Kettingbotsing op N1 eis twee

‘n Gedeelte van die N1 tussen Kroonstad en Koppies by Heuningspruit in die Vrystaat, wat gister bykans die hele dag gesluit was vir verkeer ná ‘n kettingbotsing waarin twee mans dood is, is gisteraand, omstreeks 20:00 weer oopgestel.

Dit kom nadat ‘n kleinerige vragmotor, Dinsdagaand omstreeks 23:00, vermoedelik weens sterk wind omgeslaan het. Die vragmotor het in die rigting van Bloemfontein gery. Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê ‘n ander vragmotor, wat groot kunsmissakke vervoer het, het by die toneel gestop om verkeer te waarsku.

Hy sê twee mans in ‘n bakkie het agter dié vragmotor gestop, waarna ‘n derde vragmotor met swaar staalpype in die bakkie vasgejaag het. Die bakkie is ‘n ent gesleep en is onder die vragmotor met die kunsmis op, vasgepen. Gaobepe sê polisiebeamptes en nooddienswerkers het ure gespook om ‘n vrag van die vragmotor waaronder die bakkie beland het, af te laai.

Die insittendes in die bakkie se lyke kon eers gistermiddag uit die wrak verwyder word. Volgens Gaobepe het die opruimingswerk lank geneem omdat die vrag swaar staalpype eers met spesiale toerusting verwyder moes word. Motoriste moes gister van alternatiewe roetes gebruik maak.

Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg is via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei is. Volgens Gaobepe is die bestuurder van die vragmotor met die swaar staalpype op na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan. Gaobepe sê die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.

Heidelbergpad lank gesluit na vragmotors bots

Die R549 tussen Deneysville in die Vrystaat en Heidelberg in Gauteng is vanoggend eers heropen ná ‘n botsing tussen twee vragmotors Dinsdagaand.

Polisiewoordvoerder, Livhuhani Hani, sê die bestuurder van die aankomende vragmotor en ‘n passasier is op die toneel dood.

‘n Wa wat deur ‘n vragmotor getrek is, het vermoedelik losgekom en daartoe gelei dat die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor het.

Dié vragmotor het daarna met ‘n aankomende vragmotor gebots. ER24 se woordvoerder Russel Meiring sê met paramedici se aankoms op die toneel was die wragstukke van die twee vragmotors en ‘n sleepwa in die pad.

Hy sê was ‘n man vasgekeer in ‘n wrakstuk, terwyl nog ‘n man buite gelê het. Die twee was reeds dood.

Hani sê owerhede was tot vanoggend besig om die toneel op te ruim sedert die ongeluk omstreeks 20:20 plaasgevind het. ‘n Deel van die R549 sowat 2km van Deneysville was vir verkeer gesluit maar dit is weer vroeg vanoggend heropen.

Slagting op KZN-paaie duur voort

kznaccidentVyf mense het doodgebrand en nog vier is ernstig beseer tot twee voertuie reg van voor teen mekaar gebots het op die N-2 suid naby Umgababa op die KwaZulu-Natalse suidkus.

Die woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, Kwanele Ncalane sê een van die bestuurders het vermoedelik ‘n U-draai op die snelweg probeer maak.

Hy sê die LUR, Willies Mchunu het ‘n taakspan aangestel om die ongeluk te ondersoek.

Verlede maand is meer as 150 mense op die provinsie se paaie dood.