Ope brief aan Piet Croucamp

Geagte Piet Croucamp,

U skrywe aan Johan van der Merwe spreek van presies die soort onverdraagsaamheid en fanatisme wat soveel van ons al genoop het om regdeur die huidige “demokrasie” te sien.

Oud-genl. Van der Merwe se opleiding in die polisiekollege blyk van hom veel meer van ‘n regsgeleerde en intellektueel te gemaak het as u nuwe-Suid-Afrika-PhD wat u blykbaar op sekulêr-godsdienstige geloofsgronde verwerf het. Bekering en fundamentalisme speel in u geval ‘n groter rol as enige kennis of logiese denke.

Die breedvoerige standpunt wat Johan van der Merwe uiteengesit het, beide in sy ope brief aan mev. Zille en sy memorandum “The Conflict of the Past: A Factual Review” is gegrond op eeue oue Westerse beginsels in die wysbegeerte en ons Romeins-Hollandse reg, naamlik dat elkeen op gelyke behandeling geregtig is. Daarmee saam, dat morele beginsels insgelyks nie van dubbele standaarde gebruik moet maak nie. En dan die audi alterem partem-reël wat daaruit voortvloei, naamlik dat elkeen in ‘n saak aangehoor moet word en dat ‘n eensydige relaas oor ‘n voorval of selfs die geskiedenis onaanvaarbaar is.

U rol om sowel individuele Afrikaners as ons hele volk en kultuurgroep te probeer verdag maak, lyk al hoe meer bedenklik, selfs sinister. Kennelik word u iewers vergoed of ten minste vereer vir u verbete pogings om sensuur op ons toe te pas.

Verlede jaar het u die heksejag op dr. Louise Mabille van Tukkies ontketen, meer onlangs Steve Hofmeyr probeer beswadder en nou dié venynige briefie aan Van der Merwe waarin u hom sowaar die doodstraf toewens! Boonop noem u hom ‘n lafaard van apartheid.

Asof u geesgenote, die terroriste wat met die mees totalitêre bewind van die twintigste eeu, die Sowjetunie, geheul het en onskuldige burgerlikes in Suid-Afrika met motorbomme en die halssnoermetode vermoor het, nie vuige lafaards was nie! Daar word bereken dat tot 60 miljoen mense in die Sowjetunie gesterf het vanweë die soort stomme, linkse fanatisme waarvan u dikwels vulgêre uitsprake popel.

Die punt wat oud-genl. Van der Merwe maak, naamlik dat grootskaalse en georganiseerde terreur slegs met onkonvensionele metodes beveg kon word, is waarskynlik geldig. Dit verg ook geweldige moed om die vrylating van Eugene de Kock te bepleit, die man wat deur die histeriese mediamense in ons land, asook in Brittanje en die VSA, met duiwelse byname behang word. Terwyl hul eie terroriste en moordenaars, soos die aanvallers op die St. James-kerk, byvoorbeeld, argeloos verontskuldig word.

Ons het oor die afgelope week gesien hoe diegene wat Steve Hofmeyr sy spraakvryheid en artistieke vryheid wil ontsê, tot ‘n platvloerse geskel oorgaan, iets wat kennelik ook deel van u eie repertoire uitmaak.

Hoe knus u eie verhouding met die huidige maghebber ook al mag wees, gee dit u nie die reg om ons aanhoudend te beledig en te verguis nie. Gegewe dat u, soortgelyk aan mnr. Joe Slovo van die SAKP en vader van die terreurveldtog, in die buiteland gebore is, is dit soveel te meer vermetel dat u ons inheemse Afrikaners se regte en menswees op soveel maniere kan vertrap.

Ongeag ons onderlinge verskille en die afwesigheid van enige partypolitieke oplossings, is Afrikaners vandag meer verenig as ooit in ons aanspraak op gelyke burgerskap van dié land, wat beteken dat ons op elke gebied gelyk behandel wil word.

Ons verwerp sowel kommunisme as die verwante Amerikaanse rasse-ideologie wat ons op grond van ons velkleur en afkoms vir altyd aan negatiewe rassevoorkeure onderwerp.

Ongeag die redes vir hul aanhouding, dring ons daarop aan dat al ons politieke gevangenes billik en wetmatig behandel sal word, iets wat tans duidelik nie die geval is nie.

Trouens, solank as wat daar Afrikaner- politieke gevangenes bestaan, sal ons nie vry wees nie.

Die een positiewe rol wat fanatici soos u speel, is om die huidige stelsel in sy totalitêre naaktheid en onverdraagsaamheid te ontmasker. Dit sou daarom betaamlik wees as u minder die woord “demokrasie” gebruik en u meer op Stalinistiese retoriek soos “fascisme” en “klassevyand” beroep.

Dat u nostalgie vir Rooi Terreur en die vergange Sowjetryk ook ‘n skeutjie anglofilie en verlange na die Britse Ryk insluit, spreek byna vanself. Daarvan getuig u ongeneeslike Boerehaat.

Groete,

Dan Roodt

Nuwe SAUK-hoof wil ‘lisensies’ vir joernaliste sien

Die nuwe bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, gaan volgens die koerant The New Age formeel vir Kommunikasieminister Faith Muthambi vra dat joernaliste voortaan lisensies sal moet hê om te mag skryf.

“Ons gaan sulke voorleggings doen. Ek is verbaas dat die SA nasionale redakteursforum dit kan teenstaan. Dit beteken dat hulle nie hul werk behoorlik doen nie,” sê Motsoeneng.Volgens die koerant het hy reeds ‘n plan opgestel en is bloot besig om dit verfyn alvorens dit aan Muthambi voorgelê word.

Motsoeneng het voorheen aangedui dat joernaliste ‘n lisensie soos dié in die mediese en regsberoepe behoort te hê om te mag praktiseer.
Joernaliste wat dan “onprofessioneel” optree, se lisensies sal weggeneem word.

Buitelanders ‘kuier te lank’ op hul SA visums

‘Buitelanders help Suid-Afrika om van die verwoesting van apartheid te herstel’

In die eerste kwartaal het127 656 buitelanders wat oor ons grense gekom het “te lank op hul visums gekuier”. Blykbaar is boetes ook “ondoeltreffend” as ‘n “afskrikmiddel” om buitelanders te oorreed om die land te verlaat, aldus die adjunkminister van binnelandse sake, Mkuseni Apleni.

Daarom wil die ANC-regering voortaan onwettige immigrante wat “verskeie kere” onwettig in die land gevang word tot “ongewenstes” verklaar. Die werklike syfer van onwettige immigrante of mense wat met vervalle visums in die land verkeer, is egter waarskynlik veel hoër as die amptelike 127 656.

Die departement van binnelandse sake maak dit ook voortaan makliker om om politieke asiel in Suid-Afrika aansoek te doen. By die grensposte sal ‘n asieltransitovisum wat vyf dae geldig is uitgereik word, waarna die asielsoeker by die naaste “vlugtelingontvangskantoor” kan aanmeld. Die vorige transitopermitte is nou afgeskaf.
Dit gaan ook nou makliker wees vir studente van oor die hele Afrika om in Suid-Afrika te kom studeer. Voorheen moes hulle jaarliks hul studentevisums hernieu soos in Europese lande die geval is. Voortaan sal hulle egter van ‘n langer visum voorsien word wat vir die duur van die kursus geldig is.

Apleni sê:

“Sommige studente bly in die land aan nadat hulle gegradueer het, en dra sodoende tot die ekonomie by.

“In die 1999-witskrif oor internasionale migrasie, het ons ons as ‘n nuwe demokratiese maatskappy wat van die verwoesting van apartheid herstel, daartoe verbind om mense met vaardighede, kundigheid, hulpbronne, entrepreneurskap en kapitaal aan te lok wat tot die land se heropbou, ontwikkeling en nasiebou kan bydra.”

PRAAG loods TV-lisensieboikot

Dr. Dan Roodt van PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het vanoggend aangekondig dat sy beweging voortaan die betaling van TV-lisensies gaan boikot.

“Dit geskied nie soseer in reaksie op die aanstelling van ‘n nuwe bedryfshoof nie,” sê hy, “maar weens die volgehoue margninalisering van Afrikaanse programme, asook die naakte Boerehaatpropaganda wat soms uitgesaai word. Waarom moet ons betaal vir ‘n medium wat sowel Afrikaans- as Afrikanervyandig is?”

PRAAG ondersoek tans die verskillende metodes waarmee mense gehelp sal word wat moontlik deur die SAUK se skuldinvorderingsagentskappe geteiken sal word.

“Ons is oop vir voorstelle,” het Roodt gesê. “Dit kan enigiets wees van die soort anargistiese metodes wat destyds in Amsterdam gebruik is toe ‘n vereniging jou boetes vir jou betaal het as jy gevang is dat jy sonder ‘n kaartjie op die trems ry. As mense ‘n lasbrief vir beslaglegging ontvang, mag ons dalk hul lisensies vir hulle betaal. Of dit kan ‘n grondwetlike hofsaak behels waarin ons sal argumenteer dat ons van die SAUK se gehoor uitgesluit is en daarom nie hoef te betaal nie.”

Daar is op dié stap besluit nadat PRAAG oor ‘n tydperk klagtes ontvang het van lede van die publiek wat geen sin daarin sien om langer TV-lisensies te betaal nie.

“Daar is ook groot geesdrif vir die idee dat ons alternatiewe vorme van vermaak op die internet moet skep, met YouTube-besprekings in Afrikaans, Afrikaanse films en dergelike meer,” sê Roodt. “Dit kan ‘n hele avontuur word.”

Gaan hulle tenks stuur om ons te keer om ‘Die Stem’ te sing?

Die polemiek rondom die sing van “Die Stem” is besig om wyer uit te kring en intussen het die EFF ook te kenne gegee dat die dele van ons volkslied wat tans nog by rugbywedstryde gesing word, uit die amptelike nasionale lied verwyder moet word.

Dan RoodtOp Daily Maverick het prof. Pierre de Vos van die UK ‘n aanval op die voortbestaan van “wit, Afrikaanse universiteite” gedoen waarin hy hulle afskaffing bepleit. Ene A.J. Venter het hom op die kommentaarafdeling van dié webblad taamlik breedvoerig ondersteun, al klaende oor die “outoritêre” aard van die Afrikaanse kultuur en dat ons te veel “soos militaristiese Duitsers” is.

Hierop antwoord ek hom soos volg:

Mnr. Venter, as u so teen die “militaristiese Duitsers” is, moet u maar liewer daardie BMW of Volkswagen gaan inruil vir ‘n Cadillac of Ford. Wat u op Daily Maverick oor Afrikaners kwytraak, verteenwoordig bloot Engelse stereotipes wat oor jare kwaadwillig hier en in die buiteland oor ons versprei is, dat ons “outoritêr” is en sulke twak. Terloops, dit staan natuurlik in die WVK-verslag ook, een of ander “Adorno”-analise van ons “outoritêre kultuur”, patriargale gesinstruktuur, en wat nog.

Suid-Afrikaanse kommuniste is te dom om hul eie eenvoudige ideologie te verstaan, dis die probleem.

Feit is egter dat die mense wat in dié land die grootste menseregteskendings gepleeg het – die Britte, wat so deur die onnosele plaaslike bevolking bewonder word, asook die kommunistiese terroriste wat burgerlikes in ons stede met motorbomme bestook het – geensins Afrikaners is nie. Dis seker nie “outoritêr” om terreur te pleeg nie en daarom aanvaarbaar. Nietemin bestaan daar verskeie internasionale konvensies daarteen.

Ek aanvaar dat ons die onlangse oorlog – soos in 1902 – geheel en al verloor het en tans onder die oorheersing van korrupte, wrede, dom, vertoonsugtige plunderaars verkeer. Iewers het ek al daarna verwys as die “Derde Britse besetting”. Ons is ontwapen en verguis; indien ‘n mens te veel kritiek daarteen uitspreek, kan jy maklik in die tronk beland.

Waarom die gehate naam “Suid-Afrika” nie verander is nie, weet nugter. Dis in elk geval ‘n uitvinding van “apartheid”, of ten minste van Smuts en Hertzog. Die “nuwe reënboogmense” kan gerus vir hulle ‘n Zimzaniese naam van een of ander aard uitdink en nie langer, soos op soveel ander gebiede op ons parasiteer nie.

Die meeste mense in dié land is egter tevrede met een of ander hibriede, kunsmatige, koloniale indentiteit of subidentiteit. Heimlik wil almal Amerikaners wees, want dit is wat hulle op die TV sien.

Die enigste groep wat nie met dié “skadubestaan” tevrede is nie, is die Afrikaners. U sê dat ek u nie verteenwoordig nie, maar dan verteenwoordig u my 100 keer minder as wat ek u verteenwoordig. Ten minste stry ek vir Afrikaans en vir ons menseregte, vir die reg van ons vroue om nie deur maniakke verkrag te word en vir ons boere om nie doodgemartel te word soos al met duisende gebeur het nie. Ek doen dit met die pen en nie met bomme soos u kommunistiese helde wat met straatname en in die skoolgeskiedenisboeke vereer word nie.

Die polities korrekte leuens wat u oor Afrikaans kwytraak, as sou dit een of ander “mengsel” van Frans, Khoisan en wat ook al sou wees, is so onnosel en kinderlik, dis regtig lagwekkend! Daar is minder vreemde woorde in Afrikaans as in die meeste Europese tale en géén taalkundige getuienis dat dit ooit ‘n pidgin, kreool of “gemengde” taal was nie. Trouens, Engels, hoewel tans ‘n wêreldtaal, is veel eerder ‘n bastertaal vol vreemde woorde wat van sy oorspronklike Angel-Saksiese wortels afgesny is.

Deur Afrikaans verkry ‘n mens toegang tot die hele kultuurskat van Noord-Europa, want met min moeite kan enige Afrikaner Nederlands, Duits en selfs die Skandinawiese tale begin lees en verstaan, soos wat ons voorouers natuurlik voortdurend gedoen het en waardeur Afrikaans tot die voortreflikste kultuurtaal ooit op die Afrikakontinent bevrug is.

Die wonderlike “Engelse” skole in dié land is besig om in duie te stort en oor die afgelope paar dae was daar berigte dat die wiskundesyfer wat in sulke “Engelse” skole aangeteken word op die graad negevlak onder 30% is en in sommige skole so laag soos nul of twee persent. Ook kan die leerlinge nie hul wonderlike Engels skryf of lees nie.

Ons kan dus die pragtige Britse koloniale erfenis in dié land salueer vir sy wonderbaarlike vermoë om sy kultuurgoedere aan die plaaslike bevolking oor te dra en veral af te dwing – Afrikanerkinders in die Transvaal is vir die eerste keer Engels in die konsentrasiekampe geleer – maar binnekort gaan niemand meer kan lees of skryf of basiese somme kan doen nie.

Ek is nie “vasgevang in die twintigste eeu” soos u beweer nie. Inteendeel. Dié land bevind hom egter in ‘n negentiende-eeuse, dweepsieke, Brits-imperiale versugting soos dít waarmee die arme siel Peer de Vos van Daily Maverick besig is. Sy onverbloemde Boerehaat en vyandigheid teenoor Afrikaans en die PUK is veronderstel om die guns van sy jingo-kollegas by Ikeys te koop en aan hom ‘n nuttige verhoginkie te besorg. Die ewige hensopper en Britse kruiper: daardie gehate figuur in Afrikaans. Dekades lank het ons mense van sypaadjie verander as hulle so iemand op straat teëgekom het.

Die huidige vyandigheid jeens Afrikaans op universiteit berus egter op niks, geen argument, geen grondslag, geen beginsel nie. Dis bloot blinde vooroordeel, tesame met die bekende Engelse hovaardigheid wat Peer nie nog nie behoorlik bemeester het nie.

Nader aan die een-en-twintigste eeu egter, sit ons tans met ‘n probleem dat die wêreld besig is om te polariseer in twee kampe: aan die een kant die Angel-Saksers met hul olie-oorloë en gewelddadige veldtogte teen al wat nasiestaat is, en aan die ander kant die volkere, met hul tradisies, kulture, tale, godsdienste, ens.

Terwyl ons, danksy dekades van Boerehaat en propaganda en verguising, sekerlik nie veel vriende in ons eie land oor het nie, word ons egter steeds en toenemend buite Suid-Afrika erken vir ons beskawing, opvoedingsvlak, werkywer en die Afrikaanse standaardtaal wat wêreldwyd aan universiteite as vak bestudeer word.

Ek dink die punt wat ek voorheen gemaak het, bly staan: die Engelsman of die “nuwe Suid-Afrikaner”, daardie soort yl afspieëling van die Zimbabwiër – want is Robert Mugabe nie u almal se intellektuele vader nie? – lyk asof hy nie oor die moed beskik om finaal teen ons te begin optree, alle Afrikaanse skole te sluit, die universiteite finaal te “transformeer”, ons kinders van tersiêre opvoeding uit te sluit en ons ook enige verdere indiensneming in die ekonomie te ontsê nie.

Die vraag is nou: waarvoor wag almal? Of moet daar eers ‘n teken uit die imperium – vanuit Washington of Londen – kom, gerugsteun deur troepe, om finaal tot die etniese suiwering van die Afikaner en Afrikaans vanuit Suid-Afrika oor te gaan?
Gaan ons verbied word om “Die Stem” of “Die lied van jong Suid-Afrika” te sing soos wat die Sowjetunie die Estlanders verbied het om hul volksliedjies te sing? En wie gaan dit afdwing? Die korrupte Azaniese polisie wat ons dalk met ‘n R100-noot sal kan omkoop om tog maar “Die Stem” te mag sing?

Gaan u tenks stuur, nes die Sowjetunie in Estland gemaak het, om ons te keer om te sing of om ons taal te praat en ons kinders daarin op te voed? Maar loop die tenks in Bloemfontein nog?

Hierop het Venter my soos volg geantwoord:

Stereotipes wat WAAR is – en niks Brits aan het nie, nie almal wat anti-nasionalisme is is pro-imperialisme nie, daar is meer as twee filosofiese stelses op aarde.

Die Afrikaners onder die Nasionaliste WAS outoriter, UITERS outoriter – ek het deur dit geleef. Ek het na ‘n apartheid skool gegaan – en ek onthou hoe absoluut sieldodend hulle was. In die naam van “disipline” het ons, ons kinders se gedagtes so bestuur dat vrye, kritiese denke ‘n doodsonde geword het.

Het ons alles wat vreemd is outomaties as ‘n euwel verklaar en onsself afgesny van alle vooruitgang.

Tot ons in ‘n land gewoon het waar geen vryheid bestaan het nie. Waar die regering kon sensor sonder terugslag en ‘n eens vrye, individualistiese volk in ‘n klomp skape verander is.

Nee, ons soek nie Amerika nie – Amerika is polities vol van dieselfde foute wat ons gemaak het.

Ek glo aan individuele vryheid en regte en dat almal dit ewe waardig is, elke volk is vol wonderlike goeie dinge en absolute euwels – en elke een (insluitend die Afrikaners) moet vereweg aan die verander en groei wees om die euwels te verminder en die goeie te vergroot.

En volks-selfsugtigheid is die grootste euwel van almal:
Jy veg om “ons” vroue teen verkragting te verdedig ? Ek veg vir ‘n planeet waar GEEN vrou verkrag word nie. Want ek is NIE ‘n rasis nie en ek glo nie dat Afrikaner vroue verhewe bo al die ander vroue is nie. Jou volks-selfsugtige weergawe ONDERMYN die goeie werk van ons wat glo NIEMAND mag verkrag word nie.

Die antwoord op jou vraag is eenvoudig: hulle wag nie, niemand WIL die Afrikaners vernietig nie. Julle regses wag nou all meer as drie-honderd jaar vir die nag van die lang mes – wanneer gaan julle besef dit sal nooit gebeur nie ?

Die Afrikaners is eenvoudig nie belangrik genoeg om vernietig te word nie. Ons is ‘n ou klein volkie in ‘n klein landjie. Jy sien ‘n aanval waar daar niks is nie omdat jy so seker is van ons verhoogde status – maar selfs op die Suid Afrikaanse verhoog is ons ‘n voet-nota.

As daar ‘n tyd was wat iemand dalk ons sou wou uitroei was dit in 1994. Vandag ? Dis lagwekkend.

En dis waar jou grootste fout is- jy dink nog in terme van “lande”, asof dit nog iets beteken. Die wereld het klein geword, jou volk het gereis en ander kulture leer ken en gesien dat daar goeie dinge in al die kulture is. Ek het die goeie in dertig Afrika-lande gesien, ek het dit in vier Suid Amerikaanse land gevind, ek het dit in die ooste en in Europa beleef.

Jy kan nie vir mense vertel hoe hulle moet leef nie – jou kultuur is nie besig on vernietig of aangeval te word nie – dis bloot besig om te groei en te verbeter. Soos dit moet.

Eens is daar vir ons vertel dat volksvreemd byna ‘n vloekwoord is – dat alles wat vreemd is vermy moet word. Maar daardie tyd is gelukkig vir ewig verby.

Ek geniet die boeke van die beste skrywers uit elke kultuur. Ek geniet Japanese kuns en Franse films en ek is met ‘n Skot getroud en ek het iets van die mensdom as ‘n geheel geleer: ek het geleer dat ons almal maar basies dieselfde is. Dat geen oorlog OOIT ‘n geregtelike oorlog kan wees nie. Dat vrede en vryheid alleenlik beskore is vir die wat dit aan ALMAL gun.

Ek het Terry Pratchet en Shakespeare en Huxley bestudeer, ek het vir Tom Stoppard gelag en vir Achebe gehuil.

Dit was alles volksvreemd – en dit was pragtig.

En na dit alles is ek nie minder Afrikaner nie – inteendeel, ek is ‘n BETER Afrikaner omdat ek nie NET ‘n Afrikaner is nie.
Afrikaner is nie my identiteit nie. Dis maar net ‘n deeltjie van my.

Ek is ‘n mens – en die ganse Afrikaner kultuur is minder as 5% van wat my, MY maak. Dis nie onbelangrik nie, elke stukkie van my is belangrik – maar dis ook nie MEER belangrik as die res nie.

Dis wat mense in the een en twintigste eeu geleer het – dat niks en niemand MEER of MINDER belangrik as die volgende is nie.

Eendag sal jy dit dalk ook leer… en besef dat wanneer jy veg vir Afrikaner vroue – doen jy ‘n onreg aan elke ANDER vrou aan. Wanneer jy veg vir Afrikaner boere – doen jy ‘n onreg aan elke ANDER mens wat vermoor word.
Daar kan nie reg in onreg wees nie.

Veg vir almal, of veg vir niemand – maar om net vir party te veg: dit is die grootste onreg wat daar is.

Ek antwoord:

Wanneer gaan u egter daardie laaste sin in Engels vertaal en vir u Engelse en Amerikaanse broers vertel wat reeds ‘n miljoen mense in Irak gedood het, kinders in Sirië onder die bomme steek, ens.? Maar dis die probleem met die jingo-Afrikaner: hy sien die boosheid van sy eie mense raak, maar die Anglo-Amerikaner se imperiale hebsug en oorlugsug gaan by hom verby.

Die Britte en Amerikaners veg net vir hulleself en hul eie beursies.

Lees byvoorbeeld dié stuk wat iemand vandag onder my aandag bring: Why America needs war.

Dit mag wees dat Afrikaners onbelangrik is en nie eens die moeite werd om te kom uitwis nie – in elk geval doen die plaasmoordenaars klaar redelik goed daarmee – maar dan wonder mens waarom soveel mense op aarde dit nodig geag het om te sorg dat ons heeltemal ontkieser word in ‘n stelsel waarin jy kan stem tot jy blou in die gesig is en jy sal nie eens ‘n munisipaliteit van 200 siele in die Vrystaat kry om te regeer nie?

Ek dink die antwoord is dat ons wel mededingers was vir Brittanje en selfs die Swede wat hul vliegtuie hier wou kom verkoop en ons staat, asook die openbare maatskappye, wou kom plunder. Alles wat die Afrikaners in die twintigste eeu oor dekades heen met ons klein ou bietjie kapitaal en belastings kon skep, het hulle in een slag kom stroop. Heerlik! Mittal het Yskor verniet gekry. Verniet! Hy is mos ‘n vriend van Tony Blair, wat oor Irak se “wapens van massavernietiging” gelieg het, daarom het hy Yskor verdien.

En volgens kenners beskik ons oor die tweede grootste hoeveelheid minerale rykdom ter wêreld, naas dié van Rusland. Wil u beweer dat die koloniale mynmaatskappye wat reeds meer as ‘n eeu in ons land werksaam is nie daarin belangstel nie? Die eerste vergadering tussen die ANC en die NP in die tagtigerjare is deur ‘n amptenaar van die Londense Gold Fields gereël.

Dis wonderlik dat u nou soveel kultuur ingekry het, maar die Afrikaner was dan juis vanuit die staanspoor ‘n nuuskierige en kultuurhonger mens. Ons vorige geslagte het Europese tale geleer praat, geskilder, geskryf, wonderlike argitektuur geproduseer – wat nou hier in Johannesburg skandelik deur die Verdrukker gesloop word! Vernietig, want daar is een of ander “projek” aan die gang waaruit ‘n klomp mense weer uit die provinsiale finansies hulself gaan help.

Indien u enigiets van ander kulture verstaan, is dit danksy die Afrikanerkultuur in dié land, want die Angel-Sakser bring net die monokultuur met hom saam. Hulle haat alle volkere: ons, maar ook die Franse, Duitsers, Japannese, wie ook al. Veral natuurlik die Russe. Almal moet voor hulle buig. Een land ná die ander word gedestabiliseer.

Die Oekraïners wat reeds ses miljoen dooies aan kommunisme moes afstaan – die kommunisme waaroor Peer en sy universitêre vriende steeds biduur hou – se hele land en finansiële stelsel is nou deur die Amerikaners gedestabiliseer, as deel van die groter plan om Rusland omver te werp.

Tydens die ABO het daar Iere, Russe, Skandinawiërs, Nederlanders, Duitsers, ens., aan ons kant geveg. Selfs Vincent van Gogh se broer het hier vir ons gesneuwel. Ons is nou weer daar, want ons en die Europeërs is almal in die visier van die sogenaamde Nuwe Wêreldorde. Ons diversiteit, veelheid van tale en tradisies is vir hulle ‘n steen des aanstoots, daarom moet dit weg en ons moet almal deel word van wat Van Wyk Louw die “mensvleisbredie” genoem het.

Waarom val Peer (de Vos) vir die PUK aan? Want iewers weet hy die Empaaier verwag dit van hom. Sy eie klein burokratiese posisie hang daarvan af, dat hy die haat jeens Afrikaners sal aanblaas met sy stereotipe stelletjie idees en belydenisse.

Ons stel nie in sy vervelige lewetjie en ontgroening of wat ook al belang nie. Om op grond daarvan die verengelsing van die oudste universiteit in die oudste dorp in die Transvaal te bepleit, is so absurd soos om te sê Pretoria Boys High moet Afrikaans word as straf omdat Oscar Pistorius daar op skool was!

Wie gee Peer die Anglofiel die reg om die PUK te straf? Dis mos belaglik.

Volksvreemd is nie die verskeidenheid van tale en kulture wat jy ervaar en wat jy in jou eie kultuur vertaal nie. In elk geval het Afrikaners meer boeke in Afrikaans vertaal as wat die klomp lui Engelse in ons land ooit gelees het, uit ‘n verskeidenheid van tale. Iewers het ek gelees van ‘n afgetrede Deense militêre offisier wat as ‘n stokperdjie begin vertaal het. Met sy dood het hy iets soos 900 boeke in Deens vertaal!

Elke klein taal ter wêreld het slegs danksy die opoffering en toewyding van sy sprekers tot stand gekom. Soos Deens. Of Afrikaans.

Volksvreemd is die lelike verraad waaraan soveel Afrikaners hulle al skuldig gemaak het, en veral De Klerk se geslag wat aan mense een ding vertel en ‘n ander gedoen het. As De Klerk militêr aan Umkhonto we Sizwe wou oorgee, is dit sy goeie reg, maar waarom mense met praatjies oor “wigte en teenwigte” om die bos lei, sodat hulle twintig jaar later eers uitvind wat regtig gebeur het en dat hulle nou as vreemdelinge in hul eie land geag word?

Dan praat ek nie eens van mense wat op ‘n manier te bang is om ‘n AK47 te gryp en Afrikaners op straat soos honde te gaan doodskiet nie, maar wat Boerehaat aanblaas in die hoop dat ‘n swartman of dalk ‘n bende plaasmoordenaars dit iewers namens hom sal gaan doen.

‘n Mens noem dit aanhitsing. Dít wat Sir Percy Fitzpatrick met The Transvaal from within gedoen het, en waarmee Peer en die res van die Boerehaters op die kampusse steeds besig is.

Dis eenvoudig verfoeilik, lafhartig en onderduims. Maar tog sóóóó Engels, nie waar nie? Die ewige moraliste. Maar wat self agter die deur staan…

Terug na Europa?

Kan Afrikaners hul eie hoëtegnologie-ekonomie skep en in geprivatiseerde enklawes oorleef?

Miskien is dit net die gevolg van gisteraand se sokkerwedstryd toe Duitsland vir Brasilië afgeransel het, maar ek dink al geruime tyd dat ons Afrikaners veel kan baat by ‘n nouer verhouding met Europa.

In my vorige rubriek het ek van ons kulturele verhouding tot die Lae Lande, veral Nederland, gepraat.

Dan RoodtWeens die kommunikasierevolusie en globalisering, bestaan daar nie meer grense nie, ten minste wat handel en kultuur betref. Die enigste grense wat oorbly, is eintlik taalgrense, want ons moet mekaar nog kan verstaan.

Ek is toenemend pessimisties oor die Suid-Afrikaanse ekonomie wat weens hebsug, korrupsie, gebrekkige infrastruktuur, swak onderhoud en bestuur gaandeweg sal agteruitgaan.

Daarom moet ons so vinnig as moontlik ons herposisioneer sodat ons aan die Europese dienste-ekonomie, maar ook landbou, kan deelneem. Ons vrugteboere in die Wes-Kaap en elders doen dit reeds! Ons land voorsien onder andere 70% van die sitrusvrugte van die Europese Unie.

Is dit nie eenvoudig ongelooflik nie? Dat ‘n paar duisend Afrikanerboere 70% van die lemoene, pomelo’s, nartjies en wat nog van die Europese Unie kan produseer nie? Trouens, sover ek verstaan, is ons die grootste produsent van pomelo’s ter wêreld.

Maar ons kan nog baie beter doen. Ons is goed opgelei en sodra ons ons nie meer blindstaar teen die VSA, VK en Australië nie, kan ons met veral Noord-Europa begin handeldryf, nismarkte ontgin en sodoende ‘n inkomste in euro begin verdien. Oor die afgelope paar jaar het internetverbindings in Suid-Afrika drasties verbeter en sodoende kan ons nou al amper op gelyke voet met die eerste wêreld begin meeding, wat kommunikasie, inligting en bemarking betref.

Die lughawe hier in Johannesburg vergelyk met enige lughawe in Wes-Europa en danksy ‘n klompie Afrikaner-ingenieurs wat die Gautrein laat bou het, is die lughawe verbind met die groot Afrikanerenklawe in Centurion, Pretoria en omliggende gebiede, om nie van die gewraakte tolpaaie te praat nie. Eintlik beskik ons oor alles om ‘n ekonomiese ontploffing te kan veroorsaak!

Duitsland en Nederland se gesamentlike ekonomie is iets soos $4,3 triljoen werd. Dit is omtrent elf keer so groot soos die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daar bestaan geen regstellende aksie nie en elkeen is vry om daaraan deel te neem, mits ons ons by Europese standaarde hou soos die vrugte- en ander boere reeds doen.

Iewers het ek gelees dat Duitsland oor ‘n behoefte aan een miljoen programmeerders beskik. Al hierdie jong Afrikanerseuns wat so graag rekenaarspeletjies speel en met rekenaars grootword, kan mos opgelei word om vir Duitse maatskappye aanlyn programmering te doen, nie waar nie?

Programmering is egter nie grappies nie en die gemiddelde punt wat by Tukkies in een eerstejaarskursus vanjaar tydens die eerste semester aangeteken is, is 38%, hoofsaaklik deur blanke studente. Ons skole berei ons kinders eenvoudig nie genoegsaam voor op ‘n loopbaan in programmering en tegnologie nie. Die huidige rekenaarkursusse van die onderwysdepartement is uitgedien. Afrikaanse skole sal onderling iets hieraan moet begin doen. Al is dit hoe moordend aan die begin, sal ons kinders aan ontsettende druk onderwerp moet word wat hul kennis van rekenaars en programmering betref. Dis maklik om met swartes van Soweto mee te ding, maar as ons saam met die Duitsers en die Hollanders wil speel, sal ons ons spelpeil moet lig, om steeds by sportmetafore te bly.

Watter wonderlike uitdaging is dit egter nie! Om ons eie Afrikaner-ekonomie te skep wat sal “inprop” by die EU- en wêreldekonomie en ons toenemend onafhanklik van die SA ekonomie sal maak. Laat die ANC sy rassekwotas na hartelus toepas.

Sodra ons oor die inkomste beskik, sal ons vir ons geprivatiseerde enklawes oral in die land kan oprig waar ons in ons heerlike klimaat en met ons eie skole, universiteite, hospitale en ander inrigtings as ‘n satelliet van Europa kan funksioneer. Soos ons eintlik nog altyd was?

As Afrikaners oor ‘n eie etniese ekonomie soos byvoorbeeld die Baske met hul Mondragon beskik, sal die politiek vanself regkom. ‘n Verarmde Suid-Afrika, die “groot bantoestan” waarvan RW Johnson al gepraat het, sal ons nooit kan oorheers nie. Ons sal uiteindelik vir ons groot stukke grondgebied kan koop of terugkoop waar ons al ons aktiwiteite kan vestig. Selfs die buitelandse motormaatskappye mag uiteindelik verkies om gerobotiseerde motorfabrieke onder Afrikanerbestuur te bedryf as om langer met stakende massas geradikaliseerde en verpolitiseerde werkers te sukkel. In München werk heelwat blonde meisies in BMW se motorfabrieke en beman bloot die gerekenariseerde beheerterminale, terwyl die fisieke werk deur robotte behartig word. Só lyk dit:

Ek stel dit hier as ‘n debatspunt en sal graag mense se menings wil hoor.

Brasilië ontvang sokkerles auf Deutsch

Die Duitse sokkerspan het gisteraand vir Brasilië, die gunstelinge, met 7-1 doele in die halfeindstryd van die wêreldsokkerbeker geklop. Dit is die grootste neerlaag wat Brasilië in 100 jaar in ‘n internasionale wedstryd gely het.

Omdat sokker, soos rugby, ook die afgelope aantal jare deur FIFA verpolitiseer is, het die Duitse vertoning insgelyks skokgolwe deur die wêreld gestuur, met vele liberale kommentators op Twitter en elders wat verslae is dat ‘n hoofsaaklik blanke Europese span die multikulturele span van Brasilië so ver kon wen.

Die gewilde Duitse koerant, Bild, het ‘n foto van twee triomfantelike Duitse spelers, Miroslav Klose en Toni Kroos, op sy voorblad geplaas met die eenvoudige opskrif: “Danke! Wir lieben euch!” (Dankie! Ons is lief vir julle!)

Opvallend is egter dat die Duitse span sy triomf amper probeer wegsteek het en agterna die Brasiliese spelers omhels en vertroos het, asof daar vooraf opdragte was dat hulle nie die gasheerland – waar daar reeds onluste rondom sokkerkwessies plaasgevind het – moes aanstoot gee nie.

Ook in Brittanje en die VSA, waar anti-Duitse gevoelens en afguns oor Duitse ekonomiese prestasie gewoonlik net onder die oppervlak is, was daar groot teleurstelling dat Brasilië dermate verloor het. Sokker word in die VSA gesien as ‘n sport wat meer deur liberale, immigrante en ondersteuners van die Demokratiese Party gevolg word, dus was die Duitse oorwinning ‘n bitter pil om te sluk.

Swart Suid-Afrikaanse vroue op Twitter het grappe begin maak onder die hutsetiket #goodbyebrazilianhair en dat hulle op soek is na pruike met “Duitse hare”. Die Suid-Afrikaanse minister van sport, Fikile Mbalula, wat blykbaar met ‘n groot gevolg na Brasilië afgereis het, het op #goodbyebrazilianhair met die woord “Shame” geantwoord.

Die swart sokkerkommentators van die SAUK het hul egter verlekker in die Brasiliaanse vernedering, aangesien Brasilië voorheen die Bafana met 5-0 verpletter het. “Nou weet hulle hoe dit voel,” het een van hulle gesê.

Die linkse Londense koerant, The Guardian, beskryf die wedstryd só:

“Tot op dié stadium was Brasilië se wedstryde ‘n viering van kleur en geraas. Maar (gisteraand) was daar die onheilspellende geluid van stilte, asook ander geluide. By tye was dit iets naby aan vrees, ‘n vreemde gorrelgeluid wat telkens gehoor kon word as Duitsland elegant vorentoe gebreek het, met meer vernedering wat dreig. Die gesig van Brasilië, met hul ryk voetbalgeskiedenis, wat op dié wyse vermorsel word, was werklik skokkend.”

SAPA-AP het die wedstryd só beskryf:

“Brasilië het in sy 100 jaar van sokkergeskiedenis nog nooit so ’n groot nederlaag gely in enige internasionale toernooi nie en het nog nie so chaoties verdedig soos in die eerste 18 minute van die eerste helfte nie toe Duitsland vier doele aangeteken het, drie van hulle in net 179 sekondes.”

En verder:

“Stilte het oor die skare in die Mineirao-stadion neergedaal en party mense wat nie kon glo wat hulle sien nie, het in trane uitgebars.

Honderde mense het hul duur sitplekke al voor die rustyd, toe die telling 5-0 was, verlaat.

’n Deel van die skare het onwelvoeglikhede teen die span en pres. Dilma Rousseff gedreunsing.”

Vele Brasiliese vroue het geween oor hul span se ineenstorting voor die Duitse aanslag. Selfs die troosdoel wat byna per ongeluk in die doodsnikke van die wedstryd deur Brasilië se Oscar aangeteken is, het min reaksie ontlok.

Miroslav Klose, links, en Toni Kroos ná die wedstryd
Miroslav Klose, links, en Toni Kroos ná die wedstryd

Miroslav Klose het met sy doel in die eerste helfte die rekordhouer vir die meeste doele in wêreldbekersokker geword. Maar wat aangaande die Duitse span beïndruk het, is nie soseer die briljansie van die individuele spelers nie, hoe professioneel en goed hulle hul ook al van hul taak gekwyt het, maar die dissipline en goeie spanwerk. Die moeitelose en akkurate aangeë waaruit soveel doele binne slegs enkele minute opgetower is, laat enige ander span na amateurs lyk.

Sowel Nederland as Argentinië, wat vanaand om 22:00 SA tyd in die ander halfeindronde uitspeel, sal hul sokkies moet optrek as hulle nie Sondag ‘n ewe vernietigende voetballes van Die Mannschaft wil ontvang nie.

Doele het gisteraand só verloop:

Vir Brasilië:

Oscar (#11) 90′

Vir Duitsland:
Thomas Müller (#13) 11′
Miroslav Klose (#11) 23′
Toni Kroos (#18) 24′, 26′
Sami Khedira (#6) 29′
André Schürrle (#9) 69′, 79’

Sokkersterre se inkomste laat rugbyspelers na armblankes lyk!

Die ontsteltenis in Brasilië oor die onlangse besering van die jong Brasiliaanse speler Neymar maak ook sin as die finansiële implikasies in ag geneem word. Die oordragfooi wat die Spaanse klub Barcelona betaal het om hom van die Brasiliaanse klub Santos te bekom, was nie minder nie as  €57,1 miljoen (ongeveer R855 miljoen) nie.

Lionel Messi in 2009
Lionel Messi in 2009

Dié bedrag is deur die visevoorsitter van Barcelona, Josep Maria Bartomeu onthul. Die bedrag om Neymar van sy verpligting teenoor Barcelona vir die volgende vyf jaar vry te stel, is €190 miljoen (ongeveer R2,9 miljard). Neymar se oordragfooi is egter maar tiende op die lys van oordragfooie wat al in sokker betaal is.

Die hoogste oordragfooi wat tot dusver betaal is, was vir Gareth Bale. Real Madrid het in 2013 tussen €90 en €100 miljoen (ongeveer R1,5 miljard) betaal om hom van die Britse klub Tottenham Hotspur te bekom. Real Madrid hou ook die rekord vir die naasduurste speler van alle tye, die Portugees Cristiano Ronaldo wat hulle vir €94 miljoen van Manchester United bekom het.

Die jaarlikse salarisse van die spelers is feitlik ewe astronomies. ‘n Speler by een van die top- Europese klubs kan tot €20 miljoen (R300 miljoen) per jaar aan salaris en borgskappe verdien. Op die jeugdige ouderdom van 22 bevind Neymar hom reeds in dié kategorie, maar hy word slegs as die 13de rykste voetbalspeler ter wêreld gereken.

In Maart 2010 het die tydskrif France Football die Argentyn Lionel Messi, wat ook in die huidige wêreldbeker te siene is, bo-aan die lys van die rykste voetbalspelers geplaas, voor David Beckham en Cristiano Ronaldo. Op die daardie stadium het Messi €33 miljoen (ongeveer R500 miljoen) per jaar aan salaris, bonusse en borgskappe verdien. In Mei vanjaar het Forbes egter vir Messi tweede ná Cristiano Ronaldo geplaas. Oor die afgelope jaar het Messi blykbaar $65 miljoen verdien.

Messi se “uitkoopklousule” soos dit genoem word, is €250 miljoen. Hy speel insgelyks vir Barcelona en vir ‘n ander klub om hom uit te koop, sou dus €250 miljoen, oftewel ‘n verbysterende R3,75 miljard kos. Dit is meer as wat sommige genoteerde Suid-Afrikaanse maatskappy op die aandelebeurs werd is.

Hierteenoor kan ‘n toprugbyspeler en Springbok soos Victor Matfield tot R6 miljoen per jaar op die kruin van sy loopbaan verdien, minder as ‘n honderdste van wat Lionel Messi of Ronaldo jaarliks inoes…

Waarom u tot praag moet bydra

Geagte leser,

Die afgelope paar dae se aanvalle op Steve Hofmeyr vanuit veral Beeld het my weer onder die indruk gebring van hoe min eg-Afrikaanse media daar oorbly.

Nie net het Beeld begin vanjaar die PUK verguis nie, maar nou vaar die koerant ook uit teen “Die Stem” van CJ Langenhoven. Dis glo “apartheid se amptelike lied” soos redakteur Adriaan Basson dit stel. In weerwil van Basson se Afrikaanse naam, huldig hy Engelse sienings oor Afrikaners en het hy die vertekende, chauvinistiese beeld van Afrikaners wat jare lank in Engelse koerante en op Engelse kampusse van ons gekonstrueer is, sy eie gemaak.

praag-embleemnuutNet vandag gesels my dogter met my oor die verskille tussen Afrikaanse en Engelse tieners. “Ons is heeltemal anders,” sê sy. “Afrikaanse tieners sal nog met dagga eksperimenteer, maar die Engelse tieners gebruik sommer enigiets: pille, sampioene, harde goed, heroïen. Hulle laat hulself tatoeëer en hul lywe vol gate maak. Ons het skoon gesigte, sonder gate of tatoeëermerke. Jy kan die verskil op ‘n myl raaksien.”

Nou wonder ek: Gaan ‘n toekomstige geslag Afrikaners net soos Engelse lyk en optree, dieselfde dinge sê en glo, van kindsbeen af?

Die greep van die ANC en Engelse liberale op Beeld en sy susterkoerante is so sterk dat Engelse rubrieke en kommentaar deesdae in vertaling in dié publikasies geplaas word. Op ‘n manier mag Afrikaners nie meer in Afrikaanse koerante skryf nie!

Gaan daar nog eg-Afrikaanse media oorbly? Of gaan dit maar net vertaalde Engelse of Britse menings en sienings wees wat aan ons opgedis gaan word, tesame met sensasie oor Oscar Pistorius?

‘n Week of wat gelede moes ons praag se stelsel bywerk en tydens ‘n paar nagmerrie-oomblikke wou dit nie werk nie. Ons het die angs beleef dat al 15 000 van ons artikels dalk korrup kon geraak het. Hoewel ons oor rugsteune beskik, is geen rugsteun ooit volmaak nie en daarom bestaan die moontlikheid van totale dataverlies altyd.

Totale dataverlies. Soms voel dit vir my asof dit is waarop ons almal afstuur, die dag as Afrikaans, Afrikaanse liedere, geskiedenis en plekname nie meer gaan bestaan nie.

Feit is dat omtrent 90% van Afrikaanse lesers vandag nie oor ‘n medium beskik waarmee hulle gemaklik voel en waar ‘n pro-Afrikaanse standpunt intelligent en konsekwent gestel word nie. En waar hulle oor die jongste wêreldgebeure en politieke strominge in Europa, die VSA en elders ingelig word.

As Afrikaans en Afrikaanse joernalistiek sou verdwyn, sou dit regtig totale dataverlies vir ons almal wees. Met slegs ‘n paar rand per maand kan u egter verseker dat dit nie gebeur nie en dat nuus en menings in Afrikaans – deur Afrikaners – altyd beskikbaar sal bly.

‘n Student uit die VSA wat dit self nie breed het nie, hou vol om vir ons $30 per maand by te dra. Hy lees nie eens Afrikaans nie, maar wíl ons eenvoudig ondersteun.

Wat van u, ons eie lesers en ondersteuners?

Help ons om praag tot ‘n magtige nuus- en kultuurmedium uit te bou.

Vul ‘n debietordervormpie in. As u nie daarvoor kans sien nie of ons op ‘n ander manier wil steun, laat gerus van u hoor met ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org. Of kontak my op Facebook of Twitter.

Dan Roodt

Uitgewer en eindredakteur

Pierre de Vos sê Afrikaners teer op Engelse belastings en mag nie meer in Afrikaans studeer

Haha, Pierre, jy het jouself nou oortref. Baie geluk! Ja, dis eenvoudig: verbied eenvoudig die Afrikanerstudente om op enige plek te mag studeer! Hulle moet gestraf word vir die apartheid van hul ouers.

Ons teer op julle Engelse belastings! Dis hoog tyd dat ons kinders alle opvoeding ontsê word, want dis net nie prakties om dit aan ons te verskaf nie. En boonop is ons mos almal dom, “dumb Dutchmen”, nie waar nie. Ons doen nie so goed in wiskunde soos julle in julle goeie Ingelse skole nie, ahem…

En ons voorouers, die Hollanders, Duitsers en Franse, is net so dom. Geen bydrae tot die wetenskap, wiskunde en filosofie uit daardie oorde nie. Slegs Engeland, die lig van die wêreld! En haar koloniale dogterland hier aan die suidpunt, en hoe suider hoe beter, nie waar nie, soos byvoorbeeld Kaapstad.

Daarom sal die bloedjies van Houghton, Clifton en Constantia heerlik in hul moedertaal mag studeer… dis mos normaal.

Aan die ander kant, dis verskriklik dat Stellenbosch jou menseregte so geskend het deur nie jou ateïsme op die vorm te erken nie. En boonop was die vorm seker in Afrikaans. Dit verdien ‘n Nürnbergverhoor, as jy my vra.

Ek wil egter nou ‘n lansie breek vir die Christene… Die Anglikaanse Kerk het mos ook geld geskenk vir die Kerkstraat- en ander bomme in die Wimpy’s. En die Nederlandse kerke. Daar is darem ‘n paar goeie Christene ook, wat goeie terreur herken as hulle dit sien?

En wat van Boesak? En die ontslape Russel Botman wat Stellenbosch so graag wou verengels? Of kom net ateïste in die hemel? Jy weet, Karl Marx was darem ‘n Jood ook, nie net ‘n ateïs nie…

Oranje boven! en ander Hollandse gedagtes

Tans is die sokkerwêreldbeker aan die gang en hoewel ek geen sokkergeesdriftige is nie, is dit tog interessant om die vordering van die spanne dop te hou.

Gisteraand het Oranje, soos die span van Nederland bekendstaan, tot die kwarteindronde deurgedring. Ook België het goed gevaar en was waarskynlik ongelukkig om insgelyks gister deur Argentinië uitgeskakel te word.

Dan RoodtOor die Belgiese span kan ‘n mens minder gaande raak. Soos Frankryk, beskik hulle oor ‘n multikulturele span wat net sowel uit Afrika kon gekom het en kwalik die land verteenwoordig. Boonop is België so ‘n kunsmatige politieke entiteit wat twee volkere federaal verbind dat ‘n mens jou moeilik kan voorstel dat enigiemand patrioties oor België kan raak. Vlaandere is ‘n ander saak en dit spreek vanself dat ons ‘n ewe noue band met die Vlaminge behoort te koester as met die Nederlanders.

Sonder die Lae Lande sou daar nooit ‘n Suid-Afrika gewees het, geen Afrikaans en geen Afrikaners nie. Vlaandere was ons Afrikaners nog altyd baie goedgesind, selfs in die dae van die kulturele en ander boikotte, dus moet my huidige opmerkings oor Nederland geensins afbreuk doen aan die warm gevoelens wat Afrikaners oor die algemeen vir Vlaminge koester nie. Die meeste Vlaminge is amper meer gaande oor Afrikaans en Afrikanerskap as Afrikaners self en ons kan by hulle heelwat leer oor hoe ‘n taalstryd gestry moet word!

Ons verhouding tot Nederland is egter meer gekompliseerd; dis amper ‘n liefde-haat-verhouding, iets soos die verhouding tussen die VSA en Brittanje, tussen die vrygeworde republiek en die koloniale moederland. Tussen koningin Wilhelmina se versigtige steun vir Paul Kruger tydens die tweede vryheidsoorlog en die Nederlandse anti-apartheidsbeweging wat aktief aan terreur teen ons deelgeneem het, loop daar ‘n wye kloof.

Nederland is letterlik familie van ons, want die meeste van ons beskik iewers oor Nederlandse voorouers. In weerwil van Afrikaners se vele Franse en Duitse vanne, stam die meeste van ons tog iewers verlangs van Nederlanders af.

In 1950 nog het die Nederlandse koningin ‘n toekenning aan ons grootste digter, NP van Wyk Louw, gemaak en hom in haar paleis onthaal. Tuis in Suid-Afrika was daar steeds ‘n lewendige belangstelling in Nederlandse kultuur en letterkunde wat aan al ons universiteite gedoseer is. In my matriekjaar het ons nog ‘n Nederlandstalige voorgeskewe boek deur die Vlaamse skrywer Stijn Streuvels bestudeer.

Sedert Afrikaners se verlies aan politieke mag word Afrikaans grotendeels onderdruk en gemarginaliseer. Daar word selfs gepoog om ons taalkundig te ondergrawe deur vergesogte teorieë dat Afrikaans eintlik ‘n vorm van Khoisan is of ‘n kreool wat deur die Hottentotte tot stand gebring is. Ek wil op ‘n later stadium meer breedvoerig op dié belaglike teorieë reageer wat om politieke en polities korrekte redes opgedis word. Ongelukkig is daar ook Nederlanders wat hulle daarmee besig hou, asof hulle ons noudat ons lê, wil skop. Die taalkundige Hans Den Besten het sulke twak in akademiese artikels kwytgeraak, maar dis nie iets wat onmoontlik is om in een of twee artikels met gemak te weerlê nie.

Dit sou ‘n fout wees om te dink dat alle Nederlanders ons goedgesind is. Weliswaar bestaan daar in Nederland ‘n taamlike sterk regse beweging, onder aanvoering van Geert Wilders, met Martin Bosma wat Suid-Afrika, asook Afrikaans, deel van die party se beleid gemaak het. Bosma het blykbaar ‘n nuwe boek oor Afrikaners in Nederlands geskryf wat eersdaags gaan verskyn. Dit gaan baie interessant wees.

Tydens die 2010-sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika, het ek gesê dat ons eerder die Nederlandse span moet ondersteun as ons eie swart Bafana-spelers. Intussen het selfs die minister van sport, Filike Mblalula, my gelyk gegee dat die Bafana die mees hopelose sokkerspan ter wêreld is. As vorige gasheer van die wêreldbeker kon ons nie eens kwalifiseer om in Brasilië deel te neem nie. In vele opsigte is die “Suid-Afrikaanse” sokkerspan emblematies van Suid-Afrika: dit word met subsidies en privaatborgskappe gemamperlang, dog sonder enige prestasie. Ons betaal astronomiese bankfooie sodat die banke die korrupsie en maklike geld rondom sokker in ons land aan die gang kan hou.

Eintlik is dit jammer dat Afrikaners nooit leer sokker speel het nie. Rugby en krieket is sportsoorte wat ons onherroepelik aan die Britse Ryk of die Britse Statebond verbind omdat dit slegs in daardie lande beoefen word. Hoeveel keer is ons nie al deur die Britte, die Australiërs of Nieu-Seelanders verneder omdat hulle in ons geesdrif vir sport ‘n manier gesien het om ons polities te manipuleer nie? Indien ons teen Europese spanne sokker gespeel het, sou ons nie soveel Engelse hovaardigheid en lis hoef te verduur het nie.

Dus, ons behoort vandeesweek almal verder die Nederlandse sokkerspan in hul skreeuend oranje hempies te ondersteun! Hopelik vind ons meer uit oor Nederlandse klubspanne soos PSV Eindhoven of Ajax Amsterdam of Feyenoord en begin hul vordering volg. Die feit dat ondersteuners van PSV Eindhoven hulself “boere” noem, is dalk ‘n goeie aanknopingspunt. In Nederland is daar sedert onlangs ook “vrouwenvoetbal”. Terloops, eintlik behoort ons ook na sokker op’t Nederlands as “voetbal” te verwys; dit klink soveel Afrikaanser.

Waarom nie ook vrouevoetbal onder Afrikaners nie? Een keer per jaar kan ons nasionale vrouevoetbalspan dalk in Nederland ‘n paar wedstryde teen die Nederlandse dames gaan speel? Blykbaar is dit iets wat ook in Skandinawië beoefen word.

Dit gaan egter om veel meer as voetbal en selfs vrouevoetbal. In die haglike omstandighede waarin ons ons bevind, hang ons oorlewing daarvan af om op een of ander manier by Europa aansluiting te vind. Die ramp wat as die “nuwe Suid-Afrika” bekendstaan, tesame met sy perverse, dekadente anti-wit kultuur, is byna volledig in die Engelssprekende lande uitgedink. Amerika en Engeland maak oorlog teen die Westerse en Europese beskawing en het in ons die eerste land gesien wat hulle volledig kon vernietig en in ‘n kwasi-kommunistiese utopie kon omtower waar alle klasse en rasse gelyk sou wees, met blankes wat permanente tweederangse status “vrywillig” sou aanvaar.

Die verengelste Afrikaners is vir my baie erger as Malema of enige radikale swarte. Hulle is tot die Amerikaanse leer van regstellende aksie en witskuld bekeer en sal hul eie mense na die brandstapel stuur as deel van hul popelende nuwe geloofsbelewenis. Hulle sal die universiteite, die skole, die sportspanne, die kerke en alles wat daar is “transformeer” en verengels en verswart totdat daar niks meer van ons oorbly nie. Dan is daar nog die hele uittog na Australië waar ons mense gaan verengels en ewe “vrywillig” instem tot Angel-Saksiese assimilasie.

Nou die dag het Gustav Venter hier by my kom koffie drink. Ons het saamgestem dat demokrasie in die land nie werk nie, veral nie vir Afrikaners nie. Om Afrikaners stemreg te gee, was een van die grootste foute wat ons ooit kon maak! As hulle die kans kry, stem hulle vir mev. Helen Zille of een of ander skynheilige swart Christen soos Kenneth Meshoe. As Mandela nog gelewe het, het hulle seker almal ANC gestem en hul eie leiers nogmaals verwerp. Die vinnigste manier om jou by Afrikaners ongewild te maak, is om iets vir hulle te probeer doen of ‘n standpunt ten gunste van Afrikaans of Afrikanerregte in te neem.

Vandag skryf die redakteur van Rapport in sy rubriek:

“… dat Afrikaans en Afrikaanse ruimtes gemaklik kan en moet bestaan in ’n Suid-Afrika wat asseblief tog nooit 100% Afrikaans en wit moet wees nie”.

Overgezet synde: ons kan saamleef met plaasmoorde, regstellende aksie, korrupsie, huisrowe en alles wat daarmee saamgaan, solank daar tog net nie ‘n wit, Afrikaanse skool of universiteit (of gesin?) iewers moet wees nie.

En: Wat is Rapport anders as ‘n 100% Afrikaanse koerant met hoofsaaklik wit lesers?

Dis genoeg om ‘n mens tot selfmoord te dryf. Gelukkig is daar geen wêreldberoemde katedrale in Suid-Afrika soos Notre Dame in Parys nie, anders het Afrikanerdenkers hulself ook in die kop gaan skiet soos die skrywerhistorikus Dominique Venner verlede jaar uit wanhoop gedoen het. So pas het daar twee boeke van hom postuum in Frans by die uitgewer Pierre-Guillaume de Roux verskyn. De Roux is iemand wat ook ‘n lewendige belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaners koester. Dominique Venner het iewers gesê dat daar in Frankryk “erger vyande en van ‘n versteekte tipe is as op enige ander plek”.

Ons Afrikaners verstaan daardie gevoel van deur jou eie mense verraai te wees en versaak te word, maar té goed.

Ek dink ons moet aanvaar dat Suid-Afrika onder die impetus van Angel-Saksiese politieke korrektheid halfpad kranksinnig geraak het. Kollektiewe waansin. The madness of crowds. Daar was mos ‘n Skot, Charles Mackay, wat in die negentiende eeu so ‘n boek geskryf het. Dit volle titel is: Extraordinary Popular Delusions and the Madness of Crowds. Een van die bekende aanhalings daaruit lui:

“Men, it has been well said, think in herds; it will be seen that they go mad in herds, while they only recover their senses slowly, and one by one.”

Baie van ons ken daardie gevoel: om een vir een in ‘n malhuis wakker te word. Maar rondom jou duur dit voort.

Dis waarom ons ‘n soort uitweg of uitkoms nodig het, ‘n reddingsboei. Die Franse filosoof Gilles Deleuze, wat ook by tye ver heen was met politieke korretkheid en die uitwasse van die linkse sestigerjare in Frankryk, het gepraat van ‘n “buitekant” wat ‘n mens moet hê. Afrikaners het nie meer ‘n buitekant nie. Hulle leef volledig in ‘n lugdigte Anglo-Amerikaanse borrel waarin hulle elke dag meer en meer verdom en afgebreek word. Mense lees nie meer boeke nie; hulle lees dalk nie meer enigiets langer as ‘n paar paragrawe op die internet nie. Hulle kyk net hier en daar prentjies.

Maar ook in dié opsig voel ek Nederland kan ons red. Nederland het naamlik ‘n filmbedryf en Afrikaners kan met redelik min moeite volg wat op die skerm aangaan. Dis nie soos Frans of Italiaans waar jy sonder onderskrifte nie die verhaal sal begryp nie. Ons moet Nederlandse films onder Afrikaners bekendstel net soos Naspers en die Angel-Saksiese mediagroepe slegs Hollywood of hier en daar ‘n Britse produk bevorder.

Oor die afgelope tyd kyk ek heelwat “Kaasflieks”, soos ek hulle noem. Dis regtig ‘n vertroosting, veral ná ek my twee of drie keer aan die swak, polities korrekte Afrikaanse films wat deesdae gemaak word, blootgestel het. Sommige Kaasflieks het my ontroer of geamuseer. Ander het my weer geïrriteer en een of twee kon ek nie klaar kyk nie. In baie opsigte is Nederland ewe of nog meer dekadent as Suid-Afrika en ‘n mens moenie die land idealiseer nie. Maar ten minste is daar in Nederland verskeidenheid. Geen twee Kaasflieks is dieselfde nie! Die moderne Nederlandse argitektuur is asemrowend mooi en vele van die films is in huise of plekke geskiet waar mens doodgewoon die agtergrond kan geniet, ongeag waarheen die verhaal lei. Nederlanders is mooi mense, net soos Afrikaners. Wel, dit spreek eintlik vanself, want ons het gemeenskaplike voorouers.

Die mees onlangse Nederlandse fliek wat ek gekyk het, is Toscaanse bruiloft (2014). Dis ‘n lawwe soort romantiese komedie, maar word so oorspronklik, prettig en mooi aangebied dat die genre of die verhaal eintlik bysaak is. Alles speel in ‘n egte villa in Italië af waar Nederlanders heen gaan om te trou. Plek-plek word die Nederlandse dialoog ook onderbreek deur stukkies Italiaans en die kulturele anomalie van ‘n klomp Nederlanders wat skielik baie Italiaans en al fresco lewe, raak nooit kitsch nie. Dit word ‘n sorgvrye kyk op die “goeie Europeër” soos Nietzsche hom genoem het, iemand wat tuis in sy eie kultuur is, maar ook waardering het vir die lande, tale en tradisies rondom hom.

Die Alfa Romeo
Die Alfa Romeo

Een van die sterre in die film is ‘n rooi Alfa Romeo GTV van dertig, veertig jaar gelede wat nog hier en daar op Suid-Afrikaanse paaie te siene is. Die film spreek van bewondering vir alles wat Italiaans is: die kookkuns, ou motors, selfs ‘n verspotte ou plaasbakkie met ‘n snaakse vorm, die landskap, die argitektuur, die meubels. Alles word met ironie aangebied, dog sonder dat dit ooit soos in Suid-Afrika afbrekend en stereotiep raak. Dis amper die postmoderne liefdesverhaal waarvan die Italiaanse kritikus en skrywer Umberto Eco op ‘n keer gepraat het.

Met die graad van geweld en wanorde in Suid-Afrika, beleef ons ‘n onverklaarde, voortslepende burgeroorlog. Maar dis juis in sulke tye dat ‘n mens ook behoefte aan kultuur en ontspanning het. Jy kan nie net sit en wag vir die volgende skoot om te klap, die volgende inbraak of huisroof nie. Terwyl ons identiteit deur die staat, die media en die fanatiese Angel-Saksers aangeval word, het ons behoefte aan ‘n “buitekant”, aan ‘n wêreld wat buite die Sowjet-Engelse borrel val.

Nederland en Nederlands kan in dié donker tye vir ons so iets raak. Ons kort ‘n bietjie Nederlandse voetbal sonder kwotas of sulke mooi Kaasflieks. Noudat Afrikanerpolitiek ‘n stille dood gesterf het en ons aan die giere van die Zoeloes of liberale Engelse in ons land uitgelewer is, kan ons gerus op ‘n afstand ook die Nederlandse nuus en Europese politiek begin volg. Toegegee, ons het geen invloed daaroor nie, maar net so het ons geen invloed oor die politiek in ons eie land nie. Ten minste deel ons ‘n afkoms, ‘n taal en ‘n beskawing met Nederland, wat meer is as wat ons kan sê oor wat tans in Suid-Afrika aangaan. Malema en sy trawante is vir my net tot op ‘n punt interessant of snaaks. En of Naledi Pandor by Russel Botman se begrafnis was, kan my ewe min skeel as om te weet wat die temperatuur vandag in Sacramento, Kalifornië, is. Dit traak my regtig nie.

Ons het ook nie toestemming van Nederlanders of Nederlandse amptenare nodig om daardie dele van hul kultuur wat tot ons spreek, toe te eien of te geniet nie. Die verkeerdste manier om enige kulturele wisselwerking tussen ons en Nederland aan te pak, sou wees om met die ambassade in Pretoria ‘n afspraak te maak. Nie net het iets van die vorige Hollandse vyandigheid by die ambassade oorgebly, uit die dae toe Nederlanders geld aan Stasi- en KGB-agente geskenk het om motorbomme in ons stede te plaas nie, maar alle amptelike kontak moet mos altyd met swartes geskied. Die belangstelling in Nederlandse films, boeke of idees by ons regering is seker nóg laer as in Afrikaans, met ander woorde iewers benede nul, dus sou ons ons tyd met enigiets ampteliks verspil.

Die internettydvak is egter by uitstek geskik vir guerillabemarking en alternatiewe maniere van doen. Dus kan ons ons mense se belangstelling in Kaasflieks en vrouwenvoetbal en wat ook al begin prikkel.

Sodoende kan ons dalk minder soos zombies begin dink en optree en meer soos die beskaafde mense wat ons eens was.

Die hoop beskaam nie.

Wat Afrikaans betref, is ek baie trots op my taal. Ek is daarvan oortuig dat Afrikaans eintlik in sy huidige vorm reeds in die sewentiende eeu bestaan het en eeue gelede ‘n belangrike rol in Noord-Europa en in die handel ter see gespeel het. Daar is vele woorde in Afrikaans wat dit verklaar. Ons het Europa nodig, maar Europa het ons en ons oer-Europese dialek wat hier aan die Kaap kom uitspoel het en só lank in die skadu van Engels om oorlewing moes veg, ook nodig. Ons wedersydse voortbestaan mag daarvan afhang.

Ons moet ons oopstel vir die ander, sê die postmoderne filosowe. Laat ons meer ontvanklik en “oop” vir Nederland en Vlaandere raak.

Ns. Stuur ‘n epos aan inlig@praag.org en ons stuur vir jou ‘n aflaaiskakel vir Toscaanse bruiloft. (Hier is ‘n kort YouTube-voorprent van 55 sekondes.) Nooi jou vriende uit en hou bioskoop (die Nederlanders spel dit met ‘n “c”, “bioscoop”) sommer daar waar jy is, op jou rekenaar, tablet, foon of platskerm-TV, wat jy ook al het.

Oud-Franse staatshoof Sarkozy van korrupsie aangekla

Die vorige president van Frankryk, Nicolas Sarkozy, is vir 15 uur aangehou as deel van ‘n ondersoek na die finansiering van sy vorige verkiesingsveldtog. Intussen het die nuus dat hy formeel van korrupsie aangekla is, via ‘n twiet van Agence France Presse rugbaar geraak.

 

Die klagtes teen Sarkozy behels die verbreking van professionele geheimhouding, aktiewe korrupsie en handel in invloed. Hy word daarvan verdink dat hy toegang tot vertroulike inligting oor ‘n ondersoek teen hom van ‘n aanklaer bekom het. Drie ander mense word insgelyks ondersoek.

Dit is die eerste keer dat ‘n Franse staatshoof aangehou word. Hy is gisteraand vyftien uur lank in die kantore van die eenheid teen korrupsie aangehou tydens die ondersoek.

Die aanklagte teen Sarkozy kan tot tronkstraf van tien jaar lei. Hy verkeer egter nie in geregtelike aanhouding nie. Vroeër gisteraand is drie ander mense ook deur dieselfde aanklaers ondersoek: die advokaat van die voormalige president, meester Thierry Herzog, die regter Gilbert Azibert en ‘n ander staatsadvokaat van die Appèlhof, Patrick Sassoust, wat egter nog nie voor die aanklaers verskyn het nie.

 Die aanklaers poog om vas te stel of die voormalige staatshoof geheime inligting van Gilbert Azibert bekom het oor die ondersoek wat daar teen hom ingestel is, in ruil vir ‘n prestigieuse pos in Monaco.

Dit het plaasgevind tydens die sogenaamde “Bettencourt-affêre” toe die Appèlhof ‘n uitspraak oor die beslaglegging op Sarkozy se dagboeke moes lewer. Sarzkozy se saak is in daardie geval van die rol geskrap, wat hom gepas het.

Meeluistering

Tydens September 2013 is Sarkozy deur die staat afgeluister om vas te stel of hy tydens sy veldtog in 2007 deur Moemmar Kadafi van Libië gefinansier is. Tydens dié operasie is verskeie lede van sy binnekring ook afgeluister: die voormalige ministers Claude Claude Guéant en Brice Hortefeux, maar ook Michel Gaudin, die voormalige hoof van die nasionale polisie en oud-prefek van Parys. Gaudin het van sy kontakte binne die polisie gebruik gemaak om te probeer vasstel hoe die Libiese ondersoek teen Sarkozy vorder.

Sarkozy het van ‘n vals naam, Paul Bismuth, gebruik gemaak om met sy advokaat, meester Herzog, te praat. Daarom het die aanklaers besluit om daardie telefoon te laat afluister. Die gesprekke skep die indruk dat hulle vertroulike inligting van regter Gilbert Azibert wou bekom.

Volgens die regsverteenwoordiger van Herzog, meester Paul-Albert Iweins, “berus hierdie feite slegs op die meeluistering wat ons in twyfel trek en waarvan ons die wettigheid ook sterk beveg. Ons gaan alles teenstaan.”

Die gedoe rondom Sarkozy se veldtogfinansiering vind plaas tydens die groot boete wat die VSA aan die Franse bank BNP Paribas opgelê het. Sarkozy is as sentrum-liberale politikus daarvoor bekend dat hy onder Amerikaanse en Britse invloed verkeer en daarom verteenwoordig die huidige optrede teen hom ‘n vorm van weerwraak deur die linkse, sosialistiese regering van president Francois Hollande.

Franse wetgewing plaas ‘n plafon op die hoeveelheid geld wat ‘n presidensiële kandidaat op sy veldtog mag bestee. Sarkozy word daarvan verdink dat hy die perk oorskry het om as president in 2007 verkies te word.

Dinge wat swartes by my gesteel het

Sedert Ruth First in die veertigerjare in die destydse kommunistiese weekblad, The Guardian, begin skryf het dat blankes in ons land die swartes se grond “gesteel het”, het die mite toenemend veld gewen. Vandag is dit so te sê evangelie in Suid-Afrika se hoofstroommedia.

roodt_fbfotoFirst se lesing van die geskiedenis verteenwoordig egter haar interpretasie, gegrond op die teorieë van Marx en Engels. ‘n Meer letterlike vorm van diefstal vind elke dag in Suid-Afrika plaas. ‘n Week of twee gelede het my suster, wat ‘n rekenmeester is, se Malawiese tuinier al drie haar skootrekenaars gesteel. Hiermee is haar lewe in ‘n krisis gedompel. Op haar rekenaars was honderdduisende rande se werk wat sy oor maande voltooi het, asook programmatuur met kodes en wagwoorde wat groot onkoste en moeite verg om te vervang.

Sy was so kwaad dat sy in haar bakkie geklim en na die tuinier se huis in Diepsloot gery en gedreig het om hom met ‘n stuk hout dood te slaan. Nodeloos om te sê, het die polisie, hoewel behulpsaam, niks verder kon doen om haar vir die verlies te vergoed of om die rekenaars terug te kry nie.

Intussen moes sy tienduisende rande op verdere veiligheidsmaatreëls by haar huis uitgee, kameras, elektriese heinings en dergelike meer. Reeds woon die meeste van ons in privaattronke want daarbuite loop die skelms rond wat by die geringste geleentheid ons van ons besittings of van ons lewens kan ontneem.

Ons ingewikkelde, delikate, blanke lewens waarin die meeste van ons sukkel om balans te vind, tussen vriende, kliënte, kollegas, familie, werkgewers, werknemers, rekenaars, selfone en die stryd om ekonomies te oorleef, kan eensklaps deur ‘n swart misdadiger omvergewerp word. Sy onbesonne daad ontketen ‘n kettingreaksie wat maande en jare lank nog gevoel kan word.

Geweldsmisdaad is op almal se lippe. Maar daar is ook iets aan die konstante diefstal van ons goed, dikwels persoonlike of onvervangbare items, wat die verhouding tussen wit en swart in dié land vir altyd bederf. Vandaar die opskrif hier bo: “Dinge wat swartes by my gesteel het.”

Ek dink elkeen het ‘n verhaal om te vertel. Graag verneem ek daarvan, hoe gering of onbenullig ook al. Dit mag ‘n foto-album wees, ‘n mansjetknoop wat jy by jou oupa geërf het, jou ouma se goue armband, ‘n antieke kamera wat vandag waardeloos is maar wat sentimentele waarde het, ‘n paar gunstelingskoene, ‘n ou motor wat jy so goed opgepas het en nou skoonveld is.

Terwyl Ruth First se mitiese “gesteelde grond” oral druk bespreek word en al die polities korrekte kommentators in die media hulle met die idee vereenselwig dat blankes hul plase aan swartes moet oordra, weet ek van nêrens waar daar na die miljarde, nee triljoene rande se goedere verwys word wat swartes oor die afgelope meer as drie eeue by ons gesteel het nie. Dink net as ons op ‘n dag daarvoor vergoed kan word!

Omdat ons vir ‘n paar jaar hier in Johannesburg naby die swart woonbuurt Alexandra gewoon het, het ons gesin besonder swaar onder diefstal deurgeloop. Ons huis is byna elke jaar van waardevolle en persoonlike besittings gestroop. Die inbrekers het, ongeag die diefwering en alarmstelsel deur die vensters ingekom, deur die glas langs die voordeur, selfs deur die dak en plafon. Hul vindingrykheid het geen perke geken nie. Eers toe ek in Frankryk gaan woon het, kon ek ‘n persoonlike klerekas opbou, want voorheen is al my klere jaarliks gesteel.

Deesdae woon ek in ‘n veiligheidsbuurt, maar selfs hier het ‘n bediende ‘n paar skoene van my gesteel waaraan ek besonder geheg was en wat ek eers later agtergekom het. Dit was ‘n paar skoene wat ek op ‘n uitverkoping in Londen gekoop het en wat my volmaak gepas het. Die model word nie meer gemaak nie en daarom is hulle onvervangbaar. Ek het hulle soos goud opgepas en elke keer as ek hulle gedra het, was dit vir my ‘n spesiale geleentheid.

Sy het ‘n seun gehad vir wie sy waarskynlik die skoene vasgelê het. Hy of sy sou nooit kon weet watter waarde daardie paar skoene vir my gehad het nie, waarvan die geldwaarde maar ‘n geringe aspek was. Dit was ook ‘n soewenier van ‘n besoek aan Londen, van ‘n middag in die National Gallery waar ek na Turner se skilderye gaan kyk het, van daardie ragfyn weefsel van ons verfynde Europese kultuur waarvan ons net ‘n deeltjie in ons lewens kan opdoen of bemeester. Ná haar bedanking het ons nog ‘n ander bediende gehad, maar teen die derde selfoon wat sy in ons huis gesteel het, het ons haar in die pad gesteek en nog nooit weer ‘n bediende gehad nie.

Gelukkig steel swartes nie boeke nie, dus het ek nog al my pa en my oupa se boeke wat ek van hulle geërf het. Tydens my verblyf in Europa het ek my egter verstom oor die ou antieke voorwerpe en objets d’art waaroor Europeërs beskik, want natuurlik het hulle meesal nie bediendes of tuiniers nie. Ons sou ook sulke dinge gehad het, maar ons word so gereeld besteel dat ons eenvoudig nie ‘n persoonlike versameling van enigiets kan opbou nie.

Toe my kinders onlangs nog op skool was, het die onderwyseres eenkeer aan die klas gevra wie se huise die afgelope jaar of twee beroof is. Meer as die helfte van die kinders het hul hande opgesteek. Ons kinders word groot in ‘n kleptomaniese samelewing waar diefstal die norm is. Geen wonder die staatskas of die munisipaliteite word ook geplunder nie, want dit is feitlik die norm.

Iewers in Nelson Mandela se biografie, wat deur die Amerikaner Richard Stengel geskryf is, Long walk to freedom, loof hy veediefstal as ‘n soort kuns. Hoeveel vee het swartes nie oor die jare by ons gesteel nie? Veediefstal op die berugte Lesotho-grens is blykbaar so erg dat grensplase aan die SA kant blykbaar so te sê waardeloos is.

In die eerste boek van die Nobelpryswenner, J.M. Coetzee, Dusklands, beskryf hy hoe sy voorouer, Jacobus Coetzee, op ‘n ossewa die binneland intrek en hoe sy wa uiteindelik deur ‘n klomp Hottentotte gestroop word omdat hulle blykbaar nie die begrip “privaatbesit” verstaan nie:

“All was not well. A ring of strangers had collected at the tailgate where Klawer seemed to be scuffling with someone. My other four men were standing helplessly to one side. ‘What is going on here?’ I asked. I looked at Plaatje. He drew his shoulders up miserably. ‘I leave you for half an hour and I come back to chaos!’ ‘They are stealing, master.'” (bl. 78)

Elke fiets wat ek as kind gehad het, is gesteel. Enkele jare gelede het ek op ‘n fiets na ons plaaslike supermark gery en daar aangedoen omdat ek dors geraak het. Ek het geweet dat die fiets ‘n aanloklike teiken vir enige jagterversamelaars in die omtrek sou wees. Terwyl ek na die yskas  met koeldranke, water en glukosedrankies gestap het, het ek kort-kort omgedraai om te kyk of ek die agterwiel nog by die ingang kon gewaar waar ek dit gelaat het. Toe ek die glukosedrankie uit die yskas neem en omdraai, was die wiel skielik weg. Ek het net daar by die winkel uitgehardloop en, ja, so wrintiewaar, daar was ‘n swarte op my fiets besig om teen die opdraande uit te trap. As hy in die teenoorgestelde rigting gery het, teen die afdraande af, sou ek hom nooit kon inhardloop nie. Dus kon ek my fiets weer by hom afneem. Ek was maar te bly om dit terug te kry en het nie eens ‘n klag probeer lê of hom ‘n paar taai klappe probeer gee nie.

By al die liefdadigheid wat blankes teenoor swartes via die kerke en ander organisasies beoefen het, om nie van ons belastings te praat wat al dekades lank op swart onderwys, welsyn en gesondheid bestee word nie, is daar die werklikheid van al ons besittings wat oor jare heen deur swartes gesteel is. In Bloemfontein het ek die grappie gehoor:

“Daar is slegte én goeie nuus. Die slegte nuus is ons moet nou almal in Botshabelo gaan woon. Die goeie nuus is: al ons goed is klaar daar.”

Hoe wáár is dit nie! Ons wat deur kranksinnige linkses soos Ruth First en haar eietydse volgelinge van ‘n abstrakte “eiendomsdiefstal” – terwyl swartes nooit enige vorm van titelakte beoefen het nie – beskuldig word, was oor jare, dekades en eeue heen die slagoffers van konstante diefstal. Hoe op aarde kan daar van ons verwag word om swartes te vergoed vir apartheid en ander onsigbare morele delikte, as swartes ons nog altyd sonder ophou van ons werklike besittings ontneem het?

Ek wil nie ‘n groot morele of politieke kwessie hiervan maak nie. Vir my gaan dit meer oor die persoonlike verliese wat ons gely het. Want elke ding wat ons verloor het, verteenwoordig ook ‘n trauma-in-die-kleine, ‘n verlies en skending van jou privaatheid. Al word dit nie met geweld van jou afgeneem nie en bloot in jou afwesigheid gesteel of vasgelê, maak dit tog inbreuk op jou eie klein wêreld. Ons stam af van Noord-Europeërs wat van die eerlikste mense ter wêreld is, waar ‘n mens spreekwoordelik nie eens jou voordeur hoef te sluit nie. Waar ‘n mens op jou medemens kan vertrou om nie jou goed te vat as jy jou rug draai nie. Daarom is dit soveel te meer traumaties om jou tussen mense te bevind vir wie diefstal blykbaar ‘n soort lewenswyse is.

As ek dink aan die dinge wat swartes by my gesteel het, dan dink ek aan my matriekafskeidpak, daardie paar Londense skoene, my ouma en my ma se juwele wat by my suster gesteel is, ‘n 8-mm-kamera en -films waarop my atletiekloopbaan op hoërskool deur my pa vasgelê is, asook ‘n groen Volkswagen wat tydens ons Durbanse jaar buite ons woonstel gesteel is en stukkend en gebreek in Zoeloeland teruggevind is. Ek onthou nog op hoërskool daardie gevoel as ons tuisgekom het en die gat in die glas langs die voordeur gesien het en geweet het dat daar weereens by ons ingebreek is.

Natuurlik gebeur daar veel erger met mense in dié gewelddadige, misdadige land. Selfs menselewens word gesteel, die asempies van kinders soos Willemientjie Potgieter of Danielle Esterhuizen, met dieselfde argeloosheid as wat die hangkaste in ons slaapkamers oopgeruk word.

Soos Jacobus Coetzee in J.M. Coetzee se verhaal, is ons verskriklik getraumatiseer deur die kultuurverskil in dié land.

Daarom sou ek vandag graag by my lesers wou verneem: Wat het swartes by jóú gesteel? ‘n Armband, of rok of baadjie? ‘n Horlosie? Jou selfoon met al jou nommers op? Hoe gering die item of hoe onbenullig die voorval ook al, sou ek graag daarvan wou hoor. Gebruik die kommentaarblad hier onder.

Alain de Benoist en ons gevestigde wanorde

Een van die grootste tragedies van die nuwe Suid-Afrika, benewens die geweld, moorde en die agteruitgang van Afrikaans, is die toenemende gebrek aan denke by Afrikaners. Terwyl vorige geslagte hulle gretig verdiep het in die beste van Westerse en Europese denke, dobber die huidige geslag op die oppervlak van die lewe: veramerikaniseer en oningelig.

Dan RoodtOok die Afrikanerpolitici soos FW de Klerk en sy nakomelinge het glad nie oor die aard van ons samelewing of moontlike toekomsscenario’s nagedink toe hulle polities voor die ANC en SAKP gekapituleer het nie. Wat ons moet verstaan, is dat die Afrikaner nooit sedert 1902 militêr verower is nie, maar wel weens ‘n gebrek aan denke tans sy ondergang beleef.

Die De Klerk-geslag, asook vandag se DA-politici, is volledig onder die invloed van die Amerikaanse en Sweedse smeltkroes-idee van die 1940s en 1950s. In weerwil van die groot veranderinge in ons land en in die wêreld, verkies hulle om die heersende ideologie van multikulturalisme en veelrassigheid, selfs die algemene antipatie jeens blankes, na te praat.

Wat vir politici geld, geld selfs in ‘n hoër mate vir skrywers, akademici en joernaliste. Ons het gesien hoe die koerant Beeld vroeër vanjaar die Universiteit van Potchefstroom beswadder het ten einde sy status as een van die laaste Afrikaanse enklawes in die hoër onderwys te beëindig. As ons aan die Afrikaanse letterkunde dink, spring ‘n figuur soos André P. Brink in die oog. Nie net skryf hy sy prulverhale oor historiese blanke boosheid in Engels en vertaal hulle agterna in Afrikaans nie, maar hy koester ‘n afkeer en moontlike haat vir sy eie mense. Tydens ‘n Franse TV-program het hy verklaar dat “Afrikaners verdien om te verdwyn”. Lord Milner kon dit nie beter gestel het nie.

Sekerlik was ons hele volk oor die afgelope aantal dekades die slagoffers van ‘n sielkundige oorlog en propagandaveldtog soos min in die geskiedenis. Hierdie propagandaveldtog mag die verwarring van die man op straat verklaar, maar nie die patetiese konformisme van die Afrikaner-elite nie.

Verengelsing vernietig nie net Afrikaans nie, maar ook ons vermoë om onafhanklik te dink. Ons kyk na die wêreld deur ‘n Amerikaanse bril en vind dit goed en mooi dat swartmense op alle gebiede soos in die Hollywoodfilms, leiersposisies moet beklee terwyl Europa as ‘n ou, agterlike vasteland waar mense snaakse tale praat, uitgebeeld word.

Afgesien van die lesers van hierdie webblad, is Afrikaners byna heeltemal onkundig oor die belangrike denkrigtings wat oor die afgelope dekade of meer in twee van ons stamlande ontstaan het: Nederland en Frankryk. Nederlands behoort vir elke Afrikaner toeganklik te wees, aangesien ‘n mens dit met min moeite kan lees en verstaan. Trouens, Afrikaans is eintlik maar sewentiende-eeuse Nederlands en Platduits wat ons Afrikaners so pragtig gestandaardiseer het. Met die koms van die internet, verteenwoordig Nederland-Vlaandere-Suid-Afrika eintlik een taalgebied waar variante van Nederlands gepraat en geskryf word.

Pim Fortuyn was onlangs die eerste Nederlander wat sy land daartoe opgeroep het om weer sy wortels en identiteit te herontdek. Nie verniet nie is daar ‘n sluipmoord op hom uitgevoer, maar sy boeke en nalatenskap is onvernietigbaar. Hy het die politieke en denkrevolusie in Nederland ontketen wat die opkoms van die Partij voor de Vrijheid (PVV) moontlik gemaak het. Sentraal by Fortuyn, asook sy geesgenoot, Martin Bosma, staan die kritiek op die Amerikaanse “sixties” en die linkse revolusie wat wêreldwyd op die hippie-tydvak gevolg het.

Onderliggend aan hierdie kritiek op Amerikaanse multikulturalisme en kulturele marxisme, is ook ‘n begeerte om te “verontengels”. Met die uitsondering van die jong koningin Wilhelmina wat saam met die Transvaal en die Vrystaat tydens ons Tweede Vryheidsoorlog gestaan het, het Nederland oor die afgelope twee eeue nog altyd die groter en sterker Brittanje se geopolitiek nagevolg. “Koninklijke Olie” heet nie verniet “Royal Dutch Shell” nie; dis ‘n half-Engelse, half-Nederlandse onderneming wat Nederland volledig aan Anglo-Amerikaanse beleid verbind.

Dit is daarom soveel te meer merkwaardig dat die PVV van Nederland en Franrkyk se Front National onlangs op die Europese vlak begin saamwerk het. Daar bestaan ‘n onderlinge samekoms van denke tussen die regse bewegings in albei lande wat vir ons en die hele Europese wêreld groot belofte inhou.

Ongelukkig is Frans nie meer vir Afrikaners, anders as Nederlands, toeganklik nie. Vroeër jare was dit wel onder Afrikaners mode om Frans te leer en is die taal ook in die meeste goeie Afrikaanse skole gedoseer. Met die koms van die internet en goedkoop aanlyntaalkursusse het ons egter geen verskoning meer om nie ook Frans en Duits onder die knie te kry en sodoende met ons stamlande weer ‘n intellektuele band te smee nie. Tans leer ek elke dag bietjie Sweeds en hoop om die taal teen die einde van die jaar te praat en te lees. Eintlik is dit nie so ver van Afrikaans af as wat ‘n mens sou dink nie. Vele woorde beskik oor dieselfde wortels en die grammatika is, vergeleke met Frans of Duits, taamlik eenvoudig, soos dié van Afrikaans!

In ‘n hoë mate hang ons oorlewing van ‘n meer intieme verhouding met Europa af. Dit is slegs wanneer ons van die nuanses van Europese denke bewus raak, dat ons sal besef dat daar wel vir ons ‘n uitweg uit die huidige doodloopstraat is waarin ons ons bevind.

Tot onlangs is Frankryk ironies gesien as die vesting van linkse en selfs dekadente denke. Die neomarxisme van Amerika is ten dele ook vanuit Frankryk daarheen uitgevoer. Slegs linkse of polities korrekte boeke in Frans is na Engels vertaal, wat verder die indruk gewek het dat Frankryk in wese, amper soos die voormalige Sowjetunie, ‘n linkse land was.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Soos ons onlangs gesien het, is Frankryk die enigste groot land met ‘n noemenswaardige politieke beweging wat onbeskaamd regs en nasionalisties is. Maar dit strek veel verder. Onbekend aan die res van die wêreld, of ten minste aan die Engelse wêreld, het daar in die twintigste eeu vele bewegings in Frankryk plaasgevind wat die grondslag vir nuwe denke oor identiteit en Europese voortbestaan geskep het. ‘n Hele skatkis van boeke en idees is die afgelope eeu en meer in Frans geproduseer wat nie net die huidige probleme met rasse en kulture vooruitloop nie, maar ook oplossings daarvoor aanbied.

Parys is ‘n stad van boekwinkels en skrywers. In die verlede was dit nie ongewoon vir Franse skrywers en denkers om binne een leeftyd negentig boeke te skryf nie! Dít met die pen of op ‘n tikmasjien sonder rekenaars. Nou die dag ontdek ek op my boekerak een van my pa se ou boeke, nogal in Afrikaanse vertaling, deur so ‘n skrywer van 91 boeke, André Siegfried, met die titel: Engeland se krisis in die 20ste eeu (Pretoria: Van Schaik, 1932). Hy was ‘n ekonoom en kenner van Engeland en bied in dié boek heeltemal ‘n ander perspektief as dié waaraan ons gewoond is. Geen wonder dat die boek in 1932 deur ‘n regsdosent aan Tukkies in Afrikaans vertaal is nie! Interessant is insgelyks dat Siegfried ‘n Protestant was en boonop ‘n titel in Frans oor Suid-Afrika geproduseer het. Het hy ‘n band met ons gevoel vanweë die Franse Protestante of Hugenote wat in die sewentiende eeu hierheen gekom en saam met die Hollanders en Duitsers saam-saam verafrikaans het?

Indien ons universiteite nie deur kranksinnige, anglofiele multikulturaliste beset was nie, sou ‘n klomp van dié Franse boeke deur akademici met regeringsubsidies of -befondsing in Afrikaans vertaal kon word, om dit sodoende vir Afrikaners toeganklik te maak. Helaas, gaan dit nie gebeur nie en sal ons eenvoudig self op die internet so ‘n ruimte moet open waar Franse idees opnuut in Afrikaans en onder Afrikaners bekendgestel kan word.

Tussen die twee wêreldoorloë was daar ‘n Franse beweging met die naam, die “Nonkonformiste”, wat uit jong intellektuele bestaan het. Blykbaar was hul gemiddelde ouderdom 25 jaar. Die avant-garde-skrywer, Maurice Blanchot, wat veel deur postmoderne teoretici aangehaal word, was blykbaar ‘n lid van dié groep, wat vir my persoonlik as ‘n verrassing gekom het. Hulle het hulself ook as die “Jong Regses” beskryf.

Een van die terme wat destyds deur die leidende Emmanuel Mounier gemunt is, was “die gevestigde wanorde”. Is dit nie presies waarmee ons vandag in Suid-Afrika te kampe het nie? Die gevestigde wanorde? Verder het die nonkormiste sterk gevoel dat Frankryk in die 1930s besig was om ‘n “beskawingskrisis” deur te maak. Met Suid-Afrika se verval in plaasmoorde, geweld en agteruitgang, kan ons seker dieselfde van ons land in die 2010s sê.

‘n Groot hedendaagse Franse filosoof en politieke denker wat by die nonkonformiste gaan kers opsteek het, is Alain de Benoist wie se “nuwe regse” beweging reeds in die sewentigerjare begin spoed optel het. In 1977 het hy ‘n boek gepubliseer, Vu de droite. Anthologie critique des idées contemporaines, (Copernic, 1977) wat die prys vir die beste essay of nie-fiksieboek van die jaar van die Franse Akademie in 1978 ontvang het. Enkele jare gelede het die weduwee van ‘n Vlaamse Afrikaner hier in Johannesburg die boek aan my geskenk en ek moet sê, dis ‘n fassinerende oorsig oor die idees van die twintigste eeu vanuit ‘n min of meer behoudende oogpunt.

Terwyl linkse denke dwarsdeur die Westerse wêreld en natuurlik veral in die Engelssprekende lande oorheers, stagneer dié denke oor rasse- en klassegelykheid ook. Oral in die media, op die internet en in boekpublikasies word die boodskap tot vervelens toe herhaal dat ons “almal net mense is” en dat ons na groter gelykheid tussen rasse en kultuurgroepe moet streef. Trouens, “gelykheid” is die natuurlike toestand van die mens en slegs rassisme en soortgelyke booshede is daarvoor verantwoordelik dat daar verskille in rykdom en intellektuele prestasie bestaan.

Vanweë die eenselwige en herhalende boodskap van Links, verbaas dit nie dat linkse akademiese publikasies by tye afgunstig na die genuanseerde en komplekse denke van die regtervleuel begin kyk nie. Die voorheen marxistiese tydskrif Telos, het byvoorbeeld al breedvoerig van Alain de Benoist se boeke bespreek.

‘n Insig van De Benoist is dat alle linkse denke, wat absolute gelykheid ten doel het, neig om verskille tussen mense te onderdruk of te misken:

  • verskille tussen kulture;
  • verskille tussen rasse en etniese groepe;
  • godsdiensverskille;
  • standverskille;
  • intelligensieverskille;
  • die verskil tussen man en vrou, of dan geslagsverskille;
  • verskille in smaak, styl en lewenswyse;
  • taalverskille, ens.

In vandag se Rapport argumenteer die visekanselier van Wits, prof. Adam Habib, wat voorheen hoof van die RGN in Suid-Afrika was, dat die bestaan van ‘n oorwegend Afrikaanse kampus te Potchefstroom onversoenbaar met die SA grondwet is! Blykbaar het hy reeds dieselfde standpunt in Beeld, wat die veldtog teen die Afrikaanstalige Pukke aanvoer, gestel.

Ons mág nie meer verskil nie. Punt. En tog weet selfs postmoderniste dat verskil die grondslag vir alle betekenis en menslike begrip is. In ‘n wêreld of ‘n heelal waarin alles dieselfde is en geen element of organisme meer van mekaar mag verskil nie, gaan ons terugsak in ‘n ongedifferensieerde oersop soos wat daar blykbaar miljarde jare gelede op aarde bestaan het. Ironies word diversiteit in die naam van “diversiteit” oral onderdruk.

Die reg op ‘n eie identiteit of op selfbeskikking is daarom niks minder as die reg om te mag verskil of anders te wees nie. Om ‘n blanke of ‘n Afrikaner in Suid-Afrika te mag wees, is taboe, maar tóg nodig indien ons die huidige beskawingskrisis in ons land, die gevestigde wanorde, wil oorleef.

Nog ‘n gedagte van De Benoist wat al lankal by my ook spook, is die wenslikheid van ‘n nasiestaat. Soos hy dit beskryf, tree die nasiestaat dikwels as ‘n “brutale, homogeniserende mag” op wat gelykheid, eenselwigheid en konformiteit op mense afdwing. Daarmee word gemeenskappe, tale en kulture onderdruk en op die duur uitgewis.

Iewers beskryf Breyten Breytenbach, wat destyds waarskynlik ‘n marxis was, die marxistiese ideaal van die “staat wat wegkwyn” as “die afvrot van die staat”. Nogal ‘n ironiese formulering. Tesame met konformisme en verdrukking, ervaar ons vandag veral die “afvrot van die staat” in Suid-Afrika in die gedaante van korrupsie, onbekwaamheid en wanbestuur wat drasties toeneem.

Ons natuurlike reaksie is om die hande in die lug te gooi. Hoe kan die ANC, SAKP, DA en ander linkse incubi ons pragtige Afrikanerstaat, asook ons eertyds netjiese, goed funksionerenede munisipaliteite so verniel?

Pleks daarvan dat ons die verval van die staat in ons land as ‘n ramp sien, verteenwoordig dit dalk vir ons as gemeenskap en as volk ‘n geleentheid om eie gemeenskapsinstellings naas die gevestigde wanorde te bedryf. Daardie instellings sal nie net wetlike of burokratiese strukture wees nie, maar uitvloeisels en vertakkings van ‘n lewende Afrikanerskap. Uiteindelik sal die staat ook sy vermoë verloor om ons belastings te in en sal ons vry wees om ons finansies na goeddunke in die belang van ons eie toekoms en dié van ons kinders te bestee.

Terwyl Alain de Benoist vyandig teenoor die nasiestaat staan, bewonder hy die werklike ryke van ouds, soos die Romeinse Ryk, die Heilige Romeinse Ryk, asook die Ottomaanse Ryk wat volgens hom nie as grondgebiede of territoria georganiseer is nie, maar rondom ‘n idee. In so ‘n ryk staan dit mens vry om jou eie taal te praat, eie gebruike en godsdiens te beoefen en as kultuurgemeenskap te mag voortbestaan.

Toenemend lyk dit asof ‘n nuwe Middeleeue op hande is. Die veiligheidsbuurte wat oor die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika, die VSA en elders gebou is, verteenwoordig die aanvang van nuwe “kastele” wat in die toekoms taamlik outonoom en geprivatiseer sal funksioneer. Afrikaans kan as taal teruggevoer word na die Germaanse skeepstaal wat vir handel tussen die Hansa-stede tussen 1300 en 1600 as lingua franca gebruik is. Dis net so min ‘n Khoisan-kreool as wat camembert-kaas ‘n Boesman-lekkerny is.

Ons heil mag in die totstandkoming van ‘n nuwe Europese wêreldryk lê wat vir ons as beskerming teen die multikulturele, oorlogsugtige VSA, enersyds, en China andersyds, kan dien. Marine Le Pen het reeds gesê dat sy liewer sou wou sien dat Frankryk en die res van die EU ‘n goeie verhouding met Rusland kweek as wat hulle soos tans slaafs die Amerikaanse strategie van ‘n nuwe koue oorlog teen Rusland navolg. Soos wat blankes dwarsdeur die wêreld ‘n kleiner en kleiner minderheid word, sal ons nie meer groot grondgebiede of nasiestate soos in die verlede kan beset nie, en sal ons eerder Promethiaans rondom ‘n idee moet groepeer.

Dit mag wees dat Jacob Zuma en Julius Malema vir ons ‘n groot bedreiging inhou. Maar ten eerste bedreig hulle die Suid-Afrikaanse nasiestaat self, wat dalk vinniger gaan verval as wat ons tans kan vermoed.

Die afvrot van die staat is nie iets om oor te weeklaag nie, maar om te verwelkom. Hoe minder beheer die staat oor ons uitoefen, hoe beter.