Protes in Simonstad oor verskuiwing van bobbejane

Die verskuiwing van ’n trop bobbejane uit Simonstad na ’n wildopvangsentrum het hewige protes onder plaaslike inwoners en diereregte-aktiviste ontlok. Die Stad Kaapstad hou egter vol dat die stap noodsaaklik was om die toenemende konflik tussen mense en bobbejane te beperk.

Volgens The Guardian is die Waterfall-trop, wat uit 44 bobbejane bestaan, Vrydag en Saterdag gevang en verskuif. ’n Tweede, kleiner trop, bekend as die Seaforth-trop, sal ook verskuif word.

Die groeiende getalle mense en bobbejane in Kaapstad het die afgelope jare tot toenemende konflik gelei, waarin al hoe meer bobbejane omkom. Daar bestaan reeds geruime tyd meningsverskille tussen diegene wat glo dat mense en bobbejane vreedsaam kan saamleef en ander wat meen dat bobbejane in woongebiede aan te veel gevare blootgestel word en daarom verskuif moet word.

Sommige diereregte-aktiviste het die owerheid se hantering van die bobbejane selfs met apartheid vergelyk.

Tydens Vrydag se verskuiwing het woedende betogers probeer verhinder dat voertuie met die bobbejane vertrek. Volgens Daily Maverick het een van die betogers ’n brandblusser gebruik.

Ná die voorval het die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) betogers versoek om nie die vervoer van die bobbejane te probeer verhinder nie. Die vereniging het daarop gewys dat die vang en vervoer van die diere reeds groot spanning veroorsaak en dat enige vertraging hul verblyf in vervoerkratte onnodig verleng.

Die DBV het egter beklemtoon dat hy steeds teen die verskuiwing gekant is.

“Ons teenwoordigheid beteken nie dat ons die verskuiwing goedkeur nie. Ons inspekteurs is daar omdat die diere iemand nodig het wat na hul belange omsien,” het die vereniging verklaar.

Sondag het tientalle betogers in stilte buite die wildopvangsentrum bymekaargekom. Sommige het blomme aan die heining vasgebind. Volgens Daily Maverick het bobbejane van ’n ander trop ook by die omheining saamgedrom en na die gevange diere geroep.

Die Stad Kaapstad het Sondag in ’n verklaring gesê die verskuiwing het suksesvol verloop. Die bobbejane is deur veeartse ondersoek en word deurentyd dopgehou. Die wyfies het ook voorbehoedmiddels in die vorm van inplantings ontvang.

Volgens die stadsraad is die Waterfall-trop verskuif weens die voortdurende konflik met inwoners van Simonstad, die beperkte beskikbaarheid van geskikte natuurlike habitat en kommer oor die veiligheid van mense sowel as bobbejane.

Die stadsraad beskryf die verskuiwing as ’n laaste uitweg nadat ander maatreëls oorweeg en as ontoereikend bevind is. Dit word ook as ’n alternatief beskou om die diere van kant te maak.

Prof. Justin O’Riain, ’n gedragsekoloog aan die Universiteit van Kaapstad, het aan The Guardian gesê die bestuursplan is oor ’n tydperk van twee jaar aan openbare oorleg onderwerp.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die optrede van sommige lede van die publiek en nieregeringsorganisasies wat volgens hom die veiligheid van mense en bobbejane in gevaar stel deur gewelddadig teen personeel op te tree en die vervoer van die diere te ontwrig.

Bron: The Guardian

Maak 'n opvolg-bydrae