‘n Bomdreigement is Sondag ontvang by die Suid-Afrika Nasionale Padagentskap Beperk ( Sanral ) se hoofkantoor in Samrand, naby Midrand.
Dit is die derde dreigement teen Sanral. Die dreigemente spruit vermoedelik voort uit ontevredenheid met die Gautengse e-tolstelsel.
Wetstoepassers sal ondersoek instel na drie dreigemente wat binne ‘n week by Sanral se kantore in Gauteng ontvang is.
Die perseel is verlede week twee keer ontruim nadat ‘n verdagte poeier – wat volgens berigte moontlik antraks kon gewees het – gevind is.
ETC (Elektroniese Tolinvordering) het later berig dat die stof skadeloos is.
Die minister van vervoer Dipuo Peters het die dreigemente veroordeel as pogings om Sanral se werksaamhede te ontwrig.
Sy het ‘n beroep op wetstoepassers gedoen om die skuldiges so spoedig moontlik te vervolg.
Diegene wat geraak is deur die ontvangs van die poeier sal van die nodige aandag en hulp voorsien word in die hantering van die traumatiese ervaring van die afgelope week, het Peters gesê .
Jamie Surkont, die uitvoerende hoof van ETC, het gesê die gebou is Sondagaand deursoek en indien nodig, sal die betrokke dienste na rugsteunpersele verskuif word.
