Die nie-amptelike doodsure op SA paaie

As jy tuiskom tussen 18:00 en 02:00 per motor oor ‘n naweek, tel jouself onder die gelukkiges.

Daardie tyd van die nag is die nie-amptelike “doodsure” op Suid-Afrika se paaie, volgens verkeersbeamptes.

Dronkbestuur, spoed en ‘n gebrek aan toesig is die hoofredes dat die paaie minder veilig raak tydens hierdie ure, sê amptenare. maar ‘n mens kan waarskynlik onpadwaardige voertuie, roekelose taxi-bestuurders en gekoopte lisensies daarby voeg.

Volgens ‘n verkeersbeampte het ‘n bestuurstoesigverslag wat verlede week ter tafel gelê is by die provinsiale wetgewer oor noodlottige ongelukke, daartoe gelei dat die herstrukturering van skofte vir verkeersbeamptes hersien gaan word.

Gauteng se verkeersbeamptes sê die meerderheid van hulle is aan diens vanaf 06:00-10:00, maar verlaat die provinsie se paaie wat dan met onvoldoende polisiëring op die mees kritieke tyd te kampe het.

Gauteng, wat die hoogste aantal voertuie op die pad het in vergelyking met ander provinsies, sukkel reeds om met ‘n doeltreffende strategieë vorendag te kom om die dodelike ongelukke op sy groot paaie te beperk.

Maniere waarop verkeersbeamptes ontplooi kan word op ‘n 24-uur-basis met die voorneme om padsterftes te bekamp, word tans ondersoek. Die verkeerspolisiedienste kan aanstons as ‘n noodsaaklike diens verklaar word in ooreenstemming met die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995.

Naweke is meer problematies as gevolg van mense wat onder die invloed bestuur en lang afstande reis.

Vir diegene wat onkapabel wil raak oor die naweek, is dit dalk ‘n plan om eerder ‘n diens soos Uber te gebruik om veilig tuis te kom.

Gewone naweek eis agt op SA se paaie

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het opnuut ‘n ernstige versoek aan motoriste gerig om padreëls na te kom en veilig te bestuur.

Dit kom nadat agt mense die naweek op die land se paaie dood is. Twee mans is Saterdagmiddag op die R57 in Sasolburg in die Vrystaat dood toe die bakkie waarin hulle gery het, in ‘n brug vasgery het. Die mans is uit die motor geslinger en is op die toneel dood verklaar.

Woordvoerder Simon Zwane sê drie mense is op die R617 naby die Underberg in KwaZulu-Natal dood toe hul motor Saterdag in ‘n botsing reg van voor met ‘n bus betrokke was. Hy sê 60 mense het beserings opgedoen. Daarmee saam is drie mense dood en sewe ander beseer toe ‘n bestuurder van ‘n bakkie in die baan vir aankomende verkeer gery het. Dié bakkie het met ‘n motor reg van voor gebots. Twee ander motors kon nie die ongeluk vermy nie.

Té veel onskuldige mense sterf op Suid-Afrika se paaie weens nalatige bestuurders. Hy sê nalatige bestuurders gaan vasgevat word en daar sal streng teen hulle opgetree word.

Intussen is ‘n 19-jarige man in ‘n kritieke toestand nadat hy vermoedelik beheer oor sy motor sowat 90km vanaf Kimberley op die Koffiefonteinpad verloor het. Zwane sê motorbotsings neem toe op paaie omdat mense onverskillig bestuur en nie die padreëls nakom nie. Hy sê spoed is ook ‘n probleem en mense vermy paaie waar owerhede diens doen en volg ander roetes waar hulle onverskillig kan bestuur.

Bron: OFM

April ‘n gru-maand vir padsterftes

Nagenoeg 700 mense is in die eerste drie weke van April op Suid-Afrika se paaie dood, het die Padverkeerbestuurskorporasie gesê.

Volgens voorlopige getalle is 699 mense tussen 30 Maart en 20 April op die land se paaie dood, het ANA berig.

Die Padverkeerbestuurskorporasie het gesê dit kan toegeskryf word aan motoriste se roekelose gedrag en die verontagsaming van verkeersreëls.

Die grootste getal sterftes het in KwaZulu-Natal voorgekom waar 148 mense in 116 ongelukke dood is. In Gauteng is 119 sterftes aangeteken. Die Noord-Kaap en Vrystaat het die laagste sterftesyfers aangeteken, onderskeidelik 19 en 52.

Makhosini Msibi, uitvoerende hoof van die Padverkeerbestuurskorporasie, het ‘n beroep op motoriste gedoen om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie en hul spoed te verminder.

Volgens Msibi is menslike foute en bande wat bars die hoofoorsaak van ongelukke.

Verhoogde verkeersvolumes verwag

Verhoogde verkeersvolumes word verwag op Suid-Afrika se paaie van vandag af soos motoriste terugkeer huis toe ná die feestyd.

Die finale vakansieverkeerstormloop sal na verwagting Vrydagmiddag begin. Verkeersowerhede het ‘n beroep op reisigers gedoen om nie hul vertrek uit te stel tot op die laaste minuut nie.

Owerhede sê tans is die paaie nog redelik stil, maar verkeersvolumes sal na verwagting toeneem van vanmiddag af en Sondag ‘n piek bereik.

Die N1 tussen Kaapstad en Johannesburg word ook verwag om die besigste te wees.

Intussen, sal die minister van vervoer, Dipuo Peters die 2014/15 voorlopige feestydpadsterftes aankondig.

Tien brand dood in gru-ongeluk

witrivierTien mense het Woensdagaand doodgebrand na ‘n botsing tussen ‘n bus, ‘n vragmotor en ‘n derde voertuig op die R40 naby Witrivier in Mpumalanga.

‘n Woordvoerder van die provinsie se Departement van Gemeenskapsveiligheid, Joseph Mabuza, sê tot dusver het die ondersoek daarop gedui dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n bus en ‘n kleiner voertuig gebots het.

Die slagoffers is glo onherkenbaar verbrand in die ongeluk.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bus was reeds in vlamme gehul toe noodwerkers op die toneel aankom en brandbestryders het lank gesukkel om die brande te blus.

Meiring het gesê 35 mense is beseer, waarvan 5 passasiers in ‘n kritieke toestand is.

Die beseerdes is na hospitale in die gebied geneem.

‘n Voorlopige ondersoek toon dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor het.

Die Mbombela-munisipaliteit in Mpumalanga het hulle meegevoel betuig met die familie van die slagoffers.

Familie van mense wat vermis word, is gevra om met die polisiestasie op Witrivier in verbinding te tree.