Kabinet maan betogers, stakers tot kalmte

goudmynDie Kabinet het ‘n beroep op betogers sowel as stakers gedoen om hulself te weerhou van geweld. Die vakbond Amcu sê dat van sy lede by Sibanye se Beatrixgoudmyn in die Vrystaat aangeval is.

Dit het vrese opnuut laat ontstaan dat die staking in die goudsektor gewelddadig kan raak. Amcu se hoofsekretaris, Jeff Mphahle sê die vyf Amcu-lede is deur lede van die NUM aangeval wat wou keer dat hulle gaan werk.

Die reg om te staak moet op ‘n nie-gewelddadige wyse geskied, het die waarnemende regeringswoordvoerder Phumla Williams aan verslaggewers in Pretoria Donderdag gesê, na aanleiding van die uitvoerende gesag se vergadering Woensdag.

“Die Kabinet beklemtoon dat so ‘n reg uitgeoefen moet word op ‘n nie-gewelddadige wyse en in volle nakoming van die wet,” het sy gesê.

“Daar is ‘n verantwoordelikheid op die vakbondleiers, werkgewers, die staat, en die veiligheidsdienste om te verseker dat die wet gehandhaaf word en dat uitdagende optrede vermy word.“

Verskillende ekonomiese sektore in Suid-Afrika, insluitend die mynbou, konstruksie, en die motorsektor, is tans besig met onderhandelinge.

Die vakbond, die NUM het die Kamer van Mynwese se hersiene salarisaanbod na sy stakende lede geneem om oorweeg te word.

Die NUM se stakingskomitee het vroeër vandag vergader om die aanbod te bespreek. Die NUM-woordvoerder, Lesiba Seshoka sê die werkers se besluit kan teen môre reeds aangekondig word.

Die goudmynwerkers staak van Dinsdag af.

Williams is ook gevra oor die toestand van die drie Suid-Afrikaanse soldate wat beseer is tydens ‘n VN-sending in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Suid-Afrikaners word geroep om ondersteuning en erkenning te gee aan hierdie soldate wat instrumenteel in die verwesenliking van Suid-Afrika se verbintenis tot vrede, stabiliteit en die versterking van die demokrasie in Afrika is.“

Sy het vrae na die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verwys.

Regering wil ingryp om skade van staking te beperk

Susan Shabangu
Susan Shabangu

Die Minister van Minerale Hulpbronne, Susan Shabangu, het aan die media in Pretoria gesê indien die staking nie gou opgelos word nie, gaan dit die ekonomie ‘n knou kry.

Die regering is gereed om in te gryp in die goudmynsektor om skade wat die loongeskil aan die ekonomie veroorsaak, te keer.

Duisende vakbondlede van NUM het aangedui dat hulle by goudmyne in Gauteng en Noordwes sal begin staak.

Salarisonderhandelings het reeds twee maande gelede op ‘n dooiepunt bereik en vakbonde het ‘n finale aanbod deur die Kamer van Mynwese verwerp.

Na beraming kan die staking lei tot ‘n produksieverlies van meer as R350 miljoen per dag. Shabangu sê indien die regering moet ingryp, sal alle rolspelers betrek word.

Intussen staak werkers ook in die voertuigvervaardigingsbedryf en konstruksiesektor wat ‘n verdere nadelige uitwerking op die ekonomie het.

Ongeveer ‘n honderd werkers van Anglo American Platinum op Rustenburg in Noordwes wat afleggingskennisgewings ontvang het, het by die myn se Khomanani nommer twee skag byeengekom vir terugvoer van hul verteenwoordigers.

Amplats het vroeër aangedui dat meer as drieduisend werkers afgedank sal word. Die maatskappy sluit sy Khuseleka en Khomanani skagte in ‘n poging om mededingend te bly.

Myners vrees vir hulle toekoms en hoop dat Amplats sy besluit sal heroorweeg. Die strydende vakbonde, AMCU en die NUM, dreig met optrede.

Die myn se veiligheidsbeamptes monitor tans die situasie.