Tweelingbroers Sallahoeddin (Brandon-Lee) en Jakeen (Tony-Lee) Thulsie, wat van terrorisme beskuldig word, sal na verwagting om borgtog aansoek doen by die Johannesburgse landdroshof.
Tydens hul laaste verskyning het kol. André Neethling, ‘n provinsiale ondersoeker van misdade teen die staat, getuig teen die 23-jariges, wat na bewering hul arrestasies onwettig wil laat verklaar.
Neethling het aan die hof gesê dat hy aan huis van een van die Thulsies, die ondersoekbeampte ao. Wynand Olivier raakgeloop het.
Olivier het na bewering aan hom gesê dat ‘n getuie, Renaldo Smith, erken het dat hy en die broers deel was van ‘n groep wat Suid-Afrika wou verlaat om aan te sluit by die terreurgroep, die Islamitiese staat (ISIS).
Die tweeling wou na bewering aanvalle op die Amerikaanse ambassade en Joodse kulturele sentra in Suid-Afrika uitvoer. Hulle is na bewering in hegtenis geneem tydens klopjagte in Newclare en Azaadville op 9 Julie.
Hulle staan tereg op drie aanklagte van die oortreding van die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en verwante Aktiwiteite.
Sowat 12 rebelle was in die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi betrokke, wat die lewens van minstens 68 mense geëis het, het The Standard berig nadat dié koerant beeldmateriaal van die sentrum se sekuriteitskameras gesien het.
Die beeldmateriaal bevestig ooggetuies se weergawes dat die aanvallers – gewapen met handgranate, gewere, pistole en ammunisie – die winkelsentrum van die voor- en agterkant bestorm het.
Die grootste groep het voor ingegaan en ‘n eetplek met geweervuur en handgranate aangeval.
Vier aanvallers het by die ingang wat na die parkeerarea lei ingegaan nadat hulle ‘n sekuriteitswag geskiet het.
Dié groep het aanbeweeg na die parkeerplekke op die dak waar ‘n plaaslike radiostasie ‘n partytjie aangebied het.
Die aanvallers het twee handgranate na die partytjiegangers geslinger, maar slegs een het ontplof.
Volgens verskeie ooggetuies is mense beveel om die Islamitiese geloofsbelydenis op te sê. Diegene wat minstens die eerste paar woorde kon voordra se lewens is gespaar en die mense wat dit nie kon opsê nie is geskiet.
“Toe ek die eerste woorde van die belydenis opsê, het hulle aanbeweeg. Dit is hoe ek bly lewe het,” het een oorlewende aan The Standard gesê.
Sulke aanvalle kan ook in Suid-Afrika plaasvind, het prof. Hussein Solomon, lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat aan Beeld gesê.
“Die terreuraanval in Nairobi moet gevaarligte by Suid-Afrikaanse owerhede laat flikker, want as Al-Shabab sou besluit om ’n winkelsentrum hiér te teiken, is daar bitter min wat in hul pad sal staan,” het Solomon gesê.
Al-Shabaab het glo op sy Twitter-profiel, wat intussen verwyder is, gesê die aanval was in weerwraak op Keniaanse troepe se betrokkenheid by Amisom, die Afrika-Unie-mag in Somalië.
Suid-Afrika, as ’n lid van die Afrika-Unie (AU), steun Amisom onregstreeks, maar bied tans geen direkte militêre ondersteuning nie.
Suid-Afrika het ’n groot Somaliese bevolking en onder hulle tel glo al-Shabab-lede. Somaliërs wat in xenofobiese aanvalle geteiken word, het baie volgens Solomon hul gewapende Al-Shabab-landgenote betaal om hulle teen Suid-Afrikaners te beskerm.
Anneli Botha, ’n terreurkenner by die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê al-Shabab-lede het aan haar bevestig dat Suid-Afrika as ’n basis gebruik word.
Solomon se bewerings oor Al Kaida in Suid-Afrika het voorheen vir ‘nstormvan kritiek in die Moslemgemeenskap gesorg. Leiershet sy onjuiste stellings veroordeel en gesê hy wil paniek saai en ‘n negatiewe beeld van Suid-Afrikaanse Moslems skep.
Saoedi-Arabië het vroeër gespog dat hulle Al Kaida beheer en as politieke afdreigmiddel internasionaal gebruik. Dié olieland is ‘n Amerikaanse bondgenoort.- Sapa/AFP
Terwyl ’n geheime vergadering tussen die ANC-bewind se adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka, en haar Zimbabwiese eweknie, Joyce Mujuru, in ’n Johannesburgse hotel plaasgevind het, het beide regerings steeds uitgevaar teen mediadekking van die krisis in Zimbabwe en magte van buite wat “regime-verandering” in die land probeer bewerkstellig.
Die besoek van Joyce Mujuru het tot spekulasie aanleiding gegee dat sy die ANC-bewind mag vra om haar te help om Mugabe uit te werk. Sy en haar man, genl. Solomon Mujuru, word as twee van die magtigste mense in Zimbabwe beskou, maar het blykbaar in onguns by Mugabe verval weens hul ambisie om hom te onttroon. Mujuru het sy vrou na Suid-Afrika vergesel en albei gaan volgens berigte in die luukse Westcliff-hotel in Johannesburg tuis.
Tot dusver het die ANC-bewind vyandig teenoor Zimbabwiese opposisiegroepe gestaan en dis bekend dat die party sou wou sien dat ZANU-PF, ’n “susterbevrydingsbeweging” soos die party al na laasgenoemde verwys het, die land aanhou regeer. Die moontlikheid bestaan dus dat die ANC ’n paleisrevolusie van binne ZANU-PF teen Mugabe sou kon steun.
Sowel die ANC-onder-minister van buitelandse sake, Azziz Pahad, as die Zimbabwiese inligtingsministerie het teen buitelandse joernaliste uitgevaar. Die Zimbabwiese inligtingsministerie het joernaliste, waaronder twee Britse korrespondente, gewaarsku dat die “regering dalk gedwing mag word om teen hulle op te tree” en het die Amerikaanse uitsaaier CNN daarvan beskuldig dat hy sy regering se beleid van “bewindsverandering” in Harare ondersteun.
Pahad van die ANC het gister op sy beurt gesê dat daar “’n mate van geloofwaardigheid” aan bewerings kleef dat “magte van buite” poog om ’n bewindsverandering in Harare te bewerkstellig en hy het die Suid-Afrikaanse media van vooroordeel in hul beriggewing oor Harare beskuldig.
Volgens hom is die Suid-Afrikaanse media “te sensasionalisties” in hul verslaggewing oor Zimbabwe en wy hulle “massiewe dekking aan die sienswyses van Westerse regerings.
Pahad het gesê dat die huidige krisis in Zimbabwe vermy kon gewees het indien Europa, die Verenigde State en Suid-Afrika ’n gemeenskaplike benadering tot die land se probleme gevolg het.
“Die deure sou nie toe gewees het nie” en dialoog met die regering van president Robert Mugabe sou voortgegaan het, het Pahad aan verslaggewers in Pretoria verklaar.
In antwoord op kritiek tuis en oorsee omdat die ANC-bewind in gebreke gebly het om Mugabe se onderdrukking van politieke opposisie regstreeks te kritiseer, het hy gesê: “Dis nie ons voorneme om militante uitlatings te maak om onsself goed te laat voel en om regerings buite die kontinent tevrede te stel nie. Slegs dialoog tussen die verskillende politieke partye in Zimbabwe kan die huidige dooiepunt oplos.”
Pahad het ook die Australiese regering gekritiseer wat ’n beroep gedoen het dat Suid-Afrika se ANC-bewind meer moet doen om die krisis op te los. “Dit is sinneloos vir die Australiese premier om ons te vra om ‘meer te doen’ sonder om te sê wat presies hulle wil hê Suid-Afrika moet doen. Daar is heeltyd vir ons gesê ons sing van dieselfde bladmusiek af, maar dit lyk nou asof ons in verskillende orkeste speel.”
’n Zimbabwiese opposisiefiguur het ook ’n beroep op Westerse moondhede gedoen om hulself van inmenging in die land se politieke krisis te weerhou.
“Die enigstes met die nodige morele gesag om oor Zimbabwe te praat, is Afrikane, het die faksieleier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), Arthur Mutambara Vrydag in Johannesburg gesê.
“Ons waardeer die ondersteuning van Westerse moondhede, maar die dubbele standaarde van die Weste ondermyn ons stryd,” het hy aan tydens ’n seminaar oor Zimbabwe wat deur die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakverbonde (COSATU) georganiseer is, gesê.
Mutambara, wat leier is van ’n faksie binne die MDC wat gekant was teen die party se besluit om aan die senaatsverkiesings van 2005 deel te neem, het ook gesê dat eenheid in opposisiegeledere ’n sleutelelement in die “bevryding” van Zimbabwe van Mugabe se heerskappy is.
“Dis ’n groot tragedie dat ons steeds twee faksies binne die MDC het. Een van die basiese lesse is dat ons nêrens sonder eenheid gaan kom nie,” het hy gesê.