Die geweld wat met diensleweringsbetogings gepaardgaan in Kokosi, die lokasie van Fochville, bedreig die demokrasie. Só het die LUR vir menslike nedersettings in Gauteng, Ntombi Mekgwe, gister verklaar.
“Geweld op hierdie stadium van ons demokrasie kan slegs die winste van ons demokrasie omkeer,” het sy in ‘n mediavrystelling gesê.
“Die eindresultaat van dié ongewenste en verkeerde optrede is dat, nadat eiendom en infrastruktuur verwoes is, ons mense slegter daaraan toe is, en nie andersom nie.”
Ten minste 45 mense is vandeesweek in verband met openbare geweld in die gebied in hegtenis geneem.
Volgens Mekgwe bestaan daar “opportunistiese elemente”, sowel polities as misdadig, wat die probleme van die Kokosi-gemeenskap uitbuit.
‘n Aantal vergaderings is reeds met inwoners gehou om die ontwikkeling van die buurt te bespreek en dienste is reeds op grond in uitbreiding ses aangebring, waar huise gebou sou word.
Mekgwe het gesê dat dit na vore gekom het dat die grond onwettig aan die munisipaliteit verkoop is.
“Hierdie ontstellende feit, asook die hofsaak wat daaruit voortspruit, het die program opgeskort.”
Sy het ‘n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees en die plaaslike en provinsiale regerings tyd te gee om die grond terug te kry.
Mekgwe beweer dat betogers klippe na die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, gegooi het.
Vroeër het luitenantkolonel Katlego Mogale gesê dat 45 mense Maandag en Dinsdag weens openbare geweldpleging gearresteer is.
Inwoners het paaie met klippe en brandende buitebande versper.
“‘n Spaza-winkel, ‘n drankwinkel en ‘n huis, wat vermoedelik aan ‘n raadslid behoort, is aan die brand gesteek,” het sy gesê.
Dinsdag sou die burgemeester van Mazibuko- en Merafong-munisipaliteit, Maphefo Mogale sud eLetsie, die inwoners ontmoet om hul kwellinge te bespreek, maar die vergadering moes ontbind toe betogings uitgebreek het.
Diegene wat in hegtenis geneem is, sal vandag in die Carletonville-landdroshof verskyn. – Sapa



