Klipgooiers versper R55

Motoriste wat van Pretoria na Johannesburg reis is aangeraai om die R55 naby Olievenhoutbosch te vermy.

Oproeriges in die gebied het Maandagoggend die pad versper en klippe gegooi na motoriste wat probeer het om die roete te gebruik.

Die pad is gesluit deur die owerhede.

Die Tshwane Metropolisie het gesê die protesaksie word aangevuur deur inwoners wat weier om te beweeg van Mooiplaats.

“Die situasie is op die oomblik baie gespanne,” het ‘n woordvoerder Isak Mahamba, gesê.

“Ons probeer om betrokke te raak by die gemeenskap om uit te vind wie hul leiers is, maar op die oomblik is hulle oral versprei en gooi hulle klippe.”

Motoriste wat normaalweg die roete gebruik word aangemoedig om die N1 en N14 as alternatiewe roetes te gebruik.

R55 weer oop na oproer

burningtyresDie verkeersvloei op die R55 in Pretoria-Wes het na normaal teruggekeer nadat betogers vroeër die pad versper het.

Inwoners van die Mooiplaas-lokasie het die pad met brandende bande en klippe versper, het lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die polisie monitor nou die situasie in die gebied. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Inwoners het vermoedelik betoog oor dienslewering in die gebied. – Sapa