Piet Croucamp dreig Johan van der Merwe met ‘doodstraf’

Deel op

Piet Croucamp, die “akademikus” van die Universiteit van Johannesburg wat deurentyd Afrikanersangers en -meningsvormers verdag wil maak, het oud-genl. Johan van der Merwe vertel dat hy eintlik die doodstraf verdien.

In ‘n e-pos aan Van der Merwe, die laaste blanke en Afrikaanse polisiekommissaris voordat die ANC en SAKP die land verower het, sê Croucamp:

“Indien hierdie land nie ‘n demokrasie was nie, het jy aan jou nek geswaai. En, terwyl ek met my hele hart teen die doodstraf is, sou ek myself kon forseer om vir eens weg te kyk en gods water oor gods akker te laat loop.”

Croucamp se reaksie geskied blykbaar na aanleiding van Johan van der Merwe se steun vir die vrylating van Eugene de Kock, soos hy dit in ‘n onlangse Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock gestel het.

In die aanvanklike gedeelte van sy e-pos skryf Croucamp:

“Johan, Vlok het vir Eugene kom vra daar in die gevangenis: Eugene, het ek jou ooit gevra om iemand dood te maak? Eugene se antwoord was, nee, maar jy het vir my medaljes gegee wanneer ek dit gedoen het. Jou een-dimensionele manier van na jou loopbaan kyk, maak van jou ‘onskuldig’ voor jouself en jou god. Maar, voor die mensdom is jy een van apartheid se politieke lafaards. Moenie Eugene betrek by jou drogredenasies nie.”

Hierop wou Van der Merwe hom nie regstreeks antwoord nie, maar het in ‘n kort boodskap terug aan Croucamp verwys na Spreuke 26:4 wat lui: “Antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.