Optiese kabels slaan aan die brand

Optiese veselkabels wat op die Telkom-perseel in Capital Park geberg word, het dié week weens ’n grasbrand ook aan die brand geslaan.

Swart wolke het swaar oor die Telkom-gebou in Capital Park gehang nadat optiese veselkabels aan die brand geslaan het, het Rekord Moot berig.

Tshwane-nooddienste se woordvoerder Johan Pieterse sê die brand het omstreeks 16:15 ontstaan. “Telkom is baie naby aan ’n veld geleë en weens ’n aangrensende grasbrand het die kabels ook aan die brand geslaan.”

Hy sê daar was geen skade aan die gebou nie en daar was ook geen beserings. Pieterse sê die brand was binne ’n uur geblus.

Hy maan huis- en besigheidseienaars om seker te maak gras rondom en binne hul persele is kort gesny omdat die winter ’n seisoen vir grasbrand is.

Cell C ontstoke oor Vodacom en Neotel se samesmelting

Cell C dreig om die telekommunikasie-beheerliggaam, OKOSA, hof toe te neem oor die samesmelting van Vodacom en Neotel.

Vodacom se teenstanders het die maatskappy se oorname van Neotel fel gekritiseer omdat dit Vodacom onregverdige voordeel sal gee as die land se grootste selfoonnetwerkverskaffer toegang tot Neotel se winsgewende radiofrekwensiespektrum sou kry.

Die transaksie sal die uitbreiding van Vodacom se veseloptiese kabelnetwerke ‘n hupstoot gee in woongebiede en besighede.

Daarbenewens sal toegang tot die spektrum, ‘n skaars hulpbron, die maatskappy in staat stel om ontplooiing van sy hoë-spoed draadlose netwerk te bespoedig.

OKOSA het Maandag bekendgemaak dat hy Vodacom se oorname van Neotel ten bedrae van sewe miljard rand goedgekeur het.

Geen redes vir die besluit is nog verskaf nie.

‘n Cell C-woordvoerder, Zolile Ntukwana sê die ooreenkoms sal beteken dat Vodacom die mark oorheers.