Niël Barnard se outobiografie ontbloot NP-rugstekery

Die spioenbaas, Niël Barnard, se outobiografie Geheime Rewolusie – memoires van ‘n spioenbaas, wat pas by Tafelberg verskyn het, is ‘n teleurstellende boek en sal slegs aanklank vind by diegene wat nie toegang tot die internet of ander eietydse nuusbronne het nie. Dit is veral gerig op ‘n bejaarde gehoor wat slegs Naspersnuus moet verteer. Die boek laat meer vrae as wat dit antwoorde verskaf en verteenwoordig die jongste vergoeiliking van die eerlose oorgawe waarmee Afrikaners vandag worstel.

Behalwe ‘n kort sin oor Edward Snowden se “verraad” teenoor die VSA, lyk dit nie of die afgelope 20 jaar by NI se vorige hoof geregistreer het om gebeure van vroeër in te kleur of perspektief te gee nie.

Outeur: Niël Barnard, soos vertel aan Tobie Wiese
Titel: Geheime revolusie – memoires van ‘n spioenbaas
Uitgewer: Tafelberg, 2015
ISBN 978-0-624-06614-9
Prys: R257

Barnard het sy eie betrokkenheid by die magsoorgawe van 1994 aan die joernalis Tobie Wiese oorvertel. Alhoewel daar met Wiese se besonder keurige Afrikaans nie fout te vinde is nie, word dit algaande in sy outobiografiese vertelling duidelik dat Barnard, uit hoofde van sy voorkeurposisie, namens Nelson Mandela met Afrikaners onderhandel het en nie andersom nie!

In sy voorwoord prys Hermann Giliomee die ordelikheid waarmee die revolusie gevoer is, as ‘n pluimpie vir PW Botha se greep op die veiligheidsmagte en vergelyk dit met die onverkwiklike toedrag van sake in byvoorbeeld hedendaagse Sirië, waar chaos heers. Sonder ‘n “stabiele politieke platform” sou die “skikking haas onmoontlik gewees het”, meen Giliomee.

In dié opsig is Johan van der Merwe se insigte oor dieselfde tydperk in sy outobiografie Trou tot die dood toe, van veel groter waarde, aangesien dit juis is wat Van der Merwe heelwat vroeër reeds in fyn besonderhede toegelig het. Van der Merwe ly ook gelukkig nie aan dieselfde verwaandheid as Barnard nie.

Steurend veral is die spioenbaas se selfingenome klem op sy meerdere insigte en oordeel, terwyl daar nie eintlik genoeg voorbeelde daarvan in die boek en in die werklikheid gelewer word nie.

Op bladsy 245 sê Barnard selfs dat “Madiba” sy uitnemende eienskappe waarna hyself gestreef het, raakgesien het: Dié van ‘n patriot wat agter die skerms die grondslag vir die nuwe Suid-Afrika gelê het. Beskeie is Barnard beslis nie.

By die voormalige NI-baas self is daar feitlik geen toeligting van hoe veiligheidshefbome by die magsoorgawe uitgeskakel is nie. Terwyl hy vertel dat sy grootste uitdaging was om die veiligheidsmagte te ondermyn sodat die “geheime revolusie” kon plaasvind, soos dit by die eerste vergadering in Simonstad met verteenwoordigers van militêre inligting en die polisie geblyk het, bly hy liewer by ad-hominem-opmerkings soos “Vuil Uil” wat geen verdere lig op die proses werp nie.

En van “proses” gepraat. Dit is bekend dat die ANC by die onderhandelinge die gesprekke doelbewus van inhoud na proses gestuur het sodat die NP-onderhandelaars mislei kon word. Barnard gee geen blyke dat hy kennis dra hiervan nie.

Mandela moes as ‘n geloofwaardige leier by swartes voorgehou word en daarom kon die ou gevangene glo nie sonder meer geweld afsweer nie, aldus Barnard. Ons weet intussen dat geweld en misdaad onrusbarend toegeneem het ná Mandela se vrylating, asook die vrylating van sogenaamde “politieke” gevangenes.

Die mees verstommende van die outobiografie en ‘n verklaarde intieme vriendskap met PW Botha, is dat Barnard steeds nie weet dat PW Botha vergiftig is nie. Volgens hom het die president ‘n beroerte-aanval gehad wat allesbehalwe “lig” was. Barnard het glo homself “doelbewus weggehou” van die stryd om ‘n nuwe leier aan te wys.

Enkele paragrawe later erken Barnard egter skalks dat FW de Klerk, die opvolger, daarna nie ingelig is oor NI se besluit om met Thabo Mbeki in Londen te gaan beraadslaag nie. Dié besluit is eensydig deur die Staatsveiligheidsraad geneem, sonder FW se medewete. Barnard se adjunk en oud-Sap, Mike Louw, was glo daarvoor verantwoordelik.

Barnard spog ook dat hy die “gesiene filosoof”, Boerehater Willie Esterhuyse vir “Operasie Flair” ontplooi het om Mbeki te nader oor “ernstige” Afrikaner-oorgawe. Dit is sekerlik nie ‘n besondere kuns om so-iets te vermag nie.

Dit is die beste aanduiding nog dat Barnard eerder namens sekere duistere belange onderhandel het om Afrikanermag die nekslag toe te dien. Of hy dit self besef, is nie duidelik nie, want hy lê deurentyd gemoedelike klem op sy Afrikanerskap.

Dit laat die vermoede verder toeneem dat NI die revolusie as ‘n openbare advertensieveldtog bedryf het en dat die “geheime revolusie” ‘n oorgawe aan ‘n paar oligarge was wat die land intussen na hartelus geplunder het, maw ‘n soort bestel waarin selfs swart kiesers min invloed uitoefen ten spyte van “demokrasie” en waarin Afrikaners absoluut geen seggenskap meer het of op soewereiniteit kan aanspraak maak nie.

Terwyl die spioenbaas voorgee dat hy as “patriot” in landsbelang opgetree het, raak dit uit die boek duidelik dat landsbelang nie noodwendig met Afrikanerbelang ooreenstem nie en kennelik vandag nie eers naastenby oorvleuel nie. Dit weerhou Barnard nie van ‘n onkritiese beskouing van sy aandeel daarin nie, ten spyte van sy gewaande Afrikanerskap.

En dit is juis hierdie soort gemeenplase oor “vrede” en “Madiba” wat kwelvrae oor die dawerende stiltes in die boek laat.

Steurend ook is die verwysings na “regses”, dws gewone kritiese Afrikaners, en ‘n snobistiese afkeer van Paul Kruger omdat sy maniere nie aan Britse standaarde voldoen het nie. Tussen die reëls is Barnard immer besig om sy eie ontoereikendheid te besweer. ‘n Skroomvallige spioen?

‘n Resensie kan die outeur se analitiese integriteit op ’n lagwekkende wyse aan die kaak stel, soos dit blyk uit Piet Kopdoek se probeerslag “Geheime revolusie: ‘Spioenbaas’ se kampvuurstories“, waarin hy sy “indrukke” – eintlik vooroordele in krampagtige Afrikaans – oor die boek weergee. Maar dit kan ook verder as ‘n blik op oorgawe dien.

Die Kopdoek, resensent Piet Croucamp, is danksy die spioenbaas se oorgawe in die kalklig, maar soos die Engelse spreekwoord lui: “Never a good deed shall go unpunished.” Ten spyte daarvan dat die Doek vandag salig in die walms van die ANC baai, wat as’t ware ‘n produk van Niël Barnard se ywer is, snobeer die Doek die spioenbaas!

Die “staatsamptenaar” se “vervlakking” wat nie “komplekse nuanses” toelaat nie, soos die Doek hom toesnou, het ten minste oorgenoeg ruimte gelaat vir Kopdoek-preke waarin die resensent so oorhoops raak oor sy meerderwaardigheid, dat hy nie veel oor die boek self sê nie, maar by Barnard se menslike gebreke bly.

Dit is klaarblyklik ‘n kwaal van oorgawe: Barnard se dankbaarheid teenoor PW Botha wat hom as 30-jarige in ‘n sleutelpos aangestel het, is beloon met ‘n dolk in PW se rug. Kopdoek se houding teenoor Barnard spreek van dieselfde stank vir dank.

Ope brief aan Piet Croucamp

Geagte Piet Croucamp,

U skrywe aan Johan van der Merwe spreek van presies die soort onverdraagsaamheid en fanatisme wat soveel van ons al genoop het om regdeur die huidige “demokrasie” te sien.

Oud-genl. Van der Merwe se opleiding in die polisiekollege blyk van hom veel meer van ‘n regsgeleerde en intellektueel te gemaak het as u nuwe-Suid-Afrika-PhD wat u blykbaar op sekulêr-godsdienstige geloofsgronde verwerf het. Bekering en fundamentalisme speel in u geval ‘n groter rol as enige kennis of logiese denke.

Die breedvoerige standpunt wat Johan van der Merwe uiteengesit het, beide in sy ope brief aan mev. Zille en sy memorandum “The Conflict of the Past: A Factual Review” is gegrond op eeue oue Westerse beginsels in die wysbegeerte en ons Romeins-Hollandse reg, naamlik dat elkeen op gelyke behandeling geregtig is. Daarmee saam, dat morele beginsels insgelyks nie van dubbele standaarde gebruik moet maak nie. En dan die audi alterem partem-reël wat daaruit voortvloei, naamlik dat elkeen in ‘n saak aangehoor moet word en dat ‘n eensydige relaas oor ‘n voorval of selfs die geskiedenis onaanvaarbaar is.

U rol om sowel individuele Afrikaners as ons hele volk en kultuurgroep te probeer verdag maak, lyk al hoe meer bedenklik, selfs sinister. Kennelik word u iewers vergoed of ten minste vereer vir u verbete pogings om sensuur op ons toe te pas.

Verlede jaar het u die heksejag op dr. Louise Mabille van Tukkies ontketen, meer onlangs Steve Hofmeyr probeer beswadder en nou dié venynige briefie aan Van der Merwe waarin u hom sowaar die doodstraf toewens! Boonop noem u hom ‘n lafaard van apartheid.

Asof u geesgenote, die terroriste wat met die mees totalitêre bewind van die twintigste eeu, die Sowjetunie, geheul het en onskuldige burgerlikes in Suid-Afrika met motorbomme en die halssnoermetode vermoor het, nie vuige lafaards was nie! Daar word bereken dat tot 60 miljoen mense in die Sowjetunie gesterf het vanweë die soort stomme, linkse fanatisme waarvan u dikwels vulgêre uitsprake popel.

Die punt wat oud-genl. Van der Merwe maak, naamlik dat grootskaalse en georganiseerde terreur slegs met onkonvensionele metodes beveg kon word, is waarskynlik geldig. Dit verg ook geweldige moed om die vrylating van Eugene de Kock te bepleit, die man wat deur die histeriese mediamense in ons land, asook in Brittanje en die VSA, met duiwelse byname behang word. Terwyl hul eie terroriste en moordenaars, soos die aanvallers op die St. James-kerk, byvoorbeeld, argeloos verontskuldig word.

Ons het oor die afgelope week gesien hoe diegene wat Steve Hofmeyr sy spraakvryheid en artistieke vryheid wil ontsê, tot ‘n platvloerse geskel oorgaan, iets wat kennelik ook deel van u eie repertoire uitmaak.

Hoe knus u eie verhouding met die huidige maghebber ook al mag wees, gee dit u nie die reg om ons aanhoudend te beledig en te verguis nie. Gegewe dat u, soortgelyk aan mnr. Joe Slovo van die SAKP en vader van die terreurveldtog, in die buiteland gebore is, is dit soveel te meer vermetel dat u ons inheemse Afrikaners se regte en menswees op soveel maniere kan vertrap.

Ongeag ons onderlinge verskille en die afwesigheid van enige partypolitieke oplossings, is Afrikaners vandag meer verenig as ooit in ons aanspraak op gelyke burgerskap van dié land, wat beteken dat ons op elke gebied gelyk behandel wil word.

Ons verwerp sowel kommunisme as die verwante Amerikaanse rasse-ideologie wat ons op grond van ons velkleur en afkoms vir altyd aan negatiewe rassevoorkeure onderwerp.

Ongeag die redes vir hul aanhouding, dring ons daarop aan dat al ons politieke gevangenes billik en wetmatig behandel sal word, iets wat tans duidelik nie die geval is nie.

Trouens, solank as wat daar Afrikaner- politieke gevangenes bestaan, sal ons nie vry wees nie.

Die een positiewe rol wat fanatici soos u speel, is om die huidige stelsel in sy totalitêre naaktheid en onverdraagsaamheid te ontmasker. Dit sou daarom betaamlik wees as u minder die woord “demokrasie” gebruik en u meer op Stalinistiese retoriek soos “fascisme” en “klassevyand” beroep.

Dat u nostalgie vir Rooi Terreur en die vergange Sowjetryk ook ‘n skeutjie anglofilie en verlange na die Britse Ryk insluit, spreek byna vanself. Daarvan getuig u ongeneeslike Boerehaat.

Groete,

Dan Roodt

Piet Croucamp dreig Johan van der Merwe met ‘doodstraf’

Piet Croucamp, die “akademikus” van die Universiteit van Johannesburg wat deurentyd Afrikanersangers en -meningsvormers verdag wil maak, het oud-genl. Johan van der Merwe vertel dat hy eintlik die doodstraf verdien.

In ‘n e-pos aan Van der Merwe, die laaste blanke en Afrikaanse polisiekommissaris voordat die ANC en SAKP die land verower het, sê Croucamp:

“Indien hierdie land nie ‘n demokrasie was nie, het jy aan jou nek geswaai. En, terwyl ek met my hele hart teen die doodstraf is, sou ek myself kon forseer om vir eens weg te kyk en gods water oor gods akker te laat loop.”

Croucamp se reaksie geskied blykbaar na aanleiding van Johan van der Merwe se steun vir die vrylating van Eugene de Kock, soos hy dit in ‘n onlangse Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock gestel het.

In die aanvanklike gedeelte van sy e-pos skryf Croucamp:

“Johan, Vlok het vir Eugene kom vra daar in die gevangenis: Eugene, het ek jou ooit gevra om iemand dood te maak? Eugene se antwoord was, nee, maar jy het vir my medaljes gegee wanneer ek dit gedoen het. Jou een-dimensionele manier van na jou loopbaan kyk, maak van jou ‘onskuldig’ voor jouself en jou god. Maar, voor die mensdom is jy een van apartheid se politieke lafaards. Moenie Eugene betrek by jou drogredenasies nie.”

Hierop wou Van der Merwe hom nie regstreeks antwoord nie, maar het in ‘n kort boodskap terug aan Croucamp verwys na Spreuke 26:4 wat lui: “Antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.”

Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock

Geagte mev. Zille,

Die verklaring deur mnr. James Selfe, die skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste van die DA, gister oor die weiering van parool aan Eugene de Kock, het die DA nie slegs in ‘n swak lig gestel nie, maar verlaag die DA tot op die vlak van die ANC waar besluite geneem en verklarings uitgereik word aan die hand van propaganda, persepsies en waninligting.

Dit is nie duidelik of die verklaring deur mnr. Selfe letterlik op u webtuiste aangehaal word nie, maar die volgende stelling is so skeef en verwronge dat dit moeilik is om dit te glo:

“The DA takes note of the decision by the Minister of Justice and Correctional Services, Mike Masutha, to deny parole to Eugene de Kock who was tried and convicted on 89 charges and sentenced to two life sentences and 212 years in prison after disclosing the full scope of his crimes while testifying before the Truth and Reconciliation Commission (TRC).”

Mnr. Selfe se verdere verklaring dat Eugene de Kock in die gevangenis sit terwyl die persone wat die bevele gegee het op vrye voet verkeer, getuig van skokkende onkunde en is duidelik op propaganda en persepsies gebaseer. Daar is geen enkele geval waar Eugene de Kock tot gevangenisstraf gevonnis is waar daar enige feite bestaan dat hy in opdrag van ‘n meerdere gehandel het nie. Indien u of mnr. Selfe van so ‘n geval bewus is sal ek graag daarvan verneem. Die enigste geval waar daar twyfel ontstaan het, was die Maponyageval, waar amnestie juis op grond daarvan aan Eugene de Kock geweier is.

Dit wil voorkom asof mnr. Selfe die gewone klakkeloos standpunt oor Eugene de Kock kwytgeraak het sonder om hom enigsins van die feite te vergewis of te bepaal wat al die regsaspekte behels. Hy het byvoorbeeld geen melding gemaak van die feit dat die regering sedert November 2013 kennis dra van die aanbeveling van die Nasionale Raad van Korrektiewe dienste onder leiding van regter Siraj Desai, die voorsitter van die Parool Appélraad, dat parool aan Eugene de Kock toegestaan moet word nie. Na verloop van 8 maande kondig minister Tshililo Machael Masutha doodluiters aan dat die Paroolraad ‘n fout begaan het om nie al die slagoffers in die geval van Eugene de Kock te raadpleeg nie. Daar sal nou gepoog word om dit binne ‘n jaar te doen. Dit getuig van skokkende nalatigheid en ‘n roekelose verontagsaming van die beginsels van reg en geregtigheid. Mnr. Selfe rep geen woord daaroor nie. Wetgewing dat die families van slagoffers geraadpleeg moet word alvorens parool aan ‘n veroordeelde moordenaar toegestaan mag word het eers gedurende 2003 van krag geword. Daar bestaan in regskringe ernstige bedenkinge of hierdie bepalings op die geval van Eugene de Kock toegepas kan word, maar mnr. Selfe swyg daaroor.

In ‘n era waar korrupsie en wanbestuur aan die orde van die dag is en daar in regskringe ernstige bedenkinge bestaan oor die gehalte van ons regspleging, kan ‘n mens nie anders as om ‘n beklemming om jou hart te kry as die amptelike opposisie met so ‘n skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste sit nie.

Ek heg graag hierby ‘n memorandum aan om meer agtergrond oor al die wesenlike aspekte te gee.

Met agting

Johan van der Merwe, Montana, Pretoria