” (544).

Eintlik vanselfsprekend sluit Koopman sy artikel met nog woordlyste af. Hy begeer “vergewende en regstellende Afrikaans, versoenende en helende Afrikaans, vermenslikende en transformerende Afrikaans. Adam Small het Afrikaans help bou. Hy het gehelp dat Afrikaans groei [hier gaan Koopman weer] as ‘n hibridiese, gebasterde, gasvrye, insluitende, bevrydende, transformerende Afrikaans” (549). Koopman se ergste denkbare nagmerrie is seker dat hy een oggend kan wakker word en alle byvoeglike naamwoorde het verdwyn. Hy ondersteun Wim de Villiers se verengelsingsbeleid heelhartig, wat na verwagting spoedig sal uitloop op ‘n eentalig Engelse Universiteit Stellenbosch. Desnieteenstaande skryf Koopman: “Akademiese uitnemendheid blom in die geselskap van ‘n diversiteit van tale” (548).

Ronel van Oort klink soos ‘n getroue dissipel van Wannie Carstens. Dit is seker by Carstens wat sy geleer het dat Afrikaans vroulik is (546). Sy het haar doktorale proefskrif oor “die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans sedert 1652” geskryf (552). “As gevolg van sosiopolitieke (eers kolonistiese* en later apartheids-) ideologieë het die tradisionele beskouing van die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans ‘n eensydige wit purisme weerspieël wat die rol van die Khoi-Khoin en die slawe in die ontstaan van Afrikaans geminimaliseer en selfs verswyg het” (553; ook 564). [* Kolon is ‘n sinoniem vir die dikderm. Koloniale word seker bedoel.]

“1994 was … die tydvak [jaar?] waarin talle mites rakende die Afrikaner en Afrikaans blootgelê is, aangesien die demokratisering van ‘n ruimer Afrikaanse taalgemeenskap daartoe gelei het dat die wit sprekers van Afrikaans nie meer die eksklusiewe basis vir gestandaardiseerde spraak gevorm het nie” (565). Dit is ‘n oordrewe formulering. Lank voor 1994 was daar al nie sprake van sodanige eksklusiwiteit nie. Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl lewer sedert 1975 konkrete bewys hiervan.

“Die Nasionale Party-regering se Afrikanernasionalistiese taalbeleid en apartheidsideologie het Afrikaans as erfenis en as eksklusiewe taal van die wit Afrikaner geannekseer” (553). Hierdie neiging tot oordrewe bewoording word ook aangetref in die lankbeloofde boek, Die storie van Afrikaans, van Wannie Carstens, in soverre ek op grond van gepubliseerde aanhalings kan oordeel. Van Oort: “Dit het ons mooi inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans skeefgetrek en tot ‘n verdeelde en verdelende weergawe van die taalgeskiedenis gelei” (554). Is dit akademies-wetenskaplik regverdigbaar om die soort vertolking wat Van Oort en Carstens begeer “mooi” te noem? “Die ANC-regering se Afrikanistiese taalbeleid bevoordeel Engels” (553). Is dié beleid werklik Afrikanisties of eerder koloniaal? Nog ‘n wilde stelling is dat die VOC glo in ‘n stadium die Kaap “as minderwaardig beskou” het (555). Slawe is uit onder meer “Ceylon en Sri Lanka” ingevoer (555). Maar Ceylon het eers in 1972 Sri Lanka geword. Oor Hans du Plessis se weergawe van Psalm-omdigtings in Griekwa-Afrikaans skryf Van Oort: “Lesers van Afrikaans het verlief geraak op dié besondere variëteit van Afrikaans” (557). Verlief? Is die gebruik van sulke woorde akademies-wetenskaplik regverdigbaar?

“In setlaarshuishoudings is die slawe se kosvoorbereidingmetodes, eetgewoontes, geregte en natuurlik die gebruik van geurige speserye oorgeneem” (560). Na aanleiding van HW Claassens se boek, Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806, skryf Jaap Steyn egter: “Dit is ‘n fabel dat dit eintlik die Oosterse slawe was wat die Kapenaars geleer het om kos met speserye voor te berei … Die slawe was nie ‘n homogene groep nie. Hulle het uit armoedige streke gekom en vir baie was kook met speserye onbekend. Van die geregte wat aan die slawe toegedig is, soos bobotie, was nie ‘n Oosterse dis nie. Wat wel by die slawe ontstaan het, is die Oosterse name soos kerrie, bladjang, sambal en sosaties. Dié woorde is egter gebruik vir ander kosse as dié uit die slawe se lande van herkoms” (Praag 28 Januarie). Wat ek probeer aantoon, is dat Van Oort se artikel ‘n oppervlakkige saamflansing van inligting uit bronne is en in oordrewe en emosionele formulerings uitdrukking vind. Hopelik weerspieël dit nie die akademies-wetenskaplike gehalte van haar proefskrif nie.

Die laaste hoofstuk, deur Johan L Coetser, handel oor Robert Pearce se gemeenskapstoneel en toneelstukke. Die lengte van die artikel oordonder die bietjie substansie wat daarin is.

Ek het gepoog om ‘n aanduiding te gee van die inhoud van die boek waarmee Wannie Carstens “ongelooflik tevrede” is en waarop hy “besonder trots” is (LitNet 23 Januarie). Ek het begrip daarvoor dat bruin mense, soos die blankes, hulle in die nuwe Suid-Afrika in ‘n demografiese en kulturele nis te midde van ‘n verswelgende swart meerderheid bevind. Die beste strategie vir bruin mense is egter nie om swart te probeer wees en slegs die destydse blanke bewind te kritiseer en die swart bewind onkrities te omarm nie. Ook nie om met oordrewe en valse anti-wit en pro-bruin stellings voor ‘n dag te kom nie. Nugtere oordeel moet aan die dag gelê word. Daar behoort ‘n herwaardering wees van die baie positiewe dinge wat blankes oor eeue ten bate van nie-wittes vermag het. Die verlede kan nie verander word nie; wél mense se skewe persepsies daarvan. Dit is die hede wat met die oog op ‘n beter toekoms getransformeer moet word. Om dit moontlik te maak, behoort elke etniese groep hom myns insiens vir groter selfbeskikking te beywer sodat elkeen sy eie kultuur kan behou en dit vryelik kan uitlewe en uitbou. Dit is die skikking wat in 1990/94 nooit bereik is nie. ‘n Skikking (wat deur ewewig gekenmerk word) is iets heeltemal anders as die katastrofiese politieke magsoorgawe wat onverdiend en ongevraag ons droewe lot geword het.

Behoud van eie kultuur is vir die voortbestaan van Afrikaners as etniese groep van deurslaggewende belang. Dit sluit uiteraard die instandhouding van Afrikaans in. Gaan gerus na die webtuiste van Tydskrif vir Letterkunde, wat tradisioneel ‘n vaktydskrif vir Afrikaanse letterkunde was. Kyk hoe hierdie publikasie weens die radikale politieke agenda van sy hoofredakteur, Hein Willemse, ‘n Afrikaansdosent, in ‘n hoofsaaklik Engelse tydskrif vir “Afrika-letterkundes en kulturele praktyke” “omvorm” is. Die tydskrif is haas onherkenbaar getransformeer. Daar is 13 redakteurs: 6 in Suid-Afrika, 4 uit die res van Afrika, 2 Amerikaanse swartes en 1 Nederlander. Van vanjaar af word hierdie tydskrif slegs as ‘n “e-joernaal” gepubliseer. Die hoofredakteur weet klaarblyklik nie dat die Afrikaanse woord vir “journal” vaktydskrif is nie.

My standpunt is dat Afrikaansgetrouheid ten minste vir alle Afrikaansdosente as ‘n absolute vereiste moet geld. Willemse is op dieselfde dwaalweg as sy leermeester, Jakes Gerwel, wat as Afrikaansdosent ontken het dat hy Afrikaanse letterkunde doseer. Hy het dikwels beweer dat hy “taalsosiologie” doseer, insluitende ‘n ruim skeut marxisme. Ingevolge sy politieke agenda het Gerwel sy intreerede, amptelik as hoogleraar in Afrikaans, in Engels gelewer. In die belang van Afrikaans is dit myns insiens dringend noodsaaklik dat al die valse profete van Afrikaans geïdentifiseer, ontmasker en daadwerklik geneutraliseer moet word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    “Die idee van suiwerheid” voed glo “pretensie en meerderwaardigheid”.

    Mnr. Lemmer – hierdie sinnetjie som die hele probleem van Kaaps op. Die minderwaardigheidsgevoel word elke keer selfkastydend uitgehaal en irriterend soos ‘n eensnaarkitaar getokkel – net soos sielkundige sessies. Loop luister dan dolfynemusiek en voel beter.

    1. Nou waarom voel jy minderwaardig? Omdat jy nie die pyp kan rook nie? Omdat jy nie wetenskaplike begrippe kan uitdink nie?
    2. Ek vind die Yslanders wat taalsuiwerheid hul hele lank handhaaf nogal heel plat-op-die-aarde-mense. Die Franse (buiten die in Parys) is ook nie te onaardig nie.

    My punt is: iemand wat regtig ‘n eng uitsig op die aardbol het, se standpunte is nie gegrond op rasionaliteit of die opweeg van voorbeelde en teenvoorbeelde nie. Sulke tekste is holle retoriek. Die Franse sal juis oor hierdie minderwaardige denke lag.

  • Rooikop

    “Let op hierdie wilde stelling van Van der Rheede: “Geen ontwikkeling is moontlik indien daar nie werk en welvaart is nie” (29).” – Wat ‘n klomp snert. Welvaart word geskep. Mense ontwikkel goed – ‘n plaas, ‘n produk ens. Daar gaan intellektuele kapitaal en bloedsweet in om iets tot stand te bring – hetsy dit kos is wat jy kan eet en/of verkoop of ‘n ander produk wat ander mense wil koop. Hieruit volg dan welvaart wat weer ly tot werkskepping vir diegene wat nie self die vermoë/wil het om hierdie goed te help tot stand bring nie.

    Dit is die hele gemors agter die kommunistiese denke – dit is nie die werker wat die welvaart skep nie, dit is die werker wat help om die welvaart te vermeerder, natuurlik teen vergoeding. As die werker dan nie tevrede is met die vergoeding vir sy taak nie is hy/sy welkom om self die bloedsweet en denke in te sit om welvaart te skep. Natuurlik uit jaloesie word diegene wat wel hierdie vermoë het gehaat.

    • Charles

      “Indien jy wil werk” Mnr “wonderlike, wat alles weet” Van der Rheede, “indien jy wil werk”!! DIT is die sleutelfrase.
      Skrik tog net wakker en kry ‘n behoorlike “vry van neerslagtende en sieldodende oikofobie” lewetjie!!

  • Rooikop

    Die liberale jakkalse is besig om hulle eie liberale sterte te prys. Dit is mode om Afrikaans en Afrikaners te slaan. Hierdie gedrag en tipe boek is maar net nog ‘n “Ek ook” wat dui op die totale gebrek aan oorpsronklike idees/denke. Gewone werker bytjies wat niks nuut kan skep nie, net doen wat andere doen.

    • Charles

      Totaal en al verstikkend Van der Rheede, BRAAK!!

  • Gas

    Hoeveel “Kaapse” woorde is in die Afrikaanse woordeboek opgeneem? Wat word bedoel met “Kaaps”? Te veel anglisismes dui vir my op intellektuele luiheid en gebrek aan selfbeheersing. Ook die gebrek aan goeie diksie en ‘n “plat” uitspraak.

    • sussie se vissie

      Net een….met vier lettergrepe.
      JMSP.
      ( met apologie…maar u het gevra? )

  • Karel Combrinck

    Dankie Leon vir nog ‘n leersame artikel.
    Waarmee ons hier te make het is ‘n kulturele rewolusie. Dis ‘n blaadjie wat hulle uit Mao Tse Tung se boek geneem het. Dit kom daarop neer dat alle aanduidings van ‘n vorige bestel met wortel en tak uitgeroei moet word. Baie westerse linkses wat geskool en getoë is in die Maoïsme volg nog die kultureel-rewolusionêre patroon slaafs na. Die Suid-Afrikaanse linkse intellektuele en akademici (die enigste wat nog geduld word) is hiervan ‘n sprekende voorbeeld. Ons as gewone Afrikaners kan òf besluit dat ons hieraan niks kan doen nie en dit maar gelate aanvaar òf ons kan daarteen rebelleer. Blanke Suid-Afrikaners het reeds oorvloediglik bewys dat hulle vir die tweede opsie geen ooghare het nie.

    • Rooikop

      Ek deel hierdie sentimente – ons is maar ‘n baie klein handjievol wat rebelleer.

  • Twee aspekte in hierdie waardevolle artikel staan vir my uit. Eerstens dat van SA se mense van die min is wat (skynbaar onverskillig) kan getuig van ‘n unieke taal (Afrikaans) wat ook by ander kulture in SA posgevat het en wat nie moontlik sou wees sonder Jan van Riebeeck se vestigende werk aan die Kaap in 1652 nie. Tweedens, is dit inderdaad vir my ook interessant dat Afrikaans as inheemse en steeds ontwikkelende taal afgeskiet word maar die taal van die afgedwaalde Saksers (nl. Engels) wie hier in SA kom annekseer het, oorlog kom maak het, die aarde geskroei het en mans, vroue en kinders in konsentrasiekampe geplaas het, – en steeds talle myne tot hulle groot ekonomiese gewin berdryf,- ook hier in SA groot aanhang het? Waarom is dit so moeilik vir Afrikaanses om eienaarskap te neem en te vestig, en dan vanuit ‘n gekonsolideerde magsposisie eerstens onafhanklik en dan inter-afhanklik in die internasionale mileiu te beding? Is ons Afrikaanses eenvoudig bloot onopgewasse?

  • Antonie Geyser

    ‘ABRAKADABRA’ is n woord term wat die kkkKaapse ‘taal?’ beskryf ‘Dit verwys na “wartaal, onsin, onverstaanbare taal” ‘met erkenning aan bron http://www.taaloord.co.za

  • Charles

    Die verkramptes maak MENS WERKLIK SIEK!
    Ons Afrikaners sal nie ‘n tree terugstaan nie!!!
    Jinne, hoe verward en gebreinspoel is die goed tog nie!