Inwoners van Ha-Bungeni buite Makhado in Limpopo het ‘n voertuig van die Departement van Watersake aan die brand gesteek en ‘n sjebeen afgebrand.
Die inwoners het die Bungeni-Mashau-pad ook versper en voertuie beskadig uit woede nadat die liggaam van ‘n verstandelik gestremde man gevind is.
Intussen is die situasie kalm by Tshisaulu naby Thohoyandou waar inwoners gisteraand ‘n pad met brandende bande en klippe versper het.
Die oproerige skare eis die inhegtenisneming van ‘n moordverdagte nadat ‘n vrou se liggaam met ‘n meswond twee weke gelede gevind is.
Motoriste moes tussen Thohoyandou en Makhado naby Tshilidzini–hospitaal onder klipgooiers deurloop.
Die ontdekking van die vrou se liggaam met steekwonde het inwoners in opstand laat kom want hulle sê daar is al talle moorde in die gebied.
“Die rede waarom mense in opstand is, want baie mense gaan hier dood. Daar is ‘n staking, want die mense glo die polisie doen niks daaraan nie. So mense is in opstand sodat die polisie iets moet doen. Misdaad gebeur in Tshisaulu en die polisie doen niks daaraan nie,” het een van die inwoners gekla.