Cell C ontstoke oor Vodacom en Neotel se samesmelting

Cell C dreig om die telekommunikasie-beheerliggaam, OKOSA, hof toe te neem oor die samesmelting van Vodacom en Neotel.

Vodacom se teenstanders het die maatskappy se oorname van Neotel fel gekritiseer omdat dit Vodacom onregverdige voordeel sal gee as die land se grootste selfoonnetwerkverskaffer toegang tot Neotel se winsgewende radiofrekwensiespektrum sou kry.

Die transaksie sal die uitbreiding van Vodacom se veseloptiese kabelnetwerke ‘n hupstoot gee in woongebiede en besighede.

Daarbenewens sal toegang tot die spektrum, ‘n skaars hulpbron, die maatskappy in staat stel om ontplooiing van sy hoë-spoed draadlose netwerk te bespoedig.

OKOSA het Maandag bekendgemaak dat hy Vodacom se oorname van Neotel ten bedrae van sewe miljard rand goedgekeur het.

Geen redes vir die besluit is nog verskaf nie.

‘n Cell C-woordvoerder, Zolile Ntukwana sê die ooreenkoms sal beteken dat Vodacom die mark oorheers.

Plan om selfoonseine in tronke te versper

Planne deur die Departement van Justisie om selfoonversperrings in Suid-Afrikaanse tronke te installeer, is, na wat berig word, in ‘n gevorderde stadium.

Dit SABC berig dit sal gevangenes verhinder om selfone wat ingesmokkel word, in die gevangenis te gebruik.

Die Departement het die aankondiging gedoen tydens die besoek van die Minister van Justisie, Michael Masutha, aan die St Albansgevangenis in Port Elizabeth. Die besoek is deel van Masutha se besoek aan al die regsdienste.

‘n Woordvoerder van Korrektiewe Dienste, Zacharia Modise, sê hulle moet toestelle installeer om selfone op te spoor, maar ook om die selfoonsein in die gevangenisse te versper.

Modise sê hulle wag vir goedkeuring van die verspreidingsowerheid OKOSA, waarna hulle sal begin om die toestelle te installeer, veral in korrektiewe sentrums waar daar ernstige oortredings plaasvind soos ondermeer in St Albans, in Johannesburg en in Pollsmoor.

EFF dien klag in by OKOSA oor geweierde advertensie

IcasaDie Onafhanklike Uitsaai-owerheid, OKOSA, het ‘n klag van die
Ekonomiese Vryheidsvegters ontvang nadat die EFF se
verkiesingsadvertensie afgekeur is.

Die SAUK sê die advertensie is nie verbied nie, maar wel afgekeur
weens aanhitsende inhoud.

OKOSA sê hulle stel ondersoek in na die saak. Die openbare uitsaaier
het die advertensie van die lug afgehaal omdat dit geweld sou
aanblaas.

In die advertensie moedig die EFF kiesers aan om e-tolhekke “fisies te
vernietig” indien hy die verkiesing wen.

Die leier van die EFF, Julius Malema het die aanhitsing verdedig en
gesê kykers moet toegelaat word om vir hulle self te besluit.

Vroeër die maand het die SAUK ook ‘n advertensie van die DA op
dieselfde gronde afgehaal.

Na ‘n verhoor deur dieselfde komitee van OKOSA, is beslis dat die
advertensie weer uitgesaai mag word.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het intussen ook by OKOSA oor die DA
se advertensie gekla.

In die advertensie rig polisiebeamptes vuurwapens op lede van die publiek.

Malema het berigte dat die EFF ‘n koalisie-regering met die DA in
Gauteng oorweeg, verwerp.

Malema het gesê die party se doelwit is om die verkiesing te wen en is
daarom nie ingestel op koalisievorming nie.

Die EFF het nouer samewerking met die vakbond NACTU in die vooruitsig
gestel. Malema sê NACTU onderskryf die EFF se verkiesingsbeleid.

Die DA het verlede week daarin geslaag om sy advertensies terug op die
lug te kry nadat die party hom op die Onafhanklike
Kommunikasie-owerheid beroep het.

Die EFF gaan poog om dieselfde te doen.

Die SAUK bied gratis advertensieruimte oor radio en op TV aan
politieke partye in aanloop tot die verkiesing van 7 Mei.

Die EFF het die advertensie ingedien vir sy gratis advertensiegleuf.
Dit sou verlede Saterdag uitgesaai word.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het gesê dit kan nie in sy
huidige vorm uitgesaai word nie.

“Dit is ’n duidelike aanhitsing tot geweld en misdadigheid wat deur
Okosa-regulasies verbied word, en daarbenewens is dit ’n oortreding
van die gedragskode van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Ons kan nie advertensies toelaat wat geweld aanhits nie,” het hy gesê.

Okosa het gesê die klag is dié week ingedien.

“Aangesien dit met die verkiesing verband hou, sal dit op ’n dringende
basis gehanteer word,” het Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa,
gesê.

Vodacom, MTN verloor aansoek oor verlaagde selfoontariewe

icasaDie uitsaaiowerheid kan van 1 April af verlaagde interkonneksie-tariewe afdwing.

Vodacom en MTN het hul saak teen Okosa verloor. Die twee selfoonreuse het vroeër ‘n dringende interdik verkry om die reguleerder te probeer verhinder om die nuwe, aansienlik laer tariewe vir Cel C en Telkom te implimenteer.

Die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg het Maandag ten gunste van Okosa, die Onafhanklike Uitsaaiowerheid van Suid-Afrika, beslis.

Verlaagde tariewe sal voortaan op Cell C en Telkom Mobile van toepassing wees.

Suid-Afrika gaan gebuk onder van die duurste selfoontariewe ter wêreld.

Die hof het beslis dat OKOSA die verlaagde interkonneksie-tariewe  vir ses maande mag toepas, maar sal dit daarna weer moet hersien.

Dié tariewe sal met die helfte tot 20 sent verlaag.

Okosa verdedig laer seltariewe teen MTN, Vodacom

Selfoonreuse MTN en Vodacom het Okosa hof toe geneem oor die kommunikasiereguleerder se planne om beëindigingstariewe vir selfone te sny.

Die twee mededingers het ‘n dringende interdik gebring om die reguleerder te verhinder om nuwe selfoontariewe in te stel.

icasaDie Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg sal vandag getuienis aanhoor van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid in die saak wat deur die selfoonmaatskappye, Vodacom en MTN, teen die owerheid gebring is.

Daar word verwag dat Okosa sal aanvoer dat laer tariewe tot voordeel van die verbruiker sal wees en mededinging sal aanwakker.

Die pryse sal na verwagting op 1 April in werking tree. MTN en Vodacom wil hê die hof moet die regulering permament skrap.

Okosa het gesê die koste aan verbruikers maak Suid-Afrika een van die duurste plekke om ‘n selfoon te gebruik.

Die nasionale reguleerder het gesê die 20c teenoor 44c is regverdigbaar volgens ‘n onafhanklike deskundige.

Deursigtigheid toegewasem

Die besluit van die ANC en die IVP om ‘n vergadering tussen die SABC-raad en die parlementêre portefeuljekomitee te verdaag nadat ‘n hofbevel verkry is om dit vir die media oop te stel, laat net meer vrae ontstaan oor hoe die ANC die pad vorentoe sien met sekere grondwetlike waarborge oor meningsuiting en die reg om inligting wat jou regte raak te bekom.

Omdat die SABC ‘n statutêre openbare uitsaaier is wat gereeld vanuit die staatskas met ‘n reddingsboei uit die sop gehelp word, is elke burger van die land ‘n aandeelhouer en het op die een of ander wyse ‘n belang daarby. Dit sluit in die reg om verseker te wees dat die openbare uitsaaier nie as ‘n propaganda-arm vir die regerende party aangewend word nie.

Ook nie probeer verdoesel waar sekere programme op veral die SABC se radiostasies as weerligafleiers gebruik word terwyl ‘n spesifieke agenda op die oorhoofse vlak voltrek word nie.

Daar is begrip voor dat ‘n werkgewer sekere kwessies, veral personeelkwessies, as sensitief sal beskou en nie graag dié onderkleertjies op die wasgoeddraad langs die hoofweg opgehang sal wil sien nie. Die teenargument is dat as ‘n mens vir ‘n openbare uitsaaier wil werk, moet ‘n mens sorg dat jou neus te alle tye skoon is, veral waar dit die belange van die publiek raak.

Boonop het privaat en gemeenskapsradiostasies nie die luukse van vertroulikheid wanneer OKOSA oor hul lisensie-aansoeke besin nie. Logieserwys sou verwag word dat die skoen eerder aan die ander voet moet sit.

Soos die vereniging van parlementêre verslaggewers uitgewys het, staan dit egter ook teen die agtergrond van beoogde nuwe wetgewing wat onder meer mediavryheid ernstig bedreig en ‘n mediatribunaal.

Soos wat die wêreldsokkerbekertoernooi vir Suid-Afrika baie positiewe publisiteit besorg het, sorg veral die intimidasie en geweld wat nou met die staking gepaard gaan, dat die land erg in die buitelandse pers deurloop wat onthuts is oor die regering se mediaplanne.

Die kern van die probleem wat nou met die SABC se verskyning voor die parlementêre komitee ervaar word, is dat dit moeilik is om ‘n reuse liggaam se neus skoon te kry na daar so lank politieke inmenging en politieke aanstellings was, en meriete nie altyd die swaarste geweeg het nie.

Op die duur werk ‘n ontleedmes en chirurgie beter as om septiese wonde onder pleistertjies toe te maak. Kort voor lank is deursigtigheid, een van die pilare van verantwoordbare regering, nie net toegewasem nie, maar toegemessel.

027уФильчаков прокуратура харьков