Kan SA weer ’n blanke president kry?

Raak die maatskaplike en ekonomiese verval in Suid-Afrika so erg dat selfs die breë massa swart kiesers heimlik na blanke regering begin terugverlang? Onlangs lees ek ’n artikel deur ’n linkse swart skrywer, Simion Mashego, waarin hy so iets bespeur.

Soos hy dit stel, het die begunstigdes van staatstenders die lewensomstandighede van swart Suid-Afrikaners vererger. Miljoene swart Suid-Afrikaners is steeds in diens en ander soek steeds werk by blanke werkgewers. Ondanks meer as dertig jaar van swart politieke bewind, bly die ekonomie in groot mate van blanke ondernemings en werkgewers afhanklik.

Volgens Mashego, wat in die Mail & Guardian oor die moontlikheid van ’n blanke president in Suid-Afrika spekuleer, het die mislukkings van swart politieke leierskap ’n situasie geskep waarin toenemend meer swart kiesers bereid is om hul steun aan blanke politici en partye met blanke leierskap te gee. Korrupsie, swak dienslewering, werkloosheid en die onvermoë om die ekonomie ingrypend te hervorm, het die geloofwaardigheid van die voormalige “bevrydingsbewegings” ondermyn. Die versplintering van swart politieke partye versterk volgens hom hierdie ontwikkeling.

Mashego wys op die teenstrydigheid dat talle swart Suid-Afrikaners reeds lank bereid is om hul kinders aan voormalige blanke skole toe te vertrou en ekonomies steeds in groot mate van blanke ondernemings afhanklik is, maar dat blanke politieke leierskap steeds met agterdog bejeën word. Indien swart kiesers vertroue in blanke instellings kan hê, ontstaan die vraag waarom hulle nie ook bereid sou wees om ’n blanke staatshoof te aanvaar nie. Hy beskou die groeiende steun vir politieke partye onder blanke leierskap as ’n aanduiding dat praktiese oorwegings, soos doeltreffende bestuur en dienslewering, toenemend swaarder as historiese rasseverdelings kan weeg.

Mashego verwelkom egter nie noodwendig die moontlikheid van ’n blanke president nie. Sy betoog is eerder ’n waarskuwing aan swart politieke leiers dat hulle deur hul eie mislukkings die weg vir so ’n ontwikkeling baan. Hy bly krities oor blanke ekonomiese invloed en die sogenaamde “gebrek aan grondhervorming”, maar erken dat die politieke lojaliteite wat sedert 1994 oorheers het, nie noodwendig onveranderd sal voortbestaan nie.

In Maart 2012 het Helen Zille, destyds premier van die Wes-Kaap, ’n politieke storm ontketen toe sy na leerlinge uit die Oos-Kaap wat in die Wes-Kaap beter onderwys kom soek het, as “onderwysvlugtelinge” verwys het. Die ANC het haar van rassisme beskuldig, maar Zille se verweer was dat die werklike skandaal die verval van die Oos-Kaapse onderwysstelsel was. Die ironie is dat kiesers politieke leiers aan bewind kan hou, terwyl gesinne terselfdertyd na ander provinsies verhuis op soek na beter openbare dienste.

Ek sou egter verder gaan en sê dat Suid-Afrika juis ’n dringende behoefte aan blanke en veral Afrikanerleierskap ondervind. Ná alles was Suid-Afrika tot redelik onlangs ’n ontwikkelde land na die Westerse model. Juis dít is die land se groot aantrekkingskrag, nie Mandela, Tambo of hul Afro-kommunistiese retoriek waarby niemand nog ooit gebaat het nie, veral nie die gemiddelde lokasiebewoner nie.

Kan Suid-Afrika ’n nuwe rigting inslaan? Kan ons ontkom aan die funeste fatalisme van “dekolonisering”, waardeur soveel lande suid van die Sahara hul blanke bevolkings verloor of gemarginaliseer het, dikwels te midde van ekonomiese agteruitgang?

Korrupsie in Suid-Afrika is so ’n groot probleem dat die bestaande toesig- en strafregtelike instellings nie daarin slaag om dit hok te slaan nie. Dieselfde geld die aanhoudende kommissies van ondersoek waarin soveel wanbesteding en oneerlikheid oopgevlek word dat die howe nie in ’n honderd jaar al die potensiële strafsake sou kon verhoor nie.

Wat nodig is, is dat ons meedoënloos krities na die huidige bestel moet begin kyk. ’n Blanke president soos Carl Niehaus sal ons net van die wal af in die sloot help. Zille self, met al haar multikulturele drif, is ook nie die aangewese persoon nie. Wat nodig is, is die terugkeer van Afrikanerwaardes, Westerse waardes. Nie die waardes van die huidige, dekadente en byna ewe korrupte Weste nie, maar die Weste van weleer. Ons moet terugkeer na die Griekse filosowe se ideale van deug, matigheid en geregtigheid, en na die Christelike beginsels van nederigheid en diensbaarheid. Of na Christus wat die handelaars en geldwisselaars met ’n sweep uit die tempel verdryf het.

Gedurende ’n groot deel van die twintigste eeu was Suid-Afrika se staatsadministrasie bekend vir ’n mate van orde en dissipline wat vandag byna ondenkbaar lyk. Die ou Nat- en Sapregerings is vir vele dinge gekritiseer, maar die soort grootskaalse korrupsie wat ons tans beleef, was nie die oorheersende kenmerk van hul bewind nie. Nóg Smuts nóg Verwoerd het die reputasie van ’n politikus gehad wat hom laat omkoop.

In die res van Afrika tree sommige Westerse lande en internasionale instellings onregstreeks as “toesighouers” op: hulpgeld of lenings word gebruik om druk op regerings toe te pas om hulself te beteuel wanneer dit by uitspattige feeste en selfverryking kom. In Stephen Smith se beroemde boek, Negrologie, verwys hy ook na die behoefte in Afrika om politici en staatsamptenare voortdurend dop te hou en te bewaak.

Maar hier kom ons voor ’n eeue oue probleem te staan. Die Romeinse digter Juvenalis het dit in ’n enkele vraag saamgevat: Quis custodiet ipsos custodes? — “Wie sal oor die bewakers self waak?”

Dit is immers die kern van enige grondwetlike bestel: nie bloot wie regeer nie, maar wie die regeerders kontroleer. Selfs ’n blanke president sou min kon vermag indien hy deur dieselfde politieke masjinerie, dieselfde belangegroepe en dieselfde gebrekkige toesigmeganismes omring word.

Pleks van die onbekookte stelsel waarmee FW de Klerk en Roelf Meyer se ellendige oorgawe van 1994 ons opgesaal het, kon daar iets soos ’n blanke of Afrikanersenaat gewees het. Só ’n liggaam sou nie bloot ’n simboliese vergadering moes wees nie, maar oor werklike grondwetlike bevoegdhede beskik.

Die Amerikaanse Senaat bied ’n interessante voorbeeld. Hy beskik saam met die Huis van Verteenwoordigers oor wetgewende mag, sodat wetgewing normaalweg nie sonder albei huise se goedkeuring aanvaar kan word nie. Hy moet belangrike presidensiële aanstellings, waaronder hooggeregshofregters, bevestig en met ’n tweederdemeerderheid instem tot die bekragtiging van internasionale verdrae. Verder kan hy ondersoeke instel en getuies aanhoor. Wanneer die Huis van Verteenwoordigers ’n president of ander federale ampsdraer in ’n staat van beskuldiging stel, tree die Senaat as verhoorliggaam op en kan hy met ’n tweederdemeerderheid die betrokke ampsdraer uit sy amp verwyder.

’n Afrikanersenaat, met soortgelyke bevoegdhede, kon as ’n grondwetlike teenwig teen die uitvoerende gesag gedien het. Dit sou byvoorbeeld ’n beslissende rol kon speel by die aanstelling van regters, die ondersoek van staatskorrupsie en die goedkeuring van ingrypende wetgewing. Die presiese samestelling, bevoegdhede en verantwoordbaarheid van so ’n liggaam sou natuurlik grondwetlik vasgelê moes word. Anders sou Juvenalis se vraag bloot opnuut ontstaan: wie bewaak die senaat self?

Op die keper beskou, het Suid-Afrika nog altyd oor ’n soort patrisiërstelsel beskik. Gewortel in klassieke Westerse en Christelike waardes, het ons ontwikkel tot ’n ekonomie wat op ’n tyd onder die twintig grootstes ter wêreld getel het, met infrastruktuur wat menige Europese land ons beny het.

Die huidige stelsel is uitgedien. In soveel opsigte is dit ’n volslae mislukking. Retoriek oor “demokrasie” en “bevryding” kan nie langer die ware stand van sake verdoesel of kamoefleer nie. Om nou ’n cliché te gebruik: die keiser is kaal.

Die vraag is dus nie bloot of Suid-Afrika weer ’n blanke president kan kry nie. Die vraag is of ons bereid is om die politieke en grondwetlike bestel self te heroorweeg, sodat mag weer aan verantwoordelikheid en doeltreffende toesig onderwerp word.

Maar wie gaan die moed hê om hierdie dinge te sê? Behalwe as dit per ongeluk in die Mail & Guardian gebeur, gaan die politici en joernaliste maar net aanhou om elke verkiesing as ’n “waterskeiding” op te hemel.