BNP Paribas betaal boete van $9 miljard

Deel op
Soos daar verwag is, word die Franse bank BNP Paribas met $8,9 miljard (ongeveer R100 000 000 000) deur die Amerikaanse regering beboet. Die aankondiging is gisteraand deur die kantoor van die prokureurgeneraal van New York-staat gemaak. ‘n Advokaat van die Franse bank het in die hof skuldig gepleit op aanklagte van vervalsing van handelsdokumente en sameswering. Een van die aanklaers het verklaar dat BNP Paribas aandadig was aan ‘n “langtermynsameswering” wat in “verskeie jurisdiksies” plaasgevind het en die Amerikaanse sanksies teen die Soedan, Kuba en Iran oortree het.’Fout is gemaak’Mnr. Jean-Laurant Bonnafé, die algemene direkteur van die bank, het Vrydag reeds die werknemers van die bank in ‘n memorandum op die ergste voorberei. “Ek wil dit duidelik stel: ons sal swaar gestraf word. Omdat daar wanbestuur was en foute gemaak is.”

Die Amerikaanse ondersoekers het vasgestel dat die bank transaksies ter waarde van 30 miljard dollar uitgevoer en weggesteek het, hoofsaaklik by sy filiaal in Genève, Switserland. Die transaksies het handel in ru-olie met die lande behels.Omdat die ru-oliemark in dollar verhandel, moes BNP Paribas hom herfinansier by die Federale Reserwebank in New York, daarom ag die Amerikaanse departement van justisie dit as sou die transaksies oor sy grondgebied “beweeg” het en behoort die federale wet eerbiedig te gewees het, selfs al was die betalings nie onwettig daar waar hulle plaasgevind het nie: nóg Frankryk, nóg Switserland het tydens dié periode enige sanksies teen die Soedan, Iran of Kuba toegepas.Ander Europese banke was reeds die slagoffers van sogenaamde “dollar-imperialisme”. In 2012 moes die Nederlandse bank ING ‘n boete van $619 miljoen betaal omdat hy transaksies in dollar met Libiese, Birmaanse, Iranese en Kubaanse kliënte aangegaan het. Maar dit was nie naastenby so hoog soos die byna $10 miljard wat van BNP Paribas verlang word nie. Die Franse bank word swaarder as die ander gestraf omdat die bedrae groter was, asook omdat hy nie dié winsgewende handel gestaak het nadat hy deur die Amerikaners in kennis gestel is dat dit onwettig was nie.

‘Goeie nuus vir ons kliënte’

Vir Bonnafé is die ooreenkoms wat daar met die Amerikaanse regering bereik is, “goeie nuus vir al ons spanne en vir ons kliënte aangesien dit die onsekerheid wat op ons groep gerus het, uit die weg ruim”.

Die reuseboete sal nie tot die bankrotskap van die bank lei nie, aangesien dit min of meer ‘n jaar se winste verteenwoordig, maar dit gaan tog die solvensie en kapitaalsterkte van die bank raak. Sy verhoudings met institusionele beleggers mag ook in die gedrang kom. Sekere pensioenfondse mag nie in maatskappy belê wat teenoor die Amerikaanse gereg skuldig gepleit het nie. Dit was juis dié verhoudings waaroor daar nog ter elfder ure onderhandel is.

Buiten die boete, word BNP Paribas verbied om sekere transaksies in dollar uit te voer. Die bank sal vir een jaar nie handel in dollar mag dryf sover dit ru-olie en gas betref nie. Hierdie strafmaatreël sal in Januarie 2015 in werking tree. Intussen sal die bank tyd hê om alternatiewe reëlings te tref deur byvoorbeeld ‘n ander bank te kry wat as tussenganger vir sulke transaksies kan optree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.