Polisie ontplooi in Limpopo teen xenofobiese geweld

Geweld teen Somaliërs in Ga-Sekgopo, oos van Pietersburg (Polokwane) in Limpopo, het daartoe gelei dat hulle hul moes hul winkels verlaat.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is ontplooi. “Die situasie is tans kalm en ‘n saak van openbare geweld word ondersoek,” het hy gesê.

‘n Somaliër is glo betrap met die selfoon van ‘n moordslagoffer. Die man is drie weke gelede vermoor. Inwoners het die Somaliër daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik is vir die moord.

Volgens die polisie het een van die moordenaars moontlik die selfoon aan die Somaliër gegee, of verkoop of vir herstel ingehandig. ‘n Moordverdagte is intussen in hegtenis geneem.

Een verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord en nog ‘n persoon het homself Sondag aan die polisie oorgegee.

Sedert Sondag het geweld en plundery in 11 gebiede in Sekgopo die Somalies immigrante uit hul winkels gedwing.

Somaliese winkeleienaars in die gebiede het gesê hulle leef in vrees, aangesien plaaslike swart inwoners dreig om hulle lewend aan die brand te steek.

Een van die winkeliers het gesê hy het al sy voorraad verloor tydens die plundertog. “Ons het ons voorraad, kruideniersware, klere en boumateriaal verloor,” het hy gesê.

Ander eienaars is bekommerd dat hulle kollektief verantwoordelik sal gehou word vir een oortreding. “Dit is jammer, want ons is nie eers deel van hierdie selfoonherrie nie, maar omdat ons buitelanders is, word ons ook ingesluit. Ons bly al jare lank in hierdie gemeenskap. Ons was ‘n familie, ons was deel van hulle.”

Buitelander lewendig verbrand deur gepeupel

In die jongste voorval van vreemdelinghaat is ‘n buitelander lewendig aan die brand gesteek deur ‘n verwoede gepeupel in Soweto.

In nog ‘n voorval is twee mense in hegtenis geneem vir diefstal van goedere uit ‘n buitelandse winkel in Thembelihle, Lenasia. Altesaam 180 mense is reeds verlede maand vasgetrek vir ivm plundery en geweld.

Die buitelander is ernstig beseer toe die skare Donderdag in Doornkop in Soweto paraffien oor hom uitgegooi het en hom aan die brand gesteek het nadat hy aangesê is om die plek te verlaat.

Lt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. “Polisiebeamptes het na die toneel gehaas om hom te red. Hy is baie ernstig beseer en is na ‘n hospitaal geneem.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Vier buitelanders is in ‘n afsonderlike voorval in hegtenis geneem toe ‘n groep swart plaaslike inwoners hul winkel begin plunder het.

“Een van die buitelanders het ‘n in die lug gevuur,” volgens Makhubela. Die polisie het die vuurwapen daarna gekonfiskeer. Nie een van die plaaslike inwoners is in hegtenis geneem nie.

Verskeie buitelandse winkels loop in Gauteng onder plundery deur nadat die 14-jarige Siphiwe Mahori op 19 Januarie doodgeskiet is.

Mahori was deel van ‘n skare wat ‘n Somaliër se winkel in Snake Park in Soweto wou beroof. Die onrus het van Soweto na Kagiso aan die Wes-Rand oorgespoel, asook Sebokeng in die Vaal, Edenpark in Ekurhuleni en Alexandra in Johannesburg.

Verskeie mense is dood, insluitend ‘n baba wat tydens ‘n stormloop versmoor het.

Die geweld teen buitelanders se ondernemings regoor die land sal ondersoek word, die minister van Klein Sake, Lindiwe Zulu gesê.

“Die verlies van lewens en die vernietiging van eiendom moet in die sterkste moontlike terme veroordeel word,” het Zulu in ‘n verklaring gesê.
 
Sy het gesê ‘n span sal saamgestel word om die oorsake te ondersoek en aanbevelings te maak.
 
“Ons doen ‘n beroep op lede van ons gemeenskappe om saam te werk met die polisie en nie die reg in eie hande te neem nie.”
 
Sy het gesê almal wat in Suid-Afrika woon, insluitend buitelanders, is geregtig op beskerming onder die wet. In terme van die Grondwet, kan asielsoekers en vlugtelinge besighede in Suid-Afrika bedryf.
 
“Buitelanders wat besighede besit is ook onderhewig aan dieselfde belasting en heffings as Suid-Afrikaners,” het sy egter bygevoeg.
 
“Ons doen ‘n beroep op lede van ons gemeenskappe om aan staatsdepartemente en ander regeringsagentskappe die ruimte te laat om die situasie aan te spreek.”
 
Zulu is onlangs gesê buitelanders moet hulle handelsgeheime en sukses met die plaaslike bevolking deel.
 
“Swart mense was nooit deel van die ekonomie van Suid-Afrika in terme van die besit van enigiets nie. Daarom, as hulle sien dat ander mense van buite suksesvol is, voel hulle asof hulle uit daardie ruimte gesluit word deur buitelanders,” het sy aan Bloomberg op 28 Januarie gesê.

“Dit is belangrik vir buitelanders om hul sukses met Suid-Afrikaners te deel.”
 

Polisie sê Soweto-geweld is onder beheer

Buitelanders moes uit Soweto vlug, of skuiling gaan soek by polisiestasies in die gebied, ná die jongste vlaag van geweld teen hulle.

Die geweld het Maandagaand uitgebreek nadat ‘n buitelandse winkeleienaar na bewering die 14-jarige Siphiwe Mahori in Snake Park doodgeskiet, omdat Mahori glo sy winkel wou beroof.

Die Gautengse polisiekommissaris, Lesetja Mothiba hou nietemin vol dat die polisie genoeg mannekrag het om die aanvalle onder beheer te bring.

Hy sê egter die polisie se nasionale leierskap is in kennis gestel dat bykomende magte op bystand moet wees.

Die polisie moes inderhaas ontplooi word om die plundery van winkels wat aan buitelanders behoort in Soweto hok te slaan. Volgens Lesetja is meer polisiebeamptes ontplooi in die gebiede wat deur die plundery geraak word.

Die geweld het in Soweto begin, en ook na Diepkloof en Kagiso versprei.

Asad Ali, wat ‘n selfoon-herstelwinkel gehad het, sê hy soek nou ‘n ander plek om sy winkel oop te maak.

Die adjunkvoorsitter van die Somaliese-vereniging van Suid-Afrika, Cassim Ali het die plundery as vreemdelingehaat én misdaad bestempel.

Meer as 120 mense is tot dusver in hegtenis geneem op aanklagte wat wissel van moord tot diefstal en die polisie het beslag gelê op tientalle onwettige vuurwapens.

Mothiba sê hulle is besig met ‘n ondersoek na waar die vuurwapens vandaan kom.

Drie polisiebeamptes, wat nie in uniform geklee was nie, het ‘n Sapa-verslaggewer glo Donderdag gedwing om foto’s van haar selfoon uit te vee wat sy van ‘n Somaliër se winkel in Dobsonville, Soweto, geneem het.

Die verslaggewer is afgetrek deur ‘n polisievoertuig nadat sy die foto’s geneem het.

“Die een beampte het oor my skouer geloer om seker te maak dat ek alles uitvee,” het Mpho Raborife gesê. “Hy het daarna gesê ek mag nie ʼn foto op die toneel neem nie, aangesien dit openbare geweld is, so dit val onder hulle jurisdiksie.

“Hulle het toe gesê ek mag in elk geval nie die foto’s neem nie omdat ek nie toestemming gevra het nie, en ek kan nie net by ʼn toneel opdaag en foto’s neem en dan wegry nie.”

Die polisie het haar verslaggewerskaart en selfoon by haar afgeneem. Daarna het die beamptes volgehou dat sy hulle na die Dobsonville-polisiestasie moet vergesel en geweier dat sy haar werkgewer bel. Hulle is uiteindelik nooit na die stasie nie.

Die polisiebeampte het volgehou dat sy nie daar mag foto’s neem en dit aan die publiek mag ‘uitlek’ nie. Hulle het haar selfoon en verslaggewerskaart teruggegee eers nadat sy die foto’s uitgevee het.

Mark van der Velden, redakteur van Sapa, het gesê die verslaggewer het haarself met haar verslaggewerskaart geïdentifiseer en alhoewel die polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig was, het hulle siviele klere aangehad en het hulself nie voldoende geïdentifiseer nie. “Die feite tot dusver dui daarop dat die gedrag van die beamptes uiters onprofessioneel was en dit voldoen nie aan die prosedure nie. Die polisiebeamptes het klaarblyklik moeite gedoen om ʼn joernalis te intimideer en wou inligting in openbare belang onderdruk oor ʼn aktuele nuusstorie oor xenofobie.”

Volgens Van der Velden word die polisie verbied om enige media te dwing om foto’s uit te vee. Hy het bygevoeg dit is nog ʼn voorval van polisiebeamptes wat staande bevele verontagsaam.

Sapa gaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn formele klag by die polisiekommissaris se kantoor aanhangig maak.

EFF sit glo agter geweld teen Somaliërs in Mamelodi

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) sit glo agter die aanvalle op Somaliërs en hul winkels in Mamelodi-Oos, Pretoria.

Lede van ‘n groep wat onder die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) val, is gestuur na die gemeenskap toe die onluste het drie weke gelede uitgebreek het.

Hulle is ontplooi om die oorsprong van die probleem te soek en oplossings te vind.

Swart jeugdiges wat nyaope rook word daarvan beskuldig dat hulle deur die EFF gebruik word om die gemeenskap te destabiliseer en buitelanders weg te jaag.

“Hulle het die jeugdiges op ‘n vlaag van verwoesting gestuur om buitelanders aan te val sodat die ekonomiese krag kan terugkeer na die plaaslike bevolking,” sê Walter da Costa, koördineerder van die VN-program.

“Ons het diep in die gemeenskap ingedring en het met swart jeugdiges gepraat, sommige van hulle leiers van die aksie. Hulle het gepraat oor hul mandaat om chaos te veroorsaak,” het die program-koördineerder gesê.

Die gebruik van nyaope-verslaafdes was strategies omdat hulle enigiets sal doen om die dwelm te bekom.

Hulle gewelddadige aard maak dit moeilik om hulle te stop, het hy gesê.

Nyaope is ‘n verslawende konkoksie van ondermeer heroïen en anti-retrovirale VIGS-medisyne.

Die geweld het begin in die Phomolong-lokasie drie weke gelede en versprei met groepe van gewapende jeugdiges wat ná donker aanval en winkels plunder en kaalstroop.

Drie Somaliese winkeleienaars is dood en baie ernstig beseer. Meer as 300 het reeds gevlug.

Die polisie sê kriminele elemente speel ‘n rol en dit is nie xenofobiese aanvalle nie, alhoewel net buitelanders geteiken word.

Die EFF wou nie reageer op berigte van hul betrokkenheid nie.

 

Somaliërs vlug uit Mamelodi, Pretoria

somaliSomaliese winkeleienaars van Mamelodi-Oos, Pretoria is gedwing om uit die gebied te vlug.

Hulle skuil tans in ‘n huis in Pretoria-Wes met skaars genoeg ruimte, eerder as om die dood te trotseer.

Dit volg na xenofobiese aanvalle op hul winkels wat geplunder is. Een van hulle is glo doodgemaak sedert die geweld Saterdag begin het.

Sowat 300 mans, vroue en kinders woon nou saam in die huis wat deur Somaliërs besit word Pretoria-Wes.

“Ons oorweeg dit om terug te gaan na ons oorloggeteisterde land,” het een winkeleienaar gesê.

Hy was een van ‘n groep wat die dood ontsnap het Dinsdagaand in Mamelodi-Oos, nadat ‘n mede-Somali aangeval is deur ‘n groep swart jeugdiges wat ook toegeslaan het op sy spazawinkel en dit leeg gesteel het.

Die groepe van tot 100 jong swartes, plunder die winkels van alles – van kos tot vate paraffien, koeldrank en lugtyd-bewyse.

Die Somaliërs het gesê een eienaar was in Pretoria-Wes toe hy in kennis gestel is dat sy winkel aangeval word. Hy het daarheen gehaas, en is vermoor deur ‘n woedende skare, het hulle gesê.

“Sy gesig was ‘n groot gemors,” het ‘n ander Somaliese man gesê.

“Die stad en die regering het nie ingegryp in die humanitêre krisis nie, miskien is ons beter af as ons teruggaan huis toe,” het een gesê. Hulle sê die polisie ignoreer hulle.

Kapt. Tsekiso Mofokeng het gesê die ondersoek na die aanvalle duur voort.

‘SA kan ook terreurteiken word’

Hussein Solomon
Hussein Solomon

Sowat 12 rebelle was in die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi betrokke, wat die lewens van minstens 68 mense geëis het, het The Standard berig nadat dié koerant beeldmateriaal van die sentrum se sekuriteitskameras gesien het.

Die beeldmateriaal bevestig ooggetuies se weergawes dat die aanvallers – gewapen met handgranate, gewere, pistole en ammunisie – die winkelsentrum van die voor- en agterkant bestorm het.

Die grootste groep het voor ingegaan en ‘n eetplek met geweervuur en handgranate aangeval.

Vier aanvallers het by die ingang wat na die parkeerarea lei ingegaan nadat hulle ‘n sekuriteitswag geskiet het.

Dié groep het aanbeweeg na die parkeerplekke op die dak waar ‘n plaaslike radiostasie ‘n partytjie aangebied het.

Die aanvallers het twee handgranate na die partytjiegangers geslinger, maar slegs een het ontplof.

Volgens verskeie ooggetuies is mense beveel om die Islamitiese geloofsbelydenis op te sê. Diegene wat minstens die eerste paar woorde kon voordra se lewens is gespaar en die mense wat dit nie kon opsê nie is geskiet.

“Toe ek die eerste woorde van die belydenis opsê, het hulle aanbeweeg. Dit is hoe ek bly lewe het,” het een oorlewende aan The Standard gesê.

Sulke aanvalle kan ook in Suid-Afrika plaasvind, het prof. Hussein Solomon, lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat aan Beeld gesê.

“Die terreuraanval in Nairobi moet gevaarligte by Suid-Afrikaanse owerhede laat flikker, want as Al-Shabab sou besluit om ’n winkelsentrum hiér te teiken, is daar bitter min wat in hul pad sal staan,” het Solomon gesê.

Al-Shabaab het glo op sy Twitter-profiel, wat intussen verwyder is, gesê die aanval was in weerwraak op Keniaanse troepe se betrokkenheid by Amisom, die Afrika-Unie-mag in Somalië.

Suid-Afrika, as ’n lid van die Afrika-Unie (AU), steun Amisom onregstreeks, maar bied tans geen direkte militêre ondersteuning nie.

Suid-Afrika het ’n groot Somaliese bevolking en onder hulle tel glo al-Shabab-lede. Somaliërs wat in xenofobiese aanvalle geteiken word, het baie volgens Solomon hul gewapende Al-Shabab-landgenote betaal om hulle teen Suid-Afrikaners te beskerm.

Anneli Botha, ’n terreurkenner by die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê al-Shabab-lede het aan haar bevestig dat Suid-Afrika as ’n basis gebruik word.

Solomon se bewerings oor Al Kaida in Suid-Afrika het voorheen vir ‘n storm van kritiek in die Moslemgemeenskap gesorg. Leiers het sy onjuiste stellings veroordeel en gesê hy wil paniek saai en ‘n negatiewe beeld van Suid-Afrikaanse Moslems skep.

Saoedi-Arabië het vroeër gespog dat hulle Al Kaida beheer en as politieke afdreigmiddel internasionaal gebruik. Dié olieland is ‘n Amerikaanse bondgenoort.- Sapa/AFP

ANC: Polisie moet geweld in PE keer

peDie polisie moet die geweld tussen Suid-Afrikaners en Somaliërs in Port Elizabeth stop, het die ANC in die Oos-Kaap, gesê.

“Enige soort geweld, insluitend plundering van winkels in besit van Somaliërs is onwettig, verkeerd en het geen plek in Suid-Afrika nie,” het die African National Congress se provinsiale sekretaris, Oscar Mabuyane in ‘n verklaring gesê.

“Die SA Polisiediens is die eerste en die laaste linie van verdediging vir ons gemeenskappe, en ons doen ‘n beroep op hulle om die wet en openbare-orde polisiëringstegnieke toe te pas om hierdie golf van geweld te stop.“

Oos-Kaapse polisie het gesê sewe mans is in hegtenis geneem die naweek vir plundering en brandstigting van Somaliërs se winkels in Port Elizabeth.

Ten minste 10 winkels in KwaZakhele en New Brighton is aangeval en ‘n voertuig gebrand.

Mabuyane het gesê die ANC in die provinsie doen ‘n beroep op inwoners in die Nelson Mandela Bay Metro om hulle te weerhou daarvan om die wet in eie hande te neem.

“Geweld sal nie help in enige situasie nie, maar sal sake net vererger vir ons mense,” het hy gesê.

Die polisie se woordvoerder in die Oos-Kaap, Miranda Mills sê die geweld het na Missionville uitgebrei waar nog agt winkels geplunder is. Nog drie mense is aangekeer.

Winkels in buitelanders se besit word geteiken. Die polisie is in New Brighton, Zwide, Missionvale, Soweto-On-Sea en Kwa Zakhele ontplooi. – Sapa

Verspreide oproer oor buitelanders, HOP-huise

somaliDaar is steeds ‘n groot polisieteenwoordigheid by New Brighton in Port Elizabeth nadat die plunder van winkels wat aan Somaliërs behoort deur die woonbuurt versprei het.

Die Somaliërs het alles opgepak wat hulle uit hulle winkels kon red en is na veiligheid geneem.

‘n Polisiewoordvoerder, Thembi Gwe sê die geweld het na bewering begin nadat ‘n Somaliese man ‘n 30-jarige man tydens ‘n argument doodgeskiet het.

Lede van die gemeenskap het toe op ‘n stormloop gegaan en tien winkels geplunder. Drie winkels en ‘n voertuig wat buite een van die winkels geparkeer was, is aan die brand gesteek.

Die plundery het in Gunguluza- en Tintilistraat begin, maar het vinnig versprei. Die polisie monitor steeds die gebied.

Verder noord het inwoners van die Thekwane-Suid township naby Nelspruit in Mpumalanga een van die hoofpaaie na Nelspruit met brandende buitebande versper.

Die inwoners beweer dat  hulle huise aan ander mense verkoop. Hulle wil hê die LUR vir huisvesting, Andries Gamede moet ingryp en ‘n oplossing vir die saak vind.

Die betoging gaan na verwagting die oggendverkeer in die Mbombela gebied ontwrig, aangesien die pad wat versper word ook die KaNyamazane township met Nelspruit verbind. – RSG

Vreemdelinghaat vlam weer op

Die polisie in die Wes-Kaap moes van rubberkoeëls gebruik maak om ‘n skare van sowat 400 Riviersonderend-inwoners uitmekaar te jaag.

Dit kom nadat inwoners op loop gegaan het en verskeie Somaliërs aangeval en hulle winkels verwoes het.

“Hierdie is nie ‘n xenofobiese aanval nie. Die inwoners was woedend omdat die polisie die liggaam van ‘n 20-jarige in die veld gevind het. Die man is in Desember as vermis aangemeld en was laaste saam met Somaliërs gesien,” he insp. November Filander, polisiewoordvoerder, Dinsdag gesê.

Inwoners het ‘n versoek aan die munisipaliteit gerig om Maandag ‘n betoging in die strate te hou. Hierdie versoek is afgekeur. Inwoners het egter voortgegaan met die optog wat later gewelddadig geraak het.

Die polisie het die skare met rubberkoeëls verjaag. ‘n 30-jarige vrou is in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld.

Sowat 20 Somaliërs het skuiling by die plaaslike polisiekantoor gaan soek. Hulle moes Dinsdagoggend na aangrensende woongebiede skuif.

 

осушитель воздухаАлександр Фильчаков Васильевич