Die verwikkelings rondom Sirië is besig om wêreldnuus te monopoliseer. Dit is tans ‘n warboel van gebeure, waar partye met uiteenlopende, en teenstrydige agendas, oogmerke, motiewe en strategieë mekaar die stryd aangesê het.
Lees ook gerus Franse leier na Moskou en Spanning tussen Rusland en Turkye.
Sedert die terroriste-aanval in Parys op 13 November, smous die Franse president van hoofstad na hoofstad om ‘n koalisie te probeer saamflans vir ‘n gesamentlike poging teen die Islamitiese Staat, ISIS of DAESCH in Sirië. Die afgelope week het hy besoeke afgelê by David Cameron, Matteo Renzi, Angela Merkel, Barack Obama, en ook by Pres Vladimir Poetin.
Tot pas voor die 13de November se aanvalle was pres. Hollande se grootse besorgdheid nog die beste manier om duisende immigrante uit die Midde-Ooste en elders oor die Franse platteland te versprei en gevestig te kry sodat hulle nie die situasie in die Franse stede nog verder verpes nie.
Of die vennote in die koalisie wat hy probeer vorm, die wil en begeerte het om die Islamitiese Staat aan te vat, is te betwyfel. Feit is dat Amerika, Brittanje en Frankryk grootliks verantwoordelik is vir die vestiging en groei van die Islamitiese Staat in Irak in Libië en in Sirië.
Voorts is dit ook duidelik dat Frankryk nie naastenby oor die militêre vermoë beskik om werklik ‘n betekenisvolle verskil in Sirië te maak nie. Die Franse weermag is oor die afgelope dekades deur ‘n reeks presidente stelselmatig afgetakel sodat Frankryk vandag net nie meer ‘n militêre moondheid is om van te praat nie.
Een vliegdekskip (die enigse wat Frankryk het) in die Oostelike Middellandse See is nie ‘n swaeltjie wat ‘n somer kan maak nie. Vandaar dan ook die angsvallige pogings om ‘n koalisie op die been te bring wat die werk kan doen. Want sedert 13 November voel pres. Hollande dat iets aan die terroriste probleem gedoen moet word. Lê daar dan nie belangrike verkiesings in Frankryk voor nie?
Die laaste been van pres. Hollande se werwingskampanje was ‘n ontmoeting met pres. Vladimir Poetin in Moskou. Die hoofdoel van sy besoek was om Barack Obama se wense aan pres. Poetin oor te dra dat Rusland hom daarvan moet weerhou van aanvalle teen “gemagtigde” Moslems in Sirië.
“Gematigde” Moslems is skynbaar dié wat hulle beywer om Basjar al-Assad se bewind omver te gooi, iets waarvoor Amerika en Frankryk hul beywer. Maar die Islamitiese staat veg natuurlik ook teen Assad. Daar moet dus teen Islamitiese terroriste opgetree word, maar nie teen die “gematigdes” nie.
Hoe onderskei moet word , in ‘n situasie soos die in Sirië tussen terroriste en “gematigdes” bly ‘n raaisel.
Hoe moet die Russiese lugmag byvoorbeeld te werk gaan om sy bomaanvalle te beperk tot terroriste en ekstremiste, in ‘n land waar ekstremiste en sogenaamde “gematigdes” presies dieselfde doel nastreef, naamlik die omverwerping van ‘n demokraties-verkose sekulêre president, grondgebied deel, dieselfde lyk, dieselfde taal praat en aan dieselfde geloof behoort?
Niemand kon tot dusver eintlik verduidelik wat presies ‘n “gematigde” rebel in Sirië is nie en hoe hy verskil van ‘n ekstremis bly ‘n raaisel. Die Moslems wat ingevoer word om die insurgensie te lei om Assad se bewind omver te werp, is juis gekant teen Assad se verdraagsaamheid teenoor ander godsdiensgroepe.
Terwyl die Franse President by Rusland witvoetjie gaan soek, neem die Franse regering steeds deel aan ‘n aktiewe sanksieprogram teen Rusland en net enkele weke gelede nog is die kontrakte vir die lewering van twee helikopterdraers aan Rusland verbreek.
Maar kom ons probeer weer logies en rasioneel kyk na die situasie in Sirië. Die storie wat die Amerikaners ons wil wysmaak, is dat Assad, soos Sadam Hoessein en Moeammar Ghaddafi voor hom, ‘n diktator is wat die demokrasieë nie kan gedoog nie.
Frankryk, Amerika en Engeland verkeer dus nou in die situasie dat hulle wil veg teen die Islamitiese staat sonder om Assad te bevoordeel en vir Assad wil verwyder sonder dat dit die Islamitiese staat versterk. Duidelik is dit logies onhaalbaar. Daarbenewens is Assad die sleutelfiguur in die stryd teen die Islamitiese staat.
Die gevegte vind ten slotte op sy grondgebied plaas. Die gevolg van hierdie absurde situasie is dat Amerika en sy bondgenote so ‘n soort halfhartige stryd teen die Islamiste voer en die enigste moondheid wat eintlik iets doelgerig teen die Islamitiese staat uitrig, is Rusland,
Watter belang kan die Amerikaners daarby hê of Sirië ‘n demokratiese regering het of nie? In Irak en Libië het hulle ook ingetree om diktatorskappe te verwyder en “gematigdes” aan die mag te bring, maar al wat hulle bereik het, was om die Islamitiese staat se posisie daar eindeloos te versterk. Die veldtog teen Assad is deel van dieselfde patroon: Amerikaners wat hulle eie belange dien op voorwendsel van die beskerming van die demokratiese regte van Siriërs, baie soos in Suid-Afrika ook die geval was.
Die Amerikaners en hulle Wes-Europese bondgenote handhaaf uitstekende betrekkinge met die weersinswekkende regimes in Saudi Arabië en Katar, aan wie hulle wapens teen miljarde dollars verkoop en wat dit op hulle beurt weer oorvloediglik verkwansel aan die Islamitiese staat in Sirië en elders. Ook die geld waarmee die Islamitiese Staat die wapentuig koop, verdien hulle deur die lewering van olie, katoen en wat nog meer aan die weste se gewaardeerde NAVO bondgenoot, Turkye.
Nou wat is dan die verskil tussen Irak, Libië en Sirië, aan die een kant en Saudi Arabië en Katar aan die ander? In werklikheid is hulle is almal voëls van eenderse vere maar mistens is dit ‘n feit dat Saddam, Ghaddafi en Assad die Islamitese fanatisme in toom gehou het en dit is tog wat werklik saakmaak.
Maar daar is wel ‘n verskil vir sover dit Amerika aanbetref: Die regimes in Sirië, soos Irak en Libië tevore, is nasionalisties ingestel en wil ‘n soewereine onafhanklike pad volg, terwyl Saudi Arabië en Katar kefferbrakke van Amerika is wat maar te graag na die Amerikaners se pype dans.
Een van die belangriksgte redes vir Amerikaanse vyandigheid jeëns Sirië is juis dat Assad in 2009 geweier het om ‘n gaspypleiding van Amerika se skoothond Katar oor sy grondgebied na Europa toe te laat. ‘n Mens veronagsaam net eenvoudig nie die begeertes van Amerika nie. Vra maar vir FW de Klerk.
Wat ook interessant is, is dat die Wes-Europeërs en Amerika ten spyte van hulle obsessionele beheptheid met menseregte geen probleme het om goeie betrekkinge te handhaaf en sake te doen met die rampokkerregimes in Saudi Arabië en Katar nie wat van die ergste verkragters van menseregte ter wêreld is.
Maar teen Rusland handhaaf hulle sanksies en kanselleer hulle wapenkontrakte omdat Rusland sy onmiskenbare regte in die Krim en in die Oekraïene opeis, waar geen belange van Europeërs geraak word nie. Waaroor dit alles vir Amerika gaan, is wêreldoorheersing en Rusland staan in die pad daarvan. Die uitbreiding van Islamitiese radikalisme wat hulle self help bewerkstellig het, staan natuurlik ook in hulle pad, maar dis onseker of die Amerikaners dit verstaan.
Die troebel politiek van Turkye in die gebied verdien miskien ‘n bietjie spesiale aandag. Turkye is sedert die Tweede Wêreldoorlog deel van die Noord-Atlaniese Verdragsorganisasie NAVO. NAVO is bloot ‘n ander naam vir ‘n Amerikaansgedomineerde militêre bolwerk wat na die oorlog gebore is uit die behoefte om ‘n teenvoeter te skep teen die Sowjetgeleide Warskou Pakt.
Na die ineenstorting van die Sowjetstelsel en die beëindiging van die Koue Oorlog het die NAVO in groot mate sy bestaansreg verloor behalwe om as instrument te dien vir Amerika se nuwe Koue Oorlog teen die Russe. Die posisie van Turkye as voorpos van Amerikaanse magsuitbreiding in Oos-Europa is dus die enigste regverdiging vir die teenwoordigheid van Turkye in NAVO.
In die Siriese krisis het Turkye duidelik sy eie agenda. Ten spyte van sy NAVO-lidmaatskap handhaaf Turkye ‘n hoogs dubbelsinnige beleid ten opsigte van die Islamitiese staat in Sirië. Turkye is ten slotte self ‘n Islamitiese staat!
Turkye se prioriteit is die vernietiging van die Koerdiese volk waarvan ‘n groot deel in Turkye woon. In hierdie onderdrukkingsprogram teen die Koerde geniet Turkye die bondgenootskap van die Turkmenis in Sirië waar daar ook ‘n Koerdiese gemeenskap is. Die Turkmenis is gewoon die naam vir Turke wat in Sirië woon. Hulle, saam met die Islamitiese staat voer die stryd teen Assad. Die Russiese lugmag doen ondermeer aanvalle op die Turkmenis ook wat die rede is vir die neerskiet van die Russiese vliegtuig deur Turkye verlede week.
Turkye ondersteun indirek die Islamitiese staat deur ondermeer olie ten bedrae van miljoene Euros per jaar van hulle te koop. Die westerse bondgenote het hulle tot dusver daarvan weerhou om die oliekonvooie onderweg uit Sirië na Turkye aan te val en lewer op hulle beurt dus ook indirekte steun aan die Islamitiese staat.
Turkye is trouens self nie baie ver verwyder van diktatortskap nie, soos blyk uit die aanhouding en tronkstraf van joernaliste wat die regering kritiseer. Tog staan die Amerikaners en hulle Wes-Europese bondgenote simpatiek teenoor Turkye se begeerte om toe te tree tot die Europese Unie.
Enkele jare gelede, het Erdogan (toe nog premier van Turkye) in ‘n toespraak aan die Turkse gemeenskap in Berlyn gesê: “Ons hoef nie tot die Europese Unie toegelaat te word nie, ons is reeds daar, honderdduisende Turke in Duitsland, Nederland, Frankryk en Oostenryk, trouens dwarsoor Europa.”
Turkye verteenwoordig altesaam 78 miljoen Moslems, wat ‘n felle slag sal beteken as hulle eensklaps in Europa toegelaat word.
Die EU staan eenvoudig hulpeloos en magteloos teenoor die toestroming uit Moslemlande en die Derde Wêreld wat hulle, weens linksliberale ideologiese indoktrinasie oor baie jare, nie eers meer as ‘n bedreiging sien nie en ook nie meer kan beheer nie al sou hulle wou. Wat betref Turkye subsideer die Europese Unie die Turkse ekonomie met ‘n miljard Euro per jaar ten einde Turkye in staat te stel om aan die vereistes vir Europese lidmaatskakap te voldoen.
Dis ook redelik duidelik dat die Weste besig is om die stryd teen die Islamitiese staat te verloor. In Afghanistan het hulle teen die Taliban verloor, terwyl die Islamitiese staat nou stewig gevestig is in Sirië, Irak en Libië. In so te sê elke geval was Amerika en Engeland direk vir die uitbreiding van die Islamitiese staat verantwoordelik en in die geval van Libië, Frankryk self ook.
Om dus op te som : Amerika, Engeland, Frankryk staan vyandig teenoor Assad. Soos met die meeste ander dinge het Duitsland eintlik geen standpunt nie en maak maar net soos die Amerikaners sê. Die Westerse bondgenote voer tot dusver halfhartige lugaanvalle uit op die Islamitiese staat wat ook teen Assad gekant is.
Amerika en sy bondgenote maak ‘n onderskeid tussen die Islamitiese ekstremiste en sogenaamde “gematigdes”, terwyl Rusland geen onderskeid tussen ekstremiste en “gematigdes” sien om hul lugaanvalle te loods nie.
Turkye is gekant teen Assad, steun die Turkmenis en gee voor om die Islamitiese staat te beveg, maar doen in die praktyk eerder die teendeel. Vyandigheid tussen Assad se Sirië, as voorpos van Russiese invloed in die Midde-Ooste is ‘n doring in die vlees van Amerika en sy Europese bondgenote. Amerika se vingers jeuk om Assad uit die kussings te lig, maar vir die oomblik steek Rusland ‘n stokkie daarvoor. Vyandigheid tussen Rusland en Turkye neem ook by die dag toe, veral na die afskiet van die Russiese vliegtuig.
Kortom ‘n kruitvat van ongekende omvang is in hierdie wêrelddeel aan die ontwikkel.