VF+ vra dat Aarto dadelik afgeskaf word

aartoDit is nou duidelik dat Aarto ‘n mislukking is en niks minder is nie as ‘n peperduur Wit Olifant en die Vryheidsfront Plus versoek opnuut dat dit afgeskaf word om verdere onnodige vermorsing van geld te vermy, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer. Die VF Plus het ‘n parlementêre vraag in die verband aan die minister gerig.

Volgens adv. Alberts is dit duidelik dat Aarto (die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersmisdrywe) nie in sy doelwit slaag om paaie veiliger te maak nie, en dit kan nie meer ontken word dat die projek nie lewensvatbaar is nie.

In die media is nou berig dat Aarto-boetes van meer as R2 miljard nog nie ingevorder is nie. Dit is luidens ’n verslag wat vandeesmaand aan Dipuo Peters, minister van vervoer, oorhandig is.

Die probleem met die invordering van verkeersboetes word veroorsaak deur die verouderde eNatis-stelsel wat motoriste se kontakbesonderhede bevat en wat veroorsaak dat boetes ingevolge Aarto nie by oortreders uitkom nie, lui die verslag.

Volgens adv. Alberts word feitlik geen boetes meer ingevorder nie en die verslag aan minister Peters bevestig dit. “Dit maak geen sin om daarmee te volhard nie. In die boekjaar 2011-12 is byna 90% van boetes nie betaal nie en in 2012-13 slegs 87%.

“Die VF Plus het onlangs ook gewaarsku teen ‘n voorstel om met verhoogde verkeersboetes die publiek te dwing om die mislukte stelsel van ondergang te red.  Dit was nadat die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) voorgestel het dat verkeersboetes verdubbel word om Aarto te red.

“RTIA het toe ook erken dat die Johannesburgse metro-polisiediens (JMPD) sedert Desember verlede jaar meer as R60 miljoen bestee het om 2,4 miljoen Aarto-verkeersboetes per geregistreerde pos uit te stuur. Nie eens 5% daarvan is binne die erste maand betaal nie.

“Hierdie boetes het verval aangesien RTIA nie die posgeld kan bekostig nie. Dit is duidelik ‘n chaotiese stelsel wat van die begin af gedoem was tot mislukking.

“Aarto is niks meer nie as ‘n sinlose vermorsing van geld sonder enige resultate, en ons versoek die minister om dit nou stop te sit,” sê adv. Alberts.