Hoesmedisyne is kleurlingkinders op Kaapse Vlakte se nuwe dwelm

Benewens bendegevegte en swak skoolprestasie, is daar ‘n nuwe probleem op die Kaapse Vlakte: kinders wat hoesmedisyne as ‘n dwelm gebruik. Blykbaar het die neiging van kletsrymmusiek en die VSA oorgewaai, waar dit “lean” of “sizzurp” genoem word. Gister het die hoof van die Plumstead-hoërskool, Craig George, oor ‘n Kaapse radiostasie ouers daarteen gewaarsku en gevra om te let op die simptome van verslawing aan hoesmedisyne.

Blykbaar word die hoesmedisyne met pynstillers, lekkers, gaskoeldrink en alkohol gemeng en ook “pers drank” genoem, waarvan “liters” deur skoolkinders gedrink word.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê dit veroorsaak “‘n gevoel van euforie, wat deur ‘n lomerige en kalm toestand gevolg word”.

‘n Apteker in Mitchellsplein op die Kaapse Vlakte het egter gewaarsku dat oormatige gebruik van hoesmedisyne lewerskade, hartversaking en asemhalingsprobleme kan veroorsaak vanweë die medisyne se hoë kodeïeninhoud.

Volgens hom bestaan die probleem reeds jare lank, maar het dit onlangs skerp toegeneem omdat dit deur Afro-Amerikaanse kletsrymers soos Lil Wayne in hul liedjies besing word.

“Dit het 25 jaar gelede begin en was eers gewilder in die blanke woonbuurte, maar het sedertdien na ons gemeenskap versprei. Hier sien ons ‘n toename in kinders wat hoesstroop probeer koop, maar ons personeel weet reeds wie die gereelde kopers is,” sê hy.

Jessie Shelver, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwys-LUR, Debbie Shafer, sê dat hulle van die probleem bewus is.

“Ons doen ‘n beroep op apteke om daarvan bewus te wees aan wie hulle medisyne oor die toonbank verkoop. Die meeste van dié middels is wettig, maar apteke is veronderstel om ‘n register aan te hou,” sê sy.

Sy het bygevoeg dat die toenemende neiging die skoolprestasie van leerlinge, wat reeds van die swakste in die land is, verder benadeel.

“Die misbruik van oor-die-toonbankmedisyne soos hoes- en verslankingsmedisyne kan uitloop op hiperaktiwiteit, ‘n afname in aandag, asook aggressiewe gedrag,” sê sy.

‘n Twee-en-twintigjarige man van Strandfontein wat elke dag “lean” gebruik sê hy beskou dit nie as ‘n onwettige dwelm soos tik nie.

“Dit laat jou ‘lean’, kalm en afgekoel en ontspanne voel,” sê hy. “Ek gebruik ‘n hele bottel hoesstroop elke dag en kan nie sê hoe lank my dronkenskap duur nie, net dat ek snags lekker slaap. Ek koop dit by die apteek. Ek het geen newe-effekte nie, maar dit is verslawend.”

Dog die jong kleurlingman meen dat sowel die media as die musieknywerheid die skuld moet kry, aangesien “sizzurp” in liedjies as ‘n partytjiedrankie aangebied word, en hoe “kwaai” dit is om “lean” te wees.

Van die liedjies is The Far East Movement se treffer “Like a G6” wat die woorde bevat:

“Sippin sizzurp in my ride, like Three 6, Now I’m feeling so fly like a G6”.

Die kletsrymer Lil Wayne (foto hier bo) wy selfs ‘n hele liedjie daaraan, met die titel “Me and My Drank”.

Die plaaslike kletsrymer AKA se liriek bevat die woorde: “Coming to you live from the third world. Getting high on the purple.”

Die apteker van Mitchellsplein waarsku egter dat “lean” permanente skade aan die lewer en ander organe kan aandoen indien dit permanent gebruik word.

“Hoesmedisyne en pynstillers is ‘n groot probleem. Dié kinders drink dit direk uit die bottel, wat die lewer aantas,” sê hy. “Dié medisyne is sogenaamde skedule-twee-middels wat beteken dat mens dit oor die toonbank kan koop maar daar moet ‘n mate van beheer wees.”

4 thoughts on “Hoesmedisyne is kleurlingkinders op Kaapse Vlakte se nuwe dwelm”

  1. Wonder waar kry hulle die geld om dit te koop, want enige hoes-stroop wat kodien bevat is relatief duur (R50-00 of meer per bottel).
    Soos ek verstaan is Mitchellsplein nou nie eintlik ‘n ryk buurt nie, dus laat dit die vraag, waar kry hulle die geld vandaan?

    1. Kodeïen vir kinders onder 2 jaar is dodelik Selfs onder 6 jaar gevaarlik. Google gerus
      Staatsklinieke het selde ‘n voltydse apteker en deeltydse dokter vir reseptering en voorskrifte. – en die verpleegkundiges deel die gif-goed uit soos water.
      Daar bestaan lankal nie meer so-iets soos ‘n Distriksgeneesheer nie.
      Leka man leka in Tsafendastan

Maak 'n opvolg-bydrae