Afrikaners kort van dié Franse drif

manif pour tous
Deel op

manif pour tousDie politiek in Frankryk raak warm – met betogings en verbete bekgevegte in die media, selfs appels swaai op straat. Net enkele dae gelede het so ‘n vuisslanery tussen linkse en regse jongelinge in die middestad van Parys naby die groot afdelingswinkel Printemps op die dood van Clément Méric (19) uitgeloop. Méric was ‘n linkse aktivis wat blykbaar aspris loop skoor soek het met ‘n groepie verregse “skinheads”.

La manif pour tous 2Eergisteraand is een van die kosbare historiese katedrale, die Sint-Peterskatedraal in Nantes, Wes-Frankryk, gevandaliseer – waarskynlik deur linkses wat wou wraak neem teen konserwatiewe Katolieke en ondersteuners van “La manif pour tous”, die beweging teen homoseksuele huwelike en ten gunste van gesinswaardes. Die naam van die beweging, wat “Betoging vir almal” beteken, verteenwoordig ‘n regstreekse teenvoeter vir die gedagte van “die huwelik vir almal”, oftewel “le mariage pour tous”.

La manif pour tous 3Die linkse regering van mnr. François Hollande vrees die opkoms van Franse nasionale trots en konserwatiewe aktiviste wat hul skerp teen homoseksuele huwelike, maar ook misdaad deur Arabiere en swartes, uitspreek. Daarom het die regerende Sosialistiese Party net gister in reaksie op die dood van die linkse student aangekondig dat hy ‘n verregse jeugbeweging, die Jeunesses Nationalistes Révolutionnaires gaan “ontbind”. Op Twitter het regse Franse onmiddellik teruggekap en gevra: “Wanneer ontbind Hollande die gekleurde bendes wat ons teister?”

La manif pour tous 4Ná Méric se dood het die oorwegend linksgesinde hoofstroommedia in Frankryk onmiddellik die skuld op die regse politikus en leidster van die Front National, mev. Marine Le Pen, probeer pak. Sy het haar egter dadelik van mnr. Serge Ayoub se verregse Revolusionêre Nasionalistiese Jeug gedistansieer en gesê dat haar party “geen nabye of verre verband met dié gewelddaad het nie”.

La manif pour tous 5Die opkoms van die Front National is op sigself ‘n merkwaardige gebeurtenis in die Franse en Europese politiek. Frankryk is naas Duitsland die belangrikste land in Wes-Europa, asook een van die vyf permanente lede van die VN-veiligheidsraad. Franse meningsopnames is in die algemeen besonder akkuraat en daarom kan ‘n mens die 21 persent steun wat mev. Le Pen tans by die kiesers geniet baie ernstig opneem. Trouens, haar steun het dié van president Hollande verbygesteek en maak haar nou die tweede gewildste leier in die land, ná die vorige liberale president, Nicolas Sarkozy. Indien ‘n presidentsverkiesing nou gehou sou word, sou sy bo die sosialistiese Hollande deurdring tot die tweede ronde, iets wat reeds in 2002 gebeur het toe haar vader, mnr. Jean-Marie Le Pen, in die tweede ronde teen mnr. Jacques Chirac te staan gekom het.

Anders as in 2002, het die Front National egter nou ‘n hoofstroomparty geword wat besig is om sy verregse beeld af te skud. Dit is die party van konserwatiewe Katolieke wat neerhalend deur linkses “cathos fachos” (Kato-fasciste) genoem word, maar ook die Franse werkersklas wat eens op ‘n tyd die Kommunistiese Party ondersteun het. Daarom beskuldig die regs-liberale koerant, Le Figaro, mev. Marine Le Pen daarvan dat sy in haar sorge oor die Franse fabriekswerker ‘n “ekstreemlinkse diskoers” besig.

Te midde van die oorverhitte nasionale debat oor homoseksuele huwelike het ‘n regse intellektueel, skrywer en historikus, Dominique Venner (78), op 21 Mei in die wêreldberoemde Notre Dame-katedraal in Parys met ‘n vuurwapen selfmoord gepleeg. In sy selfmoordbrief wou hy mense oortuig om dit as ‘n “daad van politieke verset teen Franse dekadensie” te sien.

Dog Sondag twee weke gelede op 26 Mei (nogal my verjaardag!) het Franse konserwatiewes vir ‘n opskudding gesorg toe daar ongeveer ‘n miljoen mense in die strate van Parys onder die vaandel van “La manif pour tous” teen homoseksuele huwelike betoog het. Die reusebetoging is veral deur ‘n oplewing van Franse patriotisme gekenmerk, met derduisende blou, wit en rooi vlae wat deur die betogers geswaai is.

Frankryk was oor seksuele kwessies nog altyd baie liberaal en daarom vermoed ‘n mens dat die werklike teiken van konserwatiewe misnoeë nie soseer die homoseksuele is nie, maar die algemene politieke korrektheid van die linkses en die hoofstroommedia wat hul waardes in die gewone mense se kele afdruk. “Ons is blanke Franse met gesinne, waarom word ons stemme nooit gehoor nie?” was eintlik wat “La manif pour tous” wou sê.

Onder die vele spitsvondige slagspreuke op baniere en plakkate was daar: “As my man begin menstrueer, kan ons weer daaroor gesels.”

Frankryk is een van ons stamlande. Sonder die Franse Hugenote sou daar nooit manjifieke wynplase in die Boland gewees het en waarskynlik geen Afrikaanse taal nie. Want die hoeveelheid Franse vanne tydens die vroeë Afrikaanse taalbewegings is eenvoudig verstommend: Du Toit, Meurant, Cachet, noem maar op. Daardie Hugenote het hul eie geliefde Latynse taal in ons land verloor, maar Afrikaans des te vuriger omhels!

Daarom moet ons nie die Franse bydrae tot Afrikanerskap onderskat nie, hoewel ons ‘n Germaanse taal praat en oor meer Nederlandse en Duitse gene beskik. Dit het my egter nog altyd verstom hoe geredelik Nederlanders en Duitsers verengels. In die VSA was daar tot sestig persent Duitsers in sommige deelstate wat sekerlik Duitssprekend kon gebly het; nietemin het al daardie miljoene Duitse immigrante in Amerika sonder slag of stoot verengels.

Sekerlik is daar op die huidige oomblik dergelike interessante verwikkelinge in ons ander stamlande (Nederland, Duitsland, Skotland) ook. Skotland wil van die Verenigde Koninkryk afstig om ‘n volwaardige land te word. Maar die Skotte is oorwegend links en het lankal hul eie Keltiese taal vir Engels verruil. Nasionalisme en patriotisme bly vanweë die Nazi-geskiedenis in Duitsland gestigmatiseer en die Duitsers maak jag op hul eie mense wat maar hoegenaamd patrioties of te krities oor immigrasie en Turkse Moslems begin raak. In Duitsland waag jong pro-Duitse betogers dit net snags met maskers en fakkels op straat, op die gevaar van inhegtenisname deur die polisie af.

Ironies genoeg is die regse beweging in Nederland deur ‘n briljante homoseksuele intellektueel, Pim Fortuyn, van stapel gestuur. Ná die sluipmoord op Fortuyn, het Geert Wilders se Party vir die vryheid (PVV) die vaandel begin dra en in 2010 op 15 persent kiesersteun kon staatmaak, wat intussen tot 10% teruggesak het. Die PVV word gekenmerk deur sy teenkanting teen Islam en immigrasie. Anders as die Front National en La manif pour tous, vry die PVV eintlik na homoseksuele steun omdat hy Nederlandse homo’s daaraan herinner dat ‘n verislamiseerde Nederland hulle kwalik gaan verdra.

Nederland is ‘n land wat byna geen invloed in Europa uitoefen nie en skaar hom gewoonlik by Duitsland sover dit monetêre aangeleenthede betref. Daarteenoor kan Parys, vanweë sy grootte en gewig binne die sentralistiese Franse stelsel, steeds aanspraak daarop maak dat hy die intellektuele sentrum van Europa is.

In Mei 1968 was die Franse op die voorpunt van die linkse omwenteling in Wes-Europa met die beroemde studenterevolusie, maar sedert die sewentigerjare het ‘n kentering plaasgevind. Franse intellektuele, skrywers en meningsvormers het al meer krities begin raak oor sosialisme, multikulturalisme en wat hulle as “Westerse masochisme” sien. Aanvanklik het dit “die nuwe filosofie” geheet, maar deesdae word daar openlik van “patriotisme” gepraat.

Onverskrokke en weerbarstige Franse intellektuele teister die linkse media met aweregse uitsprake, soos byvoorbeeld die gevierde skrywer Richard Millet wat verlede jaar die land met sy “Lofprysing aan Anders Breivik”, die Noorweegse massamoordenaar, geskok het en waaroor Praag berig het in Polemiek in Europa rondom Franse essayis se ‘lof aan Anders Breivik’. Agter die skoktaktiek sit daar egter dodelike, analitiese denke. Richard Millet, Pascal Bruckner, Alain Soral, Alain de Benoist en ander is besig om indringende vrae te stel, soos: Waarheen is Frankryk op pad met al hoe meer moskees, maar ook geweldsmisdaad, in die land? Waarheen gaan die Weste as hy sy grondliggende waardes ter wille van Amerikaanse politieke korrektheid prysgee? Het blankes rede om almal skuldig te voel?

Tydens die skandaal rondom Richard Millet se uitsprake in 2012 het hy tydens ‘n televisiedebat verklaar: “Ek is ‘n blanke man; wat ‘n skande. Ek is Katoliek; wat ‘n skande. Ek is heteroseksueel; wat ‘n skande.” Hiermee wou hy te kenne gee dat die hoofstroommedia dikteer dat Arabiere, swartes, immigrante, Moslems of ateïste, asook homo’s, die nuwe normaliteit in Frankryk verteenwoordig. Daarom ervaar hy hom as blanke, Katolieke, heteroseksuele Fransman as ‘n vreemdeling in sy eie land. Tydens ‘n radio-onderhoud het hy vermeld dat hy sesuur die aand by Châtelet in die hartjie van Parys “die enigste blanke op die moltrein is”. Dié gewraakte woorde het tot histeriese besware deur linkse skrywers en joernaliste aanleiding gegee en die omstredenheid het later so erg geraak dat Millet sy pos as uitgewer by die prestigieuse huis van Gallimard verloor het.

Dit klink seker maklik om die media te provokeer. Maar as ‘n mens bietjie dieper in Millet se biografie op die internet gaan delf, dan kom jy agter dat dié man as vrywilliger tydens die Libanese burgeroorlog sy aan sy met Christene geveg het… Agter die bedaarde, beskaafde gesig van die letterkundige en skrywer, skuil ‘n beginselvaste vegter wat al die wapen vir sy idees opgeneem het! Of noem dit Franse passie: hulle praat nie net nie, hulle storm! Of hulle betoog.

Wat betogings betref: Parys is ‘n stad met breë boulevards tussen imposante, meesal negentiende-eeuse neoklassieke geboue in die Hausmann-styl. Daarom vind daar aanmekaar betogings oor allerlei kwessies plaas, want ‘n paar foto’s van baniere teen so ‘n mooi agtergrond kan enige saak bevorder.

Twee weke gelede het La manif pour tous egter getoon dat die “stille meerderheid” van blanke, Katolieke en heteroseksuele Franse met gesinne nou genoeg daarvan gehad het om as tweedeklasburgers geag te word. Hulle wil ook gehoor word en het daarom almal na Parys opgeruk waar hulle in hul honderde duisende van die Austerlitz-stasie na die esplanade van Invalides gestap het. Soos die linkse Nouvel Observateur spottend opgemerk het, “het hulle die betoging ontdek”. Die intellektuele debat wat deur ‘n klein groepie skrywers en filosowe gevoer is, vind nou weerklank “op straat” soos die Franse daarvan hou om te sê.

Die parallelle met die Afrikaner se situasie in Suid-Afrika is natuurlik ooglopend. Ons is die stigters van Suid-Afrika en het al die pyn en lyding deurworstel om hierdie suksesvolle nywerheidstaat te vestig. Nietemin word die blanke, Christelike en/of Westers-georiënteerde Afrikaner wat boonop heteroseksueel is, vandag geredelik deur die hoofstroommedia en die regering geminag. Ons mening tel nie. Binne die diktatuur van politieke korrektheid word die regte van misdadigers of onwettige immigrante (hoewel hulle dikwels deur ons “vredeliewende en verdraagsame” medeburgers vermoor word) hoër geskat as ons s’n.

Wie is die grootste Afrikaner? Is dit N.P. van Wyk Louw of is dit die fopdosser Pieter-Dirk Uys met sy neerhalende verguising van die gewone Afrikaner? Net vandag skryf Koos Kombuis in antwoord op Flip Buys se onlangse pleidooi vir die gesin dat Nie alle gesonde gesinnne lyk soos Flip s’n nie. Volgens Koos Kombuis, moet Taliep Petersen, Pieter-Dirk Uys en Robert Hamblin geloof word as “groot geeste wat nie presies soos hy dink oor geloof of ­(seksuele) oriëntasie nie”.

Op Twitter begin jong, Katolieke Franse al van “opstand” praat. Daar is ook allerlei kwinkslae in die trant van: “Sal ek die voorblad van (die linkse koerant) Libération haal as ‘n Arabier of ‘n swarte my doodmaak?” Met iemand wat antwoord: “Nee, want jy’s ‘n vuil blanke en ‘n rassis.” Die belediging wat gereeld deur immigrante uit Noord- en Wes-Afrika teenoor Franse toegeslinger word, “sale blanc” (vuil blanke), word nou deur inheemse Franse as ‘n soort ironiese embleem toegeëien.

Terwyl vele Afrikaners dink dat hulle politieke korrektheid met sy universele aanklag van “rassisme” gaan hanteer deur dit te omseil of jou daarby te akkomodeer, toon die Franse dat dit meer doeltreffend is om dié ideologie te analiseer en te konfronteer. Stel dit aan die kaak vir die drogredenasie wat dit is, maar bespot dit ook. Moenie skaam wees om jouself te wees nie. Swaai jou driekleurvlag in die aangesig van die gepamperlangde Ander en wys dat jy nie meer skaam is om wit en Afrikaans, heteroseksueel en Westers/Christelik te wees nie.

Die dapper klein gemeenskappe van Kleinfontein en Orania doen dit reeds. Selfs CNN en die BBC moes tot hul skok en afgryse van Kleinfontein kennis neem!

Gister het ek deelgeneem aan ‘n paar Twitter-gesprekke met opstandige Franse Katolieke. Op een stadium het hulle sommer een van my Afrikaanse boodskappe gehertwiet, wat vir hulle onverstaanbaar moet wees! Maar dit maak nie saak nie, want ek dink hulle voel aan dat ons in ‘n ewe benarde situasie as hulle moet verkeer – selfs nóg hagliker want ons word as minderheid in ons eie land oorheers.

My gevoel is: daar broei ‘n konserwatiewe revolusie in Frankryk wat dalk weereens die wêreld soos sy beroemde voorganger in 1789 gaan verstom. Ons Afrikaners moet aansluiting by die Franse beweging soek, want met ons plaasmoorde en die intense diskriminasie teen blankes is ons reeds die martelare van die hele Westerse wêreld. Op ‘n manier is die god van politieke korrektheid soos ‘n toordokter wat sy moeti in die vorm van menslike offerandes moet hê, en ons het daardie offerandes geword.

Wyle mev. Huberte Rupert, eggenote van Anton Rupert het ‘n paar jaar gelede tydens ‘n TV-onderhoud op KykNET gesê: “Ons volk het in 1938 wakker geskrik.” Ek weet nie meer wat dit gaan verg om Afrikaners soos die Franse wakker te maak nie, maar iets sal gedoen móét word. Sosiale media soos Facebook en Twitter gaan dit dalk regkry, daar waar ‘n direkte appèl op mense se betrokkenheid of volksgevoel nie meer deug nie. Trouens, dit sou nogal interessant wees om te weet hoeveel van daardie miljoen mense by La manif pour tous se betoging twee weke gelede het eerste daarvan op die internet en deur sosiale media kennis geneem.

Ek troos my daaraan dat die linkse tradisie in Frankryk veel sterker as onder Afrikaners en in Suid-Afrika is. Hulle het slim linkses; ons het hoofsaaklik dommes. Ons sit met ‘n horde joernaliste en akademici wat bloot enkele linkse intellektuele soos Joe Slovo, Albie Sachs of Jeremy Cronin napraat en na-aap. Indien die Franse dit dus kon regkry om ‘n bres in die propagandamuur te slaan, hoeveel te meer is ons nie daartoe in staat nie?

‘n Vyftal gemotiveerde Afrikaners kan dit in hierdie Britse kolonie wat as Suid-Afrika bekendstaan, lag-lag regkry.

Ons kort net bietjie van daardie Franse drif.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.