Gauteng skuld meer as halfmiljard aan e-tol

masetolGauteng se motoriste skuld agterstallige e-tolgelde van meer as ‘n halfmiljard rand in die provinsie sedert die ongewilde e-tolstelsel op 3 Desember begin het.

Volgens die minister van vervoer Dipuo Peters is minder as 10% betaal.

Sy het op ‘n geskrewe vraag in die parlement geantwoord.

Die VPC is vir die invordering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap ( Sanral ) se agterstallige e-tolskuld verantwoordelik.

Vusi Mona van Sanral het gesê die R543.5 miljoen sluit beide dié van motoriste met e-skyfies se agterstallige rekeninge in, asook dié wat opgetel word deur die elektroniese hekke, maar nie geregistreer het vir die tolstelsel nie.

Mona kon nie dadelik sê watter persentasie van Gauteng se motoriste tot dusver aangeteken het nie.

In Peters se antwoord op die vraag in die parlement is ook onthul dat ‘n bedrag van R54 735 638 [ BTW uitgesluit ] op die insameling van die skuld uitgegee is.

Hierdie syfer sluit R32.8 miljoen posgeld en druk van fakture in, asook ‘n verdere R21.9 miljoen vir die insamelingsproses.

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol, OUTA, het die uitklaring deur die Johannesburgse metropolisie verwelkom dat onbetaalde e-tol rekeninge nie kan lei tot die weerhouding van voertuiglisensies, swak krediet of kriminele rekords nie.

Die versekering is deur die direkteur van lisensiëring en vervolging, Gerrie Gerneke gegee.

‘n Woordvoerder vir OUTA, John Clarke sê motoriste kan ook nie in hegtenis geneem word vir uitstaande e-tol rekeninge nie.

Hy sê die nie-betaling van e-tol rekeninge is nie ‘n verkeersoortreding wat kan lei tot die weerhouding van voertuiglisensies nie.