Mulder ontmoet Georgië se landbouminister

Suid-Afrikaanse landbouers se kundigheid en bydrae in Georgië word steeds waardeer nieteenstaande die nuwe regering daar.

So het dr Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye na afloop van ‘n bilaterale vergadering met die nuwe adjunkminister van landbou van Georgië, mnr. David Natroshvili gesê.

“In Oktober 2012 het ‘n nuwe regering in Georgië aan bewind gekom. Onder druk van kiesers het die nuwe regering belowe om die wetgewing wat grondbesit deur buitelanders bepaal, te herformuleer. Van die voorstelle is dat buitelanders slegs 2,5 hektaar grond mag besit. So ‘n besluit sal die huidige Suid-Afrikaanse landbouers in Georgie regstreeks raak. Dit is dus belangrik om die Suid-Afrikaanse boere wat reeds daar is en wat beplan om eersdaags daarheen uit te brei, by te staan deur amptelik met Georgië te onderhandel,” het dr Mulder gesê.

Gedurende 2010 is daar ‘n memorandum van verstandhouding tussen die Transvaalse Landbou Unie (TLU) en die vorige regering van Georgië geteken. Die doel van die ooreenkoms was om Georgië by te staan met die ontwikkeling van hul kommersiële landbou en om meer Suid-Afrikaanse landbouers na Georgië te trek. Meer as 90 Suid-Afrikaanse boere het reeds Georgië besoek en vyf het reeds grond in die land aangekoop en daar begin boer. Met ‘n nuwe regering mag dit hierdie landbouers se situasie raak.

Mnr. Natroshvili is tans in Suid-Afrika op ‘n amptelike besoek om formele diplomatieke bande tussen Georgië en Suid-Afrika te versterk.

Die vergadering se doel was om ‘n wedersyds voordelige inter-regerings en kommersiële vennootskap en samewerking met betrekking tot die landbousektor tussen Suid-Afrika en Georgië te bespreek. Tydens die gesprek is ook spesifiek oor die Suid-Afrikaanse landbouers se posisie in Georgie gepraat.

Waar vorige ooreenkomste nie op regeringsvlak was nie, is ooreengekom om aan so ‘n ooreenkoms te begin werk. Dit kan uitloop op ‘n amptelike ooreenkoms oor samewerking op landbougebied wat tussen Georgie en Suid-Afrika geteken word.

Die versterking van handelsverhoudinge met lande anders as Suid-Afrika se tradisionele handelsvennote is in die huidige ekonomiese klimaat van kardinale belang, het dr. Mulder gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae