Hoesmedisyne is kleurlingkinders op Kaapse Vlakte se nuwe dwelm

Benewens bendegevegte en swak skoolprestasie, is daar ‘n nuwe probleem op die Kaapse Vlakte: kinders wat hoesmedisyne as ‘n dwelm gebruik. Blykbaar het die neiging van kletsrymmusiek en die VSA oorgewaai, waar dit “lean” of “sizzurp” genoem word. Gister het die hoof van die Plumstead-hoërskool, Craig George, oor ‘n Kaapse radiostasie ouers daarteen gewaarsku en gevra om te let op die simptome van verslawing aan hoesmedisyne.

Blykbaar word die hoesmedisyne met pynstillers, lekkers, gaskoeldrink en alkohol gemeng en ook “pers drank” genoem, waarvan “liters” deur skoolkinders gedrink word.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê dit veroorsaak “‘n gevoel van euforie, wat deur ‘n lomerige en kalm toestand gevolg word”.

‘n Apteker in Mitchellsplein op die Kaapse Vlakte het egter gewaarsku dat oormatige gebruik van hoesmedisyne lewerskade, hartversaking en asemhalingsprobleme kan veroorsaak vanweë die medisyne se hoë kodeïeninhoud.

Volgens hom bestaan die probleem reeds jare lank, maar het dit onlangs skerp toegeneem omdat dit deur Afro-Amerikaanse kletsrymers soos Lil Wayne in hul liedjies besing word.

“Dit het 25 jaar gelede begin en was eers gewilder in die blanke woonbuurte, maar het sedertdien na ons gemeenskap versprei. Hier sien ons ‘n toename in kinders wat hoesstroop probeer koop, maar ons personeel weet reeds wie die gereelde kopers is,” sê hy.

Jessie Shelver, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwys-LUR, Debbie Shafer, sê dat hulle van die probleem bewus is.

“Ons doen ‘n beroep op apteke om daarvan bewus te wees aan wie hulle medisyne oor die toonbank verkoop. Die meeste van dié middels is wettig, maar apteke is veronderstel om ‘n register aan te hou,” sê sy.

Sy het bygevoeg dat die toenemende neiging die skoolprestasie van leerlinge, wat reeds van die swakste in die land is, verder benadeel.

“Die misbruik van oor-die-toonbankmedisyne soos hoes- en verslankingsmedisyne kan uitloop op hiperaktiwiteit, ‘n afname in aandag, asook aggressiewe gedrag,” sê sy.

‘n Twee-en-twintigjarige man van Strandfontein wat elke dag “lean” gebruik sê hy beskou dit nie as ‘n onwettige dwelm soos tik nie.

“Dit laat jou ‘lean’, kalm en afgekoel en ontspanne voel,” sê hy. “Ek gebruik ‘n hele bottel hoesstroop elke dag en kan nie sê hoe lank my dronkenskap duur nie, net dat ek snags lekker slaap. Ek koop dit by die apteek. Ek het geen newe-effekte nie, maar dit is verslawend.”

Dog die jong kleurlingman meen dat sowel die media as die musieknywerheid die skuld moet kry, aangesien “sizzurp” in liedjies as ‘n partytjiedrankie aangebied word, en hoe “kwaai” dit is om “lean” te wees.

Van die liedjies is The Far East Movement se treffer “Like a G6” wat die woorde bevat:

“Sippin sizzurp in my ride, like Three 6, Now I’m feeling so fly like a G6”.

Die kletsrymer Lil Wayne (foto hier bo) wy selfs ‘n hele liedjie daaraan, met die titel “Me and My Drank”.

Die plaaslike kletsrymer AKA se liriek bevat die woorde: “Coming to you live from the third world. Getting high on the purple.”

Die apteker van Mitchellsplein waarsku egter dat “lean” permanente skade aan die lewer en ander organe kan aandoen indien dit permanent gebruik word.

“Hoesmedisyne en pynstillers is ‘n groot probleem. Dié kinders drink dit direk uit die bottel, wat die lewer aantas,” sê hy. “Dié medisyne is sogenaamde skedule-twee-middels wat beteken dat mens dit oor die toonbank kan koop maar daar moet ‘n mate van beheer wees.”

Upington-dwelmverdagte bly in aanhouding

Die man wat by Upington in hegtenis geneem is nadat dwelmmiddels, met ‘n straatwaarde van R4,85-miljoen in sy besit gekry is, moet weer op 20 Oktober in die hof verskyn.

Spamandla Ndlovu is Maandag deur die Pababello-polisie by sy huis vasgekeer. Mandrax-tablette, sakkies tik en ‘n sak met plofbare materiaal is onder meer gekonfiskeer. Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Marina Brewis, sê hy bly in aanhouding.

Die drie mans wat Sondag in ‘n ander klopjag in die gebied deur die polisie in besit van dagga ter waarde van meer as R338 000 gearresteer is, het Maandag in die hof verskyn.

Martin Phillips en Tabang Molefe is uit op borgtog van R500 elk en moet weer op 4 November in die hof verskyn.

Die klag teen ‘n derde verdagte is laat vaar.

Kaapse prokureur vas oor dwelms

‘n Prokureur van Kaapstad het Donderdag in die Mitchellsplein-landdroshof verskyn nadat sy die vorige dag in dieselfde hof in hegtenis geneem is.

Eric Ntabazalila, woordoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Ursula Vreugde is Woensdag in die Mitchellsplein-landdroshof in hegtenis geneem nadat sy glo 30 pakkies tik aan haar kliënt gegee het.

Ivan Jacobs, Vreugde se kliënt, het in ‘n onverwante saak in die hof verskyn, het Sapa berig.

Volgens Ntabazalila het Vreugde Donderdag op aanklag van die besit van dwelms in die hof verskyn en is sy op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is tot 15 Februarie uitgestel.

Onder DA word Wes-Kaap dwelmnes

tik2Onder die DA-bewind in die Wes-Kaap is dwelmmisbruik kommerwekkend aan die toeneem en daarmee saam ook misdaad.

Terwyl Kinderbeskermingsweek landwyd gevier word, het dit aan die lig gekom dat dwelms die provinsie instroom.

Die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, het sy ernstige kommer uitgespreek oor die verspreiding van dwelmmisbruik onder kinders in kleiner gemeenskappe.

Kinders op die platteland in die Wes-Kaap is skynbaar besig om in verslawing te verval.

Plato sê kleiner dorpe soos Bredasdorp, Worcester en Knysna het die teikenmark vir dwelmhandelaars geword.

Volgens die jongste berigte is daar weens ‘n skerp styging in die getal tikverslaafdes ‘n toename in misdade soos moorde, verkragtings en inbrake buite groot stedelike sentrums.

Plato sê sy departement sal die gebiede wat geraak word, binnekort besoek.