Tolgeld 3 keer duurder vir Wes-Kaap as Gauteng

Motoriste­ in die Wes-Kaap sal drie keer meer tolgeld moet betaal as in Gauteng­ vir Sanral se beplande­ N1- en N2-Wynland-­tolprojek.

Die Kaapse stadsraad­ en Sanral se geding oor geheimhouding wat die tolprojek betref, is in die appèlhof­ in Bloemfontein openbaar gemaak.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vroeër beslis dat die inligting­ geheim gehou kan word, maar dit is Maandag tersyde gestel.

Die voorgestelde toltarief vir ligte voertuie is 84,59 c/km, terwyl dit 30c/km in Gauteng is. Die Gautengse e-tolstelsel se tariewe vir ligte voertuie is beperk tot R450 per maand, terwyl dit nie in die Wes-Kaap is nie.

‘n Kaapse burgemeesters­komiteelid vir vervoer, het gesê die besluit om die tolprojek in die Wes-Kaap­ te verklaar is deur die uitvoerende­ hoof (van Sanral), Nazir Alie, geneem en nie deur die Sanral-komitee­­ soos die wet voorskryf nie.

Hy het gesê Sanral sal ook belastingbetalers­ se geld gebruik om die verwagte inkomste van die Protea Parkways-konsortium te verseker.

“Dit is duidelik dat die lae ­inkomstegroepe nie in ag geneem is nie. Arm mense sal glad nie kan bekostig­ om die N1 en N2 te gebruik nie. Die negatiewe­ ekonomiese impak op die streek is nie in ag geneem nie. Die uitwerking­ wat dit op die vervoerkoste­ van landbouprodukte gaan hê, is erg,” het hy bygevoeg.

Wayne Duvenhage, voorsitter van die Bondgenootskap teen ­Stedelike Tol (Outa) in Gauteng, het die appèlhofuitspraak­ as “fantasties” bestempel.

Zille gekap oor gebrek aan mediavryheid

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Maandag gesê die Wes-Kaapse regering se beroep op alle provinsiale departemente om nie hul subskripsie vir die Cape Times te hernu nie, is afstootlik.

“Sanef vind dit afstootlik dat die uitvoerende komitee van die Wes-Kaapse regering, onder leiding van ‘n voormalige joernalis, Helen Zille, op dié vlak by provinsiale departementshoofde se sake inmeng,” het Mpumelelo Mkhabela, voorsitter van Sanef, gesê.

Bert Gerber, direkteur-generaal, het glo die onderskeie departemente opdrag gegee om nie hul subskripsies te hernu nie. “Die kabinet het met kommer die toenemende afname in die gehalte van verslaggewing in die Cape Times bespreek,” het Gerber geskryf.

Mkhabela het gesê die provinsiale regering kon die kwessie anders hanteer. “Indien die Wes-Kaapse regering ‘n probleem het met die gehalte van die Cape Times se inhoud, kon hulle dit met die redakteur van die koerant opneem of deur middel van die persombudsman oplos en nie deur ‘n boikot van die Cape Times te versoek nie.”

Sanef se bestuurskomitee het intussen gesê hy sal ‘n protesbrief aan die Wes-Kaapse regering stuur en versoek dat die besluit herroep word.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, meen egter hulle het niks verkeerd gedoen nie. “Geen koerant het die reg om te eis dat enigiemand by hulle moet inteken nie. Almal, insluitend regerings, het die reg om ingeligte verbruiksbesluite te maak.”

Zille het gesê die provinsiale kabinet het ‘n eenparige besluit geneem om nie hul subskripsie te hernu nie en dat dit geen bedreiging vir mediavryheid inhou nie.

Dié stap is geneem nadat die Cape Times nie aan die DA besonderhede wou gee oor ‘n baba wat aan fetale alkoholsindroom ly nie. Zille het daarna gesê die nuusberig oor die baba is geplagiariseer. Dit het glo eers op ‘n sosialitiese webwerf verskyn, die World Socialist Website in Augustus 2012.

Zille wou glo die besonderhede oor die baba hê om die kind te red, aangesien die ouers glo deur die apartheid-dopstelsel daartoe gedwing is om alkohol te misbruik.

Maar ten spyte van haar kruistog om ‘n voorkombare plaag van breinskade onder die bruin bevolking hok te slaan, het Zille op net een enkele geval gefokus en vreemd genoeg nie op 6% – ‘n wêreldrekord – van die bevolking in haar provinsie wat daaronder ly nie.

Zille beweer dié een geval van Thomas, die baba, is al toegang wat die provinsie het tot die probleem.

Kennelik is sy met een of ander agenda doenig, want sulke uitlatings, ontdaan van enige logika, spreek van ongekunsteldheid.

Brande woed in Wes-Kaap

Brandbestryders in die Wes-Kaap is besig met ‘n verbete stryd teen ‘n brand wat in die vroeë oggendure opgevlam het, het RSG berig.

‘n Vlootbasis in die omgewing is ook na wat berig word in gevaar. ‘n Brandweer-woordvoerder, Theo Layne sê sterk wind is besig om pogings te bemoeilik om die brand onder beheer te bring.

‘n Groot deel van die gebied was gister nog weens die brand onbegaanbaar.

Lewens en eiendom word bedreig. Minstens drie huise in Muizenberg het reeds aan die brand geslaan en ‘n aftree-oord is ontruim.

Die vlamme word deur ‘n sterk suidewind in die rigting van Noordhoek aangeblaas. Layne sê 30 brandweerwaens is op die toneel.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Layne sê eiendomme wat in gevaar is, word ontruim. Hy sê dit kan ‘n uitgerekte proses wees aangesien die brand oor ‘n uitgebreide gebied, wat die berghange insluit, strek.

Dele van die Ou Kaapse-weg en Chapman’s Piek-rylaan is intussen gesluit.

Berigte is ook ontvang van ‘n brand wat in Bettiesbaai woed.

Gewapende swart rowers slaan op Kaapse winkel toe

Volgens die winkelbestuurder “het die rowers ontspanne gelyk, asof hulle dit al vele kere vantevore gedoen het”.

Gewapende rowers het klante en personeel in ‘n winkel te Rondebosch-Oos, Kaapstand, met vuurwapens aangehou, daarna ‘n inkopieganger se voertuig gekaap en daarmee ontsnap – alles binne ses minute op ‘n besige pad.

Die voorval is die derde binne drie maande waarin ‘n winkelganger se voortuig deur voortvlugtige rowers gekaap word. Dis ook die jongste in ‘n hele reeks rooftogte by winkels en winkelsentra. Die dag vantevore is ‘n winkel op Stellenbosch beroof alvorens die winkel in Rondebosch deurgeloop het.

In die jongste voorval het ‘n groep gewapende rowers Vrydagmiddag op Hassen se Superette in Rondebosch toegeslaan.

Die winkelbestuurder, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê ‘n swarte het ingeloop, gevolg deur ‘n ander.

Eers het hulle voorgegee om klante te wees.

“‘n Derde swarte het ingekom met ‘n klein koelkassie, soos ‘n toebroodjiehouer. Hy het geld uit sy sak geneem, dit oopgerol en vir lugtyd gevra.”

“Die winkelassistent het die lugtydversoek ingesleutel, waarna die rower ‘n pistool uit sy koelkassie uitgehaal het,” sê die bestuurder.

Op dié oomblik het albei die ander swartes ook vuurwapens uitgepluk en nog ‘n gewapende rower het by die deur stelling ingeneem om dinge dop te hou.

“Daar was twee klante en drie winkelassistente in die winkel. Hulle het hulle na die agterkant van die winkel toe gedwing. ‘n Damesklant het ingeloop gekom, die vuurwapens gewaar en gepoog om weg te hardloop, maar hulle het haar gevang en weer binnetoe gesleep,” sê die bestuurder.

Die vrou se eggenoot was steeds buite in hul motor, maar nog een van die gewapende rowers het hom genader.

“Hy het die wapen op die vrou se man gerig, hom uit die motor getrek en hom ook na die winkel toe gebring. Toe kaap hulle hom en vat die motor,” sê die bestuurder.

Op ‘n stadium het ‘n veiligheidswag van ‘n plaaslike maatskappy gepoog om tussenbeide te tree, maar hy was net met pepersproei gewapen.

“Toe steek hulle ‘n wapen onder sy neus en vat sommer sy tweerigtingradio en sy pepersproei by hom af.”

Volgens die winkelbestuurder “het die rowers ontspanne gelyk, asof hulle dit al vele kere vantevore gedoen het”.

Die rowers het ‘n groot sak by hulle gehad en het alles gevat wat hulle kon steel, waaronder sigarette en die klante se selfone.

“Die swartes buite het vir die laaste 20 sekondes die toeter begin blaas, asof hulle ongeduldig raak. Die pad was baie besig,” sê die bestuurder.

Die swart rowers, omtrent ses van hulle, het in die gekaapte motor en twee ander voertuie ontsnap. Die hele rooftog het net ses minute geduur, van 12:22 nm. tot 12:28 nm.

Dis die derde keer dat die winkel binne twee en ‘n half jaar beroof word. Volgens ‘n polisiewoordvoerder, kaptein Frederick van Wyk, word ‘n voorval van “sakerooftog” ondersoek.

Tydens Donderdag se rooftog is ‘n viswinkel in Stellenbosch aangeval.

Van Wyk sê die vyftigjarige eienaar en twee personeellede was binne die winkel to drie gewapende rowers die perseel betree.

Hulle het die eienaar gedreig en kontant en sigarette geneem. Daarna het al drie weggehardloop.

Omtrent ‘n week gelede het ‘n soortgelyke voorval plaasgevind toe ‘n winkelganger gekaap is nadat drie gewapende rowers ‘n selfoonwinkel in die Tuinesentrum in Kaapstad beroof het.

Terwyl hulle wegkom, het die rowers ‘n dame in haar motor voorgekeer en in haar motor weggery.

Verlede jaar tydens die middel van November het ‘n groep gewapende rowers ‘n Pick n Pay-winkel in Monte Vista beroof en toe ook ‘n winkelganger se motor afgeneem en daarmee weggejaag.

Soortgelyk aan Gauteng, word die Wes-Kaap al hoe meer deur winkel- en winkelsentrumrooftogte geteister. Verlede jaar is 16 winkels en winkelsentra binne 10 weke beroof.

Waterkrisis tref Kaapse boere na kanaal meegee

‘n Kanaal wat verskeie klein dorpe en honderde plase noord van Kaapstad van water voorsien het meegegee vir die tweede keer in drie jaar.

Die Wes-Kaapse Ministerie van Ekonomiese Geleenthede onder DA-bestuur, het bevestig dat die kanaal meegegee het buite Clanwilliam. Dit het ‘n impak op die dorpe van Klawer, Vredendal, Lutzville, Strandfontein en Ebenhaezer, en sowat 300 plase.

Die dorpe gebruik drinkwaterreserwes terwyl die kanaal herstel word.

‘n Woordvoerder Tammy Evans het Maandag gesê die probleem kom op ‘n “sensitiewe tyd” vir die gebied se groente- en vrugteboere.

Boere het lank gekla oor veroudering van die waterinfrastruktuur wat sowat 30% van sy kapasiteit lek. Baie waterkenners glo dat Suid-Afrika ‘n waterkrisis deels as gevolg van infrastruktuuragterstand in die gesig staar.

Die Clanwilliamdam, gebou in 1935 hoofsaaklik om aangrensende landbougrond te besproei, het ‘n kapasiteit van 121.8million kubieke meter.

Agri Wes-Kaap, sê die ramp kan ‘n potensiële oes van ongeveer 200000 ton wyndruiwe en 100000 ton tamaties raak.

“Januarie en Februarie is ‘n kritieke besproeiingstyd in die huidige seisoen, wanneer produsente maksimum watervoorsiening benodig,” het die organisasie gesê.

Herstelspanne hoop om 50% van die watervloei deur die naweek te herstel en volle kapasiteit binne die volgende maand.

Agri Wes-Kaap het gesê die herstelwerk kos sowat R4 miljoen.

Kraaifontein-moorde skokkend wreed

Die moorde van ses mans het die gemeen­skap van Joostenbergvlakte geskok gelaat.

Vier van die lyke is intussen uitgeken.

Die vermoorde mans het langs mekaar gelê met hul arms agter hul rûe vasgebind, en hul gesigte in die grond. Hulle is vermoedelik met skerp voorwerpe gesteek.

Een fotograaf het aan die media vertel het daar was klippe op die mans se koppe gepak.

Volgens AFP is dié “teregstelling” soos hierdie ’n ontstellende nuwe verwikkeling in ’n land waar gewelddadige misdaad hoogty vier.

“Die polisie ondersoek ses moordsake en ons vra dat enigiemand met inligting na hul naaste polisiekantoor gaan,” het kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder gesê.

Polisielede het Woensdag tot net ná 21:00 die gebied gefynkam en bakstene, reuse-klippe en bourommel waaraan daar glo bloedvlekke was, versamel as bewysstukke.

Geskokke inwoners van Kraaifontein het aan AFP gesê die polisie wou niemand by die misdaadtoneel toelaat nie en gesê “hulle sal nie slaap as hulle die liggame sien nie”.

Een van die mans se koppe was slegs ‘n bloederige gemors.

Volgens ’n private sekuriteitswag wil dit voorkom asof die mans tereggestel is. “Dit lyk of hulle aangesê is om langs mekaar aan te tree en toe vermoor is,” het hy aan AFP gesê.

Intussen berig EWN dat lt.genl. Arno Lamoer, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, ’n spesiale span ondersoekbeamptes aangewys het om die moorde te ondersoek.

Lamoer het nie op telefoonoproepe vir kommentaar gereageer nie.

Volgens IOL is daar “nuwe” inligting dat die moorde verband hou met ‘n inbraak of ‘n gesteelde kitsrondawel, maar die gerugte kon nie bevestig word nie.

Daar word bespiegel dat die misdaad met dwelms verband hou.

Kraaifontein-lyke dalk dwelmverwante teregstelling

Die ses lyke wat by Kraaifontein, noord van Kaapstad naby die Joostenberg Vlakte gevind is, is nog nie uitgeken nie.

Inwoners van die plaas waar die moorde gepleeg is, sê hulle het al voorheen lyke op dieselfde plek gesien.

Die polisie sê die mans se hande en voete was vasgebind, en dit lyk of hulle met klippe doodgegooi is, maar die oorsaak van hulle dood moet nog vasgestel word.

Die polisie bied ook ‘n beloning van R250,000 aan vir enige inligting wat sal lei tot arrestasies.

Die gebied is glo bekend as ‘n gewelddadige misdaadnes en talle spekuleer die moorde met dwelmhandel verband hou.

“Gewelddadige misdaad is ‘n groot probleem in die breër Kraaifontein area Daar is bende probleme en ook probleme van dwelmverslawing..”

‘n Gemeenskapsleier, Henry Stuart sê dit is die eerste keer wat só iets in die gebied gebeur.

Die polisie raam dat hulle tussen 18- en 30-jaar oud was.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan SAfm gesê die polisie kon nog nie enige van die liggame identifiseer nie.

“Ons is steeds besig met die ondersoek. Daar is nog nie nuwe verwikkelinge nie. Ons versoek die gemeenskap om betrokke te raak sodat die skuldiges vasgetrek kan word,” het Van Wyk gesê.

Hy het gesê die polisie het alle leidrade wat sover ingesamel is, opgevolg, maar nog nie ʼn deurbraak gemaak nie.

“Hierdie is die eerste saak in sy soort,” het hy bygevoeg.

ʼn Verbyganger het Woensdagmiddag op die liggame afgekom in ʼn veld in Joostenbergvlakte.

Die oorledenes  het op hul mae gelê, met hul hande was agter hul rûe vasgevind.

Die polisie ondersoek ses sake van moord.

 

‘Wes-Kaap moet onafhanklike federale Bruin staat word’

Peter Marais, voormalige Wes-Kaapse premier en oud-burgemeester van Kaapstad, het by die Maynardville-jeugfees in Wynberg, Kaapstad, gesê bruines wil ’n onafhanklike federale Wes-Kaap hê.

Die onderleier van die Bruin Be­lange Beweging (BBB) het aan Media24 gesê die opkoms van bruin nasionalisme is te danke aan die verslag van die Verenigde Nasies se gesant oor inheemse volke in Suid-Afrika.

Bruines het in 2005 Eerste Nasie-status gekry.

“Nou is die bruin man besig om aanspraak te maak op ’n eie grondgebied in die land, op die basis van ’n outonome federale staat soos aangedui in artikel 235 in die Grondwet.

​“Konsolideer jou getalle, streef om mag te bekom en dra jou Afrika-herkoms op jou voorkop, is die nuwe kreet op die Kaapse Vlakte.

“Dis ons paspoort na rykdom en mag en dit word daar orals vertel.”

Volgens Marais sal federalisme die getalle-oorwig beperk tot provinsiale grense en aan minderhede groter politieke en ekonomiese mag verleen binne ’n grondgebied, iets wat glo nie deur ‘n onafhanklike volkstaat gegrond op velkleur sal gebeur nie.

Die Wes-Kaap is meer as 51% bruin en 80% Afrikaans.

Marais sê Afrikaans as taal van kommunikasie en vakkeuse by skole en universiteite sal sodoende opbloei.

Hy sê Suid-Afrika is reeds in ’n mate ’n federale staat, maar die sentrale parlement beskik nog oor te veel mag.

“As die ANC bereid is om geringe grondwetlike aanpassings te maak en om die aspirasies van minderhede te akkommodeer, kan ons ’n vrye, semi-onafhanklike Kaapprovinsie hê.

“Ons provinsies is grondwetlik te swak. Ons is afhanklik van die sentrale parlement vir 95% van ons begroting. Daarby subsidieer die Wes-Kaap ander provinsies. Ons provinsiale begrotingstoekenning is ’n klein deel van ons bydrae tot die land se BBP.”

Heindrich Wyngaard, kommentator oor bruin kwessies, bestempel Marais se sienings as interessant.

“Dit spreek van ’n versugting by ’n groot deel van die bruin mense oor erkenning.”

Ramaphosa, Fransman sit keel op oor uitsettings

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het die voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap ondersteun oor sy teenkanting teen die uitsetting van plaaswerkers.

Ramaphosa en die voorsitter Marius Fransman, het Sondag plaasgemeenskappe besoek tydens ‘n deur-tot-deur veldtog op Mbekweni in die Paarl.

Ramaphosa het ‘n beroep gedoen op boere wat na bewering betrokke is by die uitsetting van plaaswerkers in die Boland, om dit te staak.

Hy het aan die SABC gesê dit strook nie met die rol wat boere veronderstel is om te speel nie. Hy sê boere moet die hervorming van die gemeenskap en plaaswerkers ondersteun.

Ramaphosa sê hy sal by enige proses betrokke raak om die onaanvaarbare uitsettings te keer.

Fransman het ‘n beroep gedoen op ‘n moratorium op uitsettings om die “massa-uitsetting” van plaaswerkers in die Boland te keer.

Fransman sê daar is ‘n massa-uitsettingstrategie aan die gang weens die minister se fokus op integrasie en eienaarskap tussen boere en plaaswerkers.

Hy sê ‘n moratorium moet geld hangende die uitslag van wetgewing.

Bejaarde man in Vishoek doodgesteek

‘n Bejaarde man van Vishoek, Henri Lacour, 71, is Woensdagoggend op ‘n staproete in die Tafelberg Nasionale Park, met ’n mes doodgesteek.

Hy en ’n vriendin het die oggend gaan stap toe hulle beroof is van hul persoonlike besittings.

Lacour, ‘n wewenaar,was glo ‘n buitelewemens wat gereeld sulke staptogte geneem het.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Andrè Traut, het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

‘n Woordvoerder van die groep Table Mountain Watch, het gesê die voorval is die eerste waarin iemand vermoor is.

’n Vrou is verlede jaar op Vlaeberg verkrag.

Toiletoorlog in Kaapstad woed voort

Die toiletoorlog in die Wes-Kaap duur voort.

Skade aan toilette in die Kosovo-lokasie in Phillipi in Kaapstad word op sowat ‘n halfmiljoen rand beraam.

Raadslid Ernest Sonnenberg sê 14 kleinhuisies is Saterdag deur vandale beskadig en nog 100 eergister.

Hy sê aansienlike bedrae geld word aan die herstelwerk van beskadigde toilette in lokasies bestee.

Sonnenberg sê dienslewering in die gebiede baat nie by die beskadiging van toilette nie.

Die voorsiening van toilette is glo deur ‘n lang proses van openbare deelname voorafgegaan, maar dit het die vandale blykbaar aangevuur.

Inwoners sê dat die skuldiges nie die hele gemeenskap verteenwoordig nie.

Sonnenberg sê hulle sal wag tot die “probleem” opgelos is, voordat nog toilette verskaf word.

Intussen het oproeriges by Macassar naby Somerset-wes in die Wes-Kaap Woensdag bedaar na gewelddadige protesoptrede wat Dinsdag uitgebreek het.

Inwoners wat beswaar maak teen die voorgestelde veskuiwing van uitgesette inwoners van Lwandle na die gebied, het verskeie paaie met brandende bande versper en klippe na polisievoertuie gegooi.

Vyftien mense is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem.

Duitsland gee geld om geweld in SA hok te slaan

Die Wes-Kaapse regering het ‘n ooreenkoms ter waarde van meer as R70 miljoen met die Duitse Ontwikkelingsbank onderteken, het RSG berig.

Die doel van die ooreenkoms is om geweld in die provinsie hok te slaan.

Die premier, Helen Zille, sê dit is deel van die ooreenkoms van ses miljoen Euro tussen Duitsland en Suid-Afrika wat verlede week deur die Duitse ambassadeur, Horst Freitag en die minister van finansies, Nhlankla Nene onderteken is.

Zille sê die geld sal gebruik word om geweld te voorkom deur middel van stedelike ontwikkeling.

Freitag sê die verbintenis is deel van – wat hy noem – ‘n omvattende bilaterale ontwikkelingsplan.

Onder DA word Wes-Kaap dwelmnes

tik2Onder die DA-bewind in die Wes-Kaap is dwelmmisbruik kommerwekkend aan die toeneem en daarmee saam ook misdaad.

Terwyl Kinderbeskermingsweek landwyd gevier word, het dit aan die lig gekom dat dwelms die provinsie instroom.

Die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, het sy ernstige kommer uitgespreek oor die verspreiding van dwelmmisbruik onder kinders in kleiner gemeenskappe.

Kinders op die platteland in die Wes-Kaap is skynbaar besig om in verslawing te verval.

Plato sê kleiner dorpe soos Bredasdorp, Worcester en Knysna het die teikenmark vir dwelmhandelaars geword.

Volgens die jongste berigte is daar weens ‘n skerp styging in die getal tikverslaafdes ‘n toename in misdade soos moorde, verkragtings en inbrake buite groot stedelike sentrums.

Plato sê sy departement sal die gebiede wat geraak word, binnekort besoek.

Minister keer Sanral wat plakkers uitsit

Dipuo Peters
Dipuo Peters

Die minister van Vervoer, Dipuo Peters het gelas dat die afsetting van plakkers in die Wes-Kaap deur Sanral tydelik opgeskort word.

Die plakkers by Lwandle by die Strand en Peters het Dinsdagaand ‘n vergadering gehou. Die mense word intussen in gemeenskapsale gehuisves.

Die balju, polisie en ander wetstoepassingsbeamptes van die Kaapstad-metro, het Dinsdag vir ’n tweede dag die informele nedersetting by Lwandle buite die Strand ingevaar om krotte af te breek.

Die nasionale padagentskap Sanral het in Januarie ‘n hofbevel gekry om die onwettige besetters van die grond af te sit.

Peters hou vol dat die gebied geoormerk is vir die bou van paaie en hoewel sy die mense namens Sanral om verskonig gevra het, sê Peters die regering verwag dat die besetters hulle samewerking sal gee.

Peters sê die afsettings is opgeskort omdat hulle bekommerd is oor die mense wat geraak word. Sy sê die koue, nat winter is die verkeerde tyd daarvoor.

“Dit is die verkeerde tyd . . .  dit is koud en nat,” het sy gesê.