
Die minister van Vervoer, Dipuo Peters het gelas dat die afsetting van plakkers in die Wes-Kaap deur Sanral tydelik opgeskort word.
Die plakkers by Lwandle by die Strand en Peters het Dinsdagaand ‘n vergadering gehou. Die mense word intussen in gemeenskapsale gehuisves.
Die balju, polisie en ander wetstoepassingsbeamptes van die Kaapstad-metro, het Dinsdag vir ’n tweede dag die informele nedersetting by Lwandle buite die Strand ingevaar om krotte af te breek.
Die nasionale padagentskap Sanral het in Januarie ‘n hofbevel gekry om die onwettige besetters van die grond af te sit.
Peters hou vol dat die gebied geoormerk is vir die bou van paaie en hoewel sy die mense namens Sanral om verskonig gevra het, sê Peters die regering verwag dat die besetters hulle samewerking sal gee.
Peters sê die afsettings is opgeskort omdat hulle bekommerd is oor die mense wat geraak word. Sy sê die koue, nat winter is die verkeerde tyd daarvoor.
“Dit is die verkeerde tyd . . . dit is koud en nat,” het sy gesê.
