Die Volksblad berig dat die Reitz-vier se lewens kan in gevaar wees as hulle sou terugkeer na die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Sommige studente aan die UV wat Donderdag voor die universiteit se hoofgebou vir Julius Malema gewag het, het die vrees uitgespreek dat die wit studente doodgemaak kan word.
Teboho Moholi en sy vriendin Teboho Motsieloa sê die algemene gevoel onder studente is dat dit beter sou wees vir die Reitz-studente om weg te bly van die kampus af.
Honderde studente het gister betoog by Kovsies.
Malema het 'n toespraak ná sy gesprek met prof. Jonathan Jansen, UV-rektor, gelewer.
“Ek glo regtig nie dit sal veilig wees vir hulle op die kampus nie,” sê Motsieloa. “Hulle kan moontlik iets oorkom as hulle sou terugkom.”
Moholi sê baie mense sal nie rus voordat die vier nie vir die Reitz-video gestraf is nie.
“Sommige mense sê hulle sal optree teen die ouens as hulle sou terugkom en ek dink dit kan lelik raak,” sê Motsieloa.
Die twee studente waarmee die Volksblad gesels het het gesê die terugkeer van die vier kan lei tot verhoogde rasse-spanning op die kampus. Moholi sê dit kan lei tot rassehaat van swart studente omdat hulle sal voel wit mense kan met enigiets wegkom, sonder vergelding.
Die studente het gewaarsku dat swart mense sal probeer vergelding kry deur ander wit mense ook te viktimiseer.
Dié twee se stellings word beaam deur verskeie ander studente, volgens die koerant.
’n Junior dosent by die universiteit sê ook hy dink die bloed kan by die UV vloei as die twee Reitz-studente wel ongestraf terugkeer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|








