praag.co.za

Alain de Benoist en ons gevestigde wanorde

Written by

in

,

Een van die grootste tragedies van die nuwe Suid-Afrika, benewens die geweld, moorde en die agteruitgang van Afrikaans, is die toenemende gebrek aan denke by Afrikaners. Terwyl vorige geslagte hulle gretig verdiep het in die beste van Westerse en Europese denke, dobber die huidige geslag op die oppervlak van die lewe: veramerikaniseer en oningelig.

Dan RoodtOok die Afrikanerpolitici soos FW de Klerk en sy nakomelinge het glad nie oor die aard van ons samelewing of moontlike toekomsscenario’s nagedink toe hulle polities voor die ANC en SAKP gekapituleer het nie. Wat ons moet verstaan, is dat die Afrikaner nooit sedert 1902 militêr verower is nie, maar wel weens ‘n gebrek aan denke tans sy ondergang beleef.

Die De Klerk-geslag, asook vandag se DA-politici, is volledig onder die invloed van die Amerikaanse en Sweedse smeltkroes-idee van die 1940s en 1950s. In weerwil van die groot veranderinge in ons land en in die wêreld, verkies hulle om die heersende ideologie van multikulturalisme en veelrassigheid, selfs die algemene antipatie jeens blankes, na te praat.

Wat vir politici geld, geld selfs in ‘n hoër mate vir skrywers, akademici en joernaliste. Ons het gesien hoe die koerant Beeld vroeër vanjaar die Universiteit van Potchefstroom beswadder het ten einde sy status as een van die laaste Afrikaanse enklawes in die hoër onderwys te beëindig. As ons aan die Afrikaanse letterkunde dink, spring ‘n figuur soos André P. Brink in die oog. Nie net skryf hy sy prulverhale oor historiese blanke boosheid in Engels en vertaal hulle agterna in Afrikaans nie, maar hy koester ‘n afkeer en moontlike haat vir sy eie mense. Tydens ‘n Franse TV-program het hy verklaar dat “Afrikaners verdien om te verdwyn”. Lord Milner kon dit nie beter gestel het nie.

Sekerlik was ons hele volk oor die afgelope aantal dekades die slagoffers van ‘n sielkundige oorlog en propagandaveldtog soos min in die geskiedenis. Hierdie propagandaveldtog mag die verwarring van die man op straat verklaar, maar nie die patetiese konformisme van die Afrikaner-elite nie.

Verengelsing vernietig nie net Afrikaans nie, maar ook ons vermoë om onafhanklik te dink. Ons kyk na die wêreld deur ‘n Amerikaanse bril en vind dit goed en mooi dat swartmense op alle gebiede soos in die Hollywoodfilms, leiersposisies moet beklee terwyl Europa as ‘n ou, agterlike vasteland waar mense snaakse tale praat, uitgebeeld word.

Afgesien van die lesers van hierdie webblad, is Afrikaners byna heeltemal onkundig oor die belangrike denkrigtings wat oor die afgelope dekade of meer in twee van ons stamlande ontstaan het: Nederland en Frankryk. Nederlands behoort vir elke Afrikaner toeganklik te wees, aangesien ‘n mens dit met min moeite kan lees en verstaan. Trouens, Afrikaans is eintlik maar sewentiende-eeuse Nederlands en Platduits wat ons Afrikaners so pragtig gestandaardiseer het. Met die koms van die internet, verteenwoordig Nederland-Vlaandere-Suid-Afrika eintlik een taalgebied waar variante van Nederlands gepraat en geskryf word.

Pim Fortuyn was onlangs die eerste Nederlander wat sy land daartoe opgeroep het om weer sy wortels en identiteit te herontdek. Nie verniet nie is daar ‘n sluipmoord op hom uitgevoer, maar sy boeke en nalatenskap is onvernietigbaar. Hy het die politieke en denkrevolusie in Nederland ontketen wat die opkoms van die Partij voor de Vrijheid (PVV) moontlik gemaak het. Sentraal by Fortuyn, asook sy geesgenoot, Martin Bosma, staan die kritiek op die Amerikaanse “sixties” en die linkse revolusie wat wêreldwyd op die hippie-tydvak gevolg het.

Onderliggend aan hierdie kritiek op Amerikaanse multikulturalisme en kulturele marxisme, is ook ‘n begeerte om te “verontengels”. Met die uitsondering van die jong koningin Wilhelmina wat saam met die Transvaal en die Vrystaat tydens ons Tweede Vryheidsoorlog gestaan het, het Nederland oor die afgelope twee eeue nog altyd die groter en sterker Brittanje se geopolitiek nagevolg. “Koninklijke Olie” heet nie verniet “Royal Dutch Shell” nie; dis ‘n half-Engelse, half-Nederlandse onderneming wat Nederland volledig aan Anglo-Amerikaanse beleid verbind.

Dit is daarom soveel te meer merkwaardig dat die PVV van Nederland en Franrkyk se Front National onlangs op die Europese vlak begin saamwerk het. Daar bestaan ‘n onderlinge samekoms van denke tussen die regse bewegings in albei lande wat vir ons en die hele Europese wêreld groot belofte inhou.

Ongelukkig is Frans nie meer vir Afrikaners, anders as Nederlands, toeganklik nie. Vroeër jare was dit wel onder Afrikaners mode om Frans te leer en is die taal ook in die meeste goeie Afrikaanse skole gedoseer. Met die koms van die internet en goedkoop aanlyntaalkursusse het ons egter geen verskoning meer om nie ook Frans en Duits onder die knie te kry en sodoende met ons stamlande weer ‘n intellektuele band te smee nie. Tans leer ek elke dag bietjie Sweeds en hoop om die taal teen die einde van die jaar te praat en te lees. Eintlik is dit nie so ver van Afrikaans af as wat ‘n mens sou dink nie. Vele woorde beskik oor dieselfde wortels en die grammatika is, vergeleke met Frans of Duits, taamlik eenvoudig, soos dié van Afrikaans!

In ‘n hoë mate hang ons oorlewing van ‘n meer intieme verhouding met Europa af. Dit is slegs wanneer ons van die nuanses van Europese denke bewus raak, dat ons sal besef dat daar wel vir ons ‘n uitweg uit die huidige doodloopstraat is waarin ons ons bevind.

Tot onlangs is Frankryk ironies gesien as die vesting van linkse en selfs dekadente denke. Die neomarxisme van Amerika is ten dele ook vanuit Frankryk daarheen uitgevoer. Slegs linkse of polities korrekte boeke in Frans is na Engels vertaal, wat verder die indruk gewek het dat Frankryk in wese, amper soos die voormalige Sowjetunie, ‘n linkse land was.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Soos ons onlangs gesien het, is Frankryk die enigste groot land met ‘n noemenswaardige politieke beweging wat onbeskaamd regs en nasionalisties is. Maar dit strek veel verder. Onbekend aan die res van die wêreld, of ten minste aan die Engelse wêreld, het daar in die twintigste eeu vele bewegings in Frankryk plaasgevind wat die grondslag vir nuwe denke oor identiteit en Europese voortbestaan geskep het. ‘n Hele skatkis van boeke en idees is die afgelope eeu en meer in Frans geproduseer wat nie net die huidige probleme met rasse en kulture vooruitloop nie, maar ook oplossings daarvoor aanbied.

Parys is ‘n stad van boekwinkels en skrywers. In die verlede was dit nie ongewoon vir Franse skrywers en denkers om binne een leeftyd negentig boeke te skryf nie! Dít met die pen of op ‘n tikmasjien sonder rekenaars. Nou die dag ontdek ek op my boekerak een van my pa se ou boeke, nogal in Afrikaanse vertaling, deur so ‘n skrywer van 91 boeke, André Siegfried, met die titel: Engeland se krisis in die 20ste eeu (Pretoria: Van Schaik, 1932). Hy was ‘n ekonoom en kenner van Engeland en bied in dié boek heeltemal ‘n ander perspektief as dié waaraan ons gewoond is. Geen wonder dat die boek in 1932 deur ‘n regsdosent aan Tukkies in Afrikaans vertaal is nie! Interessant is insgelyks dat Siegfried ‘n Protestant was en boonop ‘n titel in Frans oor Suid-Afrika geproduseer het. Het hy ‘n band met ons gevoel vanweë die Franse Protestante of Hugenote wat in die sewentiende eeu hierheen gekom en saam met die Hollanders en Duitsers saam-saam verafrikaans het?

Indien ons universiteite nie deur kranksinnige, anglofiele multikulturaliste beset was nie, sou ‘n klomp van dié Franse boeke deur akademici met regeringsubsidies of -befondsing in Afrikaans vertaal kon word, om dit sodoende vir Afrikaners toeganklik te maak. Helaas, gaan dit nie gebeur nie en sal ons eenvoudig self op die internet so ‘n ruimte moet open waar Franse idees opnuut in Afrikaans en onder Afrikaners bekendgestel kan word.

Tussen die twee wêreldoorloë was daar ‘n Franse beweging met die naam, die “Nonkonformiste”, wat uit jong intellektuele bestaan het. Blykbaar was hul gemiddelde ouderdom 25 jaar. Die avant-garde-skrywer, Maurice Blanchot, wat veel deur postmoderne teoretici aangehaal word, was blykbaar ‘n lid van dié groep, wat vir my persoonlik as ‘n verrassing gekom het. Hulle het hulself ook as die “Jong Regses” beskryf.

Een van die terme wat destyds deur die leidende Emmanuel Mounier gemunt is, was “die gevestigde wanorde”. Is dit nie presies waarmee ons vandag in Suid-Afrika te kampe het nie? Die gevestigde wanorde? Verder het die nonkormiste sterk gevoel dat Frankryk in die 1930s besig was om ‘n “beskawingskrisis” deur te maak. Met Suid-Afrika se verval in plaasmoorde, geweld en agteruitgang, kan ons seker dieselfde van ons land in die 2010s sê.

‘n Groot hedendaagse Franse filosoof en politieke denker wat by die nonkonformiste gaan kers opsteek het, is Alain de Benoist wie se “nuwe regse” beweging reeds in die sewentigerjare begin spoed optel het. In 1977 het hy ‘n boek gepubliseer, Vu de droite. Anthologie critique des idées contemporaines, (Copernic, 1977) wat die prys vir die beste essay of nie-fiksieboek van die jaar van die Franse Akademie in 1978 ontvang het. Enkele jare gelede het die weduwee van ‘n Vlaamse Afrikaner hier in Johannesburg die boek aan my geskenk en ek moet sê, dis ‘n fassinerende oorsig oor die idees van die twintigste eeu vanuit ‘n min of meer behoudende oogpunt.

Terwyl linkse denke dwarsdeur die Westerse wêreld en natuurlik veral in die Engelssprekende lande oorheers, stagneer dié denke oor rasse- en klassegelykheid ook. Oral in die media, op die internet en in boekpublikasies word die boodskap tot vervelens toe herhaal dat ons “almal net mense is” en dat ons na groter gelykheid tussen rasse en kultuurgroepe moet streef. Trouens, “gelykheid” is die natuurlike toestand van die mens en slegs rassisme en soortgelyke booshede is daarvoor verantwoordelik dat daar verskille in rykdom en intellektuele prestasie bestaan.

Vanweë die eenselwige en herhalende boodskap van Links, verbaas dit nie dat linkse akademiese publikasies by tye afgunstig na die genuanseerde en komplekse denke van die regtervleuel begin kyk nie. Die voorheen marxistiese tydskrif Telos, het byvoorbeeld al breedvoerig van Alain de Benoist se boeke bespreek.

‘n Insig van De Benoist is dat alle linkse denke, wat absolute gelykheid ten doel het, neig om verskille tussen mense te onderdruk of te misken:

  • verskille tussen kulture;
  • verskille tussen rasse en etniese groepe;
  • godsdiensverskille;
  • standverskille;
  • intelligensieverskille;
  • die verskil tussen man en vrou, of dan geslagsverskille;
  • verskille in smaak, styl en lewenswyse;
  • taalverskille, ens.

In vandag se Rapport argumenteer die visekanselier van Wits, prof. Adam Habib, wat voorheen hoof van die RGN in Suid-Afrika was, dat die bestaan van ‘n oorwegend Afrikaanse kampus te Potchefstroom onversoenbaar met die SA grondwet is! Blykbaar het hy reeds dieselfde standpunt in Beeld, wat die veldtog teen die Afrikaanstalige Pukke aanvoer, gestel.

Ons mág nie meer verskil nie. Punt. En tog weet selfs postmoderniste dat verskil die grondslag vir alle betekenis en menslike begrip is. In ‘n wêreld of ‘n heelal waarin alles dieselfde is en geen element of organisme meer van mekaar mag verskil nie, gaan ons terugsak in ‘n ongedifferensieerde oersop soos wat daar blykbaar miljarde jare gelede op aarde bestaan het. Ironies word diversiteit in die naam van “diversiteit” oral onderdruk.

Die reg op ‘n eie identiteit of op selfbeskikking is daarom niks minder as die reg om te mag verskil of anders te wees nie. Om ‘n blanke of ‘n Afrikaner in Suid-Afrika te mag wees, is taboe, maar tóg nodig indien ons die huidige beskawingskrisis in ons land, die gevestigde wanorde, wil oorleef.

Nog ‘n gedagte van De Benoist wat al lankal by my ook spook, is die wenslikheid van ‘n nasiestaat. Soos hy dit beskryf, tree die nasiestaat dikwels as ‘n “brutale, homogeniserende mag” op wat gelykheid, eenselwigheid en konformiteit op mense afdwing. Daarmee word gemeenskappe, tale en kulture onderdruk en op die duur uitgewis.

Iewers beskryf Breyten Breytenbach, wat destyds waarskynlik ‘n marxis was, die marxistiese ideaal van die “staat wat wegkwyn” as “die afvrot van die staat”. Nogal ‘n ironiese formulering. Tesame met konformisme en verdrukking, ervaar ons vandag veral die “afvrot van die staat” in Suid-Afrika in die gedaante van korrupsie, onbekwaamheid en wanbestuur wat drasties toeneem.

Ons natuurlike reaksie is om die hande in die lug te gooi. Hoe kan die ANC, SAKP, DA en ander linkse incubi ons pragtige Afrikanerstaat, asook ons eertyds netjiese, goed funksionerenede munisipaliteite so verniel?

Pleks daarvan dat ons die verval van die staat in ons land as ‘n ramp sien, verteenwoordig dit dalk vir ons as gemeenskap en as volk ‘n geleentheid om eie gemeenskapsinstellings naas die gevestigde wanorde te bedryf. Daardie instellings sal nie net wetlike of burokratiese strukture wees nie, maar uitvloeisels en vertakkings van ‘n lewende Afrikanerskap. Uiteindelik sal die staat ook sy vermoë verloor om ons belastings te in en sal ons vry wees om ons finansies na goeddunke in die belang van ons eie toekoms en dié van ons kinders te bestee.

Terwyl Alain de Benoist vyandig teenoor die nasiestaat staan, bewonder hy die werklike ryke van ouds, soos die Romeinse Ryk, die Heilige Romeinse Ryk, asook die Ottomaanse Ryk wat volgens hom nie as grondgebiede of territoria georganiseer is nie, maar rondom ‘n idee. In so ‘n ryk staan dit mens vry om jou eie taal te praat, eie gebruike en godsdiens te beoefen en as kultuurgemeenskap te mag voortbestaan.

Toenemend lyk dit asof ‘n nuwe Middeleeue op hande is. Die veiligheidsbuurte wat oor die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika, die VSA en elders gebou is, verteenwoordig die aanvang van nuwe “kastele” wat in die toekoms taamlik outonoom en geprivatiseer sal funksioneer. Afrikaans kan as taal teruggevoer word na die Germaanse skeepstaal wat vir handel tussen die Hansa-stede tussen 1300 en 1600 as lingua franca gebruik is. Dis net so min ‘n Khoisan-kreool as wat camembert-kaas ‘n Boesman-lekkerny is.

Ons heil mag in die totstandkoming van ‘n nuwe Europese wêreldryk lê wat vir ons as beskerming teen die multikulturele, oorlogsugtige VSA, enersyds, en China andersyds, kan dien. Marine Le Pen het reeds gesê dat sy liewer sou wou sien dat Frankryk en die res van die EU ‘n goeie verhouding met Rusland kweek as wat hulle soos tans slaafs die Amerikaanse strategie van ‘n nuwe koue oorlog teen Rusland navolg. Soos wat blankes dwarsdeur die wêreld ‘n kleiner en kleiner minderheid word, sal ons nie meer groot grondgebiede of nasiestate soos in die verlede kan beset nie, en sal ons eerder Promethiaans rondom ‘n idee moet groepeer.

Dit mag wees dat Jacob Zuma en Julius Malema vir ons ‘n groot bedreiging inhou. Maar ten eerste bedreig hulle die Suid-Afrikaanse nasiestaat self, wat dalk vinniger gaan verval as wat ons tans kan vermoed.

Die afvrot van die staat is nie iets om oor te weeklaag nie, maar om te verwelkom. Hoe minder beheer die staat oor ons uitoefen, hoe beter.

Comments

37 responses to “Alain de Benoist en ons gevestigde wanorde”

  1. leonlemmer Avatar
    leonlemmer

    Net soos ek teleurgesteld was met die uitslag van die 2014-verkiesing, is daar by my soms ‘n onbehae oor die min reaksie wat belangrike kommentaar op Praag ontlok. Die bogenoemde teks het soveel breedte en diepte, is so gesaghebbend en goed ingelig, dat dit nie sonder positiewe kommentaar verby behoort te gaan nie. As die skrywer nie-wit was en Engels of, soos bv Trantraal, Kaaps geskryf het, sou allerhande vererings en oorsese uitnodigings hom te beurt geval het. Let op die vloeiende taal waarin Dan Roodt hom glashelder in rubriek na rubriek uitdruk. Hy verdien ‘n joernalistieke bekroning van bv die SA Akademie of die FAK. Politiek en pigmentasie staan egter in die weg hiervan.
    Deesdae word die plaaslike skoolkinders verplig om ‘n swart taal te leer. Dit is onbillik om dit van Europees-georienteerde skoliere te verwag omdat hulle geestelik baie meer daarby sal baat om ‘n verdere Europese taal aan te leer. Roodt stel ‘n navolgenswaardige voorbeeld deur nou Sweeds naas Frans en ander Europese tale aan te leer. Dit laat my dink aan Albert Schweitzer (waaroor ek hoop om volgende naweek te skryf) wat naas Duits en Frans ook Engels wou aanleer. Hy het verseg om ‘n Afrika-taal te leer omdat dit hom kultureel geensins sou baat nie.

    1. Trippie Avatar
      Trippie

      Leon, ek deel jou sentimente 100% – spesifiek jou inleiding (eerste sin).

      Vergeet jouself asseblief nie as ‘n uitmuntende rubriekskrywer, al jou navorsing, en uitstekende taalgebruik, net soos Dr Roodt. Mense soos julle wat my ‘n TROTSE Blanke, Afrikaanssprekende, Christenvrou maak en mens se lewe verryk.

      Doen so voort.

    2. jacobmouw Avatar
      jacobmouw

      Pentagon leer nou Zoeloe.

      1. Riempies Avatar
        Riempies

        Die Pentagon gaan sukkel 😉 Zuloe het nie genoeg woordeskat om n sinvolle sin te skryf nie.

        1. JAVR Avatar

          Solank jy “stort” kan sê is jy die taal Zoeloe magtig Riempies.

      2. Dolk Avatar

        Met Barack Hussein Obama daar? Vanselfsprekend…

  2. Andy Avatar
    Andy

    Wat n besonderse stuk om te lees, en weer te lees, en jou eie te maak ten opsigte van sekere stellings wat gemaak word.
    Dit is natuurlik in die kleine alreeds besig om te gebeur in sekere munisipaliteite waar blankes net besluit het “dit is genoeg” en sekere dienste oorgeneem het en beplanning doen en herstelwerk doen sover hulle finansies hulle kan ondersteun.
    Miskien is die “afvrot van die staat” n bedekte seën, en moet ons dit maksimaal begin benut met die doel van die idee. Om uiteindelik weer ons eie taal te kan praat, en ons eie gebruike en godsdiens te beoefen en as kultuurgemeenskap te kan voortbestaan.
    Daar moet egter nie gewag word nie. Hoe vinniger daar beplan en georganiseer word hoe beter. TYD is van uiterste belang.

  3. Trippie Avatar
    Trippie

    UITSTEKENDE rubriek Dok. Lekker gelees, gemaklik, dog baie professioneel, en ek het ten minste 2 nuwe woorde hier raakgelees (of dalk is ek net oningelig).

    Al wat ek EIS, is, dat ons oor onsself regeer, onsself ekonomies handhaaf en dat ons ‘n gebied sal identifiseer wat ons in die volgende baie belangrike opsigte akkommodeer, naamlik :

    1. Geloof
    2. Taal
    3. Ons politieke denkwyse

    Kortom, ons eis SELFBESKIKKING – en verloor nie uit die gedagte, SLEGS Blanke arbeid.

  4. Trippie Avatar
    Trippie

    Alles wat ons as Boervolk graag wil bereik, is MOONTLIK, maar dan ontstaan die vraag, hoeveel Boere sit en praat net oor ons probleme, hoeveel van ons mense is bereid om op te staan vir wat ons reg is, wag elkeen van ons vir iemand om die voortou te neem, waarom staan JY / EK nie op en wees ‘n leier, elkeen van ons is tog leiers in eie reg, dan nie ?

    Ek moet eenvoudig hierdie deel :

    “Siener van Rensburg het gesê: Voordat ons ‘n Boererepubliek gaan kry, wag daar ‘n bitter tyd op ons. In 1914 met die Rebellie, het ons (die Boere wat hulle nie met die Regeringsbeleid kon vereenselwig nie) deur ‘n sif gegaan. Dié keer gaan ons deur ‘n smeltkroes. Ek het toe ook vir julle gesê ek sien die tyd is donker, want as ek op my perd sit, kan ek nie sy maanhare sien nie, maar in die moeilike tyd wat kom, sal dit so donker wees dat ek nie my hand voor my oë kan sien nie. Maar vir ons wat weet, sal dit nie so ‘n donker tyd wees nie.

    Siener het reeds in 1916 aan Boy Mussmann gesê: Daar kom ‘n tyd dat ek weer baie in die nuus sal wees. In daardie tyd sien ek baklei ons nog onder mekaar, toe is als meteens verby, en sit ons met ‘n swart regering. Dan eers begin die Afrikaner se laaste, maar ook sy felste stryd.”

  5. Riempies Avatar
    Riempies

    Dok Dan daar is soveel aspekte wat aangeraak word dat ek maarvoorlopig net die een sal uitlig wat my in n posisie plaas om darrem ons Afrikaners tot n sekere mate te kan verdedig. Die demografie van die Afrikaner is waarlik ons grootste inhibeerder om daadwerklik op te tree, daarom is ek so
    dwingend vir Selfbeskikking waardeur ons dan tot n sekere mate weer beheer oor ons eie lewens en
    lewensomstandighede kan kry.

    Deur bv. ons eie munisipale dienste skole en onderrigsentrums kan bestuur met ons eie geld. Die swakere gekondisioneerde, nie-denkende identiteitlose Afrikaner is nie werklik in die meerderheid nie – ek dink dit wil maar net so voorkom omdat hulle deur naarpers voorsien word met seepkissies.

    Verstedeliking het ongetwyfeld n diaboliese invloed op ons mense maar veral ons jeug – met die onbeheerde dwelmhandel en hole waar kinders genoodsaak word om hulle energie te gaan verspil. Dit is egter waar die geld is – maar as daar alternatiewe is van geleentheid om te werk en te studeer en te speel – sal hierdie kinders weer n geleentheid kry om die rykdom van Afrikaner wees herontdek sonder – die behoefte om met n swarte aan hulle sy – om “in” wees en belangrik te voel. In kantonne kan n mens weer saam met vriende in veiligheid n vleisie braai en kinders die geleentheid gee om rond te hardloop en die jongmense om dinge te doen wat hulle geniet.

  6. emiel Avatar
    emiel

    Gister was mos die herdenking van die moord op die aartshertog Franz Ferdinand wat gelei het tot die Eerste Wêreldoorlog. Ná die oorlog is arbitrêre lyne in die sand getrek en nasie state is uit niks geskep in Europa, Afrika en die Midde-Ooste. Vadag bestaan die ou Yugoslavia en die Sowjet-Unie nie meer nie en ‘n dosyn of wat nuwe nuwe nasie state het in Oos-Europa tot stand gekom. Koloniale nasie state in Afrika en die Midde-Ooste is vinnig besig om uitmekaar te val, en die weste se vermoë om die status quo te handhaf verminder daagliks Dit is ‘n groot jammerte dat Afrikaners intussen hulle kosbare tyd op onproduktiewe foefies soos parlementêre politiek besig te hou inplaas van ekonomies selfstandigheid en fisiese sekuriteit.

  7. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    Ek stem volkome saam met u slotparagraaf, dr.Roodt: Hoe gouer die Suid-Afrikaanse staat afvrot hoe beter. Aan die ander kant is ek minder entoesiasties oor die uitgespeelde rol van die nasiestaat. Die nasiestaat is dit waaroor dit juis nou in Europa gaan. Marine Le Pen se lewensroeping is juis om die Franse nasiestaat in ere te herstel, teenoor die burokratiese, amorfe en siellose Europese Unie. Die Suid-Afrikaanse staat verdien om af te vrot juis omdat dit nie ‘n nasiestaat is nie. Tensy ‘n mens die “rainbow nation” as ‘n volk wil beskou. En ek weet u sal nie daardie fout maak nie!

  8. jacobmouw Avatar
    jacobmouw

    Zoeloes sal Suid Afrika vir ten minste nog 20 jaar regeer.

    1. Andy Avatar
      Andy

      RED ONS DAARVAN GROOT ASSEBLIEF. (;)

      1. Dolk Avatar

        Aitsa! Welkom terug! :-))

    2. Riempies Avatar
      Riempies

      Dink jy dat die water en voedsel so lank gaan hou? 😉

      1. JAVR Avatar

        Nee wat Riempies, nie met die plase wat een van die dae die werkers s’n word terwyl die witman vir alles moet betaal nie! GEEN MANIER daar gaan kos wees nie! Water is LANKAL nie meer drinkbaar nie! Ons het maar net ons gestel so aangepas dat ons die gemors wat hulle water noem kan drink!

  9. antonie Avatar
    antonie

    Die skrif is teen die muur. Die anc Moet verander en gou,ook, of hulle gaan nie baie jare lank in beheer bly nie met die toeneemende werkloosheid, die oop grense die totaal onkeerbare aanwas ,die krimpende ekonomie,slegte grondhervorming,misdaad ens.

    1. Dolk Avatar

      Verseker is jy by die verkeerde webwerf met daardie bekommernis van jou? Wat laat jou dink dat die Afrikaner gepla is oor die ANC se mislukkings?

    2. betzie Avatar
      betzie

      Die ANC verander ? Absurde gedagte .

      1. Dolk Avatar

        Wat vir my die eenvoudig-absurdste is, is die woorde: “Die anc Moet verander en gou,ook, of hulle gaan nie baie jare lank in beheer bly nie…”

        What the flip!!!

      2. Riempies Avatar
        Riempies

        Jy het my nou lekker laat giggel – “absurde gedagte” feestelik.

        1. betzie Avatar
          betzie

          In ‘ absurde drama ‘ praat die mense dikwels by mekaar verby en weerspreek hul woorde die aksie wat op die verhoog plaasvind . So speel die hanswors ook n belangrike rol . Wat in hierdie land aangaan , is soos n gekke , absurde hansworsery . As die meeste mense aan die ongemaklike realiteit herinner word , val hulle papsak-agtig op hul vertroude sofa neer en word suurstofloos benewel
          deur die opgepofte fluweelkussings .

          1. Riempies Avatar
            Riempies

            Betzie weet jy wat vind ek deesdae effektief met hierdie soort van mense – ek kyk net so stadig op na hulle tot hulle my in die oë kyk met so n beterweterige glimlag – sonder om n woord te sê en oor die algemeen begin hulle dan alhoemeer verduidelik maar ek sê nogsteeds nie n woord nie en hou net aan met kyk vir hulle en dan praat ek oor die weer. Aan die einde het ek hulle gemanipuleer om self te dink en uiteindelik hulle self te korrigeer. ;-)))

          2. JAVR Avatar

            He he he!!! Dit moet gedoen word! More Riempies!

    3. Karel Combrinck Avatar
      Karel Combrinck

      Ons wil nie hê hulle moet verander nie. Ons wil hê hulle moet dieselfde bly sodat ons begeerte om onder hulle juk uit te kom kan groei.

      1. Dolk Avatar

        Soos om ‘n pienk-gestrikte, ongewenste platneus-brakkie ongemerk van die buurman se rusbank af te sit… (Hoe klink my figuurlik dan nes my letterlik hier?!) Sonder om ‘n oog te knip – praat nie van die lui, skewebek, oeps-oogknippie aan die brakkie nie…

        1. Andy Avatar
          Andy

          Bie liries moet ek sê. (:-/ )

      2. Andy Avatar
        Andy

        Karel, jy hoef gladnie slapelose nagte hieromtrent te beleef nie. Die ANC sal in der ewigheid nooit kan of WIL verander nie.
        Dus kan ons sonder om onrustig rond te kyk voortgaan met groei in begeerte tot vryheid.

    4. Dolk Avatar

      Hmmmmm…. Ek ruik ‘n Zombie. 😉

    5. Riempies Avatar
      Riempies

      Dit is seker so – vanuit n logiese denke maar die feit is – hulle kan nie verander van wat hulle alreeds is nie, dus sal hulle agteruitboer tot hulle deur hulle eie mense onttroon gaan word.

  10. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    Dr Roodt daar is te midde van alles darem een klein vertroosting. As ons universiteite deur “kranksinnige, anglofiele multikulturaliste” beset was, is daar nou ten minste een minder.

  11. jan Avatar
    jan

    Tom Peters het die boek ‘Thtiving on Chaos’ gepubliseer saam met die Helderberg ramp. [Ek onthou dit so omdat ek daai boek op die Taiwan lughawe gekoop het terwyl ons gewag het vir die sekuriteits sirkus ]

    Wat hy basies beskryf is hoedat mens in die nuwe selfbeskikkingsorde, bevel / gesag moet / kan neem sonder aanspreeklikheid. { Taking charge without accountability]. Soos Sorros bv sy pap skep in chaos. Ook soos wat die giftige tabakindustrie in hospitale belê. ens ens.

    Hierdie skyn van oordentlikheid is maar die moderne baadjie van die barbaarse gewapende roof en volksmoord van die ABO.deur gay vrymesselaars.

    Want die mark is ‘n geratte sindikaat asteware en baie gesofistikeerd wat as wapen aangewend word..

    Maar dis niks anders as terreur nie :- en daar het Tom ‘n helse diaboliese probleem want toe ontwikkel daar ‘n Wêreld Blair-Bush-oorlog teen terreur

    Want al die Outatollas en Makatese en BEE-EFF-Offs wil nou in bevel wees sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd.

    1. Riempies Avatar
      Riempies

      Lekker raakvat kommentaar hierdie van jou – maar wil ek ook sê – “Taking charge without
      accountability” het anders as in n eerstewereld omgewing – sy eie unieke probleme vir n derderwereld regering ;-))

      1. jan Avatar
        jan

        Ja Riempies – dis soos om Kees die werfbobbejaan trieks te leer – altyd die grootste bron van vermaak / humor.

        Die NP/ AB was ook maar werfbobbejane maar net ‘n uiterste tragedie en patos!!- wanneer daar nie meer trane is nie

        Laat hulle hulself besig hou met Swart snert trieks terwyl ons met die Orania konsep met vreugde hol soos wat Lood de Jager pale toe gehol het!!!!

        Wat ‘n vreugde was dit nie!! HMM!!

        1. Riempies Avatar
          Riempies

          Ek het nou onlangs n redelike volledige verslag oor Orania gelees, mensig maar hulle het n sterk fondasie gebou niks en niemand gaan hulle uitlig uit hulle posisie nie. Eintlik funksioneer hulle al soos n selfstandige kanton met selfbeskikking en sterk oppad na eksterne selfbeskikking met die onderbou reeds inplek. Jan met ons achileshak van demografie wat ons so
          kniehalter – moet ons begin kers opsteek by Orania wat dit briljant gedoen het.

  12. jan Avatar
    jan

    Ek het die voorreg gehad om Johannes Kepler se museum in Regensburg te besoek.
    Wat ‘n kragtoer van intelek!! Juslaaaaik julle moet dit sien
    Die ou het egter volgens sy eie getuienis na 50jaar al sy werk oor planetere bewegings soos kruiwaens vol s** weggegooi en van voor af begin dink oor die bewegings van die planete en die aarde en die son ens. Toe formuleer hy 3 fomules oor wat tot vandag toe alle ruimte reise moontlik maak.
    Net soos Paulus se Damaskus openbaring sal ons Afrkaners nie die eerste of laaste wees om die drek van die verlede weg te gooi en nuut te dink oor OU goed nie.

    Ons op Orania glo en hoop dat met die nodige liefde ons die formule van oorlewing besig is om te ontwikkel.

Leave a Reply