Skietery op N1 met taxi-staking wat verkeer tot stilstand dwing in Gauteng

Geweerskote is afgevuur op die N1 in Midrand by die Mall of Africa, naby die Allandale-afrit. Nie net geweerskote het geklap nie, maar taxi’s word geskut en pendelaars word erg ontwrig weens protesoptrede deur taxibestuurders in Gauteng.

Groot verkeersontwrigtings kom regoor die provinsie voor. Meer as tien taxi’s is geskut omdat hulle die N1 hoofweg versper het.

Sommige pendelaars, veral in Pretoria, is met geweld uit busse gedwing. Taxi’s ry op plekke ook baie stadig om motoriste te frustreer.

PRAAG het met ‘n motoris in Fourways gepraat wat sê motors waag dit nie naby die taxi-versperrings nie weens die intimidasie.

Die Gautengse polisie probeer om die situasie onder beheer te kry. Mense is ook aangeraai om hul ritte uit te stel totdat die situasie onder beheer is.

Ontwrigtings kom voor op die N1 en M1 hoofweë tussen Johannesburg en Pretoria te midde van duisende taxi-pendelaars wat vandag staak.

Die Suid-Afrikaanse Taxi-raad het bevestig dat sy lede ‘n protesoptog na die kantore van die Suid-Afrikaanse taxi-finansieringsdiens in Midrand, noord van Johannesburg gaan hou.

Hulle betoog teen hoër finansieringskoste vir minibusse. Die taxi-eienaars en -bestuurders het toestemming vir die protesoptrede. SANTACO sê hulle sal ook motorvervaardigers, banke, versekerings- en brandstofmaatskappye teiken.

Kettingbotsing op N1 eis twee

‘n Gedeelte van die N1 tussen Kroonstad en Koppies by Heuningspruit in die Vrystaat, wat gister bykans die hele dag gesluit was vir verkeer ná ‘n kettingbotsing waarin twee mans dood is, is gisteraand, omstreeks 20:00 weer oopgestel.

Dit kom nadat ‘n kleinerige vragmotor, Dinsdagaand omstreeks 23:00, vermoedelik weens sterk wind omgeslaan het. Die vragmotor het in die rigting van Bloemfontein gery. Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê ‘n ander vragmotor, wat groot kunsmissakke vervoer het, het by die toneel gestop om verkeer te waarsku.

Hy sê twee mans in ‘n bakkie het agter dié vragmotor gestop, waarna ‘n derde vragmotor met swaar staalpype in die bakkie vasgejaag het. Die bakkie is ‘n ent gesleep en is onder die vragmotor met die kunsmis op, vasgepen. Gaobepe sê polisiebeamptes en nooddienswerkers het ure gespook om ‘n vrag van die vragmotor waaronder die bakkie beland het, af te laai.

Die insittendes in die bakkie se lyke kon eers gistermiddag uit die wrak verwyder word. Volgens Gaobepe het die opruimingswerk lank geneem omdat die vrag swaar staalpype eers met spesiale toerusting verwyder moes word. Motoriste moes gister van alternatiewe roetes gebruik maak.

Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg is via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei is. Volgens Gaobepe is die bestuurder van die vragmotor met die swaar staalpype op na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan. Gaobepe sê die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.

Nuwe hospitaal ‘n wit olifant

Die splinternuwe R380 miljoen se Albert Nzula-hospitaal op Trompsburg is ‘n wit olifant sedert dit klaar gebou is, omdat die projek se rioolwerke nie reg beplan is nie.

Dit is deel van die Xhariep Distriksmunisipaliteit en moes in September geopen word.

Dié hospitaal sou die padsterftesyfer op die N1 glo verminder het omdat ongelukslagoffers “nader” aan sorg is, het die Vrystaatse LUR Sisi Mabe vroeër gesê.

Die Vrystaatse departement van openbare werke het vandag tydens ‘n mediakonferensie erken dat die hospitaal, wat reeds verlede jaar voltooi is, in onbruik staan omdat die hospitaal se rioolwerkstelsel verskil van dié van die plaaslike munisipaliteit.

Die departement sê die kapasiteit van die hospitaal se stelsel is veel groter as dié van die munisipaliteit.

‘n Jaar later is die munisipaliteit nou besig om sy stelsel op te gradeer om die hospitaal te akkommodeer. Die hospitaal word as een van die departement van openbare werke se vlagskipprojekte gelys.

Die projek sluit ook ‘n lykshuis, behuising vir hospitaalpersoneel en padwerke in.

Man in bors geskiet op N1 by Allandale

‘n Man in sy dertigs is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy twee keer in die bors geskiet is op die N-1 hoofweg naby die Allendale-afrit in Midrand.

Die ligte motorvoertuig waarin die slagoffer gereis het, was geparkeer teen die kant van die padversperring.

Die enigste insittende het buite langs sy voertuig gesit, het ‘n woordvoerder van ER24, Russel Meiring, gesê.

Meiring sê dit is hoe paramedici die gewonde man aangetref het toe hulle by die toneel opgedaag het. Geen verdere besonderhede oor die man is bekend nie.

Hy is op die toneel gestabiliseer en hospitaal toe geneem. Die polisie ondersoek die voorval.

Tolgeld 3 keer duurder vir Wes-Kaap as Gauteng

Motoriste­ in die Wes-Kaap sal drie keer meer tolgeld moet betaal as in Gauteng­ vir Sanral se beplande­ N1- en N2-Wynland-­tolprojek.

Die Kaapse stadsraad­ en Sanral se geding oor geheimhouding wat die tolprojek betref, is in die appèlhof­ in Bloemfontein openbaar gemaak.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vroeër beslis dat die inligting­ geheim gehou kan word, maar dit is Maandag tersyde gestel.

Die voorgestelde toltarief vir ligte voertuie is 84,59 c/km, terwyl dit 30c/km in Gauteng is. Die Gautengse e-tolstelsel se tariewe vir ligte voertuie is beperk tot R450 per maand, terwyl dit nie in die Wes-Kaap is nie.

‘n Kaapse burgemeesters­komiteelid vir vervoer, het gesê die besluit om die tolprojek in die Wes-Kaap­ te verklaar is deur die uitvoerende­ hoof (van Sanral), Nazir Alie, geneem en nie deur die Sanral-komitee­­ soos die wet voorskryf nie.

Hy het gesê Sanral sal ook belastingbetalers­ se geld gebruik om die verwagte inkomste van die Protea Parkways-konsortium te verseker.

“Dit is duidelik dat die lae ­inkomstegroepe nie in ag geneem is nie. Arm mense sal glad nie kan bekostig­ om die N1 en N2 te gebruik nie. Die negatiewe­ ekonomiese impak op die streek is nie in ag geneem nie. Die uitwerking­ wat dit op die vervoerkoste­ van landbouprodukte gaan hê, is erg,” het hy bygevoeg.

Wayne Duvenhage, voorsitter van die Bondgenootskap teen ­Stedelike Tol (Outa) in Gauteng, het die appèlhofuitspraak­ as “fantasties” bestempel.

Twee mans geskiet op N1 in Johannesburg

‘n Voertuig is Dinsdagaand in ligte laaie gelaat op die N1 naby die Maraisburg-afrit in Johannesburg, nadat die insittende doodgeskiet is.

‘n Tweede man wat stilgehou het om hulp te verleen, is ook geskiet.

Lt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê die eerste insittende is van die pad gedwing voordat hy doodgeskiet geskiet is en sy motor daarna aan die brand gesteek is.

Die insittende was glo die 58-jarige Sam Moloto wat voorheen ‘n polisielid was wat georganiseerde misdaad ondersoek het. Hy het vyf jaar gelede bedank, maar sy huis in Soweto was glo besonder goed beveilig.

Volgens Makhubela is ‘n tweede motoris, wat stilgehou het om hulp te verleen ook geskiet en vir dood in sy voertuig agtergelaat.

Makhubela het gesê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord nie.

Verhoogde verkeersvolumes verwag

Verhoogde verkeersvolumes word verwag op Suid-Afrika se paaie van vandag af soos motoriste terugkeer huis toe ná die feestyd.

Die finale vakansieverkeerstormloop sal na verwagting Vrydagmiddag begin. Verkeersowerhede het ‘n beroep op reisigers gedoen om nie hul vertrek uit te stel tot op die laaste minuut nie.

Owerhede sê tans is die paaie nog redelik stil, maar verkeersvolumes sal na verwagting toeneem van vanmiddag af en Sondag ‘n piek bereik.

Die N1 tussen Kaapstad en Johannesburg word ook verwag om die besigste te wees.

Intussen, sal die minister van vervoer, Dipuo Peters die 2014/15 voorlopige feestydpadsterftes aankondig.

Motoriste gewaarsku oor oproer noord van Pietersburg

Die N1 tussen Louis Trichardt (Makhado) en Pietersburg (Polokwane) in Limpopo is gesluit nadat oproer in die gebied uitgebreek het.

Inwoners by Botlokwa is in opstand oor gebrekkige dienste.

‘n Polisie-woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, het motoriste aangeraai om op hul hoede te wees in dié omgewing.

Veral taxis en vragmotors wat na Zimbabwe op pad is, word geraak.

Die polisie monitor die gebied.

Zuma spreek sy skok uit na ontploffing op N1 polisielede eis

zuma2President Zuma het sy skok uitgespreek oor die ongeluk waarin vier polisiebeamptes en ‘n bestuurder dood is toe ‘n kleinhandelvragmotor agter in ‘n vragmotor vol plofstof vasgery het.

‘n Deel van die pad, die N1 tussen Polokwane en Mokopane is erg beskadig in ‘n ongeluk waarin vyf mense, insluitend vier polisiebeamptes omgekom het.

Die twee vragmotors het vroeg vanoggend gebots voordat hulle aan die brand geslaan het. Een van die vragmotors het plofstof vervoer.

Die polisiebeamptes is dood terwyl hulle probeer het om ‘n vragmotorbestuurder te red. Meer as ‘n kilometer van die N-1 is afgesper terwyl forensiese ondersoekbeamptes op die toneel is.

Die SABC se verslaggewer op die toneel berig dat daar ‘n groot gat aan een kant van die pad is, en dat struike aan albei kante van die pad afgebrand het.

Drie polisiebeamptes en drie ander motoriste wat in die ongeluk beseer is, is na ‘n hospitaal geneem. Hulle toestand is kritiek.

Die Nasionale Polisiekommisaris, Riah Phiyega, het ook vanoggend op die toneel aangekom

Die provinsiale polisiekommisaris het Phiyega vroeër ingelig oor die ondersoek.

Die oorlewende vragmotorbestuurder en sy veiligheidswag word deur die polisie ondervra.

Die pad sal gesluit bly terwyl die ondersoek voortgaan.

Swaar reën looi Oos-Kaap

floodsecDie N1-snelweg tussen Laingsburg en Prince Albert in die Wes-Kaap is heropen na oorstromings in die gebied.

Die plaaslike Wilgerhoutrivier het vroeër oor sy walle gestoot, wat die sluiting van die N1 genoodsaak het en ‘n swaar las op die verkeer geplaas het.

Motoriste wat deur Laingsburg ry, is aangeraai om met omsigtigheid te bestuur. Die swaar reën het miljoene rande in skade veroorsaak in die dorp .

Die polisie het intussen die lyke van twee mense wat in Robertson deur die oorstroomde Breederivier meegesleur is, gekry. Hulle het onder ‘n brug geslaap toe die voorval plaasgevind het Woensdag .

Die polisiewoordvoerder, Elvis Mahote sê nog ‘n man het in die rivier geval van die Adderleystraatbrug in Robertson.

“Die polisie is steeds op soek langs die rivier na die liggaam van ‘n 36-jarige man van Nkqubela, Robertson.”

Intussen is daar geen uitkoms vir die reeds oorstroomde dorpie Pearston in die Oos-Kaap nie, nadat meer swaar reën geval het.

Fratsvloede het die gebied getref vroeër in die week nadat die Blyderivier sy walle oorstroom het.

Die hoof van Rampbestuur in die Cacadu distriksmunisipaliteit, Mandisa Nohashe, sê die dorp kan moontlik tot ‘n rampgebied verklaar word.

Hy sê hulle sal Vrydag vergader om die skade te bekyk, ‘n kosteberaming te doen en dan te besluit of dit ingevolge wetgewing ‘n ramptoestand is of nie.

Verskeie mense is op Ladismith in die Wes-Kaap van die buitewêreld afgesny nadat die Touwsrivier sy walle oorstroom het.

Die verkeer op talle hoofroetes is steeds ontwrig.

Verskeie plase is weens die reën van die buitewêreld afgesny en huise in die Breederiviervallei, Laingsburg, Hessequa en George is oorstroom.

In die Oos-Kaap is agt kinders uit die Thinarivier gered na swaar reën in die Mpindwenigebied.

 

E-tol en brandstofskok

joburgverkeerJohannesburgse motoriste moes Dinsdagoggend tolgeld betaal.

Die koste ‘n dubbele slag vir Gautengers wat Dinsdagaand om middernag nog duurder vir brandstof sal betaal.

‘n Poging deur die VF+ om e-tol te keer is Maandag in die hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

Die e-tolstelsel het om middernag in Gauteng in werking getree.

Die Bondgenootskap teen stedelike tol, Outa, het motoriste aangeraai om nie e-tolskyfies te koop nie.

Daar is geen wet wat motoriste verplig om die skyfies aan te skaf of by Sanral te registreer nie.

Verkeer by die Malibongwe-afrit normaal, asook in Beyers Naudé-rylaan. Verder noord is geen oponthoud gerapporteer nie.

Cosatu en die DA het vroeër gesê hulle sal Dinsdag planne bekendmaak oor verdere optrede teen die e-tolstelsel.

Kerkleiers het miljoene lidmate aangemoedig om nie e-skyfies te koop nie. In ’n verklaring deur ondermeer biskop Paul Verryn van die Metodistekerk, dr. Jerry Pillay, president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, en biskop Jo Seoka, president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het hulle die e-tolstelsel veroordeel.