Geweld teister Djiboeti

’n Opposisiegroep in Djiboeti sê minstens 19 mense is in botsings met die polisie dood, het Reuters berig.

Die onluste het uitgebreek toe mense godsdienstige vieringe gehou het. Die regering hou vol net nege mense is in die onluste beseer.

Teenstrydige berigte maak dit moeilik om vas te stel presies wat Maandag in die klein Horing van Afrika-land gebeur het.

Djibouti, die tuiste van ’n streekhawe en Amerikaanse en Franse vlootbasisse, het in die verlede sporadiese geweld ondervind wat deur betogings teen die regering van pres. Ismail Omar Guelleh ontketen is.

Guelleh, wie se party ’n ysstergreep op die mag in die land het, is sedert 1999 aan bewind en presidentsverkiesings is vir April 2016 geskeduleer.

Kommer oor Chinese vlootbasis in Namibië

’n Hoëvlak militêre afvaar­diging uit China onder leiding van dié land se minister van ver­dediging, genl. Chang Wanquan, is in Namibië om die twee lande se bi­laterale samewerking op militêre gebied te verstewig.

Die besoek kom midde kommer in die internasionale gemeenskap oor hardnekkige gerugte van ’n Chinese vlootbasis wat by Walvisbaai opgerig gaan word, het die Republikein berig.

’n Namibiese dagblad het in Januarie berig Namibië se ambassadeur in China, amb. Ringo Abed, het die voormalige minister van buitelandse sake, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, in kennis gestel “’n Chinese afvaardiging sal Namibië ná 21 Maart besoek vir samesprekings oor die pad vorentoe rakende planne vir die ­voorgestelde vlootbasis in Walvisbaai”.

The Namibian het na aanleiding van ’n geheime dokument in sy besit berig die afvaardiging sal “tegniese personeel en vloot-argitekte” insluit.

Intussen het die AFKInsider Sondag ook oor die voorgenome besoek berig en ’n Amerikaanse kenner van buitelandse beleid in nasionale veiligheid, Robert C. O’Brien, aangehaal wat sê dit wil voorkom asof China se “strategie van vlootbasisse soortgelyk aan ’n string pêrels oral in die Indiese Oseaan, nou na die Suid-Atlantiese gebied wil uitbrei”.

O’Brien waarsku dat indien die gerugte van ’n Chinese militêre basis langs die Namibiese kus waar is, dit “reuse- strategiese implikasies” vir die Weste inhou.

Genl. Chang het gister by Staatshuis aan pres. Hage Geingob gesê hy is vergesel van onder meer die politieke kommissaris van die Chinese vloot, Miao Hua, asook ’n bevelvoerder van dié land se lugmag.

“Die doel van ons besoek is om die belangrike konsensus oor groter militêre samewerking te implementeer waarop tydens u (Geingob) besoek in April verlede aan China ooreengekom is.

“Ons is nou gereed om voort te gaan met die bilaterale reëlings en dit in die toekoms meer produktief te maak.

Beide Namibië en China wil nou hul droom van ’n sterker militêre mag verwesentlik,” het hy gesê en aangekondig dié land gaan wapentuig ter waarde van 30 miljoen yuan (sowat N$58,6 miljoen) aan Namibië skenk.

Hy het verder gesê Namibië en China wil saam aan “’n beter wêreld met blywende vrede” bou. “As ’n ware vriend van Afrika, wil ons die mense van Afrika help om hul probleme op die Afrika-­manier op te los.”

Geingob het in reaksie op ’n vraag oor beweringe in die media dat die besoek met die vlootbasis verband hou, geantwoord: “Ons moet nie ons bestaan op gerugte grond nie. Gerugte kan lande vernietig.

Brande woed in Wes-Kaap

Brandbestryders in die Wes-Kaap is besig met ‘n verbete stryd teen ‘n brand wat in die vroeë oggendure opgevlam het, het RSG berig.

‘n Vlootbasis in die omgewing is ook na wat berig word in gevaar. ‘n Brandweer-woordvoerder, Theo Layne sê sterk wind is besig om pogings te bemoeilik om die brand onder beheer te bring.

‘n Groot deel van die gebied was gister nog weens die brand onbegaanbaar.

Lewens en eiendom word bedreig. Minstens drie huise in Muizenberg het reeds aan die brand geslaan en ‘n aftree-oord is ontruim.

Die vlamme word deur ‘n sterk suidewind in die rigting van Noordhoek aangeblaas. Layne sê 30 brandweerwaens is op die toneel.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Layne sê eiendomme wat in gevaar is, word ontruim. Hy sê dit kan ‘n uitgerekte proses wees aangesien die brand oor ‘n uitgebreide gebied, wat die berghange insluit, strek.

Dele van die Ou Kaapse-weg en Chapman’s Piek-rylaan is intussen gesluit.

Berigte is ook ontvang van ‘n brand wat in Bettiesbaai woed.