Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid, OKOSA, het ‘n klag van die
Ekonomiese Vryheidsvegters ontvang nadat die EFF se
verkiesingsadvertensie afgekeur is.
Die SAUK sê die advertensie is nie verbied nie, maar wel afgekeur
weens aanhitsende inhoud.
OKOSA sê hulle stel ondersoek in na die saak. Die openbare uitsaaier
het die advertensie van die lug afgehaal omdat dit geweld sou
aanblaas.
In die advertensie moedig die EFF kiesers aan om e-tolhekke “fisies te
vernietig” indien hy die verkiesing wen.
Die leier van die EFF, Julius Malema het die aanhitsing verdedig en
gesê kykers moet toegelaat word om vir hulle self te besluit.
Vroeër die maand het die SAUK ook ‘n advertensie van die DA op
dieselfde gronde afgehaal.
Na ‘n verhoor deur dieselfde komitee van OKOSA, is beslis dat die
advertensie weer uitgesaai mag word.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het intussen ook by OKOSA oor die DA
se advertensie gekla.
In die advertensie rig polisiebeamptes vuurwapens op lede van die publiek.
Malema het berigte dat die EFF ‘n koalisie-regering met die DA in
Gauteng oorweeg, verwerp.
Malema het gesê die party se doelwit is om die verkiesing te wen en is
daarom nie ingestel op koalisievorming nie.
Die EFF het nouer samewerking met die vakbond NACTU in die vooruitsig
gestel. Malema sê NACTU onderskryf die EFF se verkiesingsbeleid.
Die DA het verlede week daarin geslaag om sy advertensies terug op die
lug te kry nadat die party hom op die Onafhanklike
Kommunikasie-owerheid beroep het.
Die EFF gaan poog om dieselfde te doen.
Die SAUK bied gratis advertensieruimte oor radio en op TV aan
politieke partye in aanloop tot die verkiesing van 7 Mei.
Die EFF het die advertensie ingedien vir sy gratis advertensiegleuf.
Dit sou verlede Saterdag uitgesaai word.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het gesê dit kan nie in sy
huidige vorm uitgesaai word nie.
“Dit is ’n duidelike aanhitsing tot geweld en misdadigheid wat deur
Okosa-regulasies verbied word, en daarbenewens is dit ’n oortreding
van die gedragskode van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Ons kan nie advertensies toelaat wat geweld aanhits nie,” het hy gesê.
Okosa het gesê die klag is dié week ingedien.
“Aangesien dit met die verkiesing verband hou, sal dit op ’n dringende
basis gehanteer word,” het Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa,
gesê.

EFF julle en die DA ook.
Raakgevat. Hierdie hele party is op geweld gegrondves – hulle gunsteling liedjie is dan “skiet die boer” – ek weet nie eers hoe hulle toegelaat is om by die OVK te registreer nie. As ek of jy net so iets in die openbaar sou uiter het ons laaankal ‘n sel met ‘n paar makkers gedeel.
Wel die EFF kan nie iets aanpak as daar nie van aanhitsende inhoud gebruik gemaak word nie. Die DA het ook daardie rigting ingeslaan.