Kringtelevisie toon Saoedi-selfmoordbommer in Turkye

Kringtelevisiebeeldmateriaal wat vrygestel is deur die Turkse owerhede toon die Saoedi-selfmoordbomaanvaller wat ‘n groep Duitse toeriste saam met homself in Istanbul opgeblaas het.

Turkse owerhede het ook drie Russiese burgers, vermoedelik Moslems, met vermeende bande met die Islamitiese Staat in hegtenis geneem in verband met die bomontploffing Dinsdag in Istanboel waarin 10 mense omgekom het.

’n Selfmoordbomaanvaller wat Turkye onlangs uit Sirië binnegekom het, het die lewens van nege Duitse en een Peruviaanse toeris op die geskiedkundige Sultanahmet-plein, ’n belangrike toeriste-aantreklikheid, in Istanboel geëis. Vyftien mense is in die aanval beseer.

Die Russiese konsul-­generaal in Antalya sê drie Russe word aangehou omdat hulle vermeende bande met ISIS het.

Die Turkse polisie het beslag gelê op dokumente en CDs tydens ’n klopjag op die gebou waar die verdagtes gewoon het.

Die Turkse eerste minister, Ahmet Davutoglu, het gesê hy het telefonies met die Duitse kanselier, Angela Merkel, gepraat en medelye betoon met die dood van die Duitse toeriste en onderneem dat Turkye as deel van die Amerikaans-­geleide koalsie, sal voortgaan.

Hy wou nie die nasionaliteit van die selfmoordbommer bevestig nie.