Pieter Mulder
Die geleentheid om ’n nuwe grondwetlike bedeling te onderhandel, kom net een keer in ’n leeftyd – en die NP het hierdie gulde kans verspeel, skryf Pieter Mulder.
Ek verskil van Tim du Plessis se rubriek en Roelf Meyer se boek oor hoe daar in die vroeë negentigerjare met sterk NP-druk tot ’n skikking gekom is. Vir die grootste gedeelte van die onderhandelinge, waar ek ook teenwoordig was, het ek dit anders ervaar.
Of die parlement die hoogste gesag in ’n land is, soos in Brittanje, of die hof die hoogste gesag is, soos in die VSA, is altyd ’n belangrike politieke debatspunt.
Volgens Du Plessis en Meyer het pres. FW de Klerk ’n maand ná Boipatong (dit is Julie 1992) ’n voorlegging aan Nelson Mandela gedoen. Dan skryf Du Plessis: “Dis waar die ANC, op De Klerk se aandrang, ingestem het dat die Grondwet die hoogste gesag in die land sou wees, selfs hoër as die parlement. Meyer kon gerus meer geskryf het oor dié fundamentele toegewing waartoe De Klerk en sy span die ANC gedruk het.”
Daar was geen “fundamentele toegewing” van die ANC waartoe De Klerk en sy span die ANC gedruk het nie.
Ses jaar voor hierdie gebeure, Januarie 1986, stel Oliver Tambo ’n grondwetlike komitee van die ANC in Lusaka saam. Die komitee, wat uit sewe lede bestaan, moet die ANC se grondwetlike riglyne vir ’n nuwe Suid-Afrikaanse grondwet ontwikkel. Hierdie riglyne word verder deur ANC-leiers bespreek by ’n In-House-Seminar. Dit vind Maart 1988 by die Zambiese Universiteit in Lusaka plaas.
Dit alles loop uit op ’n aantal grondwetlike riglyne. Sommige hiervan verskyn in die Harare-verklaring van 1989.
Gaan lees André Odendaal se boek Dear Comrade President en Gevisser se boek oor Mbeki (p. 235) hoe die ANC reeds in die tagtigerjare ’n Handves van Regte as deel van hulle grondwetlike voorstelle aanvaar. “A Bill of Rights that guaranteed certain inviolable rights for all.” Regte wat onskendbaar moet wees.
By die ANC se In-House-Seminar word ’n grondwethof voorgestel (deur Tony O’Dowd) om toesig te hou dat die grondwet se Handves van Regte nagekom word (p. 225). De Klerk en die NP het nie die ANC tot hierdie toegewings gedruk nie.
Selfs die spesifieke onderhandelingsproses wat gevolg moet word, word hier deur die ANC bespreek en beplan. Gedeeltes daarvan verskyn in die Harare-verklaring van 1989.
Dit sluit in dat eers ooreengekom word op sekere grondwetlike beginsels en daarna word ’n “democratically constituted assembly”, ’n verkose grondwetskrywende vergadering, deur ’n algemene verkiesing verkies, wat die finale grondwet skryf en dan ook ’n oorgangsregering.
Bogenoemde was die ANC se “bottom line” – hulle ononderhandelbare posisies.
Ná die Notule van Verstandhouding het Meyer en die NP al hierdie ANC-uitgangspunte net so aanvaar. Ook die ANC se voorgestelde onderhandelingsproses is gevolg. Dit is ’n totaal ander proses as wat die NP aanvanklik voorgestel het waar Kodesa die grondwet sou skryf.
As gesoek word na wat die ononderhandelbare NP-standpunte, hulle “bottom line” was, kry jy niks. Op die vraag van Pieter Steyn op RSG op 3 November 2026 of die NP ’n plan gehad het wat die uitkoms van die onderhandelinge moes wees, antwoord Meyer: “Ek dink die enigste duidelike voorneme was ons moet deur onderhandeling by ’n uitkoms uitkom… Maar hoe daardie skikking aanmekaargesit moes word, was daar nie finaliteit oor of duidelikheid nie.”
As jy onderhandeling binnegaan sonder ’n “bottom line” dan eindig jy by die opponent se “bottom line”. Dit is presies wat hier gebeur het.
Vergelyk gerus die ANC se grondwetlike planne wat in die tagtigerjare gemaak is, terwyl PW Botha nog president was, met die finale 1996-grondwet wat onderhandel is. Jy sal al die ANC se planne daarin kry. Geen wonder dat Joe Slovo ná die Notule van Verstandhouding gesê het: “They caved in on everything,” (Waldmeir p. 216 )
Oor die finale grondwetlike pakket skryf Slovo: “Selfs The Sunday Times, geen vriend van die SAKP nie, het toegegee dat die pakket ’n telling van 16 uit 16 vir die kern van die strategiese doelwitte van die (ANC-SAKP-Cosatu)-alliansie verteenwoordig, soos aanvanklik deur my (Joe Slovo) in die bladsye van The African Communist voorgestel.”
Die geleentheid om ’n nuwe grondwetlike bedeling te onderhandel, kom een keer ’n eeu, of een keer ’n leeftyd voor. Ek glo hierdie geleentheid om ’n werklike wen-wen-grondwet te onderhandel is deur swak NP-onderhandeling, tot ons almal se nadeel, gemis.
Dr. Pieter Mulder is ’n voormalige leier van die VF Plus.
Hierdie artikel het oorspronklik in Rapport verskyn en word met die skrywer se toestemming op PRAAG herpubliseer.
