Leon Lemmer: Die uitdagings van saamleef in Afrika

Toe daar destyds oor die ondergang van blanke politieke mag gekonkel is, eufemisties ons oorgang na demokrasie genoem, is die volgende boek van ‘n teoloog gepubliseer: Attie van Niekerk, Sáám in Afrika (Kaapstad: Tafelberg, 1992, 119p). Hierdie teks is op Praag (8.04.2017) bespreek. Van twee teoloë, Pieter van Niekerk en Chris Jones, het onlangs ‘n soortgelyke boek verskyn: Saam in Suid-Afrika (Kaapstad: Lux Verbi, 2017, 207p, R200). Let daarop dat Lux Verbi deesdae deel van Naspers se Media24-groep is. ‘n Mens kan met reg verwag dat ‘n nuwe boek oor plaaslike pogings om saambestaan houdbaar te maak, getuienis sou lewer van die duidelik waarneembare agteruitgang oor die afgelope meer as twee dekades, maar dit is eintlik glad nie die geval nie: “Ons land lê nie in sak en as nie” (p 194). Die uitgangspunt is veel eerder dat ons almal mense is en hande moet vat en dan sal alles wonderlik wees. Myns insiens kan bv onderlinge verskille tussen mense en groepe sodanige utopie onbereikbaar maak.

Om mense te motiveer om die boek te koop, is die voorwoord en die laaste “hartroerende” storie (20) deur Ivor Price geskryf; iemand wat myns insiens kwalik as ‘n rolmodel of gesaghebbende orakel beskou kan word. In die voorwoord noem Price die boek ‘n “kragtoer” (7) en ‘n “woordlafenis” (5). Sonder om ‘n poging tot oorspronklikheid aan te wend, verwys hy na oogklappe, Madiba-magic, braaivleisvure, die “rassemanie” op sosiale media (5), “die nare werklikhede van die verlede” (6) [en die hede?] en vra dan die retoriese vraag: “Was die struggle* en die bloedvergieting dan alles verniet?” (5). Price se “hartroerende” storie is dat die Price-gesin in Junie 1990 toegang tot verblyf in ‘n tradisioneel blanke gastehuis geweier is. Die fout wat hulle gemaak het, was om te dink dat apartheid met FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 afgeskaf is terwyl De Klerk dit eers in 1991 mandaatloos gedoen het. [* Die Afrikaanse woordelys en spelreëls, 2017, p 505, erken die Struggle en Strugglepoësie as Afrikaanse woorde.]

Agterop word die inhoud van die boek soos volg verwoord: “Saam in Suid-Afrika praat kaalvuis oor die sensitiewe onderwerp van ras en rassisme – en die realiteit daarvan in ons land. Samestellers Chris Jones en Pieter van Niekerk gee vir die leser ‘n eerlike blik op hoe Suid-Afrikaners van verskillende rasse saam leef, en ook hoe ons mekaar se andersheid kan vier én versoening kan bring.” Daar word tereg dikwels na verskille by mense verwys maar die ooreenkomste kry voorkeur. Die teks het dit by uitstek teen rassisme by blankes en hoe hulle hulleself moet hervorm om die genesing van ander mense se beweerde apartheidspyn moontlik te maak. Die waarheid is dat van blankes verwag word om herhaaldelik verskoning te vra, maar dikwels word aangevoer dat dit nie goed genoeg is nie. Sommige swartes eien hulle die reg toe om blankes nie te vergewe nie. Swartes mag maar onbepaald voortgaan om hulle griewe te koester. Van blankes word daar onvoorwaardelike welwillendheid en opofferings geëis

Daar word van die myns insiens valse veronderstelling uitgegaan dat enersyds bruin en swart mense en andersyds Asiate en swart mense beter rasverhoudings as blankes handhaaf. Dit is heel moontlik dat blankes se rasverhoudings prominent is omdat blankes vir veroordeling geteiken word. “Dit is veral wit mense wat na swart en bruin landgenote se verhale van seerkry en vernedering moet luister” (16). “Ons [blankes] is in hierdie opsig bewus van ons historiese bevoorregting” (20; ook 41) of bevoordeling (36). Daardie “ander mense” moet glo nie nie-blankes genoem word nie: “Die gebruik van die woord nie-blanke word negatief geweeg. Dit kan beteken dat swart, bruin en Indiërmense die negatief van blank is” (199).

Van Niekerk en Jones is eerder die samestellers as die outeurs van die teks omdat talle ander mense se bydraes in die boek opgeneem is. Ná hulle inleiding spreek die samestellers in Afdeling 1 “gedagtes oor rassisme” uit (19). Afdeling 2 bestaan uit vertellings deur 16 verskillende mense. “Die doel om na mense se stories te luister, is nie net om dieper insig te verkry nie, maar ook om tot transformasie by te dra” (72). Dit gaan dus nie om ‘n realistiese waardering van die verlede nie, maar om verandering van die hede, al kan dit bevraagteken word of transformasie (altyd) verbetering is. “Die keuse van deelnemers was lukraak, persone wat ons ken of van gehoor het, is genader” (17). Hier onder blyk dit dat hierdie vertellers veel eerder met voorbedagte rade uitgesoek is. Die samestellers het uiteraard gedikteer wat hulle in die boek ingesluit wil hê en wat uitgesluit moet word. In Afdeling 3 word “remedies”, oftewel medisyne, vir rassisme aangebied. Die medisyne is maar flou en onoortuigend. Ook hier was die samestellers aangewese op ‘n aantal mense wat om insette gevra is. Eintlik wek die hele boek die indruk dat dit glad nie ‘n diepgaande, akademies-wetenskaplike besinning oor die onderwerp is nie. Die aanslag is sonder ‘n skerp fokus en van populêre aard en word myns insiens met die oog op onkritiese konsumpsie aangebied.

In die samestellers se hoofstukke is daar 13 verwysings na Bybelverse. Pleks van verder te spekuleer oor wat elk van die samestellers bygedra het, volstaan ek met die gedagte dat dit seker Van Niekerk is wat hierdie enkele versverwysings ingesluit het. Ek sê dit omdat dit myns insiens ‘n kenmerk van Jones se geskrifte is dat hy hom nie beswaar met wat in die Bybel staan nie. Myns insiens vind hy die grondslag vir sy oortuigings by voorkeur in homself. Dit word dus ‘n Jones-evangelie, ‘n “evangelie van inklusiwiteit” (14). “‘n Kerkgebou op Sondagoggende met net wit of slegs swart gesigte, kan tog nie volwaardig kerk wees nie. Die kerk as geloofsgemeenskap het tog geen ruimte vir rasseskeiding nie” (14). Dus, die Boere/Afrikaners het tradisioneel “tog” verkeerd kerk gehou. By ‘n vorige geleentheid het ek, na aanleiding van hulle opmerkings oor veral homoseksualiteit, na Jones en André Bartlett as voorbeelde van ontbybelde teoloë verwys.

Daar is ‘n onmiskenbare soeke na aktualiteit en selfs sensasie in die boek. Die eerste sin van die Inleiding lui: “Dit is asof die sluimerende rassisme na 1994 se reënboogdroom met ‘n groot knal oopgebars het” (8) en “Tog lyk dit of daar ‘n toename in veral kru vorms van rassisme te bespeur is” (10). Later word egter gesê: “Rassisme kom vandag redelik verskuil voor” (31). As ons tans ‘n opbloei van rassisme beleef, is een van die redes daarvoor dalk ‘n stelling soos die volgende komende van die samestellers: “Die regstellende, demografies verteenwoordigende rasseformule van 80-9-9-2 lyk op die oog af geregverdig” (12). Daarna volg hierdie kwalifisering, wat blankes grootliks uitsluit: “Maar dit word ‘n berekende slaanstok teen minderhede, van wie sommige self onder apartheid gely het” (12). Polities byderwetse retoriek kom dwarsdeur die boek voor. Verskille, soos kleur, word nie ontken nie. Andersheid moet glo gevier word (17). ‘n “Nuwe kleurryke identiteit” (8) word vir ons in die vooruitsig gestel. Rasse-integrasie en -assimilasie, insluitende rasvermenging, word (onvoorwaardelik) aangemoedig. Op hierdie manier sal die andersheid mettertyd verminder. Die samestellers probeer om hierdie pil soos volg te versuiker: “Gasvrye optrede vra nie van ons om ons identiteit prys te gee nie, maar juis om dit te verruim” (66). Rasse-integrasie en assimilasie skuil hier onder die mooi woord “gasvryheid.”

Die omarming van ‘n “reënboognasie” (8) word van Desmond Tutu oorgeneem, wat dit op sy onoorspronklike manier uit die Amerikaanse burgerregteliteratuur ontleen het. ‘n Ander teoloog wat deur die samestellers as navolgenswaardig geag word, is Allan Boesak: “Alhoewel die meeste mens dink dat rassisme eers ‘n relatief onlangse verskynsel is, kom dit eintlik al sedert die begintyd van slawerny af. Volgens die teoloog en aktivis Allan Boesak is dit deur wit Protestantse Christene as deel van hul sogenaamde kapitalistiese revolusie teologies ontwikkel, gemotiveer en begrond” (25). Dit is skokkend hoe onkrities die samestellers hier met Boesak se anti-blanke gesindheid omgaan. Voorheen was slawerny kenmerkend van baie volke. Die Arabiere was/is by uitstek bekend as slawehandelaars en -besitters. Soos by Boesak het dit egter die gebruik geword om net blankes vir slawerny te blameer. Boesak gaan verder. Volgens bostaande aanhaling beskuldig hy uitsluitlik blanke protestante vir die teologiese regverdiging van slawerny en rassisme.

Boesak en die NG Sendingkerk se verdoeming van apartheid as kettery in 1982, asook die Belydenis van Belhar wat in 1986 daaruit gevolg het, word as versoeningsmaneuvers voorgestel. Ons is glo veronderstel “om te weet vir wie Jesus die grootste deernis het” (42). Daar word beweer dat “die benadeeldes weens apartheid arm bly” (49). Die selfkoesterende vertolking “dat God in enige situasie van onreg die God van die onderdrukte is” (30), word sonder meer onderskryf. Bruines en swartes word dus by wyse van spreke God se witbroodjies. Die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat uit die NG Sendingkerk ontstaan het, is egter self nie vry te pleit van rassisme nie. Daar bestaan “die vermoede onder wit predikante … dat hulle minder beroep word” (31).

“Dit is lofwaardig dat diversiteit en pluraliteit wyd erken word, terselfdertyd ook die regte van verskillende groepe en dié van minderheidsgroepe” (31). Dit is verbasend dat die samestellers skynbaar onbewus daarvan is dat in ooreenstemming met die wense van die ANC net individuele regte in die nuwe Suid-Afrika erken word. Daar bestaan vir bv die blanke minderheid in Suid-Afrika, anders as vir die swart minderheid in Amerika, geen minderheids- of enige ander groepregte nie. Blankes moet deesdae alle groepregte ontbeer omdat by uitstek Nelson Mandela hoogs militant teen “bedompige groepsdenke” (66) gekant was. Die verswelgende swart meerderheid kan egter weens hulle getalle en die huidige politieke opset enige groepregte vir hulleself afdwing. In hierdie konteks kan Joseph Barndt aangehaal word: “Racism goes beyond prejudice. It is backed up by power. Racism is the power to enforce one’s prejudices … It victimizes entire racial or ethnic groups for the purpose of maintaining the benefits and privileges of another group” (33). Dink bv aan die ANC-regering se regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. “Wit dominansie lei tot wit arrogansie” (36). En swart dominansie? Nee, dit word nie deur die samestellers te berde gebring nie.

In die Suid-Afrika van weleer was die gangbare opvatting by blankes dat die ANC/UDF ‘n immorele, terroristiese entiteit is. Weens bv propaganda is daar in die nuwe Suid-Afrika die geykte opvatting dat die ANC moreel die hoë grond beklee. Diegene wat voor die ANC aan die bewind was, was/is gruwelik sleg. Die samestellers stem klaarblyklik hiermee saam. Hulle maak melding van “die ANC-regering wat sy morele kompas begin [!] verloor” (52). Die gewaande uitmuntende moraliteit van die ANC is glo veral deur die ikoniese Nelson Mandela verpersoonlik. Soos in die geval van bv Tutu en Boesak het die samestellers vir Mandela uitsluitlik onkritiese verering. In die eerste hoofstuk beweer hulle: “Rassiste word nie gebore nie, maar gevorm” (22); dus, rassisme is ‘n “stuk boosheid” (23) wat glo aangeleer word (15). Later blyk dit dat Mandela die bron van hierdie uitlating is. In die Mandela-outobiografie staan: “No one is born hating another person because of the colour of his skin, or his background, or his religion. People must learn to hate” (136). Maar ‘n mens moet insgelyks leer om lief te hê, asook baie ander dinge, soos dié wat jou veiligheid bedreig en jou identiteit aantas.

“Swart bewussyn volgens Steve Biko is op soek na ware menslikheid. Dit is ‘n ingesteldheid en leefwyse – in verset teen wit oorheersing. Dit is daarop gemik om die wit gemeenskap uit sy meerderwaardigheidskompleks te help en die liberale establishment uit te daag om hul vermeende rol as mondstuk vir die onderdrukte te heroorweeg. Dit is ook ontwerp as ‘n ewe openhartige kritiek teen die swart gemeenskap se passiwiteit wat swart mense in die loop van die geskiedenis in die rol van ‘toeskouers’ geplaas het” (37-38). Hier word opstand, swart broederskap en die uitsluiting van blankes bepleit. Is dit “ware menslikheid”? Geen kritiek word deur die samestellers op swart bewussyn gelewer nie, al voldoen dit uitdruklik nie aan hulle dogmas van nie-rassigheid en inklusiwiteit nie. As swartes die reg het om teen blanke oorheersing in opstand te kom, het blankes sekerlik ook die reg om hulle teen swart oorheersing te verset, maar die samestellers noem dit nie.

Die enigste definisie van rassisme wat aangebied word, is dié van Hans Opschoor en Theo Witvliet: “The specific ideology which organises and regulates the exploitation and dependence on a specific ‘race’ on the basis of the assumed cultural and/or biological inferiority of that ‘race’. In this way actual differences in power are maintained and intensified” (23). Die woord “ras” word tussen aanhalingstekens geplaas, eerstens omdat geen ras glo suiwer is nie; dus dat daar nie ‘n “diskrete, geografies afgebakende genepoel” is nie (27). Tweedens word aanvaar: “Ons het dieselfde (een) gemeenskaplike oorsprong” (26), wat impliseer dat “ons almal aan dieselfde ras behoort” (27). Maar die NP- en die ANC-regering sou nie vier rasgroepe (wit, bruin, swart en Asiaat) kon onderskei het as daar nie verskille in bv “velkleur, liggaamvorm, haartipe en gesigskenmerke” (26) was nie. Naas hierdie liggaamlike verskille is daar duidelike verskille in “etnisiteit of liewer identiteit” (28), dus maniere van dink en doen, oftewel leefwyse, bv taal, godsdiens, gewoontes, ens. Maar dan gebruik hierdie twee teoloë ‘n religieuse argument om hulle standpunt te probeer afdwing. “Vanuit ‘n geloofsperspektief moet ons onthou dat ons elkeen deur God geskep is. Ons het dieselfde herkoms … Ons is eintlik so eners. Ons deel, ten spyte van verskille, ‘n groot stuk gemeenskaplike mensheid” (59). Eendersheid en gelykheid word dus hiermee tot by God teruggevoer, maar die hier en nou toon dat my ouers en grootouers in baie opsigte baie anders as dié van bv Mandela en Tutu is en daarom ook my kinders en kleinkinders.

Volgens die aangehaalde definisie is die blote erkenning van kulturele en biologiese verskille nie rassisme nie. Politieke mag kan egter wel rassisties beoefen word. In ‘n land waarin ‘n groep demografies 80+% verteenwoordiging het en daarby dwaaslik toegelaat is om in (feitlik algehele) beheer van die politieke en ander lotgevalle van die hele bevolking te kom, is rassisme jeens die minderheidsgroepe ‘n wesenlike gevaar. Die samestellers verkies egter om in hierdie opsig nie die onverkwiklike hede raak te sien nie, maar eerder terug te kyk: “Ongelukkig word Suid-Afrika se geskiedenis deur rassisme gekenmerk” (22). Daar was glo “skokkende ongeregtigheid” tydens die blanke politieke bewind (25). Dit is egter ‘n onbegonne taak om die verlede te verander. Dit is die hede wat ingrypend reggetrek moet word. “Die nadeel van ‘n ideologie [bv swart mag] is dat dit kan funksioneer om ‘n bestaande orde in stand te hou” (24); selfs wanneer daardie orde chaoties en katastrofaal is.

Daar word verwys na “die Huntley-tese” (50) na aanleiding van die Suid-Afrikaner, Brandon Huntley wat in Kanada om vlugtelingstatus aansoek gedoen het omdat “die ANC-regering daarin gefaal het om die wit minderheid teen die geweldmisdaad wat deur swart mense gepleeg word te beskerm” (50). Dit lyk vir my feitelik korrek. Dink bv aan die vlaag plaasmoorde. In die meeste gevalle is dit swartes wat blankes wreedaardig vermoor. Hoe plooi die samestellers hierdie verskynsel sodat die beeld van swartes nie swakker as dié van blankes lyk nie? Deur aan te voer “dat swart en arm mense disproporsioneel die grootste slagoffers van geweldsmisdaad is” (51). Dit hef egter nie Huntley se argument op dat blankes van owerheidsweë onvoldoende beskerm word nie.

Die onderwerp van die derde hoofstuk is “‘n waardegedrewe samelewing” (54). Uit my perspektief het ek gedink aan toewyding, deursettingsvermoë, meriete/verdienste, harde werk, persoonlike verantwoordelikheid, voorkeur aan verpligtinge bo regte, eerder eie inspanning as parasitering, ens. Die samestellers het ‘n heeltemal ander en daarby ‘n politiek-gedrewe invalshoek. Die waardes wat hulle koester is: “nierassigheid, vrede, geregtigheid, waarheid maar boweal hoop” (56). Later word die volgende gelys: “medemenslikheid, integriteit, menswaardigheid, versoening en respek” (67). Die samestellers noem na aanleiding van wat hulle bevind het “dat sekere verskille tussen mense van verskillende identiteite permanent is (57-58). Sodanige verskille het seker gekom om te bly, maar daarna volg hierdie omstrede stellings: “Een identiteit sal egter nooit ‘n ander verswelg of opslurp nie. Ons sal moet leer om met mekaar saam te leef en dat saamloop, saamleef en blootstelling aan ander nie jou unieke waarde as mens hoef aan te tas nie” (58). Wat hulle hiermee beweer, is dat rasse-integrasie en -assimilasie nie (juis) gevare inhou nie, dus dat dit ‘n goeie ding is; dat verswelging eintlik ‘n illusie is; dat Afrikanisering nie bv Afrikaners of Afrikaans (noemenswaardige) skade sal berokken nie. Let op hoe mooi word dit ingeklee: “Die uitdaging vir ons is om só te leef dat ons insluit, dat ons ten spyte van verskille nie diskrimineer nie. Ons moet die beste, die positiewe, die verhewe in ander soek en probeer ontgin” (58). “Ons etiek moet ten diepste ‘n etiek van ‘vreemde feestelikheid’ wees, waar almal welkom is” (67). Die samestellers se siening van identiteit neig om ‘n ontkenning van onderskeibare identiteite te wees: “Ons ontvang ook menslikheid, ons identiteit van ánder” (68). Op die vlak van die algemeen-menslike is daar nie erkenning van bv kulturele groeps-, bv Afrikaner-, identiteit nie.

Die samestellers spesialiseer by voorkeur in eensydigheid. “In Kaapstad is daar twee merkwaardige museums, die een is die Distrik 6 Museum” (65). Die ander een is die Holocaust Museum (66). Die eerste een vertel glo ‘n “tragiese verhaal van waansin” (65). Die ander een handel glo “oor dieselfde saak” (66), dus apartheid word (ongekwalifiseerd) met naziïsme vergelyk, selfs gelykgestel: “Dat sekere mense nie die reg het om in sekere sosiale ruimtes te woon nie. Daar is vir mense gesê dat hulle elders hoort. Hierdie elders is gewoonlik nie ‘n goeie plek nie. Dit word soms ruimtes van die dood” (66). “Nie ‘n goeie plek nie”: Oor die algemeen is beter huisvesting as in Distrik 6 elders in die Kaapse metropool voorsien. “Ruimtes van die dood”: Dit is ‘n skandalige insinuasie. Is daar naasteby ‘n ooreenstemmende getal dooies weens enersyds naziisme en andersyds rassesegregasie/apartheid? Is die manier waarop die slagoffers in die twee kontekste gedood is (ongeveer) dieselfde? Behoort daar waardering te wees vir teoloë wat so ‘n uiterste gebrek aan genuanseerdheid openbaar ten einde mense tot hulle standpunt oor te haal? Is dit hoe hulle hulle eie ideaal van waarheid (56) koester?

Die eerste verteller in Afdeling 2 is Winnie Nel, ‘n onderwyseres en die dogter van Winnie Rust wat in Wellington vermoor is omdat “ek die [bruin] aangeklaagde moordenaar in my ma se lewe gebring het” (77). Hierdie moord het Nel nie uit haar politieke verligtheid geskok nie. “Op my eiland van wit bevoorregting het ek salig onbewus van die onreg in ons land grootgeword” (73). “In die tagtigerjare het my wit gewete wakker geword … Ek het aande teatraal op my kamervloer geween en om vergifnis gepleit vir ons wit sondes. Sondae het ek vir ure saam met my bruin broers en susters gekerk … Alles van die bruin kultuur was vir my aantreklik” (74-75). “Ek het geweet dat ons geskiedenis my altyd in die beskuldigdebank sou sit. Vir ‘n hoogs sensitiewe mens is dit aaklig om gedurig skuldig te voel … dit is baie erg om heeltyd sleg te voel oor my voorregte” (75).

Die tweede verteller is Stefaans Coetzee, wat in Desember 1996 ‘n bom in ‘n winkel in Worcester laat ontplof het. “Ek wou soveel as moontlik swart mense doodmaak” (80). Hy het langer as 18 jaar tronkstraf uitgedien. Coetzee het in die tronk tot ander insigte gekom en begin met ‘n proses van verskoningvra. “As jy jou huishulp, tuinhulp of aan wie ook al om verskoning gevra het, goed en wel, maar indien jy nagelaat het om dit te doen, het versoening nie plaasgevind nie. Dan het jy probeer om aan te beweeg sonder om die pyn van die verlede te erken of te probeer genees” (84). Hiervolgens lyk dit asof onreg net deur die blankes, bv weens apartheid, gepleeg is en net blankes om verskoning moet vra. Swart bomplanters is egter in die meerderheid. “Swart mense loop steeds na 23 jaar se demokrasie met wonde rond. ‘n Mens sien dit in die wreedheid van onder andere plaasmoorde” (83-84). Dit is ‘n bedenklike redenasie. Apartheid, dus blankes, kry hiermee die skuld vir plaasmoorde en nie die moordenaars nie.

Die derde verteller is Jesse Steyl, ‘n sielkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het (geslags)verhoudings met vroue oor die kleurgrens heen. Sy is teen rassediskriminasie gekant en bepleit geslagsgelykheid. Taal is volgens haar “ook ‘n rasse-aangeleentheid” (89). “Baie gesinne en gemeenskappe leef egter steeds met die gevolge van apartheid en die talle informele nedersettings oor die hele land is getuienis hiervan” (91). Apartheid, dus blankes, kry die skuld vir hierdie ellende; nie diegene in ellende nie. Ellende in die res van Afrika en die wêreld kan egter nie aan apartheid toegedig word nie. Sy raak die volgende veralgemening kwyt: “Die grootste probleem ten opsigte van rassisme is dat wit mense dink alle swart mense is sleg” (92).”Mense het nog nie vorentoe beweeg nie” (91).

Die vierde verteller is Danai Tembo van Zimbabwe wat ‘n doktorale student aan die universiteit in Port Elizabeth is en voorheen ‘n private skool in Pietermaritzburg bygewoon het. Toe sy na Suid-Afrika gekom het, was sy senuweeagtig. “Al wat ek van Suid-Afrika geweet het, was dat dit gewelddadig is” (96). “Die wêreld bestaan uit verskillende rasse” (97). Sy ontken dus nie, soos die samestellers, die werklikheid van rasse nie. Haar ondervinding plaaslik het nie “al die aaklige dinge bevestig … wat ek oor apartheid gehoor het” nie (98). Hier is dus ‘n geval van ‘n swarte wat in die buiteland gebore is en wat die plaaslike blankes nie slegsê nie.

Die vyfde verteller is Sandile Ngobeni, wat in Soweto gebore is en ‘n ingeskrewe doktorale student in teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) is. Hy is ‘n politieke aktivis en ‘n EFF-lid. Hy woon in Pretoria en is die skakelbeampte van die Kommissie vir Geslagsgelykheid. Volgens Ngobeni wil die studente hê dat die US moet verander, maar dat die universiteit se reaksie is om die studente te intimideer. “Dit is uiters naïef om te dink dat hierdie universiteit op lang termyn as ‘n eksklusiewe wit universiteit sal oorleef … Die US is en was altyd vir wit bevoorregting gereserveer. As swart studente het ons altyd soos buitelanders in ons eie land gevoel en die US behandel ons soos buitestanders” (101-102). Die US pas glo “die kruuste vorm van regstellende aksie toe … ten gunste van die Afrikaanssprekende bevolking. Wat ons hier sien, is die fortifikasie van die laermentaliteit … Die verstokte konserwatiewes is nou in beheer” (103).

Wat aan die US plaasvind, is dat swart studente “in die rekenaarlaboratoriums slaap” en in daardie “badkamers moet regkom” (102). “Wat die US dwingend benodig, is transformasie en kragdadige leierskap … Die begin van die transformasie moet die ontbinding van die universiteitsraad wees … Die US behoort die baken van hoop in die land te wees” (104). Hoewel Hermann Giliomee nie by die naam genoem word nie, word hy van “rassisme” beskuldig (105), blykbaar omdat hy vir die behoud van Afrikaans as voertaal in die bres tree. Watter doel dien Afrikaans aan die US? “Om die universiteit as ‘n leliewit instelling te behou” (106). As dit is hoe Ngobeni met die werklikheid omgaan, het ek maar min moed dat hy ooit sy doktorale proefskrif suksesvol sal voltooi.

Die sesde verteller is Leslie van Rooi, ‘n teoloog verbonde aan die US. Hy dink dat “geskeidenheid”/apartheid “abnormaal is” (107). Dit het die slagoffers “diep seer en kwaad gelaat” (110); “ongelooflik seer” (113). Daar is ‘n “beheptheid met ras” (113). Die blankes se optrede was “neerhalend en rassisties … Daarom moet hulle skuld bely en regstel … Ons het ‘n diep verdeelde geskiedenis, gebou op die fondamente van sterk rassistiese oortuigings en bevestig met ‘n opvoeding, lewensverstaan en christelike sous wat ons nog meer in die rat van veroordeelde en veroordelende verskillendheid laat vasval het” (111). “Ons kontak met ‘die ander’ is gewoon net te min … Daardie gevoel van geskeidenheid wyl ons eintlik één is” (115). Ons moet “eenvoudig meer moeite doen om vriende te maak met mense wat anders as ons is” (116). Dit is “noodsaaklik dat ons mekaar as gelykes moet behandel en beleef” (116). “Ons was weinig ‘n gelyke land” (118). Ons het “in ons lewe geen ander werklikheid beleef anders as ‘n erg verdeelde en rassistiese realiteit nie” (118). “Ons geskiedenis is sleg en donker” (118). Wie is hierdie slegte mense? Die blankes.

Die sewende verteller is Shahieda Abrahams, ‘n sielkundige en omroeper van Kaapstad. Sy sal die gespreksleier wees by die bekendstelling van die boek op 14 September in Stellenbosch (LitNet 22 Augustus). Wat maak haar in hierdie konteks so gesog? Sy is ‘n Moslemvrou en “My dogter is met ‘n wit Afrikaanssprekende jongman getroud” (122). Hy het ‘n “Christelike Afrikaneragtergrond” (123). “Sekere lede van albei families was bekommerd dat die kultuurverskille onoorkombaar sou wees en tot onmin in die huwelik sou kon lei. Mense praat nie graag oor verskille wat moontlik uit die samesyn van mense van verskillende rasse en gelowe kan spruit nie. ‘n Mens het in ons geval die gevoel gekry dat familielede gewonder het oor byvoorbeeld hoe hul kleinkinders gaan lyk en die taal wat hulle gaan praat” (124). “Baie keer verlang ‘n mens dat die jonger geslag nie onder die invloed van die ouer geslag rassiste moet deurloop nie” (126). As iemand skepties oor so ‘n huwelik is, hoef dit myns insiens nie op rassisme te dui nie. Om ‘n sukses van ‘n huwelik binne dieselfde kultuurverband te maak, is moeilik genoeg. Om in twee opsigte (ras en godsdiens) oor die tou te trap, kan problematies wees.

Oor die verlede skryf Abrahams: “Ons is deur die apartheidsregering gedwing om van Rondebosch na die Kaapse Vlakte te trek. Ek het deur baie traumatiese ondervindinge gedurende die apartheidsjare gegaan. Dit was ‘n baie hartseer tyd” (120). “Die onregverdigheid en hartseer van apartheid het my geleer om nooit onregverdig teenoor mense op te tree nie, om mense nooit te onderskat nie en om mense nooit volgens die kleur van hulle vel of volgens hulle geloof te beoordeel en te verstoot nie. My Moslemwees stel my in staat om ‘n oopheid te hê om kennis rakende ander godsdienste te soek” (121). “In my familie en in my gemeenskap sukkel mense nog steeds om dié wat anders as hulle is te aanvaar” (122).

“‘n Hoofrede waarom rassisme so bly voortleef is die jare van rassistiese ondervindinge en die gevoelens wat daarmee gepaard gegaan het. Sekere mense het baie trauma gedurende die apartheidsjare deurgemaak en vind dit nog steeds moeilik om dit te verwerk en te vergewe. Daar is nog baie woede en seer gevoelens sowel as arrogante houdings wat onder baie Suid-Afrikaners voortleef. Alhoewel die tyd aangeloop het, het die siel van heelwat mense nog nie herstel nie. Daar is verskillende soorte pyn waarmee Suid-Afrikaners nog sukkel. Die pyn is nie net verbonde aan die ondervindinge van apartheid nie, maar ook aan die verandering wat deur die nuwe bedeling meegebring is” (126). Met ander woorde, daar is ‘n diversiteit van pyn. “Suid-Afrika het nie net van ‘n aaklige na ‘n wonderlike situasie verander nie. Met die nuwe bedeling het daar nuwe uitdagings gekom en Suid-Afrikaners sukkel nog steeds om hierby aan te pas … Baie bruin mense dink hulle is die vergete mense, hulle het in die ou bedeling gesukkel en nou word hulle weer in die nuwe bedeling oor die hoof gesien. Baie wit mense voel dat dit sinloos vir hulle kinders is om verder te studeer, want hulle sal in elk geval nie werk in Suid-Afrika kry nie” (127). “Eers wanneer mense verkies om ‘soort by soort’ te wil hou sonder om rassisties te wees, sonder om te dink hulle is beter as ander, sonder om ander te onderdruk, verdien hulle om gerespekteer te word” (130).

Die agste verteller is Jean Oosthuizen, ‘n joernalis wat hom graag oor veral godsdienstige sake uitlaat en dikwels ‘n lansie vir homoseksuele breek (bv sy opmerking oor “mense van ander seksuele oriëntasies” – 141). Hy verwys na “die ‘terroris’ Mandela” (134). Die aanhalingstekens openbaar sy politieke gesindheid. Daarvolgens moet sekere historiese feite oor Mandela liefs verswyg word, maar nie oor blankes nie. “Ons Afrikaners … [moet] die lieg in onsself … blus” (140). “Veral wit Suid-Afrikaners [sal] nog baie moet leer van ander mense se wonde en letsels” (139). Hy verwys na “die pyn, leed en vernedering wat swart Suid-Afrikaners onder apartheid moes verduur” (136). Soms is daar tekens van insig by Oosthuizen: “Rassisme dui nie noodwendig op die haat van een ras teenoor ‘n ander nie” (140) en “Veral middeljarige wit Afrikaanse mans [moontlik eerder: die meerderheid blankes] … voel uitverkoop en verraai deur die vorige regime en onwelkom in die nuwe Suid-Afrika omdat hul kundigheid nie na waarde geskat word nie” [eintlik: omdat daar blatant rassisties teen blankes gediskrimineer word] (140).

Braaivleisvure is glo die teelaarde vir “rassistiese taal, stereotipering en vooroordele” (142; ook 145). “Ja, die Grondwet verseker vryheid van spraak, maar dit beskerm Suid-Afrikaners ook teen haatspraak, aanhitsing tot geweld, rassisme en seksisme” (144-145). Myns insiens is haatspraak deur blankes in die praktyk strafbaar maar swartes word in hierdie opsig nie eintlik aan bande gelê nie. Verder, dit is darem gewetenloos van die ANC om hom aan te matig om voorskrifte oor “aanhitsing tot geweld” uit te reik.

Die negende verteller is Jan Grobbelaar, ‘n NG-predikant op De Doorns. In sy jeug was hy ‘n behoudende Afrikaner maar sy dosent in sendingwetenskap op Stellenbosch, die ANC-aktivis Nico Smith, het sy studente verplig om besoeke aan plakkerskampe mee te maak, wat veroorsaak het dat Grobbelaar ‘n U-draai in die politiek gemaak het. “Kruispad was my Damaskus-ervaring” (152). “Tydens my diensplig is ek geïndoktrineer met die mite van die rooi gevaar en dat die ‘ander’ ons vyande was. Hulle was ‘n bedreiging vir ons voortbestaan as wit mense in ons eie land waarvoor ons al met so baie sweet en bloed betaal het” (149). Die “mite” het werklikheid geword met ‘n ANC-regering wat talle kommunistiese kenmerke openbaar. Die voortbestaan van blankes word inderdaad deur die “ander” bedreig. Dit is nou daardie “ander” wat beweer dat hulle met “baie sweet en bloed” hulle land teruggeneem het.

Grobbelaar het dit wys geag om sy vertelling soos volg af te sluit: “‘n Paar maande terug het ek besluit om op die kis in ons sitkamer die paar boeke wat ek oor Nelson Mandela het, uit te stal. Hoekom? Ek stap elke dag vele kere daar verby. Elke keer kyk ek in Nelson Mandela se gesig vas. Dit laat my onthou. Dit inspireer my. Dit gee my hoop. Mag almal wat in ons sitkamer kom dit raaksien. Onthou. Geïnspireer word. En hoop skep vir die toekoms” (162). Is dit gepas dat ‘n predikant sy amp ten behoewe van politiek misbruik? ‘n Moontlike antwoord is: Ja, mense soos Desmond Tutu en Allan Boesak doen dit en die son van politieke byderwetsheid en geregtigheid bly helder op hulle skyn. Wat onthou Grobbelaar? Hy het heel moontlik ‘n selektiewe geheue. Is bv David James Smith se boek, Young Mandela (London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, 340p) deel van sy Mandela-versameling?

Die tiende verteller is Karlien van Wyk, wat ‘n NG-dominee in die Welgemoed-gemeente in Bellville is. Sy is die dogter van Jan Grobbelaar. Haar vertelling dien as regverdiging van haar pa se politieke verligtheid. Sy val weg met hierdie sin: “Die laaste paar maande het ek met meer as een gesin kontak gehad wat ‘n kind van ‘n ander ras aangeneem het” (154). Dan volg die onvermydelike: “Ons is almal mense met dieselfde behoeftes en ons is almal wonderlik deur God geskep” (155). Daarna volg darem hierdie kwalifisering: dat “ander kulture en rasse vir my wel anders is” (155). “Verskillende rasse verkies dikwels om apart van mekaar te leef” (160). Maar dan trap sy weer in ‘n gat met die opmerking dat “ongemaklikheid” oor mense se andersheid ‘n “vorm van rassisme” is (155). Die soort teologiese opleiding wat deesdae op Stellenbosch aangebied word en daarby by voorkeur in Engels, het haar op dieselfde politieke pad as haar pa aangehelp, bv ‘n “healing of memories”-kamp. “Ek was geskok om te hoor van die seer wat my medeklasmaats ervaar het” (159). “Ek het die Belydenis van Belhar onderteken” (160).

Die elfde verteller is Esther von Waltsleben, ‘n vryskut-aktrise en regisseur, wat in haar “Drama Studio” ook drama-afrigting aanbied. “Mense is mense” (165). “Ek glo dat alle mense gelyk is. Om mense van ‘n ander kultuur of kleur as minderwaardig, heidens of barbaars te sien, is onkundig. Dit frustreer my dat mense steeds dink dat iets so toevallig soos waar jy gebore is en watter kleur jou vel is, jou status bepaal” (164). “Die arrogansie van die Afrikaner wat dink hy is beter as ander het al keer op keer soos ‘n visgraat in my keel vasgesteek … Hoe durf jy dink net omdat ek dieselfde kleur vel as jy het, voel ek soos jy? Wat ‘n arrogante en eiegeregtige aanname om te maak” (166). “Rassiste groepeer mense en maak die aanname dat ‘hulle almal so is’ eerder as om mense as individue te erken of ‘n kans te gun” (170). “In plaas van kleurblind wees, moet ons kleur raaksien en die diversiteit van al die pragtige mense van ons land erken” (171).

Weens onvrugbaarheid het sy en haar man besluit om ‘n kind aan te neem. Dit blyk toe “as ons ‘n wit babatjie wil aanneem, ons tot ag jaar gaan wag. As ons oop is vir ‘n swart babatjie, kan ons binne drie maande ouers wees” (167). Soos sy sê: “Mense is mense,” dus behoort bloot ‘n verskil in velkleur mos nie ‘n probleem te wees nie. Genetiese faktore, dus oorerwing (buiten velkleur), word in hierdie geledere geïgnoreer. Alles wat goed is kan mos aangeleer word. Tog het haar man hierdie klein genetiese verskilletjie nie sonder meer aanvaar nie: “Hier sien ek hoe hy worstel” (167). Maar sy polities verligte vrou het hom gehelp om hierdie probleempie te oorkom. Daar was “in daardie tyd toe skielik ook ‘n geleentheid … om ‘n wit babatjie aan te neem” (167). Toe was haar man “die een wat sonder enige twyfel nee gesê het” (167). “Die skaapmentaliteit van die mens tesame met ‘n ingebore vrees vir die onbekende het niks gedoen om die rassevure te blus nie … dit is tyd om stil te bly en te luister” (170). Danksy bv die aanneming van ‘n swart babatjie kan hierdie egpaar nou daarop aanspraak maak dat hulle “medemenslike mense [is] wat die Afrikakonsep van ubuntu nastreef” (172).

Die twaalfde verteller is Jan-Hendrik Opperman, ‘n onderwyser op Stellenbosch en die eggenoot van Von Waltsleben. Apartheid se “onsigbare muur … is oor die jare deur ‘n stelselmatige en sistemiese indoktrinasie opgerig” (165). “Daar gaan altyd verskille tussen mense wees” (171), maar dan vervolg hy met ooreenkomste: “Almal wil veilig wees, kos hê, liefde gee en ontvang” (171). In vergelyking met sy vrou het hy min te sê en hy formuleer sy standpunt sonder venyn. Dalk het hy geleer om “stil te bly.” Hy is ongetwyfeld die minder verligte element in die huis. ‘n Mens kan maar net hoop namate die baba groter word, hy die uitdagings sal kan hanteer.

Die dertiende verteller is Wouter Wessels, ‘n lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer en onderleier van die VF Plus in daardie provinsie. Hy karakteriseer ons onverkwiklike situasie soos volg: “Die staatskas ervaar enorme druk en staatskuld neem drasties toe. Hierdie tekort beteken dat die regering al hoe minder geld het om in maatskaplike behoeftes van die al hoe meer verarmde bevolking te voldoen en dat daar nie geld is om in infrastruktuurontwikkeling te belê nie. Belasting en tariewe verhoog buitensporig in ‘n poging van die regering om sy inkomste te verhoog. Dit skep ‘n bose kringloop waardeur die middelklas verarm, besighede gesluit en werkloosheid toeneem” (174). Hierdie situasie skep die moontlikheid van ‘n revolusie deur die gepeupel. Dit kan nie ingevolge “sondebokpolitiek” (175) goedsmoeds aan apartheid en dus die blankes toegedig word nie. Die ondoeltreffende, korrupte ANC-regering moet myns insiens die hoofverantwoordelik aanvaar vir die ellende waarin die land verval het.

Wessels verwys tereg na Jacob Zuma se leuen waarvolgens die blankes die grond in Suid-Afrika gesteel het (176) en Julius Malema se rassistiese opmerking: “We are not calling for the slaughtering of whites, at least nor for now” (177). Daar is baie ander leuens, bv: “Die ‘lieg’ dat Afrikaans ‘n rassistiese taal is. Die ‘lieg’ dat wittes alles wat hulle het, gesteel het en nie verdien nie, … Die ‘lieg’ dat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging tot voordeel van almal is en dit regverdigbaar is om teen bruines, wittes en Indiërs op grond van ras te diskrimineer” (177), ens. Wessels het dit teen “kosmetiese nasiebou” en “kunsmatige nasietrots,” asook dat “almal slegs Suid-Afrikaners” is en almal maar na ‘n enkele taal, naamlik Engels, kan oorskakel (178). Volgens hom is dit verkeerd om van alle blankes te verwag dat hulle om verskoning moet vra “vir die foute van die verlede” (178). “Ons verskille ten opsigte van onder andere kultuur, taal en godsdiens moenie geïgnoreer word nie, maar eerder bestuur word” (179). “Die enigste manier om werklik toekomsgerig te wees, is om rasgebaseerde wetgewing en kwotas uit te faseer en die klem op meriete en gelykheid te plaas” (180). Maar meriete impliseer juis ongelykheid.

Die veertiende verteller is Pieter van Niekerk, die medesamesteller van die boek. Hy word ‘n “voetsoolteoloog” en ‘n “kampvegter vir die menswaardigheid van die geringstes in die samelewing” genoem (181). Hy veg dus selektief – nie om menswaardigheid vir almal nie. Sy verligtheid blyk uit die feit dat hy ‘n ANC-leier as “comrade” aangespreek het, wat aanstoot aan lede van ‘n NG kerkraad gegee het (185). As sendeling wou hy nie as “meneer” of “eerwaarde” aangespreek wees nie, maar as “doktor” (186), wat myns insiens afkeuringswaardig is.

Die vyftiende verteller is Desmond Tutu. By die samestellers is die waardering vir Tutu so (ongekwalifiseerd) groot dat Tutu nie eens ‘n oorspronlike bydrae tot die boek gelewer het nie. ‘n Fragment is hergepubliseer uit een van sy boeke. Tutu vertel van die moeite wat hy gedoen het om sy kinders vry van die “breinspoeling” van Bantoe-onderwys te hou deur hulle in Swaziland te laat skoolgaan (187). Hy beweer dat hy by ‘n restaurant op die Suid-Afrikaanse platteland na ‘n venster beduie is waar hy kon sê wat hy wou koop. “Tot vandag toe onthou ek hoe seer ek gemaak is” (189).

In Afdeling 3 stel die samestellers “remedies” vir rassisme voor. Die goue reël is: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matt 7:12) (196). In hierdie verband verkies die samestellers om “veral ons wit mense” aan te spreek (196). Ons mag nie “meerderwaardig en paternalisties” optree nie, want “niemand is beter as ‘n ander nie” (197). In sekere opsigte is laasgenoemde sinsnede myns insiens dikwels nie waar nie. Party mense is geestelik, bv intellektueel, beter toegerus as ander; dus slimmer. Ander mense is dalk ligaamlik beter, bv kan beter hardloop. Afrikaanssprekendes word aangemoedig om ‘n “inheemse Afrikataal” aan te leer (198), maar daar word nie voorspraak vir die aanleer van Afrikaans gedoen nie. Dit is in ooreenstemming met die nieu-US-gewoonte. Die samestellers voel ook positief daaroor om aandele vir plaaswerkers in boerderye te gee (200). “Ryk en arm leerders” moet “gelyke geleenthede kry” (201) en hulle beveel aan dat “ekstra klasse gratis aan die leerders wat sukkel” gegee word (200). Daar kan gesprekke oor bv “dekolonisasie, wit bevoorregting en swart bewustheid op kampusse” gehou word (202). Divine Robertson van die US se Fakulteit Teologie het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “dat dit letterlik net ons velkleur is wat verskil” (203-204).

Die samestellers sluit die boek af deur na die volgende mening van Willem de Klerk te verwys: “Ondanks alles het hy steeds geglo dat daar eendag ‘n breë Suid-Afrikanisme sal wees waar kleur nie die bepalende faktor is nie” (205). Die blanke lesers word hier heel moontlik doelbewus in die duister gehou oor wat hierdie Suid-Afrikanisme behels. Volgens Willem de Klerk is verwestering “nie meer die bestemming van die swart mense nie; ‘n oorwegend Afrikakultuur is die bestemming van die wit mense!* By die nasionale kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis op Wellington, in Julie 1994, sê hy (sy beklemtoning): ‘Vroeër het ons die Afrikakultuur probeer verwesters. Ons uitgangspunt was Eurosentrisme. Nou is ons in die proses waar Afrosentrisme voorop gaan staan. My stelling is dus dat die skep van ‘n nuwe kultuur vir Suid-Afrika, afrikanisering van ons kultuur beteken. Vroeër was die Westerse kultuur die model, met so ‘n paar teksture van Afrika bygevoeg. Nou moet dit ‘n Afrikakultuur word met Westerse tradisies daarin saamgevoeg … ‘n Europees-getinte Afrosentriese kultuur ‘” (Attie van Niekerk, Anderkant die reënboog, Kaapstad: Tafelberg, 1996, p 3-4). Kortom, Afrikanerkultuur en -identiteit is (grootliks) in sy swernoot. Willem sê nie of hy in sy noppies is met wat sy broer, FW de Klerk, vermag het nie, maar daar is destyds algemeen aanvaar dat Willem selfs meer verlig as FW was. [* Dinge word omgedop. Dit laat my dink aan die stelling dat die blanke regering nie tuislande vir die swartes moes geskep het nie maar eerder een vir die blankes of Afrikaners.]

Kortom, ek dink ons kan Pieter van Niekerk en Chris Jones nie daarvan beskuldig dat hulle die verskynsel van rassisme objektief en ewewigtig aanbied nie; dalk selfs nie eens eerbaar nie.

Karel Combrinck: Die A-woord!

Max Du Preez maak die bewering dat «wit Afrikaners» «ongemaklik» voel oor sg. Portugees-Maleisiese invloed op ons taal. Wat Portugees-Maleisies beteken, weet die hemel alleen. Of liewer, die hemel weet, bygestaan deur Max Du Preez.

Maar hierdie versinsel het ons reeds elders bespreek. Wat my persoonlik veel meer ongemaklik stem as vreemde invloede op ons taal, is die onophoudelike geteem oor apartheid, en veral apartheid soos dit deur linksdekadente propaganda aan die wêreld opgedis word.

Een van die onsinnighede wat herhaaldelik deur die linksliberale media kwytgeraak word, is dat apartheid ‘n vorm van nazisme sou wees, ‘n vergelyking wat, objektief beskou, net nie opgaan nie

Soos die Naziperiode vir die Duitsers, is apartheid nou eenmaal ‘n doring in die vlees van Afrikaners wat ons waarskynlik nooit sal kan verwyder nie, maar waaraan ons van tyd tot tyd net ‘n bietjie salf kan smeer. Benewens hierdie aspek en die feit dat daar oor die Naziperiode net soveel, of selfs meer, onwaarhede verkondig is as oor apartheid, is daar werklik weinig ooreenkoms tussen die twee stelsels.

Wat meer sinvol sou wees, is ‘n vergelyking tussen die gedragspatroon van die Duitse volk in die tydperk na die beëindiging van nazisme en dié van die Afrikanervolk na die bëeindiging van apartheid, want in daardie opsig is daar wel raakpunte.

Beide die Duitse en die Afrikanervolk het as verloorders uit die stryd getree. Beide probeer om werklike of vermeende onregte van die verlede goed te maak deur skuldgevoeloens, selfblaam, kruipery en boetedoening van allerlei aard en selfs ‘n mate van selfhaat. Maar daar hou die vergelyking ook op. Die Duitse volk het weens sy groter getalle en ‘n homogene bevolking minstens die kans gehad om as volk te herlewe, as hulle wou, terwyl die kanse vir die herlewing van die Afrikaner as volk so te sê nul is.

Miskien omdat dit moeilik sal wees om oor die Nazirekord veel positiefs te sê, uit watter oogpunt ‘n mens dit ook wil beskou, neem die Duitsers in die algemeen die houding in om hulle nie teen linkse propaganda te verdedig nie. Hulle het die krag, die kennis, die argumente en die finansiële vermoë om dit te doen en sou ‘n leierskapsrol kon speel om die versinsels van die linksliberale media hok te slaan, maar hulle verkies om dit nie te doen nie. Dis jammer.

‘n Paar jaar gelede het ‘n Duitsvervaardigde rolprent oor die tweede wêreldoorlog die rondte gedoen: Das Boot. U onthou nog? In ‘n stadium sing die duikbootbemanning «It’s a long long way to Tiperary». Matrose wat in die Naziperiode «It’s a long long way to Tiperary» op ‘n Duitse duikboot sing ! So reg na die hart van DimWim van Stellobotomie. En natuurlik, het die Duitse media in die na-oorlogse jare nogal kans gesien om ook hier en daar ‘n klip op apartheid te gooi, al is dit dalk net in ‘n poging om sodende in «respektabele» geselskap te verkeer.

Eersdaags verskyn nog ‘n Duitse rolprent getiteld, «Fritz Bauer, ‘n Duitse held». Die rolprent het die subtitel : «As jy jou land wil red, moet jy hom verloën». Die opsomming van die rolprent lui soos volg: In 1957 verneem regter Fritz Bauer dat Adolf Eichmann in Buenos Aires skuilhou. Die Duitse howe verkies om die aangeleentheid oor die hoof te sien. Fritz Bauer besluit om die Israeliese geheimediens, die Mossad, se hulp in te roep…

Het ons as Afrikaners al net so laag gedaal? Sekerlik staan Adriaan (vrotvisverstand) Vlok se
voetewasuitstappie en die heksejag op dr Wouter Basson nie ver terug nie.

Nazisme het ongekende lyding en ellende oor die Europese beskawing gebring wat met niks anders in die geskiedenis vergelyk kan word nie, behalwe miskien met die prestasies van Kameraad Josef Stalin en Mao TseDong. Dit gaan nie net om die lotgevalle van die Jode nie, hoewel dit die aspek is waaraan die linksliberale media die meeste aandag gee. Dit gaan oor ‘n beraamde 60 miljoen militêre slagoffers wat in hierdie bloedige stryd hulle lewens ingeboet het. As die slagoffers van oorlogverwante oorsake soos siektes en hongersnood bygetel word, is die syfer 80 miljoen. Duitsland self het ongeveer 10 miljoen mense verloor. Europa is deur hierdie rampspoedige oorlog op sy knieë gebring en militêr, polities en moreel, onherroeplik verswak sodat dit vandag weinig meer is as ‘n Amerikaanse skoothondjie. Die twee wêreldoorloë, maar veral die tweede, het inderwaarheid die siel uit Europa geruk.

‘Watter soort «apartheid» is dit wat swartes aankarwei na plekke waar hulle nooit tevore was nie, plekke waar hulle nou, op grond van hulle nambas alles opeis waarop hulle hulle hande kan lê?’

Tagtig miljoen slafgoffers. Daarenteen staan die syfer wat die linksliberales graag noem vir die aantal mense wat sedert sy ontstaan in 1948 tot met die oorgawe van 1994 «as gevolg van apartheid» dood is, op 30 000. Tydens die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie van 1997 is getuienis deur die Menseregtekommissie (Human rights Commission-HRC) voorgelê dat tussen 1948 en 1989 toe die ANC amptelik «ontban» is en waarna daar nie meer sprake van apartheid was nie, 7 000 mense hulle lewens «weens apartheid» verloor het. In die tydperk na 1989 tot en met 1994, d.w.s. na die beëindiging van Apartheid is 14 000 mense in politiek verwante geweldpleging oorlede waarvan 95% die gevolg was van swart-op-swart geweld. Dit kan ook maar vergelyk word met die bykans 40 000 witmense wat sedert 1994 op plase en in stedelike gebiede vermoor is, maar soos dinge is, raak die wêreld nie juis daaroor opgewonde nie.

Duidelik was apartheid nie die skrikbewind wat anti-Afrikaanse propaganda die wêreld wou laat glo nie, in elk geval niks wat in graad of omvang met die Nazibewind vergelyk kan word nie. ‘n Boek sal nodig wees om die redes vir hierdie beeld omtrent die Afrikaner volledig te ondersoek. Sekerlik is onder die oorsake skynheiligheid, anti-Afrikanerpropaganda oor ‘n lang tydperk, veral deur die Engelse pers en die Engelse kerk, politieke muntslanery, sondeboksoekery, eie-gewete-sussery, perverse, sieklike en selfvernietigende humanisme, gedienstigheid aan modes en ideologie, afguns, ens, ens. ‘n Suksesvolle, witbeheerde staat midde-in Afrika was ‘n situasie wat die linksliberale engeltjies net nie kon toelaat nie

In teenstelling met sy drogbeeld het die Nasionale Partyregering toegelaat dat derduisende swartes vorige blanke gebiede binnesypel as plaasarbeiders, huisbediendes en wat nog. Watter soort «apartheid» is dit wat swartes aankarwei na plekke waar hulle nooit tevore was nie, plekke waar hulle nou, op grond van hulle nambas alles opeis waarop hulle hulle hande kan lê? Op die lang termyn was hierdie tweeslagtigheid van die Nasionale Partybewind ons ondergang. Die ondergang van apartheid was nie die onmenslikheid daarvan nie, maar die lukraak manier waarop dit toegepas is. ‘n Amerikaner het my op ‘n keer probeer beledig deur die apartheidsregering te beskryf as «a bunch of wonky Nazis». (Lamlendige Nazi’s). Die beskrywing was nie van alle waarheid ontbloot nie.

Vergeleke met die Westerse wêreld se moderne geskiedenis was apartheid inderwaardigheid ‘n gematigde stelsel. ‘n Belangrike aspek van die apartheidsbestel was dat dit, reëlreg in teenstelling met die Nazi’s, ‘n sterk Christelike onderbou gehad het. Miskien was dit nog ‘n paradoks van die stelsel, maar in elk geval, so was dit. Deur die geskiedenis het die Aftrikaners geglo, ten regte of ten onregte, dat hulle ‘n leierskapsrol en ‘n roeping gehad het om die Christelike beskawing na Suid-Afrika te bring. Hierdie is nog ‘n aspek wat deur die siniese linksdekadentes uitgebuit is : «Julle gee voor om Christene te wees, hoe kan julle al hierdie verskriklikhede pleeg ?» Of die Afrikaner onder enige verpligting verkeer het om die christelike, of enige ander beskawing na die swartes te bring, is ‘n ope vraag. Te oordeel aan die huidige situasie by Suid-Afrikaanse universiteite, het hulle in elk geval hulle tyd gemors.

Ook is dit eienaardige «Nazi’s » wat honderdduisende huise vir swartes landswyd opgerig het. Die huise was ekonomies en eenvoudig, maar was ligjare meer menswaardig as die sinkplaatkrotte wat oor die afgelope dekades op die Kaapse vlakte verrys het, die trotse monument van die ANC-regime wat eufories deur die dekadente Westerse wêreld besing word. Hospitale en klinieke is ook landwyd opgerig waaronder bv. die Baragwanathhospitaal in Soweto, die derde grootste hospitaal ter wêreld. Dieselfde geld derduisende skole vir swartes wat oor die hele Suid-afrika verskaf is, asook ‘n halfdosyn universiteite. Daarbebewens het die apartheidsperiode ‘n reusagtige bydrae gemaak om die land te ontwikkel van ‘n piesangrepubliekie in 1948 tot ‘n moderne nywerheidsland wat werksgeleenthede en ‘n heenkome gebied het aan miljoene.

Die universiteite is ‘n goeie voorbeeld van’n geval waar die Afrikaner gepoog het om ‘n konstruktiewe rol te speel op christelike grondslag en waar hulle inteendeel meegehelp het om hulle eie graf te grawe. So ‘n fout sou die Nazi’s nie maak nie. Die swart universiteite het mettertyd, so te sê sonder uitsondering, tot broeikaste van die rewolusie ontwikkel. Aan die Universiteit van Fort Hare alleen het Nelson Mandela, Robert Mugabe, Oliver Talmbo en Chris Hani gestudeer. Die Universiteit van die Weskaap het met verloop van tyd ontaard in ‘n volbloednes van kommunistiese ondermyning, maar tog het die universiteit, apartheid se skepping, in die apartheidsjare waarskynlik ‘n hoër akademiese standaard gehandhaaf as die Universiteit van Stellenbosch vandag. Maar dit sê natuurlik nie veel nie.

Nuwe ANC-wet sal mense tronk toe stuur wat apartheid goedpraat of ‘rassistiese’ taal gebruik

Die ANC in die parlement sê dat hy spesiale wetgewing wil instel om enige gesprek of siening van apartheid wat met dié van sy eie marxistiese geskiedskrywers verskil, strafbaar sal maak. Daarmee saam sal taalgebruik deur blankes wat as “rassisties” geag word, insgelyks strafbaar gemaak word.

In ‘n verklaring gister deur die kantoor van sy hoofsweep uitgereik is, sê die party:

“Die huidige wetlike bepalings is nie voldoende om rassiste te straf en af te skrik nie. As die meerderheidsparty in die parlement, sal ons binnekort die skepping van ‘n spesifieke wet ondersoek of bestaande wetgewing wysig om te verseker dat rassistiese dade of die bevordering van apartheid gekriminaliseer en met tronkstraf strafbaar gemaak word. Ons sal belanghebbendes oorreed en met hulle werk om te verseker dat die parlement so ‘n wet aanvaar.”

 

Die ANC en SAKP beskou die beleid van vorige Afrikanerregerings in Suid-Afrika as “nazisties” en daarom wil hy wette soortgelyk aan dié in Duitsland instel wat dit onwettig maak om selfs net die amptelike siening op ‘n akademiese wyse te bevraagteken. Duitsers wat byvoorbeeld vrae stel oor die spesifieke aantal Jode wat in konsentrasiekampe gesterf het, word summier in hegtenis geneem en tot tronkstraf veroordeel. Selfs advokate en prokureurs wat sulke oortreders in die hof probeer verdedig of om hul vonnisse versag te kry, word in die howe self in hegtenis geneem en summier tot tronkstraf veroordeel. Die advokaat Sylvia Stoltz is in Januarie 2008 tot drie en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis omdat sy die holocaust-ontkenner Ernst Zündel in die hof in haar beroepshoedanigheid verdedig het. In Februarie 2015 is sy weereens 20 maande tronkstraf deur ‘n hof in München opgelê omdat sy ‘n lesing teen sensuur in Switserland gelewer het en in die lesing beswaar gemaak het teen Duitse sensuur oor die feite van die tweede wêreldoorlog.

Die ANC beoog nou soortgelyke wetgewing in Suid-Afrika om sy morele gesag op die bevolking af te dwing en enige debat oor “die verlede” wat van sy voorskrifte afwyk, onwettig te maak.

In ‘n duidelike verwysing na die Duitse wetgewing, sê die ANC se hoofsweep:

“Elders word die verheerliking van nazisme en die ontkenning van die holocaust as misdade beskou en oortreders word verhoor en tot tronkstraf gevonnis. Apartheid is deur die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar. Dit het ongehoorde lyding en onreg vir miljoene swartmense veroorsaak, waaronder moord, foltering, die vernietiging van gesinne, teistering en ontvoerings. Enige persoon wat so ‘n stelsel verheerlik, bevorder en vier wesentlik misdade wat teen swartmense gepleeg is.”

Blykbaar kyk die ANC ook na Britse wetgewing wat “aanhitsing tot rassehaat” tot ‘n strafbare oortreding maak. Die Wet op strafreg en openbare orde van 1994 in Brittanje (Criminal Justice and Public Order Act) verklaar “die publikasie van stof wat rassehaat aanblaas” as ‘n oortreding wat met tronkstraf strafbaar is. Garron Helm, ‘n Britse “trol” wat die parlementslid van die Arbeidersparty, Luciana Berger, as ‘n “kommunistiese Jodin” op Twitter beskryf het, het ‘n ligte vonnis van vier weke tronkstraf in Oktober 2014 ontvang. Strawwe vir anti-Semitiese uitlatings in Brittanje het egter intussen swaarder geword, want die Times of Israel het verlede maand berig dat nog ‘n jong Brit, Joshua Bonehill-Paine, tot meer as drie jaar tronkstraf gevonnis is vir ‘n pamflet oor ‘n anti-Joodse betoging wat hy versprei het.

 

Die ANC se reaksie volg op die uitlatings deur Penny Sparrow en Chris Hart wat vanweë verspreiding op Twitter en Facebook oor die afgelope paar dae voorbladnuus in Suid-Afrika was.

Volgens die kantoor van die ANC se hoofsweep,

“…is dit helder uit dié voorvalle dat daar steeds elemente bestaan wat weerstand bied teen pogings ten gunste van rasse-eenheid en onvermoeid werk om die rasseverdelings en -spanninge te vergroot wat deur apartheidverdrukking geskep is, meer as 21 jaar na die koms van ons demokratiese bedeling wat op die edele beginsels van vergifnis, versoening en genesing in die belang van ‘n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese en voorspoedige SA gegrond is.

“Ons kan nie langer sulke verontmenslikende oortredings, waar die swart meerderheid soos submenslikes behandel word en as ape, bobbejane en ander beledigende rasseterme in hul geboorteland getipeer word nie.

“In die konteks van ons pynlike verlede, moet rassisme en apartheid as ernstige menseregteoortredings beskou word wat met tronkstraf gestraf behoort te word.”

Regskenners met wie PRAAG gesels het, meen dat, indien die ANC se voorgenome wetgewing aanvaar word, sou die roman Disgrace deur die Nobelpryswenner J.M. Coetzee moontlik verbied word weens die negatiewe voorstelling van swartes daarin, terwyl die geskiedkundige prof. Hermann Giliomee tronk toe sou moes gaan vir sy artikels waarin hy aantoon dat Bantoe-onderwys nie so sleg was as wat algemeen aanvaar word nie.

 

Zuma, Poetin hou samesprekinge

Die Russiese president, Vladimir Poetin, en president Jacob Zuma het hulle bilaterale samesprekings in Moskou afgesluit, het RSG berig.

Die twee leiers het tydens die vieringe van die 70 ste herdenking van die oorgawe van Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog samesprekings gevoer.

Volgens ‘n verklaring deur die Presidensie het die twee leiers die status van die Interregeringskomitee oor Handel en Ekonomiese Samewerking vir die komende BRICS-beraad in Julie in Moskou bespreek.

Poetin en Zuma het ook ooreengekom om onderlinge samewerking in mynwese, energie en landbou te verskerp.

Rusland het die oorwinning van die Geallieerdes oor Duitsland met ‘n luisterryke militêre parade gevier.

Dit was ‘n verleentheid vir die oorwinnaars oor Nazisme in die Weste wat nie die geleentheid wou bywoon nie.

Franse dorpie heet ‘Dood met alle Jode’

‘n Joodse groep het sy skok en woede uitgespreek na die ontdekking dat ‘n klein Franse dorpie nog steeds ‘n Middeleeuse naam La Mort aux Juifs of “Dood met alle Jode” dra.

Die Simon Wiesenthal-sentrum dring by die Franse minister van binnelandse sake aan om dit te verander.

Die Simon Wiesenthal-sentrum se direkteur van internasionale sake, Shimon Samuels, het aan die Franse minister belas daarmee, Bernard Cazeneuve, gesê hy is “geskok oor die bestaan ​​van ‘n dorpie in Frankryk wat amptelik genoem word ‘Dood met alle Jode’. Dit is uiters skokkend dat hierdie naam onder die radar gebly het in die 70 jaar sedert Frankryk bevry is van Nazisme en die [pro-Nazi] Vichy-regime.”

Maar die adjunk-burgemeester van die dorp van Courtemaux, wat jurisdiksie het oor die dorpie La Mort aux Juifs, 100 kilometer suid van Parys, is nie oortuig nie.

“Dit is belaglik. Hierdie naam het nog altyd bestaan​​. Niemand het iets teen die Jode nie, natuurlik nie. Dit verbaas my nie dat dit weer opduik nie,” het Marie-Elizabeth Secretand gesê, aan AFP.

“Hoekom ‘n naam wat teruggaan na die Middeleeue of selfs verder verander? Ons moet hierdie ou name respekteer. In ‘n vorige munisipale raadsbesluit, ten minste 20 jaar gelede, is reeds geweier om die naam van hierdie dorpie, wat bestaan ​​uit ‘n plaas en twee huise te verander,” het sy bygevoeg.

In 1992, het ‘n anti-rassisme organisasie by die Minister van Binnelandse Sake en die owerhede gepleit om die naam verander te kry, maar tevergeefs, het AFP berig.

Dit is nie die eerste keer dat die naam van ‘n Europese dorp ‘n herrie veroorsaak nie: In Mei het die inwoners van ‘n Spaanse dorpie vernoem Castrillo Matajudios [waar ‘Matar Judios’ beteken ‘vermoor Jode’] gestem om dit te verander. Die naam is nou Castrillo Judios, Koppie van die Jode – die ouer naam van die dorp.

‘Laat die wit ras radikaal verwater word’: dr. Leon Weskoppies

Skoppensboer het vandeesweek die voorreg gehad om ‘n onderhoud met die vermaarde dr. Leon Weskoppies te voer rondom sy ewe beroemde akademiese verslag van 200 000 woorde met die belowende titel: “Die outoritêre persoonlikheid soos gemanifesteer in nazistiese en fascistiese ontgroeningspraktyke aan die Noordwes-universiteit, Potchefstroom, se dameskoshuise: ‘n marxistiese perspektief.”

Dr. Leon Weskoppies is ‘n lang man met ‘n ruie bos grysgeworde hare en ‘n ietwat skuldige uitdrukking op sy gelaat. Omdat hy tans met belangrike psigiatriese en “krities-teoretiese” kwessies besig is, dra hy heel gepas ‘n wit jas.

Skoppensboer: Dr. Weskoppies, hoe ernstig is die situasie op Potchefstroom? Is daar ‘n hernieude uitbarsting of opwelling van fascisme en nazisme?

Dr. Leon Weskoppies (kug, dan met geesdrif): O ja! Nadat die media, oftewel die gedrukte media, meer in die besonder die Johannesburgse dagblad Beeld en sy redakteur mnr. Adderjan Beesneus, dit onder ons aandag gebring het, het ek onmiddellik geweet: Hier is ‘n krisis! En soos mnr. Rahm Emmanuel, die burgemeester van Chicago, eens gesê het: “‘n Mens moet nooit ‘n goeie krisis vermors nie.” Of wat praat ek nou als, hêhêhê…”

skoppensboer_251_150_200_150Skoppensboer: Waar sou u dit plaas op die skaal van krisisse? So erg soos Vigs? Ebola? Verg dit ‘n noodtoestand?

Dr. Leon Weskoppies (nou opgewonde, beduie vervaard met sy hande en arms wat voor sy gesig slinger): Vir alle praktiese doeleindes het ons reeds die noodtoestand afgekondig! Dis veel erger as Suid-Afrika se Vigspandemie, maar miskien nie heeltemal op die vlak van Ebola nie, nè… Sedert die uitbraak van fascisme egter, is ek byna 24-uur in verbinding met die minister van hoër onderwys, kameraad Blade Nzimande, en ons doen verslag soos wat die gebeure ontvou. Die doen en late van alle blanke, Afrikaanse damestudente word fyn dopgehou en ‘n reaksiemag staan by, indien nodig. As een van hulle dalk ‘n arm sou lig om ‘n aanstootlike armgebaar te maak, sal ons onmiddellik optree, summier!

Skoppensboer: Watter strawwe gaan die damestudente opgelê word? Tronkstraf, eensame opsluiting, selfs die doodstraf?

Dr. Leon Weskoppies: Ek sal eers met Baas Blade moet praat, alvorens ek enige inligting kan bekendmaak. Stel dit so: die doodstraf is nie uitgesluit nie.

Skoppensboer: Maar wat nou van enige damestudente wat dalk ballet of joga beoefen en moontlik die verkeerde handgebare maak? Sou hulle nie ook strafbaar wees nie?

Dr. Leon Weskoppies: Juistement! Ek en my liewe vriend, doktor Leuens Kruiphof, het juis by wyse van dekreet alle vorme van ballet op of naby die kampus verbied. Joga mag wel met ministeriële toestemming in uitsonderlike gevalle beoefen word.

Skoppensboer: Ek verstaan. Waarskynlik meen doktor Leuens ballet is te eurosentries binne die nuwe tye van die Afrika-renaissance…? Maar is die doodstraf vir fascistiese damestudente versoenbaar met die grondwet? Ek dag die doodstraf is verbode?

Dr. Leon Weskoppies: Kyk, my siening oor die grondwet was nog altyd: dis oop vir interpretasie. Ons respekteer die reg op lewe, maar as dit gaan oor die regstelling van wanbalanse uit die verlede, kan die doodstraf in bepaalde gevalle toegepas word. Waarom nie? (Al hoe driftiger.) Ons moet fascisme met wortel en tak uitroei! Sê ek jou!

Skoppensboer: Ek sien daar word in die verslag vermeld dat die “hoë konsentrasie wit, Afrikaanse studente in van die koshuise by die Puk-kampus… radikaal verwater” gaan word. Wat beteken dit?

Dr. Leon Weskoppies: Ek dink dis voor die hand liggend. U weet dat ons tydens die Kemptonpark-onderhandelinge in die vroeë negentigerjare die beginsel van “transhoerasie” aanvaar het. Suid-Afrika en al sy instellings moet getranshoereer word, van onder na bo, van voor na agter, und so weiter. Reeds is ons progressiewe akademici, ook aan die Puk, besig met witheidstudies waarin bevind is dat “die wit ras die kanker van die geskiedenis is”.

Skoppensboer: Soos Susan Sontag gesê het? Vanuit haar knusse woonstel in New York?

Dr. Leon Weskoppies: Mnr. Skoppensboer, ek is bly u ken die teksvers. Is u self ‘n graduandus van Witheidstudies?

Skoppensboer: Dit was so te sê my hoofvak op universiteit, doktor Weskoppies. Ek koester ‘n vurige belangstelling in Witheidstudies en dink daaraan om ‘n nagraadse kursus aan die Universiteit van Stellenbosch by proff. Amanda Gouws en Anton van Niekerk daaroor te loop.

Dr. Leon Weskoppies: Uitstekend! Alle kennis begin en eindig by Witheidstudies, asook die besef dat die wit ras ‘n siekte is wat ons in ons land en in die wêreld moet uitroei!

Skoppensboer: Met wortel en tak?

Dr. Leon Weskoppies: Juistement, juistement! Met wortel en tak!

Skoppensboer: Maar in die praktyk, hoe gaan die owerheid presies die “hoë konsentrasie wit, Afrikaanse studente radikaal verwater”? U het reeds na die doodstraf verwys. Sluit dit skerppuntaksie in?

Dr. Leon Weskoppies: Net as daar weerstand is, maar danksy die goeie samewerking van doktor Leuens Kruiphof en sy manne en vroue aldaar, verwag ons nie weerstand nie. Fascisme is in die eerste instansie, soos u weet, ‘n sielkundige afwyking of toestand wat psigiatries behandel kan word. In ons voormalige Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke het ons klinkende sukses daarmee behaal. Ons praat hier van “normalisering”, om almal met die nuwe, progressiewe norme in te prent. Insgelyks in ons verslag, verwys ons na die dringende behoefte aan “radikale normalisering” aan die PUK, waaronder die “afdwing van ‘n normale demografie”.

Skoppensboer: Maar hoe verhoed ‘n mens al die abnormale jong wit studente op Potch om hardnekkig voort te gaan met abnormale wit gedrag, soos om byvoorbeeld partytjies te hou met abnormale demografieë of sê maar in kafees in groepies met abnormale demografieë bymekaar te sit? Hoe gaan die owerheid en die universiteit dit alles onder beheer hou?

Dr. Leon Weskoppies: Een van die aanbevelings in ons verslag is juis dat daar veel meer kameras op en rondom die kampus aangebring moet word, sodat ons al die abnormale blanke studente kan dophou waar hulle dalk weer verbode demografiese konsentrasies mag vorm. Ons sal ook ‘n spesiale taakmag in die omtrek hê wat oombliklik kan toeslaan indien sulke voorvalle sou plaasvind.

Skoppensboer: Dit klink asof die taakspan wat u manjifieke krities-teoretiese verslag saamgestel het, sy werk goed gedoen het!

Dr. Leon Weskoppies: (Hêhêhê.) Noudat u dit sê… Ek voel trots op ons verslag wat nou deur die universiteitsraad goedgekeur sal word en daarna na Baas Blade toe sal gaan vir die nodige toepassing van bo.

Skoppensboer: Ek sien dr. Graeme Bloch “‘n besoekende professor by Wits en lid van Equal Education”, word soos volg deur Rapport aangehaal: “Die NWU het groter probleme as sy rassedemografie.” Wat sou hy daarmee bedoel? Is witheid en die abnormale konsentrasie blanke studente nie die grootste probleem en siekte van ons tyd nie?

Dr. Leon Weskoppies: Jammer, ek sal eers kameraad Bloch moet raadpleeg alvorens ek presies kan sê wat hy daarmee bedoel het. Ek het egter die grootste agting vir sy mening, komende van iemand wie se ouers en voorouers dalk ook iewers onder die nazisme gely het. Waarskynlik meen Bloch dat daar nog nie genoeg kritiese denke onder die studente aangemoedig word nie. En hier bedoel ek nou juis die kritiese teorie van Adorno, Marcuse en Horkheimer wat die lokus van die fascisme in die gesinstruktuur van die Westerse samelewing raakgesien het. Iemand met ‘n moeder en veral ‘n vader, is ‘n potensiële kandidaat vir fascistiese gedrag, dit weet ons.

Skoppensboer: Maar wat nou van Afrikaans? As die abnormale konsentrasies wit Afrikaanse studente uit die samelewing verwyder word, sal Potch nog Afrikaanse klasse mag aanbied? Is Afrikaans nie ook maar ‘n abnormale taal nie?

Dr. Leon Weskoppies: Kyk, soos ek in my artikel in Beeld gesê het wat goedgunstiglik deur Adderjan Beesneus met fanfare in sy voortreflike mondstuk vir progressiewe denke geplaas is: Afrikaans is net ‘n buffelagtige gestamp en stoot. Dus is dit nie belangrik dat Afrikaans steeds aan die PUK gedoseer word nie. En in elk geval het prof. Marlene Verdof en die res van die NWU se personeel reeds in 2005 die beleid van “funksionele meertaligheid” aangeneem, dus is dit lank nie meer ‘n Afrikaanse universiteit nie! Trouens, die aandrang op ‘n eie taal behalwe Engels is ‘n simptoom van fascisme, as u my vra.

Skoppensboer: Dus kan ons daarna uitsien dat die kampus en veral die koshuise toenemend niewit en funksioneel meertalig sal word?

Dr. Leon Weskoppies: In ‘n neutedop, ja. (Kyk op sy horlosie.) Enige verdere vrae, kameraad Skoppensboer?

Skoppensboer: Nogmaals oor die fascisme en nazisme: Stem u saam met mev. Hillary Clinton dat Wladimir Poetin soos Hitler is?

Dr. Leon Weskoppies: O ja, baie beslis! Wat hy daar in die Krim aangevang het, Russe wat hulself wil regeer en in Russies wil skoolgaan, ook hul taal op universiteit gehandhaaf wil sien, dis alles fascisme.

Skoppensboer: Glo u dus ook soos wyle prof. Jakes Gerwel dat die heengaan van die Sowjetunie en die Duitse Demokratiese Republiek ‘n groot terugslag was?

Dr. Leon Weskoppies: (Bewoë, met ‘n skor stem.) Ag, ons liewe ou USSR en DDR! Ek het, daardie keer… saam met my boesemvriend Jakes geween toe ek sien hoe die Muur afgebreek word, daardie pragtige “Skansmuur teen die fascisme” soos ons progressiewe denkers dit genoem het. (Snik, buig die hoof.) As ons net ons ou DDR kon terugkry wat vir ons sulke mooi bomme in die Wimpy’s en in Kerkstraat gemaak het, waarmee ons die fascistiese Afrikaners kon uitroei! Dis wat ons vandag nodig het: ‘n lekker demokratiese DDR-motorbom op die dameskoshuise van Potch!

Skoppensboer: (Vertroostend.) Sjoe, ek begryp. Maar daar is darem nog Swede, waar hulle een van die dae die verskil tussen mans en vroue gaan afskaf. Blykbaar moet ‘n mens nie meer “han” (hy) en “hon” (sy) op Sweeds sê nie, want dit bestendig die fascistiese illusie dat daar iets soos geslagsverskille bestaan…

Dr. Leon Weskoppies: (Bemoedig.) Nou praat u! Wat sou ons sonder die Sosiaal-Demokratiese Party van Swede gemaak het? Hulle het miljoene bygedra sodat Suid-Afrika kon normaliseer en transhoereer! (Skielik briesend.) Dis hoog tyd dat Afrikaans helemaal afgeskaf word! Nu talar vi svenska!

Skoppensboer: Tack för intervjun, doktor Weskoppies.

Dr. Leon Weskoppies: Hej da!

Skoppensboer: Hej da!

En met dié Sweedse groet, eindig die onderhoud gepas “funksioneel meertalig” in ‘n progressiewe taal.