Selfoonreuse MTN en Vodacom het Okosa hof toe geneem oor die kommunikasiereguleerder se planne om beëindigingstariewe vir selfone te sny.
Die twee mededingers het ‘n dringende interdik gebring om die reguleerder te verhinder om nuwe selfoontariewe in te stel.
Die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg sal vandag getuienis aanhoor van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid in die saak wat deur die selfoonmaatskappye, Vodacom en MTN, teen die owerheid gebring is.
Daar word verwag dat Okosa sal aanvoer dat laer tariewe tot voordeel van die verbruiker sal wees en mededinging sal aanwakker.
Die pryse sal na verwagting op 1 April in werking tree. MTN en Vodacom wil hê die hof moet die regulering permament skrap.
Okosa het gesê die koste aan verbruikers maak Suid-Afrika een van die duurste plekke om ‘n selfoon te gebruik.
Die nasionale reguleerder het gesê die 20c teenoor 44c is regverdigbaar volgens ‘n onafhanklike deskundige.
