Sommige swart skole teken 2% in wiskunde aan

Deel op

City Press het gister berig dat daar ‘n “groot wiskundekrisis in die land heers met leerlinge regoor die land wat nie in staat is om 30% op ‘n gestandaardiseerde wiskundetoets te behaal nie”.

Daar is in 2013 ‘n nasionale assesseringstoetse geskryf om te bepaal hoe goed leerlinge kan lees en reken. In graad 9 kry 96% van leerlinge minder as 50% in wiskunde.

Daar is ook ‘n lys van skole gepubliseer wat die swakste gevaar het. Al die skole is Engelstalig en in swart woonbuurte geleë, met die uitsondering van die “Nuwe Hoop Sentrum” op Worcester in die Wes-Kaap waar leerlinge in graad 6 ‘n gemiddeld van 17% in wiskunde aanteken en drie jaar later in graad 9 slegs 3%. Sover praag kon vasstel, is die Nuwe Hoop Sentrum ‘n skool vir hoofsaaklik bruin doofstom kinders

In Gauteng is die “Kwa-Thema Skills School” een van die skole wat die swakste in wiskunde gevaar het. Die graad sesse is gemeet op 10%, terwyl hul ouer eweknieë in dieselfde skool, die graad 9’s, slegs 2% in die toets behaal het. Kwa-Thema is die swart woonbuurt tussen Springs en Brakpan.

Nkandla haal ook die nuus vir wiskunde en optel-en-aftrek, want in Kwazulu-Natal figureer die graad 3’s van die Enhlababo Comprehensive op dié dorpie heel onder in die provinsie met 7%.

Oor die algemeen het “slegte skole” in die wiskunde-assessering “tussen 1% en 5%” behaal. Volgens City Press toon die data wat hulle onder oë gehad het dat 2 411 skole landwyd se graad 9’s tussen 0% en 30% vir wiskunde behaal het. Dieselfde druipsyfer is deur graad 6’e in 429 skole aangeteken terwyl alle graad 3’s in 59 van die laerskole ook minder as 30% gekry het.

Limpopo is blykbaar die provinsie wat die swakste van almal vaar, want in die graad 9-toetse het 96% van alle leerlinge 30% of minder in wiskunde behaal. Ook die Noord-Kaap is nie ‘n provinsie wat wiskunde-PhD’s op groot skaal gaan oplewer nie, want 92% van leerlinge het insgelyks minder as 30% ontvang. Mpumalanga is net ‘n kortkop agter die Noord-Kaap met 91% wat onder 30% “presteer”.

Die onderwysdepartement blameer die swak wiskundepunte op “leerlinge wat toetse in Engels aflê terwyl die terme wat hul onderwysers in die klas gebruik anders is”.

Volgens Servaas van den Berg, ‘n ekonoom van die Universiteit van Stellenbosch, “vaar skole in Limpopo besonder swak volgens sekere standaarde.”

“Ons sien dit nie altyd in die matriekuitslae nie, want baie kinders verlaat die stelsel lank voordat hulle by matriek uitkom. Dis ‘n baie arm provinsie wat histories nie goeie opvoedingsvlakke gehad het nie.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.