‘n Vrou is glo by ‘n myn van Anglo American Platinum (Amplats) in Rustenburg verkrag, het die vakbond NUM Dinsdag gesê.
“Daar word beweer dat die vrou in ‘n aantrekkamer by die myn verkrag is,” het Sydwell Dokolwana, NUM se streeksekretaris in Rustenburg, gesê. Volgens Dokolwana is die vrou Sondag by die Thembelani-myn verkrag.
“’n Verdagte het glo die aantrekkamer met ‘n skroewedraaier binnegekom. Hy het die vrou beveel om haar klere uit te trek en gedreig om haar dood te maak indien sy nie gehoor gee nie.”
Die polisie in Noordwes het volgens Sapa bevestig dat ‘n klag van verkragting ondersoek word en dat ‘n 28-jarige man in hegtenis geneem is.
“Veiligheidsbeamptes kon daarin slaag om die verdagte voor te keer en het die polisie ontbied.” Hy sal na verwagting Dinsdag in die Rustenburg-landdroshof verskyn.
Volgens Dokolwana is daar aan hulle gesê dat die man nie ‘n werknemer van Amplats is nie, en wil hulle weet hoe die man toegang tot die myn se perseel verkry het.
Mpumi Sithole, woordvoerder van Amplats, het gesê die verdagte het glo ook nog ‘n vrou probeer leed aandoen. Volgens Sithole ontvang die vrou wat glo verkrag is sowel as die ander vrou albei traumaberading.
Chris Griffiths, uitvoerende hoof van Amplats, het gesê die maatskappy veroordeel enige vorm van geweld teen vroue. “Ons is baie hartseer oor die gewelddadige kriminele daad en veroordeel dit ten sterkste. Die veiligheid van ons werknemers is ons nommer een prioriteit.”
Die maande lange staking in die platinumbedryf in Noordwes word deur betaalde agente van die miljardêrfilantroop George Soros se Open Society aangehits.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het by Luthuli-huis in Johannesburg na afloop van die bosberaad deur die Nasionale Uitvoerende Komitee, gesê die onrus word van buite die land aangemoedig.
Mantashe sê nie alleen die Ekonomiese Vryheidsvegters nie, maar ook wit buitelandse elemente is ten nouste by die staking betrokke.
Ene Lloyd Gedye, ‘n wit sake- en musiekjoernalis van die Mail&Guardian, is klaarblyklik deurdrenk van suiwer rewolusionêre ywer teen die “kapitalistiese mynbase”. Gedye is ‘n betaalde werknmener van OSISA, TheOpen Society Initiative of Southern Africa.
Dieselfde organisasie is betrokke by die betaalde opstande en aanhitsing van geweld in die Oekraïne waar vyandelikhede die land na ‘n burgeroorlog dwing.
Gedye se ywer word byna woordeliks deur Amcu se president Joseph Mathunjwa herhaal, wat die gerugte dat Gedye Mathunjwa se toesprake skryf, verder rugsteun.
Nadat Mathunjwa sowat 5 000 stakende mynwerkers by die Wonderkop-stadion toegespreek het, het hy hulle vertel die ANC is aan die kant van kapitaal en nie van die werkers nie.
Volgens Gedye verdien myners in Brasilië R25 000 per maand en in Australië R80 000.
Gedye het ook Anglo American Platinum se uitvoerende hoof Chris Griffiths se vergoeding onlangs ontbloot. In reaksie op die feit dat hy R17,6 miljoen verlede jaar betaal is, het Griffiths gesê hy “word betaal wat hy werd is”.
Gedye se marxistiese kritiek op Griffiths se salaris, het die mynbaas sedertdien gedwing om om verskoning te vra ná openbare kritiek oor sy ongeërgde kommentaar. Kennelik was Griffiths nie bewus dat hy ‘n slagoffer van die Open Society se “klassestryd” sal word nie, aangesien die miljardêr George Soros veel meer as Griffiths verdien.
Die joernalis het sy gifpen ingespan om slagoffers van die Marikana-slagting aan te moedig om te onttrek uit die Farlam-kommissie as Cyril Ramaphosa, ‘n nie-uitvoerende direkteur op Lonmin se direksie, nie getuig oor sy beweerde rol in die slagting nie.
Gedye beskuldig die ANC-regering daarvan dat hulle “die Farlam-kommissie ondermyn, sy vermoë om getuies te roep belemmer en die SAPD se rol in die slagting probeer toesmeer”.
Daarvoor het die wit Gedye oudergewoonte die swart postkoloniale teoretikus Frantz Fanon se waarskuwing ingespan dat die “inheemse elite” aandadig kan raak in die “uitbuiting van hul medeburgers in die postkoloniale projek”.
Net soos Beeld-lesers vreemd genoeg, gereeld moet verneem wat in Indië – nie Suid-Afrika nie – aangaan wat verkragting betref, haal Gedye die Indiese marxistiese teoretikus Aijaz Ahmad aan: “Fanon se haat teenoor die koloniseerder stem ten volle ooreen met sy minagting vir die uitbuitende inheemse elite.”
Uit hierdie “teoretiese grondslag” maak Mathunjwa rewolusionêre stellings soos die volgende: “Van 1652 tot op datum het die betalingstruktuur in mynbou nog nie verander nie. Dit is deur die kolonialiste ontwerp.”
Die minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi, het intussen aangekondig dat die regeringstaakspan wat hy aangestel het, sy betrokkenheid by die onderhandelinge gaan staak indien daar nie *vandag ‘n ooreenkoms bereik word nie”.
Ramathlodi sal Maandag vir die laaste keer samesprekings met Amcu en die mynmaatskappye Implats, Amplats en Lonmin voer in ‘n poging om die voortslepende staking te probeer beëindig.
Hy het die naweek gesê onderhandelings kan nie onbepaald voortgaan nie en dat hy hoop die partye vandag ‘n ooreenkoms kan bereik.
Die Ekonomiese Vryheidsvegters sê die party maak nie verskoning vir sy steun vir mynwerkers se eis van ‘n basiese salaris van R12.500 nie.
Die EFF het gereageer op die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, se uitspraak dat hy twyfel of die voortslepende staking in die platinumbedryf oor kollektiewe bedinging handel en of dit eerder polities gemotiveerd is.
Die woordvoerder van die EFF, Mbuyiseni Ndlozi, sê die ANC probeer die skuld vir sy onvermoë om die staking te beëindig, na ander verplaas.
Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.
Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.
Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.
Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.
Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.
Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.
Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.
Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.
Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.
Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.
Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.
Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.
The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.
Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.
“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.
Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.
Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.
Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.
Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.
Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.
Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.
Stakende mynwerkers by Impala Platinum het glo soos by die Lonmin-myn, nie gereageer op steksboodskappe van hul werkgewers om terug te keer werk toe nie.
Vakbondleiers by Implats sê die teksboodskappe van platinumprodusente wil spanning onder werkers aanhits.
Daar is ook steeds ‘n groot polisie-teenwoordigheid by platinummyne op Rustenburg in Noordwes, te midde van die toenemende geweld van stakende myners teen nie-stakende werkers in die gebied.
Die mynmaatskappye wou nie langer deur Amcu onderhandel om die staking tot ‘n einde te bring nie en het selfoonboodskappe aan vakbondlede te stuur waarin hulle gevra word terug te keer werk toe.
Meer as 80.000 werkers wat by Amcu geaffilieer is, staak sedert Januarie by die paltinummyne.
Die gemiddelde mynwerker verdien sowat R4.500 per maand. Die stakers eis dadelik ‘n basiese salaris van R12.500 per maand.
Amcu het die hersiene salarisaanbod van Lonmin, Amplats en Implats namens die stakers verwerp.
Volgens dié aanbod sou werkers teen Julie 2017 R12.500 verdien het.
Die vakbond NUM het sy lede vroeër aangeraai om nie te gaan werk nie omdat dit onveilig is.
Hulle beweer dat 15 van NUM-lede die naweek aangerand is.
By Marikana het niemand glo nog vir werk opgedaag het nie.
Die Nasionale Polisiekommisssaris, Riah Piyega sê die polisie sal bestendigheid verseker terwyl die 16 weke lange staking voortduur.
Die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê ‘n Amcu-lid is in hegtenis geneem in verband met geweld teen nie-stakende mynwerkers.
Hy sê vyf oortreders wat bande met Amcu het, is in die geweld geïdentifiseer.
Daar was reeds talle voorvalle van intimidasie. Mthethwa het onderneem om die geweld en intimidasie aan te spreek. Hy sê die organiseerders van die staking behoort verantwoordelikheid te aanvaar.
Die leier van Amcu, Joseph Mthunjwa, het egter gesê hulle sal aanhou staak. Mathunjwa het vroeër gesê hulle sal slegs terugkeer werk toe wanneer daar aan hulle eise toegegee is.
Ondersteuning vir Amcu se vierweekloonstaking in die platinum mynbou-sektor het Woensdag ‘n hupstoot gekry toe die Nasionale Raad van Vakbonde (NACTU) hul steun aan die unie toegesê het.
NACTU se versoek vir ‘n algemene staking indien Anglo American Platinum nie sy regsgeding van bykans 600 miljoen rand teen die vakbond Amcu terugtrek nie, kry groot aftrek van verskeie groepe.
Die groepe sluit in opposiepartye soos die PAC, die Sosialistiese Party van Azanië (SOPA), en vakbonde soos die nege filiale van Cosatu wat ‘n Spesiale Kongres en die heraanstelling van die geskorste hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, eis.
Amcu is by NACTU geaffilieer.
“Die besluit deur Amplats om Amcu te dagvaar vir R591 miljoen se skadevergoeding wat verband hou met die voortdurende staking is nog ‘n poging deur werkgewers om die mynwerkers se staking breek asook ook ‘n verbete aanslag teen militante vakbonde,” het NACTU in ‘n verklaring gesê.
Mynreus Anglo American Platinum ( Amplats ) het Saterdag gesê hulla sal Amcu dagvaar vir skadevergoeding en verliese gely tydens die werkoponthoud..
Maandagoggend het Amplats gesê die verliese gely is sowat R100 miljoen per dag as gevolg van die staking wat in sy vierde week is.
Die onwilligheid van Amplats om te onderhandel en in plaas daarvan die howe te nader, is die soort optrede wat gelei het tot die Marikana-slagting, het NACTU gesê.
“Werkers staan vas in die gesig van geweld deur die staat en kapitaal. Nou het die mynmaatskappye ‘n ander manier gevind om werkers op hul knieë te dwing.”
Die president van SOPA, Lybon Mabasa sê Amplats se regsoptrede is ‘n plan om militante vakbonde te verswak.
Samesprekings tussen myners en die bestuur het weer vasgeval het om die staking by platinummyne die beëing.
Sowat 70.000 mynwerkers staak die afgelope drie weke reeds.
Die arbeidsdispuut bly steeds onopgelos nadat Lonmin, Amplats en Implats nie hul aanbod van ‘n nege persent verhoging aangepas het nie.
Die mynwerkersvakbond, Amcu, sal binnekort glo ‘n groot aankondiging tydens ‘n mediakonferensie maak betreffende hul voortgesette optrede teen mynhuise.
Die konferensie sal waarskynlik Woensdag plaasvind, omdat die vakbondleierskap vandag steeds vergader.
Amcu se aankondiging is in teenstelling met ‘n mediaverklaring wat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie na Maandag se vergadering uitgereik het.
Daarvolgens sou Amcu terugvoering aan die KVBA gee nadat ‘n vergadering met sy vakbondlede gehou is.
Onrus in die mynbousektor het Suid-Afrika ontstig, maar die voortdurende chaos het die land se platinumgordel baie swaar getref, wat selfs die voortbestaan van ‘n hele stad in die gedrang bring.
Eers was daar die geweld en toe die gepaardgaande afleggings.
Ná maande van arbeidsonrus en jare van hoë koste, beplan twee topmaatskappye in Rustenburg om skagte te sluit en duisende poste te beëindig.
Anglo American Platinum gaan drie van sy bedrywe hier sluit en vanaf September 4 800 poste tot niet maak; dit kom ‘n jaar ná die Marikana-massaslagting by die naburige Lonmin-myn.
Lonmin, waar 34 mynwerkers ‘n jaar gelede deur die polisie doodgeskiet is, het reeds verlede jaar ‘n skag voorlopig gesluit.
Vir die stad van Rustenburg, waar mynbou amptelik 77 persent van die ekonomie verteenwoordig, kan die uitwerking rampspoedig wees.
Plaaslike sakemanne, vanaf ‘n dienstekonsultant soos Ben Roothman tot straatsmouse soos Tomaz Utui, vrees dat die verlies aan werksgeleenthede ook ‘n verlies aan klante gaan beteken.
Vir elkeen wat afgedank word, verloor ‘n hele huishouding sy inkomste, dus word duisende meer daardeur geraak, meen Roothman.
“Dis ‘n uitgemaakte saak dat dit ‘n besliste uitwerking op Rustenburg sal hê,” vertel hy aan AFP.
Utui, wat versnaperinge, klere en sigarette smous buite Amplats se Khmanani-skag, wat binnekort gesluit gaan word, voorsien ‘n duister toekoms as die mywerkers verdwyn.
“Daar is niks anders hier nie. Ons kan niks verkoop as dié manne nie werk nie.” Dit gebeur reeds, sê hy. “Hulle het net nie meer geld nie.”
Volgens die voorsitter van die plaaslike kamer van koophandel, Pieter Malan. “is die gevolge op die mikro-vlak enorm”.
“Vir mediumgrootte maatskappye wat dienste direk aan die myn lewers, is dit pynlik,” voeg hy by.
Rustenburg is 162 jaar gelede deur die Voortrekkers gestig en was aanvanklik ‘n boerderygemeenskap.
Sedert die 1920s is platina – wat nou oorwegend in katalisators en juweliersware gebruik word – in die gebied gemyn, wat by geoloë as die Bosveld-stollingskompleks bekend is.
Rustenburg was ‘n gasheerstad vir die 2010-wêreldsokkerbeker en was in daardie jaar die land se snel groeiendste metropolitaanse gebied, volgens regeringsyfers.
Tans groei die stad steeds teen ‘n rasse tempo.
Moderne behuisingskomplekse verrys oral om die stad en die streek se luukse-oorde en wildreservate lok steeds toeriste by die duisende.
Met omtrent 70 persent van die wêreld se platinumproduksie wat van die gebied afkomstig is, het die stad tot nou toe die op-en-af-bewegings van mynbou-aktiwiteit gevolg.
Maar die skaal van die mees onlangse onrus laat vele vir moeilike tye vorentoe vrees.
Verlede jaar se stakings het die wêreldwye produksie van die metaal met 13 persent laat afneem, die laagste in 12 jaar, volgens syfers van die Londense edelmetalefirma, Johnson Matthey.
Weens die produksie wat tot stilstand gekom het, het Suid-Afrika in die geheel ‘n volle $1,15 miljard aan inkomste ingeboet, maar in Rustenburg is die kontrakteurs – wat werksgeleenthede aan ten minste 30 000 mense verskaf – besonder hard getref.
Verlede jaar reds het die ingenieurs- en boufirma Murray & Roberts sy kontrakte met die nabygeleë Aquarius Platinum en Lonmin opgesê.
Soos wat immer stygende lopende koste en arbeidsonrus beleggers tot kommer oor Suid-Afrika stem, bestaan vrese dat Rustenburg met sy myne in duie mag stort, soos wat al met ander “spookdorpe” gebeur het.
Driehonderd kilometer ver hiervandaan is daar ‘n waarskuwing dat dit wel kan gebeur.
Welkom, met sy optimistiese Afrikaanse naam, het eens op ‘n tyd ‘n kwart van die wêreld se goud geproduseer en ongeveer 170 000 mense in die mynbedryf van werk voorsien.
Maar die stad se bloeityd is lank reeds verby. Die dalende mynboubedryf verskaf vandag werk aan 30 000 mense, terwyl daar met hoë koste en lae goud-inhoud geworstel word.
Om ‘n soortgelyke afgang te vermy, wil Rustenburg se kamer van koophandel hê dat die stad se ekonomie moet aanpas ten einde die uiteindelike agteruitgang van mynbou te oorleef.
“Ons moet baie meer bekommer oor wat ons 30 jaar van nou af gaan doen,” sê Malan.
“Hoe raak ons minder afhanklik van mynbou? – dis die belangrikste vraag.” – AFP
Mynwerkers by Amplats in Rustenburg in Noordwes gaan die maatskappy se aflegging van seweduisend werkers teenstaan.
Werkers se toekoms is steeds onseker omdat werkers nog moet besluit of hulle skeidingspakkette gaan aanvaar of verplaas wil word.
‘n Massavergadering is gister gehou deur ‘n taakspan by Khuseleka 2 en die Khomanani 1 en 2 skagte. Amplats beplan om sowat 7-duisend werkers teen Maandag af te dank, maar myners sê hulle gaan dit betwis.
Dit is vandag die laaste dag wat werkers om skeidingspakkette kan aansoek doen. ‘n Lid van die taakspan, Gadaffi Mdoda sê hulle gaan ‘n dispuut indien by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie en ook die howe nader.
Hy sê die werkers is militant en bereid om die afleggings te beveg.
Intussen gaan die National Union of Mineworkers sy lede raadpleeg nadat hy vroeër die Kamer van Mynwese se finale salarisverhogingsaanbod van die hand gewys het.
Goudmynmaatskappye se laaste aanbod is om basiese salarisse met tussen 6 en 6,5% te verhoog. Die NUM se woordvoerder, Leshiba Seshoka het die aanbod as lagwekkend bestempel.
Die NUM en Amcu eis verhogings van tussen 60- en 150-persent.
Die vakbond, Solidariteit het vir meer tyd gevra om die aanbod met sy lede te bespreek. Die hoofonderhandelaar vir die goudprodusente, Elize Strydom sê die aanbod kom neer op ‘n gewaarborgde salaris van R9 170 per maand op intreevlak. – RSG