Leon Lemmer: ‘Ons Japie’ en Anna Barry as nie-verloopte Afrikaners

Deel op

Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry (Pretoria: Protea Boekhuis, 2016, 200p, R220), is onlangs hergepubliseer. Hierdie keer met ‘n voor- en nawoord deur Ena Jansen. Die oorspronklike uitgawe, Ons Japie: Dagboek gehou gedurende die Driejarige Oorlog, is in 1960 deur Afrikaanse Pers-Boekhandel uitgegee. Die onderwerp is die Anglo-Boereoorlog (ABO, 1899-1902) soos weerspieël in Barry se dagboek. Nadat opsigtelike gebreke uitgewys is, gee ek oorsigtelik die inhoud van die dagboek weer, bespreek daarna Jansen se voor- en nawoord, gevolg deur besinning oor die huidige relevansie van die boek.

Opsigtelike gebreke

Die boek is mooi uitgegee, maar nie sonder tekortkominge nie. In die redakteursnota word die termyn van die dagboek as “1899-1902” aangegee (p 6; ook op 25), terwyl die inskrywings van 1899 tot 1903 strek. In die tweede sin van hierdie nota staan polities korrek: “Raspejoratiewe in die teks is ‘n weerspieëling van die destydse samelewing en is daarom nie vir hierdie uitgawe gewysig nie” (6). Dit is egter moontlik dat daar in hierdie opsig wél veranderings aangebring is, bv “naturelle” (99, 131, 135). Jansen se taalgebruik hinder soms, bv die onnodige invoeging van “vir” (7, 8) en “weer” (15, 18, 19, 31). Twee keer kom “hendsoppers” (13, 21) voor, andersins “hensoppers”. Waarom “inskripsies” (11, 176) pleks van “inskrywings”? Waarom “munisipaliteitsgebou” (177) pleks van “munisipale kantore”? (191). Nêrens word die betekenis van die afkorting NALN (7, 178) vir die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein aangegee nie. Daar is ‘n nederlandisme soos “aangekaart” (9). Onnodige Engelse woorde word gebruik: “issue” (10) en “displacement” (29). Jansen gebruik die woord “moment” (10, 11, 21, 23, 29) terwyl ek liewer van “tydstip” sou praat. Waarom “verbolgenheid” (15) eerder as “woede”?

As die datums wat Jansen aangee, vergelyk word met die dagboek is daar talle foute, bv. soms onderskei sy nie tussen die datum van ‘n dagboekinskrywing en die datum van ‘n gebeurtenis nie: “3 Januarie”, twee keer (p 11, moet 13 Januarie wees, p 23, 167); “15 April” (p 14, moet 9 April wees, p 54); “23 Januarie” (p 14, moet 13 Januarie wees, p 15, 91); “20 November” (p 15, moet 21 November wees, p 84); “10 September” (p 22, moet 13 September wees, p 118); “23 Junie” (p 176, moet 20 Junie wees, p 19, 148); “1987” (p 183, moet seker 1989 wees, p 199). Daar is onnodige herhaling in Jansen se teks. Dit lyk asof die teks haastig en slordig na aanleiding van haar vorige publikasies saamgeflans en ietwat van ‘n kraaines is en daar nie afdoende redaksionele afronding was nie. Daar is tik-, druk- en taalfoute: “Bornmann” (13) pleks van Bornman; “rondttrek” (16); “plaas” (31) pleks van “plase”; “vrouelaar” (105) pleks van “vrouelaer”; “dit” (115) pleks van “die”; “doostil” (116) pleks van “doodstil”; “ons aan” (117) pleks van “ons word aan”; “was was” (124); “onder andere” (178) pleks van “onder meer”; “besluit” (184) pleks van “sluit”; “publieklik” (189) pleks van “openlik”. Een van die voorname van een van die Barry-susters word weergegee as Catharina en die ander een s’n as Catherina (10), wat dalk op nog ‘n fout dui. Die titel van Emily Hobhouse se 1927-boek word verskillend op bladsy 31 en 198 weergegee. In die bibliografie moet “Grundlingh … 1996” voor “Gundlingh … 2002” (198) gelys word; ook “Schoeman … 1987” voor “Schoeman … 1989” (199). Verkeerdelik word die inskrywing “Schoeman … 1980” herhaal (199).

In die dagboek is daar ook taalfoute, bv “tydtafels” (53) pleks van tydroosters; “afkeur in” (69) pleks van “afkeer van”; “as volg” (77) pleks van “soos volg”.

Anna Barry se dagboekinskrywings

Anna Reitz (1884-1964) was die oudste dogter van Thomas en Johanna (gebore De Villiers) Barry. Hulle oudste en enigste seun is die “Ons Japie” (1883-1900) waarna in die boektitel verwys word. Met die uitbreek van die ABO het hulle op die plaas Abrikooskop vyftien kilometers noord van Ficksburg en digby die Basoetolandgrens gewoon. Thomas was aanvanklik ‘n veldkornet in die ABO, is in Mei 1900 gewond en het later moedeloos geword, die eed van neutraliteit afgelê en daarmee ‘n hensopper geword. Hy is in Augustus 1900 terug plaas toe waar hy en sy gesin voortgegaan het om die vegtende Boere te ondersteun deur bv kos aan hulle te voorsien. Die Britte het dit as ‘n verbreking van Thomas se neutraliteitsbelofte vertolk.

Thomas is gevange geneem en is verplig om in September 1900 in Basoetoland te gaan woon. Hy het spoedig begin twyfel of hy ooit die eed van neutraliteit moes afgelê het (80). Sy gesin het hom later na Basoetoland gevolg omdat hulle plaas in September 1901 deur die Britte gewoes is. Na die vredesluiting op 31 Mei 1902 is hulle in Junie 1902 terug na Abrikooskop. Thomas het hierna alles in sy vermoë gedoen om sy medeburgers in hulle na-oorlogse ellende by te staan.

Japie het as 17-jarige entoesiasties aan die ABO deelgeneem en graag dapper in die voorste linie geveg. Hy is in April 1900 gewond maar het so gou moontlik terug na die gevegsfront gegaan. “Al is daar ook nog vier burgers in die veld oor, wil ek een van hulle wees” (64). Japie is deur een van sy ooms, Paul de Villiers, sy ma se broer, aan wie se sorg hy as minderjarige deur sy pa toevertrou is, verplig om in Augustus 1900 saam met ander Boere oor te gee. “Japie … wou nie oorgee nie, maar ek [Paul de Villiers] het hom belet om saam met Generaal Paul Roux deur die berge te ontsnap en het van hom geëis dat hy sy belofte van gehoorsaamheid aan my gestand doen” (76). Paul de Villiers het soos Thomas Barry tydelik in Basoetoland gaan woon.

Japie is as krygsgevangene na Ceylon verban. Daar het hy op 23 Desember 1900 aan ingewandskoors gesterf. Anna se dagboekinskrywing op 24 Desember 1900 lui: “Moeder het ons vannag wakker gemaak, want sy het ‘n afskuwelike droom gehad, waarin sy Japie op ‘n lyksbaar gesien het” (88). Dié doodsberig het hulle egter eers op 13 Januarie 1901 ontvang. Dit is duidelik dat eerder Japie as Thomas in die gesin as die held beskou is. Volgens Anna het sy die dagboek in ‘n leesbare vorm oorgeskryf “sodat ons familie dit as ‘n nagedagtenis aan my broer [Japie] kon hê” (40). Jansen skryf: “Japie is die enigste helder baken in Anna se onheroïese familiegeskiedenis” (14), onder meer omdat daar ook ander hensoppers in hulle nabye familie was, hoewel een van die ooms, Jan de Villiers, Johanna se broer, wat die eed van neutraliteit afgelê het dit later verbreek en voortgeveg het (109).

Oor Japie se Afrikanerskap kan daar geen twyfel wees nie. Sy ideaal was om by Danie Theron se spioenkorps aan te sluit (60). Na sy teensinnige oorgawe skryf Anna: “Ons weet hoe ongelukkig hy is want al sy drome om verkenner te word, is verydel” (74). Oor die Barry-gesin skryf Anna in Oktober 1899, dus aan die begin van die ABO: “Ons het almal besluit om alles in ons vermoë vir ons land en volk te doen” (45). Kort nadat Thomas die eed van neutraliteit afgelê het, skryf Anna in Augustus 1900: “Vader vertel dat daar van ons boervrouens is wat brood, beskuit, botter en eiers aan die Engelse troepe verkoop. Vir ons is dit onbegryplik, want hulle verskaf mos daardeur kos aan die vyand!” (74).

Omdat Jansen in haar kommentaar poog om die Afrikanerskap van Johanna en Anna verdag te maak, soos ek hier onder aantoon, word die teenoorgestelde vervolgens met aanhalings aangetoon. Anna se vertolking is dat haar ma, Johanna, as “Boereheldin uit die verhaal [van haar dagboek en die ABO] te voorskyn … tree” (40). Anna skryf: “Met hierdie wrede stryd lê die fleur van ons nasie al in hulle grafte, en die vraag is: word hierdie kosbare lewens verniet opgeoffer? Moeder is vol vertroue. Sy sê ons veg vir ons onafhanklikheid” (99).

Ter onderskrywing van Anna se Afrikanerskap: “Ons saak is reg; ons veg vir ons vryheid en ons volksbestaan” (66). “Die Engelse wil ons nasie uitdelg” (94). “Hulle beleid is om ons as ‘n nasie uit te roei” (97). Anna hoor “dat die Engelse die konsentrasiekampe ‘refugee’ of vlugtelingkampe noem. Daardeur wil hulle voorgee dat die vrouens by hulle kom veiligheid soek het, ipv die waarheid, dat hulle die vrouens met geweld van die plase weggevoer het” (103). Die konsentrasiekampe “sal altyd ‘n skandvlek op die naam van die Engelse nasie bly” (132). Na die vredesluiting skryf Anna: “Dit is vir ons vernederend om ‘n pas te dra, maar ons is nou onderdane van die Britse Ryk” (145; ook 155, 165).

Hensopperskap gaan eintlik in teen die grein van die Barrys. “Ons het ‘hensopper’ … verag toe ons hulle eers [voorheen] teengekom het” (109). Al is haar pa ‘n hensopper skryf Anna dat “ons getroue Afrikaners is” (112). “Hermaans Theron was gister hier en volgens hom noem die burgers Vader ‘n ‘hensopper’ en ons Engelsgesind. Dit is ‘n skok en dit maak ons baie seer” (84). “Ons voel nou selfs verlate en verstote deur ons eie mense” (85). Anna beklemtoon dat haar vader die eed van neutraliteit afgelê het, dus dat hy onderneem het om nie voort te veg nie, en nie die eed van getrouheid aan die Britse kroon gesweer het nie (84). Laasgenoemde is wat die verraaiers of joiners gedoen het wat saam met die Britte teen die Boere geveg het.

By die hensoppers bemerk Anna graadverskille. Thomas en Japie het geveg en die Barrys het in dié proses groot verliese gely. “Die oorlog het ons van soveel beroof, wat ons nooit sal terugkry nie” (131), insluitende hulle geliefde Japie. Anna kontrasteer hulle hensopperlot met dié van die De la Harpe wat nooit aan die oorlog deelgeneem het nie en aan die begin van die ABO na Basoetoland verkas het en dus nie lewens- en materiële verliese gely het nie. Die Barrys en De la Harpe “verskil hemelsbreed in ons opvattings tov die oorlog en ons onafhanklikheid” (133). “Dit is wonderbaarlik hoe ons burgers nog in die verwoeste land weerstand bied en staande bly” (140).

Vir die joiners is daar net veragting. Anna vertel hoe die Britte een van haar ma se broers, Paul de Villiers, hierby wou betrek. “Dit is ‘n belediging want dink hulle dat enige ordentlike Afrikaner die wapens teen sy eie mense sal opneem!” (128). ‘n Offisierskap onder die joiner Piet de Wet is vir Paul aangebied. “Hy het dit beslis geweier en ek dink dit is voorwaar beledigend dat hulle kon aanvaar dat hy hom tot so ‘n lae daad sou leen” (143). “Dit is vir ons vreeslik dat burgers teen hulle eie mense wil veg” (130). Kommandant SG Vilonel het later as een van die berugste joiners ontpop “wat teen ons eie mense veg. Dit is ongelooflik en skandelik” (136). ‘n Ierse parlementslid het gesê “dat hy Vilonel as ‘n lae verraaier beskou. Ek is nie verwonderd dat Vilonel selfs die veragting van die buitewêreld op hom gehaal het nie” (142).

Ena Jansen se vertolking

Ena Jansen is ‘n predikantsdogter wat in Afrikaans skoolgegaan en daarna aan die Universiteit Stellenbosch studeer het. Sy noem haarself ‘n linkse student; só links dat sy tydens die blanke politieke bewind nie haar voete by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl wou sit nie (LitNet 26.08.2015). Van 1974 tot 1984 het sy in Nederland studeer maar eers in 1992 ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.

In 2003 het sy haar intreerede as hoogleraar in Amsterdam gelewer. Dáár gaan dit vir haar nie bloot om Afrikaanse letterkunde nie, maar om Suid-Afrikaanse literatuur, waarin daar uiteraard meer ruimte vir die uitlewing van haar politieke oorverligtheid gebied word. Verlede jaar het sy ‘n boek oor Suid-Afrikaanse stedelike huiswerkers gepubliseer. Jansen is klaarblyklik militant feministies en het boonop ‘n vrou van Indonesiese herkoms, Pamela Pattynama (195), as lewensmaat. Sedert die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika het Jansen haar huis in Melville verkoop (LitNet 13.05.2015), wat seker daarop dui dat sy vorentoe eerder in die buiteland as in die ANC-utopie wil woon. Jansen sou myns insiens geen behae daarin hê om op nie-verloopte Afrikanerskap aanspraak te maak nie.

Dit behoort nou duidelik(er) te wees waarom Jansen woorde soos “ons” en “nasie” graag tussen aanhalingstekens plaas (11); ook “Afrikaner-‘volk'” en “nasie” (20), “sogenaamde ‘swart gevaar'” (181, ook 182), “rasseprobleem” (182), “‘eie’ groepe” (190). Sy skryf van “wapenneerlêers (die sogenaamde ‘hendsoppers’)” en van “Britse dryfkragte en opruimingsoperasies” (17); nie van Britse plundertogte en sy beleid van verskroeide aarde nie. Let op die gebruik van aanhalingstekens in hierdie sin van Jansen: “In vergelyking met soveel ‘volksmoeders’ wat in die meeste Boere-oorloggeskrifte na vore kom as martelaarsfigure wat ‘bittere lydingskelke’ geledig het, is dit duidelik dat Anna Barry met moeite ‘n helderol vir haar moeder bymekaar kan skraap” (26). Nêrens laat Jansen deurskemer dat sy persoonlik simpatie het met die Boere of Afrikaners nie.

Ten spyte van haar feminisme het sy selfs nie simpatie met Afrikanervroue in die ABO nie; eerder die teenoorgestelde: “Die illusie van ‘n kollektiewe martelaarsgeskiedenis vir alle Afrikanervroue is gevoed deur … ‘n voorgeskrewe stramien” (31). Myns insiens slaan daar hier erge vyandigheid deur. Daar is weinig aanduiding dat die feminis Jansen simpatie met die lyding van Boervroue in bv die konsentrasiekampe het. Sy verwys na “die status van lyding wat aan Boerevroue toegeken is wat konkreet gekonsolideer is in die Vrouemonument” (21). ‘n Afrikanerlojalis sou die laasgenoemde sin anders verwoord het. Is die Vrouemonument nog ‘n Afrikanermonument waarin Jansen geen erg het nie? En die Voortrekkermonument? Jansen skryf bv “van die dominante vertoog van helde- en martelaarsverhale uit die Anglo-Boereoorlog” (189). Jansen erken openlik haar “agterdog oor die blinde lojaliteit aan groepe” (190).

In 1960 (“die ‘laertrek’-jaar” volgens Jansen – 188) bedank CR Swart (“die ruimdenkende oud-OB-er” volgens Jansen – 188), toe die staatspresident, vir Anna na die ontvangs van ‘n gedrukte eksemplaar van haar dagboek. Hy skryf soos volg: “Dit is baie goed dat u die oorlogsdagboek op die wyse vir ons volk beskikbaar gemaak het” (187). Dít is hoogs onskuldige geskrewe woorde, maar die verwysing na “ons volk” het blykbaar argwaan by Jansen gewek, want sy skryf dat Swart hierdie woorde “spreek” (187). Jansen poog om haar verwronge polities linkse beeld van Anna verder uit te bou deur tot die gevolgtrekking te kom dat Anna met die publikasie van haar dagboek “self nie doelbewus die algemene Afrikaanse publiek se guns gesoek het nie” (189). Die dagboekpublisering kwalifiseer dus blykbaar nie as “eerherstel” (29, 179 – kyk hier onder) nie. In die “Woord vooraf” wat Trudie Kestell, dogter van die bittereinder, John Daniel Kestell (1854-1941), op versoek van Anna geskryf het, bespeur Jansen “‘n naïewe toon” (25), dat “haar ‘Woord vooraf’ nogal naïef en sentimenteel” is (184). Jansen kan gerus prontuit sê dat sy nie van nie-verloopte Afrikaners hou nie; veral nie van die bittereinders nie. Soos in die latere stryd teen terrorisme moes Afrikaners tydens die ABO hulle blykbaar liefs nie teen die vyand verset het nie.

Let op hierdie woordkeuse van Jansen: “Nadat die Britse leër in September 1900 verplig was om weens militêre druk van die Republikeinse magte die grensdistrikte Ficksburg en Ladybrand tydelik te ontruim” (17) – die negatiewe “weens”, nie die positiewe “danksy” of die neutrale “vanweë” nie. Jansen hou blykbaar eerder van Thomas wat die stryd teen die Britte gewonne gee het as van iemand soos Japie wat enduit wou veg, want sy skryf dat Thomas, anders as Japie, “duidelik ore het” (14) vir die Britse pogings om die Boere met allerhande dreigemente te probeer ontmoedig om voort te veg.

Die redes waarom Jansen toegelaat is om Anna Barry se teks te vertolk, is omdat sy voorheen oor hierdie dagboek en ook oor die ABO, maar met ‘n sterk feministiese inslag, gepubliseer het (198) en sy ‘n heruitgawe van Anna se dagboek aan die uitgewer voorgestel het (9, 195). Daar is ook die assosiasie met die jeugdige Anne Frank (1929-1945) se Nederlandse dagboek, Het Achterhuis (1947, p 8, 188).

Jansen begin haar voorwoord met verwysing na die postmodernisme (7) en een van sy aanhangers, die aktivistiese Pierre Bourdieu (1930-2002, p 10). Postmodernisme is moeilik definieerbaar maar veralgemenend kan seker gesê word dat dit progressief en globaliserend en (soms) aktivisties en selfs anargisties ingestel is, dat elkeen sy eie ding na goeddunke kan doen, dat niks heilig is nie, dat enigiets gedekonstrueer kan word. Sulke postmoderniste kan doeltreffender afbreek as opbou. Aansluitend hierby beweer Jansen dat identiteit “nie ‘n vasstaande iets [is] wat jy ‘besit’ … nie” (9). Toegepas op Anna is daar die voorstelling van “haar verskuiwende identiteit” (190), dus dat “haar gevoel van identiteit … voortdurend wissel in reaksie op die lotgevalle van haar broer en van haar vader en ooms” (20).

Dan is daar een van die gunstelinggrepe van postmoderniste: Kultuur “verander voortdurend, is ‘n proses en konstruksie” (9). Die werklikheid van ‘n standhoudende kulturele kern by mense word dus ondergrawe en verdag gemaak. Jansen probeer ‘n saak daarvoor uitmaak dat Anna se identiteit (as Afrikaner) weens die ABO “verander” (11) het. In werklikheid het Anna en haar gesinslede dwarsdeur die oorlog in hulle kern Afrikaners gebly; selfs die hensopper Thomas. Wat tydens die ABO en daarna aanvanklik wel moeilik was, was om die hensopperstatus van Thomas veral by die bittereinders en die krygsgevangenes aanvaar- en vergeefbaar te maak. Dit is veel eerder die Barry-gesin se omstandighede en strategie wat verander het en nie hulle identiteit, hulle Afrikanerkultuur, nie. Anna en haar man, Charlie Reitz (1879-1966), wat die neutraliteitseed afgelê het (32) en met wie sy in 1908 getroud is, het gevolglik aanvanklik die na-oorlogse versoeningspolitiek (oftewel “hande vat”, wat in 1994 weer op Afrikaners losgelaat is) van mense soos Louis Botha en Jan Smuts ondersteun.

Voor die republiekverklaring in 1961 was daar ‘n opbloei van Afrikanernasionalisme, wat deur Anna benut is vir die publikasie van haar dagboek in Afrikaans; myns insiens ‘n duidelike aanduiding van haar vereenselwiging met Afrikanernasionalisme en haar republikeinse gesindheid. Jansen verskaf ander redes vir hierdie eerste publisering: “die jaar 1960 toe die wrywing tussen hendsoppers en bittereinders begin wegval het” (21) en dat die publikasie ‘n poging van Anna was om “‘n ander beeld of mite van haar familie” te skep, dus “om eerherstel vir die gesin te beding” (29; ook 179). Die dagboekinskrywings was aanvanklik in Engels, maar toe Japie de Villiers, haar ma se oudste broer, in Januarie 1900 sneuwel “en ná die vernederende behandeling wat ons van die Britse troepe ontvang het, het daar egter by my [Anna] so ‘n bitter gevoel ontstaan dat ek na Nederlands oorgeslaan het” (40).

Jansen beweer Anna se “vyandsbeeld van die Basoeto’s” het tydens haar verblyf aldaar “volledig verander” (18). “Haar groot twyfel oor ‘wie is ek’ is tussen die jare 1899 en 1902 volledig [!] bepaal deur die dramatiese gebeure van oorlog en die tydelike migrasie na Basoetoland” (20). In Anna se eerste inskrywing in Basoetoland staan: “Ek skryf in ‘n stroois … ons nuwe woning” (122). Later: “Wie kon ooit dink dat ons onder naturelle ‘n toevlugsoord sou soek?” (131). Dít dui myns insiens op die groot kulturele gaping tussen Afrikaners en Basoeto’s en nie op gedweë aanvaarding van eendersheid en assimilasie nie. Anna “verlang na ons gerieflike ou huis op Abrikooskop” (139). Anna het ‘n weersin in die “streke” wat die Basoeto’s uithaal. “Hulle jaag met opset Vader se beeste in hulle lande en dan eis hulle skadevergoeding vir hulle gesaaides, wat deur die beeste vertrap is” (135). Kort voor die vredesluiting skryf Anna: “Daar is weer gerugte van vrede. Mag dit waar wees! Dan sal ons na ons geliefde plaas in ons eie land kan teruggaan; dan sal ons weer tussen ons eie mense in ons beminde Vrystaat kan woon en dan sal ons nie meer vlugtelinge in ‘n kafferland wees nie” (141). Dít klink nie soos iemand wat enigsins ‘n identiteits- of kulturele transformasie ondergaan het nie; om van “volledig” nie te praat nie.

Jansen beweer suiwer geografies dat dit “verleidelik maklik” vir Thomas was om die grens na Basoetoland oor te steek (8). Basoetoland is glo “verleidelik naby” (17). Jansen neem glad nie in ag hoe moeilik dit vir Thomas was om sy gesin in oorlogstyd onbeskermd agter te laat en tussen swartes pleks van sy medeburgers te gaan woon nie. Bowenal ignoreer Jansen die kulturele gaping wat baie moeiliker oorbrugbaar as die geografiese gaping is.

In haar nawoord beweer Jansen dat die “negatiewe gevoelens” jeens die Barrys as vlugtelinghensoppers in die na-oorlogse samelewing “gou oorwin” is (176; ook 187) en hulle “volledig” in die gemeenskap heropgeneem is (177). Dit bevestig dat die Barrys grootliks hulle Afrikaneridentiteit behou het, insluitende Anna se latere Reitz-gesin. In 1960 verwys Anna se seun na “the real people of our country” (184), waarmee hy waarskynlik nasionalistiese Afrikaners bedoel. Deur selektief van die publikasies van Karel Schoeman, wat van huis uit eerder ‘n Nederlander as Afrikaner is, gebruik te maak, word die na-oorlogse situasie deur Jansen oorvereenvoudig tot ‘n “bittereinder/hensopper-vete” (180; ook 21, 187). Hier onder spreek ek hierdie kwessie verder aan.

Huidige relevansie

Jansen beweer dat identiteit slegs in krisistye “‘n tameletjie” word (10). Die nuwe Suid-Afrika word sekerlik deur denkende Afrikaners as ‘n krisis ervaar. Soos na die ABO is dit vir Afrikaners sedert 1994 gebiedend noodsaaklik om klaarheid oor hulle identiteit te kry, asook hoe om dit teen verswelging te vrywaar.

Destyds is die Basoetolandgrens “met geskille en gevaar geassosieer” (17). Tydens die “bevrydingstryd” het terroriste uit Lesotho Suid-Afrika binnegekom. Daardie land is ook ‘n bron van baie onwettige inkommers, asook van vee- en ander diefstal. Oorgrensplundering vind steeds op groot skaal plaas, sonder dat dit van owerheidsweë doeltreffend bekamp word. Die kere wat die Boere destyds daarin geslaag het om hulle vee terug te kry, word deur Jansen terugsteel genoem (31).

Oor die na-oorlogse samelewing skryf Anna: “Daar sal wees vegtende of ‘wilde’ Boere [bittereinders], ‘hensoppers’ [lafaards], ‘National Scouts’ [joiners, hanskakies, verraaiers, uitverkopers], vlugtelinge [bv hensopper-Boere wat in Basoetoland geskuil het], bannelinge [krygsgevangenes, bv uit Ceylon] en mak Engelse” [Britte/Engelssprekendes wat hulle voor die ABO as bv boere en handelaars in die Oranje-Vrystaat en Transvaal gevestig het] (147; ook 167). ‘n Gemene greep van die Britte was om van krygsgevangenes in die buiteland te verwag om die eed van getrouheid aan die Britse kroon af te lê voordat hulle na hulle vaderland kon terugkeer (159). Party krygsgevangenes het daarom verkies om nie terug te keer nie en hulle eerder in ander lande te vestig (161). Die getrouheidseed wat Boerekrygsgevangenes onder dwang afgelê het, is ingevolge internasionale reg nie geldig nie (31) en dus glad nie so toerekenbaar soos dieselfde eed wat vrywillig deur joiners afgelê is nie.

Van polities regs tot links was daar na die ABO in Afrikanergeledere veral vier groepe: bittereinders, oud-krygsgevangenes, hensoppers (wat die neutraliteitseed afgelê het) en joiners (wat die getrouheidseed vrywillig afgelê het). Hoe verder links des te beter is hulle na die oorlog deur die Britse owerheid vergoed (Albert Blake, Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet, 2016, Praag 30 Julie). Met die heropkoms van Afrikanernasionalisme na uniewording in 1910 is die hensoppers al hoe meer geredelik in Afrikanergeledere aanvaar. ‘n Regverdigbare afkeer van joiners het egter baie langer voortbestaan. In die nuwe Suid-Afrika het ons weer te make met die verskynsel van verloopte Afrikaners, wat nie net ander Afrikaners verraai en uitverkoop nie, maar sommer al die blankes. Teen sulke oud-Afrikaners behoort daar myns insiens baie sterker wrewel openbaar te word.

Daar is by my geen twyfel nie dat daar by Jansen ‘n sterk anti-Afrikanergesindheid is en dat daar duidelike blyke hiervan in hierdie boek is. Daarom dink ek dat dit onvanpas was om die heruitgawe van Anna Barry se dagboek aan iemand toe te vertrou wat so onsimpatiek en selfs vyandig met die onderwerp omgaan. Jaap Steyn, oorspronklik van die Fouriesburg-omgewing en dus naby Abrikooskop, sou ‘n baie beter keuse gewees het. Hy het homself as ‘n betroubare vertolker van Afrikaneraangeleenthede bewys. Dít kan nie van Jansen gesê word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.