Nog twee verdagtes in Tembisa-hospitaalkorrupsiesaak in die hof

Die korrupsieondersoek by die Tembisa-hospitaal duur voort. Twee verdere inhegtenisnemings plaas die beweerde misbruik van openbare gesondheidsfondse van R635 miljoen opnuut onder die soeklig.

Twee verdagtes het Dinsdag 17 November 2026 in die Palm Ridge-spesialishof vir handelsmisdade verskyn in verband met die beweerde R635 miljoen-korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Valke het Ernest Dikagisho Monnakgotla, 59, en Zacharia Tshisele, 54, hul verskyning in die hof gemaak op aanklagte wat onder meer korrupsie, bedrog en geldwassery insluit. Die saak spruit voort uit ’n voortgesette ondersoek na beweerde tenderbedrog in die hospitaal se verkrygingsprosesse.

Die Valke sê die ondersoek hou verband met bewerings dat sekere hospitaalamptenare saam met diensverskaffers gewerk het om die versoek-vir-kwotasies-stelsel te manipuleer deur aankope doelbewus in kleiner bedrae te verdeel sodat dit onder die R500 000-drempel bly en formele tenderprosesse vermy word.

Tshisele is volgens die polisieverklaring ’n operasionele verpleegbestuurder waaroor daar reeds ’n ander korrupsiesaak in die spesialishof in Pretoria hangend is. Die verklaring sê ook hy is in daardie saak op borg vrygelaat en het reeds meer as R13 miljoen aan die Spesiale-ndersoekeenheid oorbetaal.

Die twee is elk op borg van R30 000 vrygelaat. Die saak is tot 1 Februarie 2027 uitgestel sodat die verdediging toegang tot die polisiedossier kan verkry.

Die SAPD het gesê die Valke sal voortgaan met hul ondersoek na almal wat moontlik by die beweerde korrupsie betrokke was. Die bewerings is nog nie in die hof getoets nie.

Bron: SAPD Mediaverklarings