praag.co.za

Author: Johann Theron

  • Johann Theron: Die saak vir Zuma

    Johann Theron: Die saak vir Zuma

    Hernieude Zuma-histerie word wyd en syd deur die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia verkondig. Die meestal onkundige lesers voel verontreg deur die groeiende lys van wandade wat hulle president straffeloos pleeg, maar word andersyds onthuts deur dieselfde president wat “veg” teen die oorweldigende aanklagte teen sy lydende persona.

    Dit is duidelik dat daar twee kante van die storie is en dat die “storie” al so lank aanhou dat Suid-Afrika eintlik in die donker verkeer as gevolg daarvan. Hierdie donkerte kan verduidelik word deurdat die “media” bereid is om swakker ekonomiese graderings te aanvaar (wat hulself benadeel), net om van Zuma ontslae te raak.

    Die saak moet egter in ‘n breër konteks beoordeel word. Met die demokratisering van Suid-Afrika het toentertydse president FW de Klerk aangedui dat ’n “geleentheidsvenster” ’n vreedsame Suid-Afrika moontlik maak teenoor die alternatief van “burgeroorlog”. Hierdie geleentheidsvenster het van die buiteland gekom in die vorm van Amerika se “Nuwe Wêreldorde”.

    Ná 25 jaar word weer na ’n teenvoeter vir ‘n dreigende burgeroorlog gesoek. Die neo-liberalistiese tegnieke wat aanvanklik gebruik is om (vreedsame) demokrasie te vestig, het intussen een kant van die (konflik) probleem geword. Hierdie toestand dra daartoe by dat Suid-Afrika weer deur donker wolke omgewe word — met geen einde in sig nie.

    Daar is egter weer ’n geleentheidsvenster in die vorm van die Donald Trump-effek. Sy voorstel is die teendeel van die NWO, wat die nuwe geleentheid verduidelik. Maar die nadeel van Trump se benadering is dat hy Amerika belangriker ag as die res van die wereld. Met ander woorde, hy gaan Suid Afrika nie te hulp snel met beloftes soos wat Bush gedoen het nie.

    Dit laat mens amper voel asof die dak nou ingeval het en dat “oorlog” nou ons voorland is.

    Die geleentheid is egter juis dat ons —net soos Trump — Suid-Afrika voorop moet stel. Maar daar is ’n paar probleme daarmee ook. Die eerste is die “burgeroorlog” wat opgelos moet word. Die geskiedenis wys dat ’n nuwe vredesverdrag tussen alle partye moontlik onderhandel kan word.

    Daar is onlangs bevind deur Brand SA dat Suid-Afrika blykbaar nie ’n spesfieke waarde of identiteit het nie. Met ander woorde, ons kan nie soos Australië iets bemark gegrond op die “Australian Way”, of soos Amerika op die “American Way” nie. Dit ondersteun die gedagte van ’n tweede vredesverdrag, omdat dit die pad (way) na die toekoms kan aandui.

    Ons toekomspad word ook baie sterk beïnvloed deur globaliste soos George Soros (veral op die Suid-Afrikaanse middelklas). Suid-Afrika word redelik aanvaar deur ontwikkelde lande as mededingend en die middelklas is dus redelik Westers. Die volgende grafiek vra wie nou eintlik voordeel trek uit globalisme.

    Duidelik is globalisme nie tot voordeel vir die gemiddelde Suid-Afrikaner nie.
    Duidelik is globalisme nie tot voordeel van die gemiddelde Suid-Afrikaner nie.

    Verder het die “International Spectator” onlangs die volgende oor Indië weergegee:

    “India – 7.6% GDP growth in 2016 – Middle class to grow 900% by 2040”

    Dit word nou meer duidelik dat Suid-Afrika se middelklas werklik swakker word as dié van mededingende lande. Verder kan afgelei word dat dit tot die middelklas se voordeel sou wees as fokus op BRICS sou verskerp, in plaas van op Europa en Amerika.

    Daar is egter ’n interessante kronkel in hierdie kat se stert. Onlangse opnames in lande om te bepaal of hulle van globalisme hou het die volgende grafiek opgelewer:

    jt2

    Die afleiding hier is dat die lande (waar globaliste woonagtig is) besig is om hulself van globalisme te distansieer. Dit is oor die algemeen ontwikkelde lande, terwyl ontwikkelende lande saamstem met globaliste.

    Suid-Afrika sit met die teenstrydigheid dat samewerking met ontwikkelende lande aangemoedig word (soos Indië), maar dat globalisme intern onwenslik is. Die antwoord hierop is dat aangesien globalisme gefaal het in sterk lande soos in Europa, dat dieselfde gaan gebeur in swakker lande (omdat globaliste dit juis uitbuit).

    Daarom sal Suid-Afrika eerder gesien word as ’n voorbok gedurende onderhandelinge met sulke lande, terwyl dit onderhandelinge met Amerika en Europa sal vergemaklik. Inderwaarheid ’n wen-wen-situasie.

    Die geleentheidsvenster vir Suid-Afrika is dus om van globaliste ontslae te raak en self die pad vorentoe te ontdek. Dit kan egter nie gedoen word deur die burgeroorlog aan te moedig nie, maar om dit te ontmoedig d.m.v. ’n vredesverdrag.

    Net soos gedurende die Trump-verkiesing, kan sosiale media doeltreffend gebruik word om Zuma te ondersteun.

  • Oorgangsproses van Klein na Groot denke

    Onlangs is die klein teenoor groot denke bespreek veral met die Afrikaner in gedagte. Maar omdat die Afrikanerstam ontwikkelend van aard is, is die tekortkominge om meer volwasse te word grootliks gebaseer rondom die gedagte van ontwerp.

    Voorbeelde hiervan is dat mens jou eie kan taal ontwerp, jou eie kar kan ontwerp, jou eie huis kan ontwerp en wat dan daar uitvloei is jou eie oorlewingstradisies (en politiek) wat pasmaak ontwerp moet word. Wat hier duidelik behoort te wees, is dat ontwerp op persoonlike vlak moet uitstyg na organisasievlak waar prosesse in plek moet kom om hierdie ontwerpsaksies voortdurend te onderhou – want soos ons almal (teen hopelik die tyd) weet, is niks konstant nie en is evolusie voortdurend en aanhoudend.

    Een voorbeeld van oorlewingstradisies is die ontwikkelling van Skandinawië onder Margrete I wat voor 1412 daarin geslaag het om Denemarke, Noorweë en Swede saam te gooi waarna haar seun Eric nie net dit bestuur het nie maar ook met die Engelse Koning Henry IV se dogter getrou om so ‘n verdedigingspakt te sluit en daarmee Engeland en Skandinawië se oorlewing te bevorder. Wat min mense ook weet vandag is dat die Vikings ‘n rewolusie in Engelse administrasie veroorsaak het, wat vandag nog oorleef.

    Wat geskiedkundig duidelik word, is dat die ontwerp van administrasie die kern is van organisatoriese oorlewing. In moderne besigheid het die skrywer Jim Collins in sy boek How The Mighty Fall: And Why Some Companies Never Give In ‘n lys van standaard foute beskryf wat organisasies wat wil oorleef – nie moet maak nie.

    Byvoorbeeld, as mens ‘n nuwe politieke party wil begin, dan is daar ongeveer 27 administratiewe foute wat jy nie moet maak nie (nadat jy al die mooi goedjies soos visie, missie, strategie, besigheidsmodel, beleide ens. vasgestel het).

    Die oorgang van klein na groot denke neem tyd. Net soos wat dit Margrete I vir jare gesukkel het net om haar seun in ’n sterk posisie te plaas, net so het dit die firma Denel jare geneem om hierdie konsep te verstaan (wat hulle intussen oor 20 jaar verloor het). Die tegniek wat hulle destyds gebruik het, was die Stelsel Ingenieurs proses wat baie prosesse insluit soos bv. die Aanskaffingsproses. Omdat die Weermag goedere wou aankoop het Krygkor hierdie proses geïmplementeer. Dit gaan kortom oor:

    • fisiese behoeftebepaling (van die soldate),
    • omskakeling na funksionele parameters,
    • ontleding en en simulering van oplossingsmodelle,
    • ontwikkelling van oplossingsspesifikasies
    • bou en toets van toerusting en prosesse
    • industrialisering van bogenoemde toerusting en prosesse
    • operasionele implementering en verifiëring teen die oorspronklike behoefte

    Alhoewel hierdie proses baie meganisties lyk, is daar heelwat kreatiwiteit by elke stap betrokke. Dit wys byvoorbeeld aan ’n besigheidsman dat hy nie self hierdie proses moet uitvoer om by beter besigheidsprosesse of selfs produkte uit te kom nie,maar dat hy mense moet kry wat dit reeds ken en selfs kan optimiseer.

    Om van klein na groot denke te beweeg moet hierdie tipe proses gevolg word maar die ou wat dit nodig het, kan dit nie self uitvoer nie omdat hy dan van sy eie proses gaan vergeet. M.a.w. as ’n besigheidsman karre verkoop kan hyself nie kreatief wil word nie, want dan gaan hy minder karre verkoop in die proses. Dis hoekom Magrete I dit alles vir haar seun gedoen het en dis hoekom die Weermag vir Krygkor gevra het om dit te doen. Noudat die Weermag self produkte aankoop verdwyn die Krygkor kundigheid en word swak produkte soos die Augusta 109 verkry (nie aangeskaf nie).

    Een kommersiële voorbeeld van klein-na-groot oorgangsproses optimisering word beskryf in die boek van Geoffrey A Moore, Crossing the Chasm waar hy mense wat produkte van nuuts af ontwikkel, help om die regte markte aan te spreek in ’n gefaseerde benadering i.p.v. om dadelik baie geld te wil maak. Hy verwys bv. na ’n gaping wat tussen tegnologiese entoesiaste en realiste bestaan wat maklik kan veroorsaak dat ’n goeie konsep bankrot gaan.

    Net soos wat daar tegniese entoesiaste is, is daar ook politieke aktiviste wat lank voor die politieke realiste groeperinge reageer op sosiale of gemeenskapsprobleme. Hulle reaksie gaan gewoonlik gepaard met “oplossings” of produkte wat eintlik van klein na groot ontwikkel moet word – en dit is waar hierdie tipe ontwikkellingsproses gebruik moet word om die “aanvaarbare oplossing” te fasiliteer, sodat die politieke realiste groep dit “ook” kan aanvaar.

    Dan het mens groot denke.

  • Klein teenoor groot denke

    Gedurende die 70’ger jare het mediese studente se sosiologiese onderbou die boek “Society Today” (wat nie meer beskikbaar is vandag nie),  ingesluit waarin die konsep van “Local vs International” beskryf is. Alhoewel die konteks meer rondom nie-kreatiewe teenoor kreatiewe denke gegaan het, het dit die onderskeid gevestig van klein teenoor groot deurdat hierdie teenstrydighede as ’n normale suigstokkie teenoor ’n ontploffende suigstokkie uitgebeeld is.

    theron_johann2Die bestuurswetenskap het die gedagte van “Local vs International” verder verfyn deur die gewraakte voorkoms van “local company men” (of bestuurders wat slegs na binne lojaal is), af te speel teen bestuurders wat meer  na buite lojaal is (of meer oop is vir internasionale of alternatiewe idees). Vir ondersteunende verwysings sien hier.

    In die 19de eeu was geen van hierdie geformaliseerde konsepte bekend nie alhoewel daar uit die middeleeuse feudale stelsels duidelike onderskeid getref was tussen heersers en werkers. Dié heersers kan dan as “internationalist” en werkers as “local” beskryf word. Daarom was die vestiging van Suid-Afrika as ’n entiteit eers moontlik in die 20ste eeu nl. 1910 met die Unie van Suid-Afrika (Sien Dave Steward van die FW de Klerk Instituut se video oor SA se geskiedenis.)

    Hierdie uitslag was slegs moontlik omdat die Britse heersers oop was vir nuwe idees terwyl die binnelands strydende groepe glad nie daaraan kon dink nie, of die vermoë gehad het om eers die landsgrense te trek nie.

    Op hierdie stadium het die Afrikaner ’n jong en onvolwasse stamkultuur gehad waar hulle kort tevore hulself probeer regeer het – weg van die Britse juk –  terwyl die Kerk-Staat-balans gevaarlik oorgehel het ten gunste van die Kerk. Dit is duidelik merkbaar in die ononderbroke groei van die Kerk sedert 1652. Die samebindende tradisie tussen geografies wydverspreide boere is weerspieël deur die tipiese 3 maandelikse kontrei-nagmaaldienste en was/is onlosmaaklik deel van die Afrikanerpsige en -opvoedingskultus. Dit was egter ’n plaaslike Kerk vir plaaslike mense en die hele konsep kan as lokaal identifiseer word dermate dat die politieke voorstel van apartheid (klaarblyklik) eintlik van “dominee” DF Malan af gekom het. Op daardie stadium was “segregasie” egter die aanvaarde internasionale konsep en daarmee het die probleem a.g.v. die verskil in internasionaal teenoor lokaal of groot teenoor klein na vore gekom. Die uiteinde van hierdie geloofsgebaseerde “klein” denke het finaal die Afrikaner benadeel met die oorhandiging van mag aan die ANC in 1994. Daarom is die moderator van die NG Kerk Johan Heyns vermoor en FW de Klerk van hoogverraad aangekla.

    In die 21ste eeu het die “World Economic Forum” ’n jaarlikse verslag begin uitbring waarin die rangorde van mededingendheid van nasies op wetenskaplike wyse bepaal word. Of die konsep van mededingendheid korrek is of nie, hierdie verslag tref baie duidelik onderskeid tussen 1ste en 3-dewêreldlande deur die twee groepe onderskeidelik as “innoverend” en “funksioneel” te identifiseer. Aangesien dit wetenskaplik gegrond is, kan niemand dit as polities of nie-polities korrek beskou nie. Wat interessant is, is dat hierdie onderskeid terugspring na die gedagte van groot teenoor klein denke soos hierbo beskryf. Met ander woorde, ontwikkelde lande dink groot en ontwikkellende lande dink klein. Dit word gemeet aan kreatiwiteit oftewel, die vermoë om te ontwerp. Aangesien Suid-Afrika alles invoer – moet Suid-Afrika dus funksioneel mededingend wees en kan ons wesenlik nie self dinge ontwerp nie en daarom is die denke “klein”. Kyk maar na die Rooivalk-gevegshelikopter – dit is wel ontwerp in Suid-Afrika – maar waar is daardie ontwerpskundigheid nou? Die land se politieke en sakeverteenwoordigers maak meer geld deur dinge in te voer en daarom word ontwerpskundigheid nie aangemoedig nie – selfs nie eers onder wittes nie.

    Rakende politiek in Suid-Afrika is die hedendaagse populêre hoofstroomneiging dus weg van groot denke na klein denke toe. Een voorbeeld is Naspers wat internasionaal groot dink maar op die plaaslike front daardie internasionale denke aktief afdruk te gunste van lokale denke, lokale politiek en lokale geld. Politieke aktivisme is duidelik nie teenoor die regering van die dag nie, maar meer teenoor die gedagte van lokale denke waar dit as onkreatiewe denke beskou word. Hierdie narratief bots egter met die “kreatiewe” uitkoms van lokalisering en desentraliserende filosofiese denke waarbinne die konsep van selfbeskikking gesien kan word en wat veroorsaak dat politieke partye by mekaar verbypraat en waar ons verval in die Derrida-strik van binêre denke.

    Die gedagte van hiërargie teenoor netwerkgebaseerde organisatoriese oplossings kan beskou word as een “groot” denke wat uitvloei uit die selfbeskikkingskonsep. Dis amper soos om ’n projek te bestuur waar die projek die firma verteenwoordig sonder om die firma te verteenwoordig maar tog ’n lewe van sy eie het. Hierdie lewe is moontlik sonder hiërargiese inmenging van Staat of Kerk. Dit kan dus beskou word as groot denke vir die Afrikaner vorentoe.

  • Johann Theron: Straatkultuur

    Johann Theron: Straatkultuur

    Kultuur word dikwels gebruik om beskawings se geletterdheid, standaarde en tradisies te meet. Mettertyd het sub-kulture na vore gekom soos rugbykultuur en karkultuur en net so het daar ‘n straatkultuur onstaan.

    Straatkultuur word gesien in voetgangers, straatkunstenaars en advertensies, maar ook straatwinkeltjies, koerantverkopers, karwagte, straatveërs en sekswerkers. Die regulering van menslike interaksie op straat is basies voorskriftelik in terme van padreëls met verdere verfyning deur individue se basiese kulturele kenmerke, maar die straat veroorsaak ‘n bykomende dinamiek wat nie gereguleer of noodwendig voorspel kan word nie.

    Om die waarheid te sê voorspel hierdie dinamiek eintlik die gevolglike kultuur.

    Indien die straatdinamiek positief is, dan is die argument dat dit maar net ‘n uitvloeisel is van basiese kulturele veranderinge en aanpassings. Maar indien dit negatief is verander die prentjie redelik drasties. Neem bv graffiti as ‘n straatkuns, waar meeste kommentators kan getuig van “mooi” dekoratiewe voorbeelde waar lelike geboue byvoorbeeld ‘n vernuwende beeld gegee word of, graffiti versinnebeeld ‘n aktivisme teen byvoorbeeld die politiek/politici van die dag of sommer net vandalisme.

    Hierdie “negatiewe” dinamiek word vertolk as kontrakultuur (counter-culture) en word akademies gesien as ‘n subkultuur wat homself afspeel rondom die straat. Daarom kan mens die groter prentjie sien as “straatkultuur” waar mense sal saamtrek op die strate in reaksie teen iets – byvoorbeeld die “Occupy Wall Street” beweging teen Amerikaanse finansiële organisasies.

    In ‘n onlangse MA-verhandeling in politieke wetenskap by die Universiteit Stellenbosch het Serge Ntamack die “straat”-rebellie in Kameroen van 2008 opgesom soos volg: “Dus die gebruik van private geweld gedurende die onluste in Februarie 2008, wat nie as ‘n geïsoleerde (re)aksie van woedende jongmense gesien kan word nie, is getrou aan die wese van hulle bestaan en die politieke onrus wat dit moontlik mag veroorsaak, is bykomstig tot die leefstyl waarin dit vasgelê is.”

    Die jeug in Kameroen het na ongeveer 50 jaar van post-koloniale, neo-patriargale landsbestuur die punt bereik waar hulle taalgebruik ‘n kontrakultuur versinnebeeld en waar sodanige kontrakultuur na geweldadige politieke onrus gelei het in 2008. Een voorbeeld is die uitdrukking “die pour rien” wat ‘n onnatuurlike dood beteken. In meer detail: “Therefore ‘die pour rien’ is the unnatural death of someone who has been ‘eaten’ or betrayed by his relatives (the members of his kinship or a close friends).”

    Hierdie uitdrukking vergelyk goed met Suid Afrikaanse uitsprake rakende “dis nou ons beurt om te eet” wat ‘n aanduiding is dat die elite maar kan eet maar dat hulle nou genoeg gehad het en opsy moet skuif. Hulle word hiermee hulle eintlik verkla in ‘n soort kannibalistiese metafoor “someone has ‘eaten’ the life, the health, the crops, and the wealth of his neighbor”.

    Hierdie kontrakultuur in Kameroen is tekenend van hulle onvermoë om te presteer en al was swak bestuur die oorsaak, word die “swak” toekoms nou voorspel en verseker deur die kontrakultuur. Higgs (2007) stel dit dat leierskap 80% invloed het op kultuur en dat kultuur 60% invloed het op prestasie. Kontrakultuur verseker dus SA se swakkerwordende prestasie.