Myne sal Amcu-aansoek teenstaan om SMS’se te verbied

Joseph Mathunjwa en Ben Magara
Joseph Mathunjwa en Ben Magara

Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.

Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.

Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.

Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.

Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.

Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.

Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.

Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.

Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.

Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.

Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.

Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.

The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.

Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.

“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.

Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.

Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.

Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.

Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.

Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.

Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.

 

Lonmin vra dat stakers onderhandeling hervat

amcu2Die platinumprodusent, Lonmin het ‘n herude oproep aan die mynwerkers-vakbond, Amcu gerig om salaris-onderhandelings te hervat.

‘n Woordvoerder sê samesprekings kan hervat word terwyl werkers na hul werke terugkeer.

Amcu-lede eis ‘n basiese maandelikse salaris van R12.500 per maand.

Die staking is by die wêreld se drie grootste platinumprodusente Lonmin, Implast en Amplats en duur reeds 16 weke.

Lonmin sê stakende werkers se ellende weens hul verlies aan onkomste sal verlig word as werkers terugkeer werk toe terwyl daar terselfdertyd ‘n oplossing vir die geskil gesoek word.

Die polisie ondersoek nog berigte dat ‘n moordlys opgestel is om Amcu-mynwerkers te teiken wat wil terugkeer werk toe.

Werkers wat op die myne se sms-versoek gereageer het om terug te keer werk toe, is glo gelys.

Volgens die berigte verskyn die name van vier mense wat die afgelope tyd in die platinumgordel vermoor is, op die beweerde moordlys.

Streng veiligheidsmaatreëls is by myne ingestel waar die werkers verlede week vermoor is.

Myners word met pantservoertuie werk toe en terug begelei, maar die polisie sê niemand kan hul veiligheid op die lang duur waarborg nie.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, het vroeër versoek dat enigiemand wat inligting het oor die sogenaamde moordlys, dit by die polisie moet aanmeld.

Hy het diegene wat dit opgestel het, veroordeel. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Kospakkies vir stakende werkers by platinummyne in Noordwes sal van Johannesburg vervoer word. Die Marikana-steungroep en Gift of the Givers asook ander organisasies het geld ingesamel vir die duisende sukkelende werkers.

Die woordvoerder van die Marikana Steungroep, Rehad Desai sê die situasie stuur op ‘n humanitêre ramp af indien die mynwerkers nie gehelp word nie.

Duitse motorvervaardiger belê groot in Oos-Londen-aanleg

mercedesDie regering het homself daartoe verbind om ondersteuning aan die motorbedryf te verleen.

Die Duitse motorvervaardiger, Mercedes Benz, gaan vyf miljard rand belê vir die produksie van sy nuwe C-klas model by sy aanleg in Oos-Londen.

MBSA sal produksie van die nuwe C-klas by sy vervaardigingsaanleg begin met die aansienlike belegging in masjinerie en toerusting, asook vaardigheidsopleiding en-ontwikkeling.

Die Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, het die belegging as die grootste onder die huidige regering geloof. Davies sê die produksie sal die aantal uitvoerlande vergroot.

Davies het gesê die huidige iterasie van die APDP (Automotive Production and Development Programme) is hier om te bly en sal voortgaan tot 2020

Hy het gesê die bedryf kan dit as vanselfsprekend aanvaar dat daar verdere konsultasie sal wees oor hoe dit verbeter en uitgebrei kan word.

Arno van der Merwe, uitvoerende hoof van MBSA en vise-president vir vervaardiging, het gesê die plaaslike maatskappy het sy eerste C-klas in 1994 gelewer en sedertdien die eer gehad om elke daaropvolgende C-klas model te bou om ‘n gerespekteerde deel te word van Daimler se wêreldwye netwerk.

Van der Merwe het gesê MBSA het geleidelik verhoogde produksiekapasiteit nagestreef en produksie het ‘n toppunt van 60.000 eenhede in 2012 bereik.

Van der Merwe het nie die presiese kapasiteit van die aanleg gespesifiseer nie.

Hy het bevestig dat sowat 85 persent van die produksie van die aanleg uitgevoer sal word.

ANC sal beleggersvertroue herstel

zumaDie ANC het belowe om beleggersvertroue met bestendige beleidsrigtings te herstel na sy oorwinning in die algemene verkiesing, het RSG berig.

Die ANC se Sekretaris-Generaal, Gwede Mantashe, het die party daartoe verbind dat hy sy beleid duidelik sal uitspel, en verwys na die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die plan stel grootskaalse infrastruktuurprojekte in die vooruitsig en verwerp die nasionalisering van belangrike sektor soos die mynwese.

President Jacob Zuma het reeds gesê die ANC se sterk vertoning by die stembus het aan die party ‘n duidelike mandaat gegee om met die program voort te gaan. Mantashe het ook daarop gewys dat die rand na die vreedsame verkiesing verstewig het en voorspel dat die nuwe kabinet die markte nog verder sal opstoot.

Zuma het intussen gesê sy regering sal hulle daarvoor beywer om dienslewering en transformasie te versnel.

Geen ooreenkoms tussen Amcu en platinumbedryf

platinumAnglo Platinum, Impala Platinum en Lonmin en verteenwoordigers van die vakbond Amcu kon nie ‘n hul verskille oor salarisverhogins oplos nie.

Na die derde vergadering tussen die mynmaatskappye en Amcu is geen ooreenkoms bereik nie.

Amcu het die werkgewers se aanbod verwerp om salarisse oor ‘n tydperk van 5 jaar tot R12.500 te verhoog deur byvoordele en toelaes met verdrag aan te pas.

Die staking die platinumbedryf duur al sedert Januarie.

Die staking het die drie maatskappye en die mynwerkers na beraming sowat R21 miljard aan verlore inkomste en salarisse gekos.

Die maatskappye het Donderdagaand ‘n einde aan die samesprekings gemaak nadat geen ooreekoms bereik kon word nie.

Die platinumbedryf se onderhandelaars het Amcu-leiers aangeraai om hul lede te oorreed om die aanbod te aanvaar.

Hulle het aangedui dat hulle self die werkers sal probeer oorreed om die aanbod te aanvaar.

Anglo American se tussentydse bestuursverklaring vir die Maart-kwartaal toon verhoogde produksie in al sy mynbedrywighede, behalwe vir platinum, waar die produksie is erg geraak deur word die staking.

In die verklaring wat Donderdag uitgereik is, sê Anglo American platinumproduksie het gedaal met 39% tot 357,000 onse.

Business Day-redakteur wil meer gelykheid hê

Inequality-cleese-and-bar-002Die redakteur van die Business Day, Peter Bruce, lewer vandag ‘n pleidooi vir groter gelykheid in Suid-Afrika, in reaksie op ‘n twiet deur Dali Mpofu van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) waarin hy optrede teen armoede bepleit.

Volgens Bruce, bestaan daar “‘n groeiende strook linkse akademici, ontleders en beleidmakers wat saamstem dat dit nie langer heeltemal waar is nie. Hulle glo tans dat, terwyl armoede sleg is, ons werklike probleem ongelykheid is. Dit is die ongelykheid – só redeneer hulle – wat ons maatskaplike samehang, bedreig.”

Die redakteur van die Business Day haal ook die Amerikaanse ekonoom en New York Times-rubriekskrywer, Paul Krugman, aan wat glo dat maatreëls om die VSA se ongelykheid te verminder tot ekonomiese groei sal lei.

Bruce lewer self die volgende pleidooi: “Ek dink dat vakbonde op maatskappyrade behoort te dien dat werkers aandele in die ondernemings waar hulle werk, behoort te besit. Ek glo vas dat, tensy ons rykdom meer doeltreffend en regverdig versprei, ons nie suksesvol gaan wees nie.”

Lees Bruce se hele artikel hier.

Reserwebank beboet banke oor gebrek aan geldwassery-maatreëls

standardStandardbank is ‘n boete van 7,6 miljoen pond in Januarie opgelê deur die Britse Finansiële Gedragskode-owerheid nadat die bank in Londen se eenheid glo nie ‘n voldoende beleid of prosedures in plek gehad het vir korporatiewe kliënte wat verbind word aan politieke figure nie.

Die boete is ingestel sodat maatreël ingestel kan word om korporatiewe figure te beskerm van beskuldigings van geldwassery.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het vandeesweek aangekondig dat die land se vier grootste banke met 125 miljoen rand beboet is weens plaaslike swak maatreëls teen geldwassery.

Die Reserwebank het in ‘n verklaring gesê nadat hulle die banke beboet het, dat Standard Bank 60 miljoen rand moes opdok, First Rand 30 miljoen rand, Nedbank 25 miljoen rand.

Die Britse Barclays groep wat Absa insluit, is met net 10 miljoen rand beboet.

Die Reserwebank sê egter die administratiewe strafmaatreëls is nie ‘n aanduiding dat die betrokke banke op enige wyse wel by transaksies met geldwassery betrokke was nie.

Telkom-mobiel ‘sal nooit ‘n wins wys nie’

Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg
Telkom se aandeelprys oor die afgelope jaar. Bron: Bloomberg

“Telkom-mobiel sal nooit ‘n wins maak nie.” Só sê die portefeuljebestuurder Wayne McCurrie van Momentum Wealth. Hy meen ook dat Telkom nooit sy aandeel in Vodacom moes verkoop het nie.

McCurrie het ‘n rukkie gelede op Business Day TV gesê dat “8ta (Telkom-mobiel) nooit ooit ‘n wins gaan toon nie.”

“Ek het die grootste empatie met die Telkom-bestuur. Jou hoofbesigheid neig afwaarts. Dis moeilik om dit te keer,” sê McCurrie. “Hulle het al by soveel geleenthede gepoog om ander maniere te kry (om geld te maak).

“Miskien is die ergste ding wat hulle ooit gedoen het, om Vodacom te ontbondel – hulle moes dit gehou het,” voeg hy by. “Om Vodacom weer oor te bou deur Telkom-mobiel, is baie moeilik en kos baie geld.”

Omdat Telkom ‘n staatsbeheerde onderneming is, beteken dit dat die maatskappy ook nie mense kan afdank, besnoei of kostes kan bespaar nie.

“Ek sou nie Telkom-aandele koop nie. Wesentlik het niks verander nie; nietemin het die aandeelprys meer as verdubbel,” sê McCurrie.

David Shapiro van Sasfin-sekuriteite stem hiermee saam en meen dat Telkom nog vele uitdagings die hoof sal moet bied alvorens dit as ‘n belegging vertroue sal inboesem.

“Daar is nog so baie werk wat hulle moet doen. Ek is bevrees hulle is nie in die regte deel van die mark nie,” sê Shapiro.

Shapiro voeg by dat terwyl die onlangse mobiele verbindkoersbeslissing Telkom gaan help, is dit nog baie moeilik om die maatskappy te laat herstel.

Volgens McCurrie sal Cell C en Telkom-mobiel óf hul pryse moet verhoog óf moet tou opgooi. “Jy kan nie daarmee aanhou om miljarde en miljarde rande te verloor nie,” sê hy.

BNP Paribas koop SA kredietmaatskappy vir R2,65 miljard

Logo_BNP_ParibasBNP Paribas, die grootste bank in Frankryk, het ‘n aanbod gemaak om ‘n Suid-Afrikaanse finansieringsmaatskappy teen R2,65 miljard te koop. Die Franse maatskappy sal die RCS-groep by Foschini en Standardbank aankoop.

Die RCS-groep, wat winkelkredietkaarte verskaf, maar ook persoonlike lenings en versekering verkoop, behoort 55 persent aan Foschini en 45% aan Standardbank, die grootste bank in Suid-Afrika en selfs in Afrika.

Die onderneming sal in BNP Paribas se persoonlike finansieringseenheid gehuisves word. Foschini, wat R1,4 miljard uit die transaksie sal ontvang, sê hy gaan die geld aanwend om sy eie aandele in die mark terug te koop, wat ‘n styging van 1,8 persent tot R107,65 veroorsaak het.

Nigerië steek SA verby as grootste Afrika-ekonomie

nigeriaNigerië het Suid-Afrika verbygesteek as Afrika se grootste ekonomie nadat die land syfers oor sy bruto binnelandse produk bekendgemaak het.

Volgens Nigerië se minister van Finansies was die BBP vir 2013 gelykstaande aan 510 miljard dollar, het RSG berig.

Dit is 40 persent meer as die vorige berekening van 292 miljard dollar. Suid-Afrika se BBP staan op 353 miljard dollar.

Nigerië sluit nou bedrywe in soos telekommunikasie, inligtingstegnologie, musiek, lugrederye en rolprentproduksies wat voorheen nie deel van die berekeninge was nie.

Nigerië se onlangse groeikoers van ses persent is ook ver beter as Suid-Afrika wat sukkel om ‘n groeikoers hoër as drie komma vyf persent te bereik.

Waarnemers het egter gewaarsku dat die syfers misleidend kan wees.

Die BBP per kapita is in Suid-Afrika aansienlik hoër en dat die verspreiding van welvaart in albei lande uiters oneweredig is.

Vodacom, MTN verloor aansoek oor verlaagde selfoontariewe

icasaDie uitsaaiowerheid kan van 1 April af verlaagde interkonneksie-tariewe afdwing.

Vodacom en MTN het hul saak teen Okosa verloor. Die twee selfoonreuse het vroeër ‘n dringende interdik verkry om die reguleerder te probeer verhinder om die nuwe, aansienlik laer tariewe vir Cel C en Telkom te implimenteer.

Die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg het Maandag ten gunste van Okosa, die Onafhanklike Uitsaaiowerheid van Suid-Afrika, beslis.

Verlaagde tariewe sal voortaan op Cell C en Telkom Mobile van toepassing wees.

Suid-Afrika gaan gebuk onder van die duurste selfoontariewe ter wêreld.

Die hof het beslis dat OKOSA die verlaagde interkonneksie-tariewe  vir ses maande mag toepas, maar sal dit daarna weer moet hersien.

Dié tariewe sal met die helfte tot 20 sent verlaag.

Geen werkskepping onder huidige toestande nie

Gerhard Papenfus
Gerhard Papenfus

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, of NEASA, sê onder die huidige toestande sal daar geen werklike werkskepping deur die privaatsektor wees nie

Die uitvoerende hoof van NEASA, Gerhard Papenfus, sê sake-ondernemings voel nie meer welkom in Suid-Afrika nie.

Papenfus sê daar bestaan ‘n persepsie dat winste werknemers op een of ander manier benadeel. Hy sê sakelui voel amper skaam omdat hulle suksesvol is.

Papenfus sê Suid-Afrika het ‘n onaanvaarbaar hoë werkloosheidsyfer en ‘n oplossing moet gevind word om werk te skep.

Hy sê Suid-Afrika maak ook geen duik in die werkloosheidskrisis nie, en daar is ‘n netto verlies van meer as 100.000 werkgeleenthede in Februarie.

Papenfus het vroeër gesê kollektiewe bedinging in die mynbedryf is baie nadelig vir klein besigheid.

“Die arbeidswetgewing is opgestel in so ‘n manier dat dit klein besighede benadeel,” het Papenfus in Johannesburg gesê.

“Groot werkgewers en vakbonde kan ooreenkomste aangaan … Ooreenkomste wat heeltemal nadelig in die belang van klein werkgewers is.”

Hy het gesê dit was omdat wetgewing verhoed dat klein besighede onderhandeling oor hul eie loonooreenkomste voer.

Klein besighede word dikwels swaar getref omdat stygings hulle direk en onmiddellik raak, sê Papenfus .

Op grond hiervan het Neasa die departement van arbeid en die minister hof toe geneem.

Tydens ‘n voorlegging in Bryanston , Johannesburg, het Papenfusge sê die bedingingsraad in die mynbedryf “funksioneer ongrondwetlik “, want ‘n ooreenkoms is in ‘n struktuur wat nie bestaan ​​het nie onderteken.

Rentekoerse dalk onveranderd uit vrees vir vakbonde

reserwebankDie Reserwebank sal na verwagting rentekoerse dieselfde hou op Donderdag se beleidsvergadering van die monetêre komitee.

Volgens Reuters meen verskeie ekonome dat die stygings dalk later vanjaar aangekondig mag word aangesien inflasiedruk kommerwekkend is.

Hulle meen ‘n verhoging in rentekoerse voor die verkiesing sal invloedryke vakbondvennote van die ANC vervreem en die drieparty-alliansie daardeur verswak.

Die algemene verkiesing vind op 7 Mei plaas.

Die Reserwebank het vroeër die maand stappe gedoen om markverwagtinge van skerp rentekoersverhogings te bestuur na ‘n verhoging in Januarie, en gesê hy sal die beleid stadiger verskerp om die druk op die wankelende ekonomie te verlig.

Drie-en-twintig van die 30 ekonome verwag dat die Reserwebank sy repokoers op 5,5 persent sal laat.

Okosa verdedig laer seltariewe teen MTN, Vodacom

Selfoonreuse MTN en Vodacom het Okosa hof toe geneem oor die kommunikasiereguleerder se planne om beëindigingstariewe vir selfone te sny.

Die twee mededingers het ‘n dringende interdik gebring om die reguleerder te verhinder om nuwe selfoontariewe in te stel.

icasaDie Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg sal vandag getuienis aanhoor van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid in die saak wat deur die selfoonmaatskappye, Vodacom en MTN, teen die owerheid gebring is.

Daar word verwag dat Okosa sal aanvoer dat laer tariewe tot voordeel van die verbruiker sal wees en mededinging sal aanwakker.

Die pryse sal na verwagting op 1 April in werking tree. MTN en Vodacom wil hê die hof moet die regulering permament skrap.

Okosa het gesê die koste aan verbruikers maak Suid-Afrika een van die duurste plekke om ‘n selfoon te gebruik.

Die nasionale reguleerder het gesê die 20c teenoor 44c is regverdigbaar volgens ‘n onafhanklike deskundige.