Standard Bank skors voorste ekonoom oor ‘rassistiese ondertone’

Deel op

Standard Bank het Maandag een van sy voorste ekonome, Chris Hart, geskors na ‘n omstrede twiet oor die land se swart regering.

“Standard Bank het mnr Chris Hart geskors hangende ‘n ondersoek na die gebeure rakende sy kommentaar op Twitter op Sondag 3 Januarie. Die ondersoek sal gedoen word in ooreenstemming met gevestigde prosedures van die bank en sy wetlike verpligtinge,” het die bank in ‘n verklaring gesê.

“Standard Bank het hom gedistansieer van die uitlatings van mnr Hart, en sal die uitslag van die ondersoek kommunikeer sodra die proses sy loop geneem het.”

Hart, wat ‘n internasionale beleggingstrateeg by Standard Bank is, het glo ‘n “rassistiese” twiet gestuur wat deur anti-wit sosialemediagebruikers oor die naweek aangegryp is.

Hart het Sondag getwiet: “Meer as 25 jaar nadat apartheid beëindig is, word die slagoffers steeds meer tesame met ‘n sin van eiegeregtigheid en haat teenoor minderhede …”

Hy het later om verskoning gevra en gesê sy twiet was bedoel om gelees te word in die konteks van die stadige ekonomiese groei.

Die twiet is op Twitter en Facebook deur anti-wit gebruikers aangegryp. Die anti-wit bende het dadelik ‘n beroep op Standard Bank gedoen om Hart af te dank weens die “rassistiese ondertone” in sy twiet.

Maandag het Standard Bank geswig voor die aanslag deur Hart se twiet te veroordeel en bygevoeg dat dissiplinêre optrede teen hom ingestel sal word.

Intussen is die sake teen die geskorste DA-lid, Penny Sparrow, besig om op te hoop. Sparrow het op Facebook na swart mense as “ape” verwys, in reaksie op rommel wat op Durban se strande agtergelaat is.

Die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal het dit veroordeel en sê hulle beplan om ‘n saak by die Menseregtekommissie aanhangig te maak.

Die provinsiale woordvoerder, Mkhuseli Sondzaba, sê rassisme hoort nie in die moderne Suid-Afrika nie. Dit volg nadat die DA ook strafregtelike aanklagte teen haar gebring en haar lidmaatskap opgeskort het.

Die hoof van die jeugliga, Collen Maine sê intussen dit is geen toeval dat Sparrow ‘n lid van die DA is nie. Hy sê die liga sal alle Suid-Afrikaners wat in die demokrasie glo, mobiliseer om teen mense soos Sparrow op te tree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.