Somaliese winkeleienaars van Mamelodi-Oos, Pretoria is gedwing om uit die gebied te vlug.
Hulle skuil tans in ‘n huis in Pretoria-Wes met skaars genoeg ruimte, eerder as om die dood te trotseer.
Dit volg na xenofobiese aanvalle op hul winkels wat geplunder is. Een van hulle is glo doodgemaak sedert die geweld Saterdag begin het.
Sowat 300 mans, vroue en kinders woon nou saam in die huis wat deur Somaliërs besit word Pretoria-Wes.
“Ons oorweeg dit om terug te gaan na ons oorloggeteisterde land,” het een winkeleienaar gesê.
Hy was een van ‘n groep wat die dood ontsnap het Dinsdagaand in Mamelodi-Oos, nadat ‘n mede-Somali aangeval is deur ‘n groep swart jeugdiges wat ook toegeslaan het op sy spazawinkel en dit leeg gesteel het.
Die groepe van tot 100 jong swartes, plunder die winkels van alles – van kos tot vate paraffien, koeldrank en lugtyd-bewyse.
Die Somaliërs het gesê een eienaar was in Pretoria-Wes toe hy in kennis gestel is dat sy winkel aangeval word. Hy het daarheen gehaas, en is vermoor deur ‘n woedende skare, het hulle gesê.
“Sy gesig was ‘n groot gemors,” het ‘n ander Somaliese man gesê.
“Die stad en die regering het nie ingegryp in die humanitêre krisis nie, miskien is ons beter af as ons teruggaan huis toe,” het een gesê. Hulle sê die polisie ignoreer hulle.
Kapt. Tsekiso Mofokeng het gesê die ondersoek na die aanvalle duur voort.
