Besigheid teen misdaad is die naam van ‘n organisasie (Business Against Crime- www.bac.org.za) wat in 1996 op versoek van oudpresident Mandela tot stand gekom het.
Hierdie organsasie het geld in trustvorm bestuur maar het eers in 2004 ‘n publiekevoordeelmaatskappy geword toe Artikel 18A-belastingstatus verkry is. Hierdie status stel skenkers in staat om hulle donasies van belasting te verhaal. Daar is meer as R20 miljoen per jaar beskikbaar en dit lei natuurlik tot die probleem van valse "entitlement," aangesien bestuurders nie die eienaars van die geld is nie, maar optree asof hulle wel is.
Volgens die BAC se jaarverslae van 2005 en 2006 het Mandela se versoek dat besigheid die staat se pogings teen misdaad moet ondersteun, tot die volgende doelwitte gelei:
1.Die vestiging van anti-misdaadvaardighede in regeringsgeledere
2.Die aanvoer van aksies teen misdaad en teen die oorsake van sulke misdaad
3.Die ontwikkeling van ondersteunende vennootskappe
Die organisasie het oor die laaste tien jaar die volgende vermag:
1.Die vestiging van vaardighede:
Nasionale misdaadvoorkomingstrategie
Kringtelevisie in die middestad van Johannesburg en Kaapstad
Vestiging van “beste besigheidspraktyke“ in die polisie (die werk van kommissaris Meyer Kahn)
Handelsmisdaadhowe in Port Elizabeth, Durban, Johannesburg en Kaapstad
Bestuur van trustfondse
Mentorskappe van swart regslui (danksy ’n USAID-donasie)
Voorstel van die wet op tweedehandse goedere
2. Die aanvoer van aksies teen misdaad en oorsake van sulke misdaad:
Prioritisering van belangrike misdade wat die volgende insluit:
Diefstal met verswarende faktore, sindikaatdiefstal, handelsmisdaad en korrupsie,
Kapings,
Voertuigmisdaadprojek (onwettige registrasies),
Afvalmetaaldiefstal (koperdraad),
Selfoondiefstal (swartlys)
3. Die ontwikkeling van ondersteunende vennootskappe :
"Justice security and prosperity partnership” (donasie van Global Alliance ter waarde van R500 000),
Ondersteuning van slagoffers by polisiestasies,
Bestuursprogram vir polisiestasies,
Tiisa Thuto-onderwysprojek,
Geïntegreerde justisieprogram,
Samewerking van sakekamers, Kamer van Mynwese, die veiligheidsbedryf, die Suid-Afrikaanse poskantoor, die Johannesburgse aandelebeurs en die motorbedryf,
Rehabilitasie van misdadigers,
Anti-korrupsieforum,
Bekamping van sindikate
Wanneer mens bogenoemde aksies se doeltreffendheid beoordeel, word die volgende duidelik:
Gevolgtrekking 1:
Die belangrikste voordeel van hierdie organisasie is dat landsburgers wel stappe doen om die Suid-Afrikaanse polisiediens by te staan in die bekamping van misdaad. Maar Mbeki se pleidooi dat hy nie alles alleen kan doen nie en dat ons ook iets moet bydra, wys dat hy waarskynlik nie bewus is van die rol wat BAC speel nie en dat die organisasie dus in hulle belangrikste opdrag gefaal het – naamlik om die regering te help. (Hier moet genoem word dat die regering se bydrae tot die BAC drasties verminder het waaruit mens seker kan aflei dat hulle nie meer "betrokke" is nie en dat misdaad volgens die owerheid onder beheer is).
Die vraag kan dan gevra word of die BAC nie eerder moet ontbind nie?
Gevolgtrekking 2 :
Die BAC is ‘n dinamiese organisasie met uitvoerende direkteure, werknemers, rekenaars en natuurlik heelwat konsultante wat betaal moet word, nes enige firma. Wanneer mens egter kyk na hulle misdaadprioritisering, stem dit nie ooreen met die misdaadstatistiek nie. Volgens die Suid-Afrikaanse polisiediensverslae groei misdaad met 30% in sekere van die kategorieë. Mens moet hier in ag neem dat misdaad vinniger moet groei as die bevolking, ten einde gesien te word as "stygend". Hierdie stygende misdaadkategorieë is soos volg:
Verkragting
Diefstal met verswarende faktore
Onwelvoeglike aanrandings
Ontvoerings
Wanopvoeding van kinders
Moorde
Openbare geweld
Gewapende diefstal by besighede
Gewapende diefstal van kontant
Bestuur onder die invloed van drank
Net een van hierdie misdade, naamlik diefstal met verswarende faktore (wat deur die BAC ge-prioritiseer is), is van toepassing. Die BAC gee dus aandag aan kategorieë wat oor die algemeen nie ‘n groeiende probleem is nie.
Die polisie, die regering en ook die BAC se verslae, skep die indruk dat misdaad onder beheer is, maar enige persoon wat tendense verstaan, sal beaam dat ‘n situasie waarop ‘n 30% negatiewe invloed inwerk, reeds buite beheer is.
Die gevolgtrekking is dus dat die BAC nie die nodige "kundigheid" oordra aan ons regering sodat hulle hierdie tendense kan prioritiseer en verstaan nie.
Gevolgtrekking 3 :
Die BAC het ‘n groot poging aangewend om aandag te gee aan die Departement van Justisie asook aan ‘n geïntegreerde interdepartementele regspoging om die regstelsel te verbeter. Volgens polisieverslae word daar jaarliks tussen 200 000 en 300 000 sake aangemeld te midde van ‘n groeiende gewaarwording dat mense heelwat oortredings nie aanmeld nie.
Oor die tienjaarperiode van BAC se bestaan kyk ons na ‘n totaal van ongeveer 2 500 000 misdade. Van hierdie misdade word minder as 10% suksesvol vervolg, wat ‘n aanduiding is van hoe onsuksesvol die regering werklik is in terme van die bekamping van misdaad. Verder is dit duidelik dat die BAC se pogings geen impak gemaak het op hierdie probleem nie. Die BAC het die probleem van "2.25 miljoen misdadigers op straat" byvoorbeeld nie eers geïdentifiseer as ‘n probleemkwessie nie.
Wat wel gebeur het, is dat addisionele handelsmisdaadhowe geopen is, wat minder as 1000 sake per jaar hanteer. Ekstra howe vir moordenaars en gewapende rowers word egter nie eers genoem nie.
Na aanleiding van voorgaande gevolgtrekkings kan die volgende opsomming gemaak word:
a. Die organisasie is wel nuttig, maar dan moet aandag aan die BAC se gebreke gegee word en die regering moet ook deelneem.
b. Landbou- en kulturele organisasies is nie betrokke by die BAC nie en hulle behoort by die bekamping van misdaad betrek te word.
c. Mens kan die argument voorhou dat die belastingbetaler nie nog geld behoort by te dra nie, alhoewel die punt gemaak is dat hierdie ekstra betalings nie vir regstellende aksie gebruik word nie, maar wel vir herstellende aksie, omdat die regering so onbekwaam is. Donasies vanaf die Skandinawiese, Engelssprekende en ou Oosbloklande sal egter van meer nut wees as om geld uit plaaslike besighede te wurg.
d. Die bogenoemde oorsig ondersteun ‘n swart filosofiese gedagte dat heelwat tyd en geld aan die Christelike en strafregtelike bewusmaking van benadeelde (2.25 miljoen volwasse) individue bestee moet word om misdaad uiteindelik te kan bekamp.
для пескоструяДанильченко