Malema se ondersteuners ruk weer op na Uniegebou

effkoggelDie inwoners van Mooiplaas, wes van Pretoria is in opstand oord die ANC se gebrek aan begrip vir hulle omstandighede.

Hulle sê hulle moes na die Uniegebou opruk om hul griewe te lug. Hulle sal vandag weer opruk onder aanvoering van Julius Malema.

Die inwoners van die Mooiplaas-lokasie het Dinsdag ‘n diensleweringsbetoging gehou waartydens die polisie rubberkoeëls gebruik het om hulle uiteen te jaag.

Alhoewel hulle toestemming vir die optog gehad het, is hulle later ingelig dat die goedkeuring teruggetrek is omdat niemand van die Presidensie beskikbaar was om hulle griefskrif te ontvang nie.

Die streekskoördineerder van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Omphile Maotwe sê hulle hou weer vandag ‘n optog om die gebrek aan basiese dienste onder die Presidensie se aandag te bring.

Die ANC en sy alliansievennote in Gauteng is bekommerd oor die gewelddadige betogings in die provinsie.

Die party sê stemwerwing vir aanstaande jaar se verkiesing kan daardeur benadeel word.

Die ANC het ook gesê hy gryp by sommige van die opstande in om bestendigheid te verseker.

Die ANC se sekretaris in Gauteng, David Makhura sê hulle wil ‘n klimaat skep wat intimidasie en geweld te beperk.

R55 weer oop na oproer

burningtyresDie verkeersvloei op die R55 in Pretoria-Wes het na normaal teruggekeer nadat betogers vroeër die pad versper het.

Inwoners van die Mooiplaas-lokasie het die pad met brandende bande en klippe versper, het lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die polisie monitor nou die situasie in die gebied. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Inwoners het vermoedelik betoog oor dienslewering in die gebied. – Sapa

ANC: Polisie moet geweld in PE keer

peDie polisie moet die geweld tussen Suid-Afrikaners en Somaliërs in Port Elizabeth stop, het die ANC in die Oos-Kaap, gesê.

“Enige soort geweld, insluitend plundering van winkels in besit van Somaliërs is onwettig, verkeerd en het geen plek in Suid-Afrika nie,” het die African National Congress se provinsiale sekretaris, Oscar Mabuyane in ‘n verklaring gesê.

“Die SA Polisiediens is die eerste en die laaste linie van verdediging vir ons gemeenskappe, en ons doen ‘n beroep op hulle om die wet en openbare-orde polisiëringstegnieke toe te pas om hierdie golf van geweld te stop.“

Oos-Kaapse polisie het gesê sewe mans is in hegtenis geneem die naweek vir plundering en brandstigting van Somaliërs se winkels in Port Elizabeth.

Ten minste 10 winkels in KwaZakhele en New Brighton is aangeval en ‘n voertuig gebrand.

Mabuyane het gesê die ANC in die provinsie doen ‘n beroep op inwoners in die Nelson Mandela Bay Metro om hulle te weerhou daarvan om die wet in eie hande te neem.

“Geweld sal nie help in enige situasie nie, maar sal sake net vererger vir ons mense,” het hy gesê.

Die polisie se woordvoerder in die Oos-Kaap, Miranda Mills sê die geweld het na Missionville uitgebrei waar nog agt winkels geplunder is. Nog drie mense is aangekeer.

Winkels in buitelanders se besit word geteiken. Die polisie is in New Brighton, Zwide, Missionvale, Soweto-On-Sea en Kwa Zakhele ontplooi. – Sapa

Protea-oproer: 100 vas nadat polisie aangeval word

protest2Meer as 100 mense is Woensdag in hegtenis geneem weens openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in die Protea-gebied, sê die polisie in Soweto.

Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, sê die mense is in hegtenis geneem tydens ‘n betoging oor dienslewering wat in die vroeë oggendure buite Randfontein begin het.

Impalaweg in die rigting van Krugersdorp en die N12 van Potchefstroom af is intussen weer oopgestel vir verkeer.

Makhubela sê chaos het uitgebreek toe honderde inwoners van die Waterworks-lokasie polisiebeamptes aangeval het.

Die inwoners wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Westonaria-landdroshof verskyn. – Sapa

Kya Sands kalm na oproer

kyasandsDie Kya Sands-lokasie in die noorde van Johannesburg is kalm nadat inwoners in die gebied Woensdag oproerig geraak het.

“Dit is vanoggend kalm, maar beamptes monitor die gebied,” het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê.

Inwoners het Woensdag die Malibongwe-rylaan naby Cosmo City met klippe en brandende voorwerpe versper.

Die pad is weer oopgestel vir verkeer, het Minnaar gesê.

Kapt. Lydia Mtila-Dikolomela, polisiewoordvoerder, het gesê die inwoners het betoog oor behuising nadat twee mense Sondag in ‘n brand gesterf het. Altesaam 50 plakkershutte is in die brand verwoes. – Sapa

Kabinet maan betogers, stakers tot kalmte

goudmynDie Kabinet het ‘n beroep op betogers sowel as stakers gedoen om hulself te weerhou van geweld. Die vakbond Amcu sê dat van sy lede by Sibanye se Beatrixgoudmyn in die Vrystaat aangeval is.

Dit het vrese opnuut laat ontstaan dat die staking in die goudsektor gewelddadig kan raak. Amcu se hoofsekretaris, Jeff Mphahle sê die vyf Amcu-lede is deur lede van die NUM aangeval wat wou keer dat hulle gaan werk.

Die reg om te staak moet op ‘n nie-gewelddadige wyse geskied, het die waarnemende regeringswoordvoerder Phumla Williams aan verslaggewers in Pretoria Donderdag gesê, na aanleiding van die uitvoerende gesag se vergadering Woensdag.

“Die Kabinet beklemtoon dat so ‘n reg uitgeoefen moet word op ‘n nie-gewelddadige wyse en in volle nakoming van die wet,” het sy gesê.

“Daar is ‘n verantwoordelikheid op die vakbondleiers, werkgewers, die staat, en die veiligheidsdienste om te verseker dat die wet gehandhaaf word en dat uitdagende optrede vermy word.“

Verskillende ekonomiese sektore in Suid-Afrika, insluitend die mynbou, konstruksie, en die motorsektor, is tans besig met onderhandelinge.

Die vakbond, die NUM het die Kamer van Mynwese se hersiene salarisaanbod na sy stakende lede geneem om oorweeg te word.

Die NUM se stakingskomitee het vroeër vandag vergader om die aanbod te bespreek. Die NUM-woordvoerder, Lesiba Seshoka sê die werkers se besluit kan teen môre reeds aangekondig word.

Die goudmynwerkers staak van Dinsdag af.

Williams is ook gevra oor die toestand van die drie Suid-Afrikaanse soldate wat beseer is tydens ‘n VN-sending in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Suid-Afrikaners word geroep om ondersteuning en erkenning te gee aan hierdie soldate wat instrumenteel in die verwesenliking van Suid-Afrika se verbintenis tot vrede, stabiliteit en die versterking van die demokrasie in Afrika is.“

Sy het vrae na die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verwys.

Navorsers ‘verstom’ oor graad van geweld tydens roof

rudolphzinnProfessor Rudolph Zinn, ‘n professor in polisiëring en forensiese ondersoeke by Unisa, het gesê die voortdurende gebruik van oormatige geweld in rooftogte is iets wat baie Suid-Afrikaanse navorsers “verstom”.

Zinn het gesê terwyl baie gevangenes wat hy ondervra het gesê het dat hulle gewoonlik geweld gebruik om hul slagoffers te dwing om tydens rooftogte gehoor te gee aan hul eise, is wat gebeur in die meeste gevalle die uiterste marteling en geweld.

Hy het ook gesê alkohol en dwelms kan nie as verskoning gebruik word nie, omdat die meeste gevangenes aangedui het dat terwyl hulle ‘n misdaad pleeg, hulle verkies het om versigtig te wees sodat hulle nie iets aanvang wat kan lei tot hulle arres of dat hulle bewyse van hul aandadigheid agterlaat nie.

“Hulle sê … dit is baie belangrik om dit te doen binne so ‘n kort tydsbestek as moontlik om nie gevang te word nie. Dit verduidelik egter nog nie die tipe van geweld wat gepaardgaan met misdaad nie.” – IOL

Obama vergelyk homself met Jesus

Tot Jesus kom?
Tot Jesus kom?

As president Barack Obama die trappe van die Lincoln Memorial dié week bestyg vir sy geskeduleerde toespraak aan duisende mense vir die 50ste herdenking van die swart protesoptog in Washington, sal dit nie die eerste keer wees dat hy ​​in die skaduwee van Martin Luther King en Nelson Mandela staan nie. Trouens, in die skadu van die ANC wat glo gaan regeer tot Jesus kom.

Want, moenie ‘n fout maak nie, dit was die euforie oor die aanbreek van ‘n swart regering in Suid-Afrika wat aan Obama uiteindelik presidentskap van die magtigste land op aarde besorg het. In die federale deelstate van Amerika was daar tot in die laat sewentigerjare segregasie, dit terwyl drukgroepe uitsluitlik op Suid-Afrika gekonsentreer het.

Vier jaar gelede is Obama na Oslo, Noorweë om die Nobelprys vir Vrede te aanvaar, ‘n eer wat King 45 jaar vroeër te beurt geval het en Mandela 20 jaar gelede. Mandela soos King het ‘n veldtog van gewelddadige weerstand teen rasse-onreg gelei tot die wêreld se mees gesogte vredesprys aan hom oorhandig is.

Obama, wat die verkiesing as die land se eerste swart president 13 maande vroeër gewen het, het sy prys “vir sy buitengewone pogings om internasionale diplomasie en samewerking tussen mense te versterk,” ontvang, dit terwyl die VSA in die middel van die twee oorloë was.

Obama het tydens ‘n onlangse onderhoud op die Tom Joyner Morning Show gesê King se toespraak was een van net vyf historiese toesprake in Amerika se hele geskiedenis: “En die woorde wat hy op daardie oomblik gebruik het, met so baie op die spel, en die wyse waarop hy die hoop en drome van ‘n hele geslag weergegee het, dink ek, is ongeëwenaard.”

Maar dit beteken nie dat Obama onthou sal word vir sy verbintenis met King of Mandela nie. Dit was duidelik vir die president eerder ‘n groter kwessie, naamlik of hy Jesus sal kan ewenaar.

Nadat hy ‘n paar formele opmerkings tydens ‘n Withuis-ontvangs vir ‘n breë deursnit van burgerregte-leiers, kunstenaars, politici en sosiale aktiviste gemaak het, het hy aan iemand gesê: “Man, kan jy glo hulle gaan my laat praat môre, 50 jaar na die dag van die grootste toespraak ooit! Dit is soos om in Jesus se voetspore te volg. “

Obama, altyd gereed om homself met die hoofstroommedia-gesalfdes te vergelyk, was oorbewus van King toe hy sy eie Nobelprys gaan haal het. King het in sy Nobelprys-rede gesê dat “geweld nooit permanente vrede waarborg nie.”

Obama se toespraak het egter heelwat daarvan afgewyk: “Ek kyk na die wêreld soos dit is, en kan nie ledig staan ​​in die aangesig van die bedreigings teen die Amerikaanse mense nie.” Hy het natuurlik na al-Kaida verwys.

Tans staan Obama gereed om saam met diegene wat hy in Oslo as terroriste getipeer het, teen Sirië op te tree. Kennelik ly die president aan een of ander Messias-kompleks, en dit sonder die steun wat die ANC kan monster.

EU beraadslaag oor Egipte

Mideast EgyptVrese het toegeneem dat die geweld in Egipte verder kan uitbrei ná die leier van die Moslembroederskap in hegtenis geneem is.

Mohamed Badie se aanhouding is die jongste in ‘n reeks gebeure wat verdere verontwaardiging ontlok van die beleërde Broederskapondersteuners en die krisis in die Arabiese wêreld se verskerp.

Maandag, het ‘n Egiptiese hofbeslissing dat die land se voormalige outokratiese leier, Hosni Moebarak, vrygelaat kan word uit die tronk binne enkele dae in die vooruitsig gestel.

Mubarak, 85, se vrylating verhoog vermoedens dat sy voormalige militêre–gesteunde regering teruggekeer het na die staatsgreep teen Mohamed Morsi, die Islamitiese president, op 3 Julie.

Die tussentydse eerste minister van Egipte het laat blyk dat dié land kan klaarkom sonder geldelike hulp van die VSA en die Europese Unie en steun uit Saoedi-Arabië kan verwag.

Sowel die VSA as die EU het vroeër gesê hulle hersien hulle betrekkinge met Egipte te midde van die voortslepende geweld in die land na die afsetting van die president Mohammed Morsi.

Die eerste minister Hazem Al Beblawi het aan ‘n televisienuusdiens gesê sy land is op die regte pad en hy is nie bekommerd oor ‘n burgeroorlog nie.

Byna ‘n 1000 mense is reeds dood in die weermag se bloedige veldtog teen Morsi-ondersteuners. EU-lande se ministers van buitelandse sake kom vandag in Brussel byeen om betrekkinge met Egipte te bespreek.

Dodetal in Egipte styg verder

King Abdullah
Koning Abdoellah

“Hel“, “slagting“, “chaos“ is hoe die sogenaamde Dag van Woede in Egipte beskryf word in hoofopskrifte van dagblaaie regoor die wêreld. Nagenoeg 90 mense is gedurende die jongste skermutselings in die land dood.

Egipte word toenemend deur die internasionale gemeenskap veroordeel en massa-optredes teen die Egiptiese weermag word oor die wêreld gehou.

Die dodetal in Egipte hou aan om te styg en na beraming het meer as 800 mense reeds omgekom.

Die Times beskryf hoe ‘n protes in Kaïro se Ramses-plein vreedsaam begin het, maar met ‘n “skielike, oorverdowende geluid van outomatiese geweervuur​​” in straatgevegte ontaard het, nadat skares in paniek voor die koeëls gevlug het.

Intelligensieverslae dui daarop dat van die polisie- en weermaglede hul uniforms tuis gelaat en met die skare probeer versmelt het in gewone drag, maar nogtans gewapen was, op opponente begin skiet het en straatbarrikades opgerig het ná die chaos uitgebreek het en na woonbuurte versprei het.

Tydens die jagtogte op Morsi-ondersteuners het sommige gewone burgers glo by die veiligheidsdienste aangesluit. Die jongste verwikkelinge het die risiko van ‘n volskaalse burgeroorlog in Egipte verder verhoog.

Die Financial Times berig dat die onderdrukking deur die weermag teen Islamitiese ondersteuners van die afgesette pres Mohammed Morsi ‘n golf van geweld teen Christene in Egipte ontketen het.

Christelike kerke, besighede en skole is vernietig, geplunder en aangeval. Minstens vier mense het in dié geweld omgekom. Die Moslembroederskap het intussen ten sterkste ontken dat hulle Christene teiken.

Die Daily Mirror beskuldig die wêreld se magshebbers dat hulle op die kantlyn staan van wat gebeur in Egipte en pateties hulle hande vryf. Hulle het ‘n beroep op die VSA gedoen om sy militêre hulp dadelik op te skort totdat daar nuwe verkiesings gehou word.

Die Guardian, het in sy hoofberig gewaarsku dat Europa diplomatieke druk op Egipte se leiers moet volhou vir ‘n politieke skikking.

Die koerant wys daarop dat indien Egipte oorgaan tot ‘n burgeroorlog, die ontwortelde noorde ‘n dagreis ver na Europa is en dat die EU met ‘n vloedgolf van immigrante getref sal word.

Die betogings het ondanks ‘n aandklokreël tot in die nag voortgeduur en die Moslembroederskap beplan om vir nog ‘n week met betogings te volhard. Ondersteuners sê hul demokratiese keuse word vertrap deur die veiligheidsdienste se optrede.

Die Europese Unie se Raadgewer oor Buitelandse Sake het die geweld as skokkend bestempel en vir ‘n gekoördineerde reaksie teen die slagting gevra.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel sê Duitsland sal sy betrekkinge met Egipte in heroënskou neem.

Die Franse Minister van Buitelandse Sake, Laurent Fabius sê hulp mag dalk heroorweeg word. Denemarke het reeds sy hulp aan Egipte gestaak.

Saoedi-Arabië het egter sy steun aan die Egiptiese weermag toegesê: “Die Koninkryk van Saoedi-Arabië, sy mense en die regering gaan staan ​​vandag by sy broers in Egipte teen terrorisme,” het hy Vrydag gesê in ‘n verklaring op die staats-TV.

Hy het ook gesê dat hulle vol vertroue is dat Egipte sal herstel. Saoedi-Arabië is ‘n bondgenoot van die voormalige president Hosni Moebarak en het in die verlede ‘n moeilike verhouding met die Moslem-broederskap gehad.

Die koning het $5 miljard in hulp aan Egipte belowe verlede maand as Morsi verdryf word uit die presidentstoel.

Egipte: Sky-kameraman doodgeskiet in uitgebreide geweld

egiptegeweldOproer en gewelddadige skermutselinge is oornag en Donderdagoggend regoor Egipte aangemeld nadat ‘n noodtoestand in die land afgekondig is.

Ondersteuners van die afgesette pres. Mohamed Morsi het met woede gereageer nadat die weermag vroeër op ‘n groep Morsi-ondersteuners toegeslaan het.
Morsi se Moslem-Broederskap het op sy webwerf gesê opstande is in Alexandrië en twee ander noordelike provinsies aangemeld. Egiptiese polisie- en weermaglede is oornag in die hoofstad, Kaïro en ander stede en provinsies ontplooi om ‘n aandklokmaatreël af te dwing.
Die ministerie van gesondheid in die land sê 278 mense is dood en baie meer beseer in Woensdag se klopjagte in Kaïro om pro-Morsi-ondersteuners uiteen te jaag. Die Broederskap het egter gesê 2 600 mense is dood.
‘n Veteraan Sky News kameraman is doodgeskiet terwyl hy oor die geweld in Kaïro verslag gedoen het, het die uitsaaier gesê.

Mick Deane (61) het 15 jaar vir Sky gewerk. Hy was getroud met twee seuns. Deane – wat gebore is in Hannover, Duitsland – was deel van Sky News se span wat oor die opstande saam met die Midde-Ooste korrespondent Sam Kiley berig het. Nie een van die ander spanlede seergekry het, het die uitsaaier gesê.

Egipte se nasionale Midde-Ooste-Nuusagentskap berig dat duisende Morsi-ondersteuners ook buite ‘n moskee in oostelike Kaïro byeengekom het.
Morsi-ondersteuners het ook polisiekantore in verskeie dele van die land aangeval.
Vader Rafic Greiche, woordvoerder van die Egiptiese Katolieke kerk, het gesê 17 kerke is Woensdag aangeval en afgebrand.
Intussen het Egipte se tussentydse adjunkpresident, Mohamed el Baradei, Woensdag bedank.
In ‘n bedankingsbrief aan die tussentydse president, Adly Mansour, het el Baradei gesê “die bevoordeeldes van wat vandag gebeur het, is diegene wat vra vir geweld, terrorisme en die mees ekstreme groepe.
“Soos julle weet, het ek gesien daar is vreedsame maniere om die botsing in die samelewing te beëindig, daar was voorgestelde een aanvaarbare oplossings vir nuwe maniere wat ons tot ‘n nasionale konsensus sou neem,” het hy geskryf.
“Dit het moeilik geword vir my om die verantwoordelikheid te dra vir besluite waarmee ek nie saamstem nie en wat gevolge het wat ek vrees. Ek kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir een druppel bloed nie.” – AFP/BBC

Klipgooiers versper pad, brand voertuig in Limpopo

limpopoprotestInwoners van Ha-Bungeni buite Makhado in Limpopo het ‘n voertuig van die Departement van Watersake aan die brand gesteek en ‘n sjebeen afgebrand.

Die inwoners het die Bungeni-Mashau-pad ook versper en voertuie beskadig uit woede nadat die liggaam van ‘n verstandelik gestremde man gevind is.

Intussen is die situasie kalm by Tshisaulu naby Thohoyandou waar inwoners gisteraand ‘n pad met brandende bande en klippe versper het.

Die oproerige skare eis die inhegtenisneming van ‘n moordverdagte nadat ‘n vrou se liggaam met ‘n meswond twee weke gelede gevind is.

Motoriste moes tussen Thohoyandou en Makhado naby Tshilidzini–hospitaal onder klipgooiers deurloop.

Die ontdekking van die vrou se liggaam met steekwonde het inwoners in opstand laat kom want hulle sê daar is al talle moorde in die gebied.

“Die rede waarom mense in opstand is, want baie mense gaan hier dood. Daar is ‘n staking, want die mense glo die polisie doen niks daaraan nie. So mense is in opstand sodat die polisie iets moet doen. Misdaad gebeur in Tshisaulu en die polisie doen niks daaraan nie,” het een van die inwoners gekla.

‘Geweld in Fochville bedreig die demokrasie’: ANC-LUR

Die geweld wat met diensleweringsbetogings gepaardgaan in Kokosi, die lokasie van Fochville, bedreig die demokrasie. Só het die LUR vir menslike nedersettings in Gauteng, Ntombi Mekgwe, gister verklaar.

“Geweld op hierdie stadium van ons demokrasie kan slegs die winste van ons demokrasie omkeer,” het sy in ‘n mediavrystelling gesê.

“Die eindresultaat van dié ongewenste en verkeerde optrede is dat, nadat eiendom en infrastruktuur verwoes is, ons mense slegter daaraan toe is, en nie andersom nie.”

Ten minste 45 mense is vandeesweek in verband met openbare geweld in die gebied in hegtenis geneem.

Volgens Mekgwe bestaan daar “opportunistiese elemente”, sowel polities as misdadig, wat die probleme van die Kokosi-gemeenskap uitbuit.

‘n Aantal vergaderings is reeds met inwoners gehou om die ontwikkeling van die buurt te bespreek en dienste is reeds op grond in uitbreiding ses aangebring, waar huise gebou sou word.

Mekgwe het gesê dat dit na vore gekom het dat die grond onwettig aan die munisipaliteit verkoop is.

“Hierdie ontstellende feit, asook die hofsaak wat daaruit voortspruit, het die program opgeskort.”

Sy het ‘n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees en die plaaslike en provinsiale regerings tyd te gee om die grond terug te kry.

Mekgwe beweer dat betogers klippe na die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, gegooi het.

Vroeër het luitenantkolonel Katlego Mogale gesê dat 45 mense Maandag en Dinsdag weens openbare geweldpleging gearresteer is.

Inwoners het paaie met klippe en brandende buitebande versper.

“‘n Spaza-winkel, ‘n drankwinkel en ‘n huis, wat vermoedelik aan ‘n raadslid behoort, is aan die brand gesteek,” het sy gesê.

Dinsdag sou die burgemeester van Mazibuko- en Merafong-munisipaliteit, Maphefo Mogale sud eLetsie, die inwoners ontmoet om hul kwellinge te bespreek, maar die vergadering moes ontbind toe betogings uitgebreek het.

Diegene wat in hegtenis geneem is, sal vandag in die Carletonville-landdroshof verskyn. – Sapa

Nechama Brodie manipuleer misdaadstatistiek om Steve Hofmeyr verdag te maak

Tans woed daar ‘n polemiek rondom Steve Hofmeyr se uitspraak: “My stam sterf. Soos vlieë. Ons sterf teen ’n ongekende tempo. En dít in vredestyd.”

Vandag in Rapport word Hofmeyr aangeval en ‘n artikel op die internet deur ‘n onbekende liberale joernalis, Nechama Brodie, klakkeloos aangehaal. Brodie werk glo vir Africa Check, ‘n organisasie wat sy beginsels soos volg uiteensit:

“Africa Check is a non-partisan organisation that exists to fact-check claims made in the public arena, impartially and fairly, and publish the results. We also aim to spread the culture and enable the practice of fact-checking among the wider journalistic community.”

Onder andere word Africa Check deur mnr. George Soros se Open Society Foundation for South Africa befonds. Ons weet dat George Soros ook van die “kleurrevolusies” in Oos-Europa befonds het en oor die algemeen die buitelandse beleid van die Amerikaanse Demokratiese Party ondersteun.

‘n Mens wonder nou wat die belang van Africa Check en George Soros is om plaasmoorde en haatmisdade wat teen blanke Afrikaners in ons land gepleeg word, as “nie so erg nie” en “eintlik normaal” voor te stel?

Nechama Brodie haal die 2012-slagoffers-van-misdaad-opname aan waarin 35% van alle huishoudings geglo het dat “misdaad sedert die vorige periode gestyg het”.

Kennelik is vrees vir geweldsmisdaad ‘n reële probleem in Suid-Afrika. Maar in haar artikel kom Brodie tot die groteske gevolgtrekking dat: “Public figures like Hofmeyr, who disseminate grossly misleading information about crime patterns, only serve to contribute to this underlying fear. In addition, such misinformation creates or entrenches existing racial divisions and perpetuates an unfounded fear and hatred of other races.”

Met ander woorde: Steve Hofmeyr is eiehandig verantwoordelik vir die vrees vir misdaad in Suid-Afrika! Nie die moordenaars, verkragters en ander geweldenaars waarvan ons elke dag in die media lees nie.

Nêrens in enige van Hofmeyr se uitsprake het hy al ooit rassehaat gepredik nie. Ons weet egter dat die Universiteit van die Witwatersrand ‘n instelling is wat oor jare heen Afrikanerhaat gepredik het. Trouens, enkele jare gelede was ek teenwoordig by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se kantore in Parktown, Johannesburg toe ‘n Wits-professor, ‘n Indiërvrou, ten aanhore van die hele vertrek vol mense gesê het: “Afrikaners het miljoene swartes onder apartheid vermoor.”

Miljoene. Omdat ek gedink het my ore bedrieg my, het ek gevra dat sy dit moet herhaal, wat sy toe gedoen het en sommer vir die effek in trane uitgebars het. Vergelyk dit met die 7 000 mense wat die skatting verteenwoordig van ‘n bekende linkse aktivis, Max Coleman, wat in 1997 ‘n verslag by die Waarheids- en versoeningskommissie van Biskop Desmond Tutu ingedien het.

Afrikaners het “miljoene” swartmense doodgemaak, maar nou kom nog ‘n Wits-verbonde instelling soos Africa Check en beweer dat die graad van moord, verkragting en geweld wat ons tans verduur, so min of meer normaal is.

Soos gewoonlik die geval is, het die Nasperskoerant, Rapport in Steve vat ‘n kans oor wit moorde vandag die kant van Brodie en Wits bo dié van Steve Hofmeyr en die Afrikanerslagoffers gekies. Enigiets wat ‘n Afrikaner verdag maak of afkraak, sal altyd simpatie by Rapport wek.

Wat was Steve Hofmeyr se “fout”, indien dit hoegenaamd ‘n fout was? Steve het bloot die aanname wat al die links-liberale kommentators in die land maak, naamlik dat “alle rassegroepe ewe veel misdaad pleeg en ewe veel daaronder ly” eerbiedig! Daarom het hy beweer dat daar min of meer al genoeg blankes doodgemaak is “om ‘n sokkerstadium vol te maak”.

Waarom is dit ‘n billike afleiding om te maak? Indien daar 50 000 mense per jaar sedert 1994 vermoor is, beteken dit ná 19 jaar dat daar bykans 950 000 moordslagoffers in die land was, dus meer mense as wat in Rwanda vermoor is!

Omdat blankes 9% van die bevolking uitmaak, sou dit beteken dat 9% x 950 000 = 85 500 mense. Dis min of meer ‘n stadion vol, miskien nie heeltemal Soccer City se volle kapasiteit nie, maar dis ‘n aardige klomp mense om vermoor te word.

Brodie en ander wil egter beweer dat daar minder as 50 000 mense per jaar vermoor is, waaroor hier onder meer. Maar tot dusver het Steve eintlik bloot die liberale logika gevolg: “Ons is almal dieselfde en pleeg almal moord teen dieselfde tempo.”

In haar artikel kom Brodie met ‘n splinternuwe bewering vorendag en dit is dat die moordsyfer vir blanke slagoffers eintlik baie laer is as vir die res van die bevolking. Trouens, slegs 1,8% van alle moorde word op blankes gepleeg.

Waarop grond sy haar bewering? Op ‘n enkele opname wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens self – met ander woorde geen onafhanklike liggaam nie – gedoen is! Daardie opname is gegrond op ‘n steekproef van 1378 moorddossiere waaruit die ras van die slagoffers wel duidelik geblyk het. Toe PRAAG egter ‘n jaar gelede saam met ‘n ander Afrikaanse organisasie by die SA Polisiediens aansoek gedoen het om moordstatistiek waarin die ras van slagoffers aangedui word, is daar vir ons gesê dat “sulke inligting nie bestaan nie”.

Word daar vir ons iets weggesteek? Kan ons die Polisiediens vertrou? Ons weet dat vele polisiemanne in die nuwe Suid-Afrika korrup, onbevoeg of selfs krimineel is. Van hulle pleeg misdade in uniform met hul eie dienspistole soos onlangs op Naboomspruit gebeur het! Agterna word hulle nie eens geskors nie; hulle word bloot van ander wapens voorsien.

Dieselfde orgaan vir George-Soros-propaganda, Rapport, skryf egter uit die pen van Zelda Jongbloed die volgende op 30 Maart vanjaar:

“Die afgelope week het ons van die parlement skokkende statistieke gekry, soos dat polisie-geweld die afgelope dekade met meer as 300% toegeneem het; dat een uit elke vyf polisielede by misdadigheid betrek word; dat die polisie betrek word by eise van R800 miljoen wat spruit uit aanrandingsake en R1,1 miljard wat spruit uit skietvoorvalle.

“In die laaste twee jaar het eise in siviele sake teen die polisie verdubbel tot R14,8 miljard.

“Soveel as 41% van burgers sê hulle vertrou nie die polisie nie, terwyl 35% doodbang is vir die polisie, dieselfde mense wat hulle teen misdadige skobbejakke moet beskerm.”

Duidelik is Nechama Brodie een van die 59% van mense wat wel die polisie “vertrou”. Daar is egter omstandigheidsgetuienis wat daarop dui dat die polisie misdaadstatistieke manipuleer of selfs vervals.

Ek het ‘n ruk gelede ‘n gesprek met ‘n vrou in Pretoria gehad wat in haar huis aageval en aangerand is, darem nie verkrag nie. Sy is egter herhaaldelik gedreig dat hulle die snellers gaan trek en dit was ‘n baie traumatiese ervaring. Die vrou het maande lank gesukkel om die saak aangemeld te kry en moes uiteindelik bes gee toe die polisie dit nie wou aanvaar nie. Die rowers het haar ‘n “white bitch” genoem, iets wat die polisie nie in haar verklaring wou sien nie.

Die gebruik van die term “white bitch” kwalifiseer die insidente om in Amerikaanse terme ‘n “haatmisdaad” genoem te word. Dit is ironies dat Suid-Afrika alle Amerikaanse rasseterme soos “regstellende aksie”, “rassisme”, SEB (die plaaslike ekwivalent van “minority procurement”) oorgeneem het, maar nie “haatmisdaad” nie. Is dit omdat haatmisdaad in Suid-Afrika gewoonlik swart-op-wit is?

Ek weet van ten minste een geval waar nog ‘n gewapende roof op ‘n moord uitgeloop het. Toe is dit deur die polisie geregistreer as ‘n huisbraak met ‘n sterfgeval “aan natuurlike oorsake”! Die Vryheidsfront se woordvoerder oor justisie, Pieter Groenewald, sê hy glo nie eens die statistiek wat in die parlement verskaf word nie, “tensy dit geoudit word”.

Maar Nechame Brodie aanvaar die polisie se eie statistiek, asook hul eie steekproef van 1378 moorddossiere as die reine waarheid. Daarmee poog sy, haar George-Soros-ondersteunde vereniging en Rapport om Steve Hofmeyr tot leuenaar te maak.

Die getuienis rondom ons sê vir ons dat die moordkoers baie hoër as die amptelike syfers moet wees. Elkeen van ons ken mense wie se familielede vermoor is of het self sulke vriende of familie. Met gevorderde wiskunde sou ‘n mens seker ‘n opname kon doen om te bepaal hoeveel blankes al deur moord geraak is en dit met die polisie se statistiek vergelyk.

Die regering weier om enige rassestatistiek oor moord bekend te maak; PRAAG het twee jaar gelede daarvoor gevra en die polisiediens beweer hulle het nie sulke statistiek nie. “Ons maak mekaar dood,” dus is “ons” almal ewe skuldig.

Vanoggend het ek probeer kommentaar lewer op Rapport se artikel op die koerant se webblad, maar ná ‘n rukkie is dit verwyder. Wat gaan hier aan? Rapport pas sensuur toe om Steve Hofmeyr swart te smeer en Nechama Brodie te beskerm!

Op dieselfde kommentaarafdeling op die Rapport-werf verskyn die volgende aanhaling deur Sunette Bridges, wat teen elfuur vanoggend nog nie deur Rapport se ywerige sensors verwyder is nie (volgens ‘n meer onlangse twiet van Sunette het Rapport dit wel intussen verwyder):

“In die tydperk 1 Mei tot 27 Junie 2013 was daar 124 “swart-op-wit”-aanvalle op 202 slagoffers!

  • 38 van ons mense is vermoor, 9 is verkrag en daar was 35 plaasaanvalle in 58 dae! …en julle wil in statistieke praat?
  • Vanaf 1 Januarie 2013 tot 27 Junie 2013 het ek 230 “swart-op-wit”-aanvalle aangeteken.
  • 97 blankes is deur swart mense vermoor.
  • 3 ander het permanente breinskade en 1 is verlam.
  • 17 vroue en 2 mans is verkrag – in meeste gevalle deur ‘n hele bende!
  • Daar was 102 plaasaanvalle en 30 mense is tydens hierdie aanvalle vermoor! …en dít in 178 dae!”

Bridges skryf verder: “In een hele jaar is een swart man deur ‘n blanke man aangeval met ‘n gholfstok by ‘n gholfbaan en vir drie weke moes ons in die media lees en hoor van hierdie rassistiese aanval! Nog NOOIT is daar na ‘n enkele “swart-op-wit”-aanval verwys as rassisties nie! Julle berig nie eers oor 20% van hierdie aanvalle nie, maar gryp na elke moontlike geleentheid om die feite te weerlê. Julle stilswye is een van die grootste redes waarom dit onverpoosd voortduur! Sedert Steve se gewraakte skrywe is NOG 5 van ons mense vermoor en vandag is daar geen enkele berig oor een van hierdie moorde in Rapport nie. Slegs hierdie berig waarmee julle poog om vir ons te vertel die maan is van kaas gemaak! ‘n Mens weet nie of jy moet lag of huil nie… maar ek weet van 5 gesinne wat verseker nie vandag lag nie…”

Oor statistiek en die kwantum van aanvalle kan daar, in die afwesigheid van betroubare en eerlike syfers van die SA Polisiediens, nog lank geargumenteer word. Maar wat is die kwalitatiewe aspekte van hierdie situasie?

Daar bestaan sowel etniese as kriminele geweld in Suid-Afrika. As ‘n groep is die Afrikanerminderheid geklassifiseer as behorende tot die vyfde stadium van volksmoord: polarisering. Dié klassifikasie is deur die onafhanklike Amerikaanse organisasie Genocide Watch gedoen, wat in die monitering van wêreldwye etniese konflikte spesialiseer.

Wat blote geweldsmisdaad betref, is Suid-Afrika waarskynlik die mees gewelddadige samelewing op aarde. Ons moet ook verstaan dat die “moordsyfer” waarvan die polisie praat, net “moord met voorbedagte rade” insluit en nie dít wat in die Suid-Afrikaanse reg as “manslag” bekendstaan nie. In vele ander lande bestaan daar nie so ‘n onderskeid nie en kom dit slegs ter sprake waar oortreders gevonnis word. Moord is moord. In die syfers wat ek hier onder noem, het ek die twee kategorieë saamgevoeg sodat ons, in die gevleuelde woorde van Rapport, “appels met appels” kan vergelyk.

Hoewel ons moordkoers effens laer as dié van Hondurasm, El Salvador en die Ivoorkus is, raak Suid-Afrika egter die swaargewigkampioen van geweld ter wêreld as geweld teen vroue en gewapende roof daarby ook in ag geneem word.

Tans vind daar 27 397 moorde per jaar in Suid-Afrika plaas (Ek tel hier die SAPD se syfers vir moord en strafbare manslag bymekaar.) Daardie reële getal is die derde hoogste ter wêreld. Slegs Indië en Brasilië beskik oor meer moorde, maar hul bevolkings is soveel groter as ons s’n.

Die moordsyfer, in ag genome gevalle van manslag, oftewel moord “sonder voorbedagte rade” – is 54 per 100 000 lede van die bevolking. Dit is veel hoër as enige stad of deelstaat in die VSA. Selfs Detroit, Michigan, wat die gewelddadigste stad in Amerika is, beskik oor ‘n laer moordkoers op 48,2 per 100 000 lede van die bevolking. Suid-Afrika in die geheel vergelyk dus met Detroit, maar met 10% meer moorde. Oor die algemeen word Detroit in die VSA as ‘n stad met abnormale vlakke van geweldsmisdaad beskou, ongeveer agt keer hoër as die Amerikaanse gemiddeld.

As dit by verkragting kom, is ons koers van 127 per 100 000 meer as twee keer die koers van Detroit! Erger nog, volgens navorsing deur die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika, ‘n regeringsinstelling, word verkragting in ons onderaangemeld met ‘n faktor van 25 teen 1. Die aantal verkragtings per jaar kan dus so hoog wees soos 1,3 miljoen per jaar, oftewel 3600 per dag. Om dit in perspektief te stel: dis amper vier keer hoër as die voorkoms van verkragting in die Demokratiese Republiek van die Kongo, ‘n Afrikaland waar daar ‘n burgeroorlog heers en waar verkragting as “oorlogswapen” gebruik word. Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het hom reeds oor verkragting in die Kongo uitgespreek, maar nie oor dieserlde misdade in Suid-Afrika nie.

Vier miljoen mense het reeds tydens die burgeroorlog in die Kongo omgekom. Na sekere beramings, sal 75% van Suid-Afrikaanse vroue ten minste eenkeer in hul lewens verkrag word. ‘n Suid-Afrikaanse vrou beskik oor ‘n groter kans om in haar leeftyd verkrag te word as om matriek deur te kom. Dis die soort “demokratiese” utopie waarin ons leef en wat deur Nechama Brodie en Rapport verdedig word.

Geweld eindig egter nie by moord en verkragting nie. Per jaar vind daar 192 670 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer, plaas. Dit verteenwoordig 359 per 100 000 lede van die bevolking. Gewone aanrandingsake wat by die polisie aangemeld word, verteenwoordig 181 670 of 359  per 100 000 lede van die bevolking. Aangesien sulke sake na alle waarskynlikheid óók onderaangemeld word, kan daar maklik ‘n miljoen gevalle van aanranding per jaar in Suid-Afrika wees.

Tesame met rooftogte by huise en sake-ondernemings, kan die aantal geweldsmisdade of ernstige oortredings per jaar miljoene wees, maklik so hoog soos vyf of ses miljoen. Aangesien daar ‘n raps meer as 50 miljoen mense in die land is, beteken dit dat ongeveer tien persent van die bevolking jaarliks die slagoffer van een of ander vorm van geweldsmisdaad is!

Die statistiek wat ek hier genoem het, is die polisie se eie, in welke mate ons hulle ook al kan vertrou. Ten minste weet ons dat hulle nie geweldsmisdaad gaan óórskat nie, eerder onderskat.

Waar laat dit ons?

Ek het my ernstige bedenkinge oor die motief van Africa Check se verdagmakery en openbare aanval op Steve Hofmeyr. Ons beskik eenvoudig tans nie oor genoeg amptelike inligting om presies te sê hoeveel swart-op-wit geweld daar tans plaasvind nie. Die debat oor die moordkoers onder die ou regering is ook kompleks, want vele van die moorde was politieke moorde wat direk uit die buiteland aangehits en befonds is en was dus nooit deel van “algemene misdaad” destyds nie. Brodie wil die konflik wat deur Britte, Swede en ander aangehits is deur wapens en plofstof in die land te versprei, saam met gemenereg-misdaad indeel om sogenaamd “moordkoerse tydens apartheid” met die huidige koerse te vergelyk.

Ironies verwys die skryfster ook na ‘n artikel deur Thomson van 2004 waarin aangedui word dat geweld onder kleurlingmans die hoogste in die land is, gevolg deur swart mans, Indiërmans en heel laaste blanke mans. Toe ek voorheen na dié artikel verwys het, is ek vir ‘n “rassis” uitgekryt. Uit Thomson se statistiek en grafieke wat jare se gegewens verteenwoordig, kan ons sien dat geweldsmisdaad onder blankes inderdaad die laagste van alle rasse is.

Gegewe egter die links-liberale haatveldtog en opstokery wat daar reeds dekades lank teen Afrikaners gevoer word, en waarvan die “Kill-a-Boer”-liedjie maar net die top van die ysberg verteenwoordig, sal dit verbasend wees indien blankes tans hoegenaamd minder aan geweldsmisdaad blootgestel is as die res van die bevolking. Intuïtief – omdat ons reeds die teiken van vyandelike propaganda is – voel ‘n mens aan dat daar méér geweld teen ons moet wees.

Statistieke kan egter nie die verontmensliking wat met plaasmoorde, asook gewapende aanvalle op kleinhoewes en huise, gepaardgaan, uitdruk nie. Die marteling, vernedering en koelbloedige teregstellings kwalifiseer sulke voorvalle om gruweldade genoem te word. Gegewe die omvang wat sulke gruweldade reeds ingeneem het, moet dit as ‘n misdaad teen die mensdom beskou word.

Soos Kevin King nou die dag op die Engelse PRAAG geargumenteer het in White genocide in South Africa: the facts, gaan volksmoord nie oor statistiek nie, maar oor die beginsel dat die dader ‘n bepaalde groep wil vernietig:

“According to the definition of genocide, “an individual criminal may be guilty of genocide even if he kills only one person, so long as he knew he was participating in a larger plan to destroy the group [or part of a group]”

Dit ly geen twyfel dat elemente in die Suid-Afrikaanse samelewing, plaasmoordenaars, maar ook links-liberale joernaliste en akademici, verenig is in hul afkeer van die Afrikaner, asook ons geskiedenis, tradisies, taal, kultuur, letterkunde en alles wat daarmee saamhang nie.

Die metodes wat hulle gebruik om ons uit te wis, verskil, maar die bedoeling stem ooreen: om ons te vernietig. Hetsy volksmoord, hetsy assimilasie, sal hulle goed pas.

Dat daar nou ‘n heksejag teen Steve aan die gang is, spreek boekdele oor die kwaadwilligheid en vyandigheid van diegene wat geweld teen ons wil normaliseer.

Nomalisering kweek aanvaarding, berusting en die soort traak-my-nie-agtigheid wat deur Rapport en ander Naspersmedia gedemonstreer word.

Ons mag nooit die huidige geweld aanvaar en as “normaal” begin sien nie.