Duitse kanselier Angela Merkel se regering is woedend oor President Petro Poroshenko se plan om ‘n referendum te hou oor die Oekraïne se aansluiting by NAVO.
Duitsland beskou dit as ‘n doodloopstraat wat onnodige spanning aanblaas met Rusland.
Volgens Duitse amptenare is só ‘n plan om die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie oos uit te brei eenvoudig nie op die tafel vir Merkel nie.
Volgens een Duitse amptenaar is dit suiwer onnoselheid aangesien ‘n referendum nie die Oekraïne nader aan NAVO sal dwing nie, want besluite oor lidmaatskap word gemaak deur die Verdragslande en nie kiesers nie.
Enige poging om aan te sluit by NAVO kan net baie sleg eindig, het ‘n tweede amptenaar gesê. Beide het gevra om nie genoem te word nie, aangesien hulle nie gemagtig is om die Duitse regering se strategie te bespreek nie.
Die VSA kan nie langer beskostig om NAVO te befonds nie, en soek naarstiglik redes om die organisasie aan die EU se hart- en longmasjien te koppel.
Frau Merkel en Vladimir Poetin is dit roerend eens dat dit nie ‘n opsie is nie. Frustrasie oor haar onvermoë om sanksies teen Rusland opgehef te kry, gaan binnekort tot ‘n krisis in Duitsland lei, sê ontleders.
Duitsland kan nie bekostig om die miljarde wat die Oekraïne skuld aan onbetaalde gasrekeninge, te verlos nie en Rusland gaan waarskynlik nie altyd bly wag vir betaling nie.
“NAVO-lidmaatskap vir die Oekraïne is nie op die agenda op hierdie punt nie,” het Michael Grosse-Broemer, die parlementêre sweep vir Merkel se Christen-Demokratiese blok, gesê in ‘n onderhoud gister in Berlyn.
Duitse weerstand teen die Oekraïne se lidmaatskap in die 28 lande se militêre alliansie, word gedeel deur Frankryk, wat ‘n waarskuwing aan Poroshenko is om nie die konflik met pro-Kremlin onafhanklikheidsondersteuners verder te stook nie. Meer as 4300 lewens in byna agt maande is reeds verloor en dié stap sal die konflik verder vererger.
Oekraïense lidmaatskap in NAVO is absoluut onaanvaarbaar, het ‘n Russiese regeringsamptenaar gister aan Bloomberg gesê. Hy wou anoniem bly omdat hy nie gemagtig is om diplomatieke beleid te bespreek nie.
Enige referendum wat NAVO-lidmaatskap in die Oekraïne rugsteun sal lei tot verdere eskalasie wat Rusland nie sal duld nie, het die amptenaar gesê.
Duitsland is ook bekommerd dat die nuwe regering nie ver genoeg gaan in die aanpak van korrupsie nie, het die tweede amptenaar gesê.
NAVO-inmenging sal lei tot verdere agteruitgang van Russiese-Oekraïense verhoudings, het Rainer Lindner, die hoof van Duitsland se Ost-Ausschuss wat sakegeleenthede met Rusland bevorder, gesê in Hamburg. Dit is “iets wat ons nie wil sien nie”.
Merkel het gister erken dat sanksies ‘n impak op die Duitse en die Europese ekonomieë het en dat sy haarself toenemend in ‘n hoek verf daarmee.