Polisie sê Soweto-geweld is onder beheer

Buitelanders moes uit Soweto vlug, of skuiling gaan soek by polisiestasies in die gebied, ná die jongste vlaag van geweld teen hulle.

Die geweld het Maandagaand uitgebreek nadat ‘n buitelandse winkeleienaar na bewering die 14-jarige Siphiwe Mahori in Snake Park doodgeskiet, omdat Mahori glo sy winkel wou beroof.

Die Gautengse polisiekommissaris, Lesetja Mothiba hou nietemin vol dat die polisie genoeg mannekrag het om die aanvalle onder beheer te bring.

Hy sê egter die polisie se nasionale leierskap is in kennis gestel dat bykomende magte op bystand moet wees.

Die polisie moes inderhaas ontplooi word om die plundery van winkels wat aan buitelanders behoort in Soweto hok te slaan. Volgens Lesetja is meer polisiebeamptes ontplooi in die gebiede wat deur die plundery geraak word.

Die geweld het in Soweto begin, en ook na Diepkloof en Kagiso versprei.

Asad Ali, wat ‘n selfoon-herstelwinkel gehad het, sê hy soek nou ‘n ander plek om sy winkel oop te maak.

Die adjunkvoorsitter van die Somaliese-vereniging van Suid-Afrika, Cassim Ali het die plundery as vreemdelingehaat én misdaad bestempel.

Meer as 120 mense is tot dusver in hegtenis geneem op aanklagte wat wissel van moord tot diefstal en die polisie het beslag gelê op tientalle onwettige vuurwapens.

Mothiba sê hulle is besig met ‘n ondersoek na waar die vuurwapens vandaan kom.

Drie polisiebeamptes, wat nie in uniform geklee was nie, het ‘n Sapa-verslaggewer glo Donderdag gedwing om foto’s van haar selfoon uit te vee wat sy van ‘n Somaliër se winkel in Dobsonville, Soweto, geneem het.

Die verslaggewer is afgetrek deur ‘n polisievoertuig nadat sy die foto’s geneem het.

“Die een beampte het oor my skouer geloer om seker te maak dat ek alles uitvee,” het Mpho Raborife gesê. “Hy het daarna gesê ek mag nie ʼn foto op die toneel neem nie, aangesien dit openbare geweld is, so dit val onder hulle jurisdiksie.

“Hulle het toe gesê ek mag in elk geval nie die foto’s neem nie omdat ek nie toestemming gevra het nie, en ek kan nie net by ʼn toneel opdaag en foto’s neem en dan wegry nie.”

Die polisie het haar verslaggewerskaart en selfoon by haar afgeneem. Daarna het die beamptes volgehou dat sy hulle na die Dobsonville-polisiestasie moet vergesel en geweier dat sy haar werkgewer bel. Hulle is uiteindelik nooit na die stasie nie.

Die polisiebeampte het volgehou dat sy nie daar mag foto’s neem en dit aan die publiek mag ‘uitlek’ nie. Hulle het haar selfoon en verslaggewerskaart teruggegee eers nadat sy die foto’s uitgevee het.

Mark van der Velden, redakteur van Sapa, het gesê die verslaggewer het haarself met haar verslaggewerskaart geïdentifiseer en alhoewel die polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig was, het hulle siviele klere aangehad en het hulself nie voldoende geïdentifiseer nie. “Die feite tot dusver dui daarop dat die gedrag van die beamptes uiters onprofessioneel was en dit voldoen nie aan die prosedure nie. Die polisiebeamptes het klaarblyklik moeite gedoen om ʼn joernalis te intimideer en wou inligting in openbare belang onderdruk oor ʼn aktuele nuusstorie oor xenofobie.”

Volgens Van der Velden word die polisie verbied om enige media te dwing om foto’s uit te vee. Hy het bygevoeg dit is nog ʼn voorval van polisiebeamptes wat staande bevele verontagsaam.

Sapa gaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn formele klag by die polisiekommissaris se kantoor aanhangig maak.

Vrese dat kragonderbrekings in Soweto tot hernude geweld kan lei

Verskeie gebiede in Soweto ondervind kragonderbrekings, het RSG berig.

‘n Woordvoerder van Eskom in Gauteng, Reneiloe Semenya, sê hulle ondervind verskeie probleme wat `n kragtekort meebring.

Die gebiede wat geraak word is Dobsonville, Zola, Molapo, Mapetla en Protea Noord.

Weens die omvang van die probleem, kan Eskom nie sê wanneer kragvoorsiening in die gebiede herstel sal wees nie.

Verlede week het ontevrede inwoners in Soweto tydens ‘n kragonderbreking geweldadig geraak en talle motors is beskadig.

Die polisie moes ingryp sodat Eskom se tegnici die probleem kon oplos.

Gebou stort ineen met skrootmetaaldiewe

Daar is vermoedelik nog mense onder die puin van ‘n gebou in Soweto wat ineengestort het.

Een persoon is Woensdag dood gevind. Die vyfde man wat steeds in die puin vasgekeer is, se arm sal afgesit moet word sodat hy gered kan word.

Hy is vroeg vanoggend uitgehaal onder die puin.

Nog vier mans is vroeër gered. Hulle het na bewering skrootmetaal gesteel toe die gebou meegegee het.

Die gebou in Power Park, Soweto, het Woensdag ineengestort, het die Johannesburgse nooddienste gesê.

“Al vier mense wat ons gedink het vasgekeer was daar, is gered, maar nou is ‘n vyfde persoon vasgevang aan die ander kant van die puin,” het woordvoerder Nana Radebe gesê.

Vroeër, het Radebe gesê paramedici het ‘n oproep van ‘n beseerde man ontvang wat beweer het deel van ‘n groep wat na bewering probeer het om kabels en metaal te steel in die gebou is.

Radebe het gesê die vyfde man is teen die grond vasgepen deur ‘n balk wat op sy hand rus.

Hy is by sy bewussyn en kommunikeer met reddingswerkers.

“Daar is te veel rommel en metaal dus sal soek-en reddingspanne met behulp van gespesialiseerde toerusting probeer om hom uit te kry,” het Radebe gesê.

“Die gebou moet gestabiliseer word voordat hy gered kan word.”

Die vyf wat gered is het ernstige beserings opgedoen, en is na ‘n hospitaal geneem.

Radebe was onseker of reddingspogings sal voortgaan deur die nag. Hulle sal vanoggend die soektog hervat.

Die polisie in Soweto sê hulle is besig met ‘n ondersoek na die omstandighede wat gelei het tot die ineenstorting.

‘n Klag van diefstal sal aanhangig gemaak word sodra die ondersoek na die ineenstorting van ‘n gebou afgehandel is. ‘n Woordvoerder het ontken dat hulle ingelig is dat diefstal van metaal reeds ‘n ruk lank by die gebou voorkom.

 

Boerehaat op die internet: Wat gaan ons doen?

Die pla my al geruime tyd dat daar soveel negatiewe inligting oor Afrikaners op die internet bestaan. Doen ‘n mens enige soektog met die slagwoorde “Afrikaner” of “Boer”, word jy gekonfronteer met honderde blaaie waar dit gaan oor apartheid, rassisme, diskriminasie teen swartes, konserwatisme, Calvinisme en wat nog.

Dan RoodtDaar bestaan waarskynlik geen ander volk op aarde wat so konstant op die internet sleggesê word soos ons nie, met ‘n legio wanvoorstellings oor ons geskiedenis, taal, kultuur en hoe ons is.

‘n Mens noem dit Boerehaat. In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) word “Boerehater” soos volg gedefinieer:

Hater van die Afrikaners; persoon wat vyandiggesind is teenoor alles wat Afrikaans is.

Op die Engelse Wikipedia word Boerehaat só omskryf:

Boerehaat is an Afrikaans word meaning hatred of the Boers, or Afrikaners. The term Boerehater (English: Boer-hater or Boer hater) has been used to describe a person who hates, prejudices or criticises the Boers, or Afrikaners.

Jode beskik oor iets soos die wêreldwye Anti-Defamation League wat onlangs binne ses maande $500 miljoen (R5,5 miljard) ingesamel het om antisemitisme en holocaust-ontkenning te bekamp. Daar bestaan egter geen organisasie wat hom spesifiek beywer om globale Boerehaat teen te staan nie.

Selfs die inskrywing op Wikipedia oor Boerehaat het enkele dae gelede drasties verander om insgelyks ‘n anti-Afrikaanse kleur te verkry, asof dit ons eie skuld is dat Britte en Suid-Afrikaanse Engelse chauvinisties teenoor ons optree en gedurig propaganda teen ons publiseer of uitsaai.

Wikipedia is seker vandag een van die invloedrykste publikasies op aarde, indien nie dié invloedrykste nie. Skoolkinders in alle lande gebruik dit om take uit te werk. Dit verskyn heel bo-aan op soekenjins en daarom verteenwoordig dit in die praktyk omtrent al wat iemand in die buiteland ooit oor ons te wete gaan kom. Net om die gemors wat op Wikipedia as ons geskiedenis – asook dié van Suid-Afrika – aangebied word, gaan ‘n voltydse werk wees.

‘n Groep praag-vrywilligers sou seker so iets op gekoördineerde wyse kon aanpak, maar dit gaan ‘n taai stryd wees. Ek het persoonlik ervaring van die soort vooroordele wat daar by baie anonieme Wikipedia-bydraers bestaan en wat jaloers oor hul stukkies propaganda waak om te sorg dat niemand daaraan verander nie. Indien ons hoegenaamd so iets wil aanpak, sal ons besef dat ons met feite en verwysings gewapen sal moet wees en ook hewige teenstand van derduisende Engelse dwarsdeur die Britse Statebondslande gaan teëkom vir wie Boerehaat op die internet ‘n soort stokperdjie geword het.

So pas het 16 Junie weer gekom en gegaan, met al die mites en clichés oor Soweto wat van voor af aangedik en uitgebasuin is. Die skade wat ons reputasie in die wêreld en ons eie selfbeeld hierdeur ly, is grotesk. Op die internet is dit soos ‘n konstante kuberoorlog wat teen ons gevoer word.

Daar word deesdae baie oor indentiteitsdiefstal gepraat. Nog nooit in die geskiedenis egter is die identiteit van ‘n groep mense of ‘n hele volk gesteel en op vertekende wyse aanlyn gekanoniseer soos wat met ons gebeur het nie. Ons moet besef dat internetinskrywings, veral op iets soos Wikipedia, amper vir ewig is – indien hulle nie drasties verander kan word nie.

Ek sal graag by lesers wil verneem wat hulle hiervan dink en hoe ons te werk moet gaan.

Of het ons nou maar gaan lê? Aanvaar ons dat ons verhaal deur die vyand geskryf is en dat ons maar suutjies van die aardbol af gaan verdwyn, omdat ons dit nêrens kan durf waag om ons gesigte te wys nie?

Oproeriges in Soweto bestook motoriste met klippe

Oproermakers in Soweto het Dinsdagoggend begin klipgooi na verbygaande motoriste en motorbande aan die brand gesteek.

“Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik. Dit is nie veilig om in hierdie gebied te bestuur nie,” het ‘n woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, ao. Wayne Minnaar gesê.

Die oproerigheid het by die kruising van Mofolo- en Vincent-straat in Soweto begin, het hy gesê.

Dit is nie bekend waaroor die inwoners ontevrede is nie.

Oproeriges versper Chris Hani-weg, Johannesburg

burningtyresOproeriges het Woensdagoggend Chris Hani-weg in Diepkloof Zone Six, Soweto, met brandende bande en klippe versper, het Gauteng se verkeerspolisie gesê.

‘n Woordvoerder, Obed Sibasa het motoriste aangeraai om Chris Hani tussen Nicolusstraat (Power Park) en die Soweto Bemagtiging Sone, waarna hy verwys het as die Indiensnemingsentrum, te vermy.

Daar is tans ‘n sterk polisie-teenwoordigheid in die gebied.

Sibasa beskryf die situasie as “gespanne, onveilig, maar onder beheer.”

Motoriste vanaf Johannesburg-Suid en Soweto is aangeraai om die Klipvalleypad na die Sowetosnelweg te neem, of Imminkrylaan Ben Naude te gebruik deur middel van Diepkloof na Johannesburg en Alberton, as alternatiewe roetes.

Soweto kry nog ‘n hospitaal van een miljard rand

Die Zola Jabulani-hospitaal
Die Zola Jabulani-hospitaal

RSG berig dat die Zola Jabulani Hospital in Soweto vandag eindelik sy deure open nadat die voltooiing van die hospitaal vir ses jaar vertraag is. Die distrikshospitaal met 300 beddens sal na verwagting druk verlig op die besige Chris Hani Baragwanath Hospitaal wat pasiënte van oral kry. Die Departement van Gesondheid het agt jaar gelede 600-miljoen rand vir die bou van die Zola Jabulani Hospitaal begroot, maar daar word beweer dat kostes tot meer as ‘n miljard rand gestyg het. Die Gautengse regering sê egter die kostes beloop 730-miljoen rand. Die hospitaal sal hoofsaaklik diens lewer aan die gemeenskappe van Soweto, insluitende Dobsonville, Meadowlands, Zola, Jabulani en Protea.

Die hospitaal is ongeveer ses jaar laat aangesien die aanvanklike openingsdatum Maart 2008 was. Daar was egter oponthoud weens wanbestuur, tenderonreëlmatighede en begrotingsoorskrydings.

Die oorspronklike tender van R336m is in 2006 aan ‘n gesamentlike onderneming van iLima Projects, Motheo Construction Group, Yikusasa Building Contractors and TTR General Building Construction toegeken.

Motheo, Yikusasa and TTR het agterna die consortium verlaat, wat beteken het dat die projek in duie gestort het. iLima het agterna ‘n tweede kontrak in 2007 ontvang, maar dit is gekanselleer toe dit aan die lig gekom het dat die firma die tender sonder ‘n geldige belastingsklaring ontvang het. Die kontrak is daarna in 2009 aan Maziya General Services toegeken.

Op daardie stadium het die kostes met omtrent 40 persent to R480m gestyg.

‘n Verdoemende verslag van die ouditeur-generaal Terence Mombembe het verlede jaar in Mei 2012 bevind dat die provinsiale departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling kontrakteurs aangstel het wat nóg oor die kwalifikasies nóg die bevoegdheid beskik het om hospitale te bou, iets wat tot miljoene rande se verliese gelei het.

Nombembe het bevind dat die begrote koste vir die bou van die hospitaal in 2012 tot R624,4m toegeneem het.

Die hospitaal beskik oor 100 ambulanse, waaronder 40 wat van hoësorgtoerusting voorsien is en aan swanger vroue toegewys is.

Klipgooiers versper paaie in Soweto

burningtyresBetogers het Vrydag paaie in Pimville, Soweto, met beton asblikke, brandende bande en klippe, afgesper het die Gautengse polisie gesê. Hulle het Donderdag begin klipgooi.

“Dit is nou sleg,” het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

“Hulle het ‘n baie dinge op die paaie gesit omdat hulle nie wil hê dat motors Pimville binnekom nie.”

Die woordvoerder het gesê die verkeer op Chris Hani-weg het tot stilstand gekom. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Inwoners is in oproer oor voorafbetaalde watermeters.

Donderdagnag het oproeriges die pad met brandende bande en rotse versper.

Sommige het motors met klippe gegooi, maar niemand is beseer nie.

Die situasie het oornag effens bedaar, maar in die oggend hervat.

SAPD-Okkulte-eenheid ondersoek dood van swart skoolmeisies

muti2Die polisie se okkulte-eenheid het Woensdag die ondersoek na die dood van die twee swart skoolmeisies in Dobsonville, Soweto, oorgeneem.

Die twee meisies is dood aangetref, geklee in hul skooluniforms. Hulle het snymerke op hul hande en nekke gehad. Die polisie het skeermesse, kerse en hul tasse langs hulle gevind.

‘n Polisie woordvoerder, Tebello Mosikili sê op hierdie stadium, weet hulle nie wat die dood van die twee kon veroorsaak het nie.

“Die ondersoekspan en die misdaadtoneeldeskundiges is reeds op die toneel om al die bewyse te versamel. En die ondersoekspan van die provinsiale okkulte-ondersoekeenheid sal die ondersoek oorneem. Kollegas van die eenheid is reeds op die misdaadtoneel.”

Die meisies is Dinsdagoggend op pad skool die laaste keer opgemerk. Nie een van die meisies, tussen die ouderdomme van 15 en 16, is as vermis aangemeld nie.

Die regering het sy kommer uitgespreek oor die dood van twee tienermeisies in Soweto. ‘n GCIS-woordvoerder Phumla Williams sê hulle is getref deur die dood van twee meisies in Dobsonville.

Die regering het ‘n beroep op die publiek gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie.

Een van die meisies het na bewering aan vriende vertel sy sou by ‘n groep aanvaar word as sy die lewe van iemand naby aan haar neem.

Mede-leerlinge by George Khosa Sekondêre Skool sê hulle het die twee meisies die skoolterrein sien verlaat met twee seuns Dinsdag.

Hulle glo die seuns is deel van ‘n groep wat sulke dade pleeg.

Daar is glo ‘n moontlikheid dat doe dood van die twee deel van ‘n “offerhande” was.

Die polisie het intussen ‘n huis in Dobsonville deursoek waar donker rituele moontlik plaasvind.

Die polisie sê hulle het ‘n lasbrief gekry om die huis te deursoek. In die agterplaas is beendere gevind wat vermoedelik die van ‘n dier is.

Talle mense is steeds by die huis saamgedrom. Die twee seuns is intussen in hegtenis geneem en sal Vrydag in die Protea-landdroshof verskyn.

SA maak reg vir besoekers

qunu
Qunu

Hotelle in Gauteng sal na verwagting volbespreek wees wanneer buitelandse hooggeplaastes en die media vir Nelson Mandela se begrafnis na Suid-Afrika reis.

Pascal Fouquet , algemene bestuurder van die Sheraton Hotel in Pretoria, oorkant die Uniegebou , het gesê die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het gevra dat hulle al die beskikbare kamers reserveer vir besoekende hoogwaardigheidsbekleërs vir die begrafnis.

Teen Sondag het net 73 reisigers van die VSA egter besprekings gemaak vir akkommodasie in Pretoria, waar Mandela se liggaam van Woensdag tot Vrydag in staatsie sal lê.

Gastehuise in Pretoria sê hulle het wel besprekings ontvang vir die begrafnis.

Die Radison Blue Hotel, in Sandton, Johannesburg, is volbespreek vir die week, maar volgens ‘n bestuurder is dit nie noodwendig as gevolg van die begrafnis nie.

Michael Swart, bestuurder van Themba Day Tours and Safaris , wat daaglikse toere na Soweto reël, het gesê daar was geen oplewing in die aantal besprekings vir Sowetotoere nie.

Die toerismebedryf hoop daar sal groot belangstelling wees en dat Mandela se afsterwe ‘n “laaste geskenk” aan die bedryf sal wees.

Die koste van akkommodasie naby Qunu waar Mandela sal begrawe word, het die hoogte ingeskiet sedert die nuus van sy dood.

Die gehuggie was nogtans stil, behalwe by die Mandela-huis waar ‘n wit tent opgerig word asook sitplekke.

‘n Gewone bed- en-ontbyt vra al R3000 per nag.

Tariewe is gewoonlik tussen R700 en R1000 per nag in die Mthatha-gebied.

As gevolg van verskeie regerings- en konsulaatreëlings, sal alle hotelle in Gauteng vanaf 6 Desember tot 25 Desember as ‘n blok bespreek word.

Seun in die kop geskiet in oproer

stones’n 12-jarige seun is gewond tydens ’n betoging in Jabulani, Soweto, het die polisie in Gauteng Dinsdag gesê.

Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het gesê die kind is Vrydag geskiet.

“Die seun is na bewering in die kop geskiet en was teen gister [Maandag] steeds in die hospitaal.

“Ons weet nie wie hom geskiet het nie. Dit is tussen die Johannesburgse metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ons ondersoek die saak.”

’n Saak van poging tot moord is Maandag geopen nadat die polisie die seun se familie opgespoor het.

Makhubela  het gesê inwoners het Vrydag betoog en geëis dat spoedhobbels in die paaie aangebring word omdat motors te vinnig ry in die gebied.

Drie mense is tydens die betoging in hegtenis geneem vir openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging en het Maandag in die Protea-landdroshof verskyn.

Die saak is uitgestel tot volgende Maandag, wanneer hulle ’n formele borgtogaansoek sal bring. – Sapa

Australië of Orania?

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Blykbaar is daar ‘n beroep soos “toekomskundige”. Vandat ek as kind wetenskapfiksieverhale – onder meer Jan Rabie se Die groen planeet – gelees het, is ek nog altyd deur die toekoms geboei. Meeste mense oor veertig staan verstom oor die tegnologiese ontwikkelings wat ons die afgelope twintig jaar beleef het, van die persoonlike rekenaar tot die selfoon, om van die internet nie eens te praat nie. Hoeveel toekomskundiges kon dit voorspel?

In Parys het ek in ‘n deel van die stad met nou straatjies gewoon wat in die sewentiende eeu gebou is. Trouens, my gunstelingplein in die stad is die Place des Vosges, wat insgelyks vanaf 1605 tot 1612 deur die Franse koning Hendrik die Vierde aangelê is. Die punt is egter dat die strate oorspronklik vir koetse en perde ontwerp is. Omdat die binnebrandenjin eers aan die einde van die negentiende eeu deur Karl Benz en ander ontwikkel is, is die meeste Europese stede nooit vir motors bedoel nie.

In die VSA het die oliebeskawing werklik tot sy reg gekom en is moderne stede met breë strate en uitgebreide voorstede aangelê. Die sentrum van die Amerikaanse motorbedryf en eens waarskynlik die rykste stad in die VSA, Detroit, het egter binne enkele dekades in duie gestort en is vandag bankrot. Dit is grootliks aan die inwaartse migrasie van swartmense en uitwaartse migrasie van blankes te danke. In die proses het Detroit se bevolking insgelyks van net onder 2 miljoen tot 700 000 afgeneem. In 1940 was 91% van Detroit se inwoners blankes en 9% swartes. Tans is die bordjies verhang en ná dekades van sogenaamde “blanke vlug” is slegs 10% nog blankes en 90% swart.

Soos ‘n besoekende Nederlandse parlementariër enkele maande gelede teenoor my opgemerk het, verwysende na ons argitektuur, asook alomteenwoordige McDonalds- en Kentucky Fried Chicken-restaurante: “Suid-Afrika is eintlik ‘n tweede Amerika!”

Nes in Amerika, voer ons ‘n voorstedelike bestaan en lê daagliks etlike kilometers in ons motors af. Voertuie met binnebrandenjins. ‘n Aansienlike deel van middelklas-Afrikaners se besteebare inkomste word aan brandstof en die rente op hul huurkooppaaiemente op hul motors bestee. Op ‘n manier werk ons almal vir die oliesjegs en die banke. Ons dien die gode van die oliebeskawing. Darem het Suid-Afrika steenkool ook wat ons in groot hoeveelhede verbrand sodat ons TV’s en wasmasjiene kan loop.

Die oliebskawing het regoor Afrika beweeglikheid geskep. Die Toyota-minibus, oftewel “swart taxi”, is ‘n bekende en alomteenwoordige gesig dwarsdeur Afrika suid van die Sahara. Vele mense ry van Kenia af per taxi tot in Johannesburg waar hulle hoop om ‘n hoër lewenspeil te geniet. Terwyl dit jou ‘n duisend rand of meer aan ‘n visum kos om óf Brittanje óf die Schengen-lande van die Europese Unie te besoek, het geen buitelander ‘n visum nodig om Suid-Afrika te besoek nie. Trouens, jy kan ons land sommer sonder ‘n paspoort ook binnekom, soos almal weet.

Blykbaar woon daar reeds drie miljoen Zoeloes in Gauteng, wat oorspronklik van Zoeloeland afkomstig is. Oor die afgelope vyftien jaar of wat het die bevolking van dié provinsie meer as verdubbel, van ongeveer ses miljoen tot veertien miljoen. Danksy daardie taxi’s, gaan Gauteng se bevolking oor die volgende vyftien of twintig jaar weereens verdubbel en gaan daar 30 miljoen mense in die PWV woon. Tussen daardie 30 miljoen, gaan daar ongeveer ‘n miljoen Afrikaners ook wees wat poog om te midde van toenemende bevolkingsdruk, korrupsie en bankrot munisipaliteite ‘n bestaan te maak.

Nou die dag wys ‘n vriend vir my die munisipale rekening van sy sakeperseel in Johannesburg. Voorheen het hy R1500 per maand erfbelasting betaal. Drie maande gelede het die munisipaliteit sy erfbelasting tot R96 000 per maand opgestoot, omdat hulle gereken het hy maak genoeg geld om dit te kán betaal. Dit verteenwoordig ‘n verhoging van 6 400 persent!

Soos die ou-Griekse staatsman Perikles gesê het: “Jy mag nie ‘n belang in die politiek hê nie, maar dit verhoed nie die politiek om ‘n belang in jóú te ontwikkel nie.”

Elders op dié blad berig Leon Lemmer oor die ANC-bewind se nuwe transformasieplanne vir die universiteite. Blykbaar sal 80% van die dosentekorps binnekort swart moet wees soos wat rassekwotas deur Blade Nzimande ingestel gaan word. Ek het min simpatie met die universiteitsdosente want hulle was die eerste om die ANC se Amerikaanse rasse-ideologie te omhels en het sommer vrywillig van Afrikaans ook afstand gedoen om meer “diversiteit” op die kampus te akkommodeer. Regter Faan Hancke, voorsitter van die UOVS se raad, het as’t ware oor sy voete geval om Jonathan Jansen in te voer om sy universiteit te kom verswart en te verengels. Johan van Zyl, die voormalige rektor van Tukkies, het insgelyks die UP aan die Amerikaanse god van diversiteit geoffer. As Blade Nzimande klaar is, gaan daar net Bantoe-universiteite in Suid-Afrika oorbly wat baie soortgelyk aan die voormalige tuislanduniversiteite gaan wees.

Vele praag-lesers en -ondersteuners woon reeds in die buiteland, veral in Australië. Hoewel daar reeds baie Afrikaners in die VSA ook woon, het Australië min of meer simbolies van Afrikaner-emigrasie geraak. Óf hulle het die skrif aan die muur gesien, óf in hul eie beroep is daar nie meer werk vir blankes in Suid-Afrika nie. Ek dink veral aan stadsbeplanners wat nes ingenieurs deur die ANC-munisipaliteite voor die voet afgedank is omdat sulke kundigheid voortaan oorbodig geag is. Solank daar nog hier en daar ‘n McDonalds of ‘n winkelsentrum verrys, is alles mos reg, of hoe?

Dit neem my soggens gemiddeld ‘n uur om by my kinders se Afrikaanse hoërskool te kom, al is dit net 20 kilometer ver. As die tolgeld gehef word, gaan ek nog op die snelweg moet betaal ook. Dit klink al amper soos ‘n Karen Zoid-liedjie, nè?

Stedelike ballade

In verkeer sit jy hoog en droog
Belastings en tolgeld is hoog
Rowers en verkragters laat jou ys
En Eskom verhoog die kragprys
Ons kampus is nou lekker Engels
Ons meng ons met die semels

Refrein:
Maar dit maak nie saak nie
Dit maak nie saak nie…

Of maak dit saak?

Ons voorouers is deur ideale gedryf: vryheid, vooruitgang, geloof, beskawing. As kinders van die Amerikaanse oliebeskawing is ons seker minder idealisties en daarom bereid om onreg en selfs ongerief te verduur solank ons net nog ‘n tenk petrol of ‘n wegneem-pizza kan bekostig.

In die openingstoneel van ‘n roman, Play it as it lays, deur die ferministiese skryfster Joan Didion ry die heldin oënskynlik doelloos in haar motor in Kalifornië rond terwyl sy ‘n hardgekookte eier in die ry afskil en eet. Op die ou einde, as die ANC, Eskom, die stadsraad, die oliesjegs, georganiseerde misdaad, die banke, Naspers, Sanral en al die ander parasiete met ons klaar is, gaan ons seker soos postmoderne nomade in ons motors rondry en van hardgekookte eiers en Coke leef.

Ons beleef die laaste dae van die oliebeskawing in die PWV-gebied, wat deur die ANC tot daardie lelike portmanteau-woord “Gauteng” vernoem is. Mevrou Angela Merkel is besig om die toekoms van Duitsland op alternatiewe energie te verwed. Ná die ramp in Foekoesjima, Japan, het Duitsland al sy kernkragsentrales afgeskakel en reusebedrae in die ontwikkeling van volhoubare energiebronne soos son en wind belê.

Die onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou wat ek saam met my elfjarige seuntjie besoek het, het reeds die spore van die groot verandering in vervoer en energie vertoon in die vorm van volledig elektriese voertuie wat met batterye soos dié van ‘n selfoon werk. Die BMW i3 kan tot 190 km ver op ‘n lading ry, teen ‘n  koste van ongeveer 30 sent per kilometer. Trouens, om hom teen Eskompryse te laai, kos sowat R27, minder as ‘n wegneemete by McDonalds. Maar hoekom ry om ‘n vergadering by te woon as jy per internet kan kommunikeer? In stede van die toekoms sal mense seker soos in Nederland kan fietsry, fiks kan bly en die meeste van hul werk virtueel kan afhandel.

Die toekoms wink vir ons op allerlei maniere: tegnologies, polities, ekonomies. Intussen sit ons vas in die verlede. Johannesburg en Pretoria, tesame met die hele PWV-gebied, gaan vir ons die Detroit-eksperiment oordoen deur ‘n oliebeskawingstad deur middel van regstellende aksie en inwaartse migrasie deur ongeskoolde swartes in sogenaamde “stedelike prêrie” te omskep. Behalwe dat daar nie nog ‘n Michigan-staat gaan wees om in te gryp om dinge so effens weer vlot te maak soos wat in Detroit gebeur het nie. Miskien sal die Wêreldbank en die IMF tot ons redding kom, maar ek twyfel. As Gauteng val, gaan hy soos Harare val en nie weer opstaan nie.

Wat is die alternatief? Emigrasie? Orania toe? Toevallig sien ek dat eiendomspryse op Orania besig is om te styg. Ons het egter nodig om ‘n miljoen Afrikaners wat tans in Gauteng woon, asook daardie tweetalige Engelssprekendes wat dalk hul lot by ons sou wou inwerp, elders te huisves.

Die toekoms van Gauteng lyk vir my soos ‘n wetenskapfiksienagmerrie. Daar sal nie skoon water wees nie, maar jy sal moetie en menslike liggaamsdele en heroïen op jou selfoon kan bestel. Soos die ANC-verbonde “bemagtigdes”, sal jy op die snelweë in jou steeds petrolgedrewe swart S-klas-Mercedes kan rondry en die gepeupel rondom jou kan aanskou. Dit gaan egter ‘n aaklige, immorele bestaan wees waarvoor jy die ingesteldheid van ‘n rampokker nodig sal hê. ‘n Menselewe gaan nog goedkoper raak as wat dit reeds is. Etniese konflik tussen buitelanders en Suid-Afrikaans-gebore swartes is nie uitgesluit nie. Geweervuur rondom Sandton City of Brooklyn Mall mag dalk net so alledaags raak as wat dit reeds in Diepsloot of Soweto is. Dink Mogadisjoe wat deur krygshere met geweld regeer word.

Die ironie is: op die oomblik dat die tegnologie ons bevry van tyd en plek, asook al die kennis in die biblioteke van die wêreld feitlik gratis op ons rekenaarskerms vrystel, verval ons in die mees intense barbarisme, selfs analfabetisme. Bloot omdat ons nie daarvoor “nee” kan sê nie. Want om “nee” te sê, is mos polities inkorrek.

Deur Australië toe te emigreer, ontkom mense aan die onveiligheid en verval van Suid-Afrika. Maar die volgende geslag sterf hul taal en kultuur af. Wat wen ‘n mens daardeur? Steeds moet jy ‘n hoë prys betaal. Vele opgeleide, professionele Afrikaners eindig in Australië op waar hulle rakke pak in die supermarkte of vragmotors oor lang afstande tussen die myne bestuur. Daar is seker niks mee verkeerd nie, maar is dit die voleindiging van die heroïese Afrikanergeskiedenis: om gasarbeiders in ‘n Engelse land te word?

Die enigste ding wat my nog in Johannesburg hou, is ‘n internetverbinding. En as dit soos vandeesweek afgaan en dit kos my oor twee dae R200 om via die mobiele netwerk te verbind, dan verlang ek na die spreekwoordelike “huisie by die see” waar ek direk aan die datakabel na die noordelike halfrond kan verbind, verkieslik sonder ‘n Telkom, ‘n Vodacom, ‘n MTN of enige van die parasitiese instellings wat aanhou om ons uit te buit terwyl ons seker met ‘n twintigste van die Noord-Europese internetspoed tevrede moet wees.

Soos ek al voorheen geargumenteer het, kort ons ‘n nuwe Afrikanerekonomie wat naas die huidige tot stand moet kom. Maar ons sal ons ook stadigaan moet losmaak van die groot stedelike sentra, die hekatombes van die oliebeskawing. Hier gaan mense op ‘n groot skaal krepeer of selfs sterf as hulle weens ‘n gebrek aan energie en water begin inplof. Of stamgevegte op straat beleef.

In dié opsig was oorlede professor Carel Boshoff – en vóór hom, Verwoerd – versiende met die gedagte om na die Oranjerivier toe te trek. Die ylbevolkte, woestynagtige dele van die Noord-Kaap is waarskynlik waar die Afrikaner se toekoms lê, soos wat Gauteng, maar ook die Wes-Kaap, in ‘n stedelike nagmerrie van duur maar gebrekkige dienste, asook misdaad, korrupsie en anti-blanke rassehaat ontaard.

In hul sug na verowering, is Suid-Afrika se linkse blankes met hul krete van rassisme! reeds besig om die haat te saai wat ‘n stedelike guerilla-oorlog ontketen. Tans word dit verkeerdelik “misdaad” genoem. As ons maar ‘n paar slimmer linkses in dié land gehad het, sou hulle verduidelik het dat die klas van misdadigers, die sogenaamde loempenproletariaat, ‘n ewe revolusionêre stand is as Marx se stedelike werkers of Mao se landelike kleinboere.

Die loempenopstand is in volle swang. Die revolusionêre apokalips waarvoor soveel mense “teen apartheid gestry” of selfs gebid het, is hier. Dis monstrueus, gewelddadig en vernietigend.

Ongelukkig word mense nie deur rasionele argumente en voorspellings oortuig nie, maar deur emosie, beelde en reklame. Daarom, het dit nie tyd geword dat ons Afrikaanse skrywers, sangers en filmmakers die tema van ‘n stedelike voleindiging vir die volk dramaties uitbeeld nie? Maar ook: om die alternatief – die utopie van ‘n Afrikaanse saambestaan met genoeg sonkrag, varswater en bandwydte – voor te stel!

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Negentig persent van Soweto betaal nie elektrisiteit nie

Malusi Gigaba
Malusi Gigaba

Die minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het gewaarsku dat dit al moeiliker raak om die fondse te vind om Eskom se beleggingsprogramme te ondersteun weens die strenger kredietsituasie in die VSA, het Business Day Woensdag berig.

Hy het ook gesê wanbetaling is ‘n ernstige dilemma vir Eskom, het die koerant berig

Hy het dit gesê ter voorbereiding van ‘n toespraak by die Konvensie van die Vereniging van Munisipale Elektrisiteitsnutsmaatskappye in Oos-Londen.

Gigaba sê dit sal in die toekoms al moeiliker raak om bedryfskapitaal te vind.

Hy sê veral wanbetalers en agterstallige skuld deur munisipaliteite moet dringend aangespreek word om volgehoue beleggings te verseker.

“Die kwessie van die betaling vir dienste deur die kliënte, sowel as die munisipale elektrisiteit skuld, moet aangespreek word sodat as kapitale beleggings voortgaan, ons nie op die ‘gebruiker-betaal’-beginsel ‘n kompromie aangaan nie.“

Gigaba het gesê 90% van huishoudings wat Eskom geld skuld, is van Soweto, en dit sluit munsipale skuld in.

Die gesamentlike skuld van 10 munisipaleite aan Eskom, beloop R2,5 miljard.

Maponya kritiseer SEB

Sakeman Richard Maponya het kritiek teen die regering uitgespreek oor sy beleid van swart ekonomiese bemagtiging

Richard Maponya
Richard Maponya

in ‘n onderhoud met die Sowetan.

“Dit (SEB) is nie ‘n ware ding nie, want dit neem die self-inisiatief weg wat nodig is vir jong en opkomende entrepreneurs wat moet wakker word en die dinge self wil doen,” het hy gesê by die sesde verjaarsdagvieringe van Maponyawinkelsentrum in Soweto Vrydag.

Hy het gesê breë–gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) was dalk in beginsel ‘n goeie idee, maar in die praktyk werk dit nie altyd nie.

“Ek blameer regtig ons regering vir die ekonomiese situasie, want ons is byna 20 jaar in ons nuwe bedeling, maar ons het nie ‘n bank wat ‘n risiko fonds aan mense beskikbaar stel nie“

Hy het ook gesê swart en wit besigheid moet verenig, maar het bygevoeg dat wit sakelui en buitelanders nie toegelaat moet word om sake te oorheers in townships nie.

“Soweto het skielik ‘n plek geword waar wit sakelui wil besigheid doen, wanneer klein entrepreneurs van die gebied die geleentheid gegun moet word om eie besigheid hier te doen,” het Maponya gesê. – Sapa