Obama systap Kongres oor wapenbeheer

In die jongste pogings deur die Amerikaanse president, Barack Obama, om beter beheer oor ­vuurwapens te verseker, het hy die Amerikaanse kongres gesystap en uitvoerende bevele uitgereik wat ’n bitter stryd in die 2016-verkiesings­jaar van stapel gestuur het.

Met die aanvang van sy laaste jaar in die Wit Huis, het Obama sy rug gekeer op die Kongres se opposisie teen ­eensydige regulerende maat­reëls om vuurwapenverkope te reguleer en ’n einde aan onwettige verkope te maak, het AFP berig.

Die Amerikaanse prokureur-­generaal, Loretta Lynch, sê die maatreëls maak voorsiening vir strenger reëls oor wie as verkopers van vuurwapens mag registreer. Skuiwergate oor vuurwapenskoue word toegemaak wat kopers die geleentheid bied om sonder navorsing oor hul agtergrond vuurwapens aan te skaf. Stappe word ook gedoen om tussengangers vas te vat wat namens iemand anders vuurwapens koop.

Die Pentagon met sy massiewe koopkrag sal ook aangeraai word om slegs wapens aan te skaf by vervaardigers wat “vuurwapenveiligheid-­tegnologie” soos vingerafdruk­skandeerders gebruik.

Obama het die nuwe ­maatreëls in die Wit Huis bespreek. Die maatreëls word skerp deur Republikeine, wat die Kongres beheer, wapen­vervaardigers en vuurwapenentoesiaste gekritiseer, wat aanvoer dit is ’n skending van hul grondwetlike regte.

Nagenoeg 30 000 mense sterf jaarliks in wapengeweld in Amerika, die meeste in selfmoorde.

Gedurende Obama se sewe jaar as president het hy dikwels oomblikke van woede en frustrasie getoon met die Kongres se weiering om strenger beheermaatreëls vir vuurwapens in te stel.

Dit was veral die massa­skietery van skoolkinders in Connecticut, kerkgangers in Suid-Carolina en fliekgangers in Colorado wat die president ontstel het.

Die maatreëls gaan nie so ver as om agtergrondnavorsing van alle mense wat vuurwapens wil aankoop, of die registrasie van die meer as 300 miljoen vuurwapens wat vermoedelik reeds in Amerika is omloop is, voor te skryf nie, want dit sou die Kongres se goedkeuring vereis.

Op die vooraand van sy ­aankondiging het Obama toegegee dat die jongste stappe nie ’n oplossing vir elke geweldsmisdaad in Amerika sal bied nie. Dit sal ook nie ­massaskietery voorkom of sorg dat vuurwapens uit die hande van kriminele bly nie.

“Dit het egter die potensiaal om lewens in hierdie land en families hartseer en pyn te spaar,” het hy gesê.
Deur die beperkte maatreëls en deur alleen teen die wense van die Kongres op te tree, het Obama ’n politieke en wetlike storm ontketen.

Verskeie Republikeinse presidentskandidate en die speaker van die Huis van Verteenwoordigers, Paul Ryan, het Obama beskuldig van minagting van Amerikaners, wat waarde heg aan die grondwetlike reg om hulle te bewapen.

“Ons is almal hartseer oor die ­onlangse misdade in ons land, maar geen veranderinge wat die president oorweeg, sou dit kon voorkom nie,” het Ryan gesê. “Ons het ­herhaaldelik gesien dat die oorsaak van die ­voorvalle swak geestesgesondheid is.”

Republikeine het hulle vir ’n geruime tyd as die beskermhere van vuurwapeneienaars geposisioneer, wat ’n ­betekenisvolle stemblok in baie gebiede van die land uitmaak en deurslaggewend in vanjaar se verkiesingswedloop kan wees.

Obama se planne kan groot druk op van sy Demokratiese bondgenote plaas, wat strawwe verkiesings in die herfs in die gesig staar.

Al-Kaïda gebruik Trump vir werwing

Al-Kaïda se Oos-Afrika-filiaal het ‘n werwingsvideo uitgereik wat swart Amerikaners en Moslems teiken en ‘n videogreep van die presidentskandidaat Donald Trump insluit waar hy sê Moslems moet verbied word om Amerika binne te gaan.

Die 51-minute lange video deur die Somaliese al-Sjabaab militante groep stel Amerika voor as ‘n land met geïnstitusionaliseerde rassise teen swartmense wat ook Moslems vervolg.

In die video word vertel van verskeie Amerikaners van Minnesota wat by al-Sjabaab aangesluit het en nou in Somalië veg, het AP berig.

Al-Sjabaab veg teen die internasionaal erkende Somali-regering. Die groep is in 2011 met die hulp van troepe van die Afrika-unie uit Mogadishu verdryf.

Die militante het desondanks verskeie guerrilla-aanvalle in Somalië en lande wat soldate vir die AU-mag bygedra het, soos Kenia, Djibouti en Uganda, uitgevoer.

Trump se advertensieveldtog sal Maandag afskop. Die Republikeinse presidensiële kandidaat se langverwagte eerste advertensie is deel van ‘n reeks wat uitgesaai sal word in die laaste maand voor die Iowa-koukusse.

Trump het belowe om ten minste $2 miljoen per week op die advertensies te bestee.

Die video verwys na die VSA se “suidelike grens” met Meksiko, maar beelde wat gebruik word vir die swart toestroming is van die klein Spaanse enklawe op die vasteland van Marokko.

Migrante probeer die grens van Melilla oorsteek, een van die twee enklawes aan die Marokkaanse kus wat deel is van Spanje.

Sodoende kan hulle die Europese Unie bereik, selfs al is hulle nog steeds op die Afrika-kontinent.

Trump het die Demokratiese kandidaat Hillary Clinton uitgedaag om sonder gewapende lyfwagte te reis om te bewys dat gewere onveilig is.

“Hillary het gesê dat gewere jou nie veilig hou nie. As sy werklik dit glo, moet sy eis dat haar swaar gewapende lyfwagte vinnig ontwapen word!” het Trump Sondag in ‘n twiet gesê.

As ‘n voormalige eerste dame en nou as ‘n presidensiële kandidaat, beskik Clinton oor die beskerming van gewapende veiligheidsagente.

Sy het ook ‘n lang rekord van wapenbeheer, en het in Oktober gesê sy sal as verkose president geweerverkope ten seerste bekamp, met beperkings op mense wat as ideologies gevaarlik beskou word.

President Barack Obama sal hierdie week na verwagting uitvoerende maatreëls uitreik om meer beperkings op wapenverkope te plaas.

Trump het gesê as verkose president sal hy onmiddellik enige sodanige uitvoerende aksie veto.

Wapenverkope in die VSA het intussen die hoogte ingeskiet.

Buitelandse wapeneienaars voorgetrek deur Vuurwapenwet

Die Nasionale Burgerlike Alliansie het die regering gevra om artikel 21 van die Wet op Vuurwapenbeheer van 2000 te wysig, het RSG berig.

Dit volg na berigte dat dit ingevolge die wet slegs sewe dae neem vir buitelanders om ‘n vuurwapenlisensie te kry, terwyl Suid-Afrikaners ‘n bevoegdheidstoets moet aflê en tot ‘n jaar kan wag vir hulle lisensies.

Die president van die alliansie, Dlangezwa Mvelase, sê hulle is van mening dat sulke optrede mense verdeel. Hy sê dit kan weer lei tot ander probleme. Hy het alle instellings wat Suid-Afrikaners verteenwoordig, gevra om dit teen te staan.

Vroeër het die Vereniging van Swart Wapeneienaars ook die regering gevra om die gedeelte van die wet te skrap.

Die vereniging se voorsitter, Abios Khoele, sê buitelanders kry koninklike behandeling. Hy sê hulle hoef geen opleiding te ondergaan nie, geen bevoegdheidsertifikaat te kry nie, en ook geen motivering te verskaf nie, ongeag of hulle ‘n vuurwapenlisensie vir ‘n handwapen of ‘n masjiengeweer wil hê.

Strenger wapenbeheer na kindermoorde gevra

​Die ANC het Maandag gesê dat hulle die toename in kindermoorde veroordeel en strenger wapenbeheer van die regering gevra.

“Hierdie toenemende en onverklaarbare verskynsel, wat hulpelose en onskuldiges teiken, het geen plek in ons samelewing nie,” het Zizi Kodwa, die party se woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Ons moet die skuldiges identifiseer en isoleer, en hulle aan die polisie oorhandig sodat hulle suksesvol vervolg kan word.” Die ANC het gevra dat naasbestaandes nie die reg in hul eie hande neem nie.

Verskeie gevalle waar bruin kinders wreed vermoor is, het koerantopskrifte gehaal. Luke Tibbetts (4) is dood nadat hy in Westbury, Johannesburg in ‘n skietery gewond en later dood is. In Julie is Taegrin Morris (4) ook dood tydens ‘n motorkaping in Reiger Park, Boksburg.

Die seuntjie het buite die motor aan sy sitplekgordel gehang terwyl die kapers met die gesteelde motor weggejaag het en is vir sowat 10 km langs die motor gesleep.

“Ons vra ook dat die regering strenger maatreëls met betrekking tot wapenbesit instel, omdat onwettige wapens al hoe meer gebruik word in verskeie misdade,” het Kodwa gesê. “Ons glo as wapenbesit strenger beheer word, dit sal help om dié misdade ook kort te vat.”